ek dink ...

Deur Prof. Kobus Krüger op 1 November 2011

1   mistiek

... Mistiek is die hoogste vorm van menslike ervaring. Mistiek groei soos 'n boom: dit groei in die grond van Ongrond; dit kom uit die saad van Ewigheid voort; die wortel daarvan is Oneindigheid; die stam is Stilte; dit het drie takke: die kwaliteit van mens se gemoedslewe (hoe mens jou innerlik opstel, oopstel, in en vir die groot werklikheid); die kwaliteit van mens se praktiese lewe (hoe mens jou uiterlik opstel, oopstel, in en vir die groot werklikheid en die alledaagse lewe); en die kwaliteit van mens se nadink oor, in, die groot werklikheid. Die boom dra beskuttende blare, mooi bloeisels en gesonde vrugte, baie daarvan. Ek wil nou verder iets oor die derde gestalte van mistiek, oor mistiek as nádink, sê.

2   nádink

... Dink as rede en intellek gaan oor objekte, analiseer en verbind begrippe logies met mekaar, koppel doeleindes en middele aan mekaar om die wêreld te bemeester. Dit is wetenskap en tegnologie. Dit is 'reg' dink – maar daar is ook 'wys' dink wat reg dink insluit, maar ook oorskry. Dit is nádink, dieper dink, méér dink, groter dink, mediteer, metafisies-misties dink ... dink ek. Dit is om met heimwee na die herkoms van dinge te tas, om bewustelik in voeling te kom met die werklikheid van nou as geheel, om die dieper dimensie van dinge intuïtief te ervaar, om 'n toekoms verbeeldend te vermoed, om speels, vry en kreatief te spekuleer, om 'n ruim, insluitende, lewensvriendelike horison te bedink. Nádink gaan nie dwars teen empiriese getuienis en die wetenskappe in nie, maar is ruimer, gee 'n konteks daarvoor. Dáárdie dink waarborg geen sekerheid nie; dit is – uiteindelik – wetende onwetendheid, onwetende wete. En mens kan dit net namens jouself doen. Ons mag by mekaar en van ander deur die lengte en breedte van die geskiedenis leer, maar uiteindelik is mens vir jouself verantwoordelik. Alle stelsels is tentatief, soos diere se paadjies in die veld. Ons mag 'n groot oriënteringsraam ontwerp, moet dit selfs doen, solank ons onthou dit is net 'n model, voorlopig, hersienbaar. Dit laat geen plek vir onfeilbaarheidsaansprake nie. Maar wetende nie-weet (docta ignorantia) is iets heeltemal anders as die epidemie van twyfelsug wat deur ons kultuurkring trek.

3   Einde

... Alles eindig. Individuele lewens met al hul wel en wee, beskawings met hul eeue-oue betekenisstelsels, kulture met hul kunsprodukte, tale met hul letterkundes, godsbeelde, wêrelde, sterre, kosmosse – alles kom tot Einde. Die radikale eindigheid van dinge is waarskynlik ons eerste uitnodiging om ná te dink. En alle nádink, alle metafisies-mistieke denkmodelle, is voorlopig, eindig. Godsdienste is nie ewige stede van God nie – nie een van hulle nie, maar skuilinkies van takke en blare in 'n wye landskap, vandag hier en môre of 'n duisend jaar later (wat is die verskil?) weg. Godsbeelde is gesigte wat ons in die wolke in die leegte inlees; hulle kom en gaan.

4   Ongrond (Absoluutheid, Leegheid)

... Die alles wat eindig, kom op uit, keer terug na, hang in, is deurtrek van naamlose Ongrond, onkenbare Absoluutheid, Leegheid sonder eienskap anderkant Syn, Lewe, Voel en Bewussyn – en God. Ek kan ontoeganklike Diepte nie ken nie en nie ervaar nie. Ek kan dit net vermoed en my gevoel, my gedrag, my gedagte daardeur laat verander. Die besef van die onpeilbare Geheim gee my geen staanplek en geen vastrapplek nie, geen vashouplek en geen hefboomplek nie. Ek kan net laat los, en lig en vry sweef.

5   Oorsprong

... Ongrond is Oorsprong. Kosmos ontstaan. Kosmos is nie deur 'n ander wese as 'n aparte ding gemaak nie, maar kom op uit die dieper-as-persoonlike, onkenbare diepte van Ongrond, bestaan as iets relatief anders as Ongrond. Iets gebeur in Ongrond, iets word. Dit is die groot wonder. Kosmos kom uit Ongrond na vore, is van Ongrond deurtrek, is Ongrond en tog nie identies daaraan nie, en keer in Ongrond terug. Kosmos is nie monisties identies aan (dieselfde as) Ongrond nie en is nie dualisties iets anders as Ongrond nie, maar is nie-dualisties, nie-monisties manifestasie van Ongrond, uitlopend uit en aaneenlopend met Ongrond. Leegte word, is, Vorm – en bly Leegte. Kosmos kom uit Ongrond voort soos hitte en lig uit die son uitstraal, hang in die kragveld van Ongrond, keer tot Ongrond terug. Die fisiese ontstaan van die Kosmos volgens die fisika en die ontstaan en evolusionêre ontwikkeling van lewe en bewussyn volgens die biologie is deel van daardie groter proses van emanasie en terugkeer.

6   Kosmos is Syn-Leef-Voel-Weet: Gees

.... Kosmos, as deel, manifestasie van die groot ritme van verskyn en verdwyn, koms en terugkeer, is 'n vervlegting van vier ewe belangrike, mekaar impliserende aspekte soos die sye van 'n piramiede: Syn, Leef, Voel en Weet. Die viersydige piramiede rys op uit, emaneer uit, die leegte van Ongrond. Sáám en inéén is daardie vier Oneindige aspekte van 'Gees'. Nie een van die vier het voorrang bo die ander nie, al is alvier nie altyd ewe manifes nie – soos naels en hare nie net soveel as brein Weet uitdruk nie. Kosmos as Geheel, as Gees, is 'n organisme met vier wedersyds geïmpliseerde modusse: Syn, Leef, Voel en Weet. Daar is nie twee werklikhede, 'n natuurlike en 'n bo-natuurlike een nie. Hierdie werklikheid is die ganse werklikheid ... maar met 'n onpeilbare diepte van Oneindigheid, Ewigheid, Absoluutheid daarin. Ek sê 'ja' vir Kosmos, vir die lewe, en het dit lief.

7   enkelheid, meerheid, geheelheid

... Elke individuele ding, hoe skynbaar gering ook al – 'n enkele blaar, 'n enkele mossie, 'n enkele kind, 'n enkele kultuur – is uiting en uitdrukking van die groot Geheim; meer, dit ís die groot Geheim. En ek mag 'ek' sê, in nederigheid, dankbaarheid en dapperheid, as eenmalige vonk van die ewige vuur. Enkelheid is deel van meerheid. Enkelheid en meerheid sáám soek geheelheid waarin alles sinvol met alles saamhang. Al drie – enkelheid, meerheid, geheelheid – veronderstel mekaar oor-en-weer. Geheelheid veronderstel die uniekheid van individuele enkelheid, en individuele enkelheid veronderstel meerheid en geheelheid. Elke enkele druppel wyn in die glase voor ons bevat, by implikasie en ekstensie, 'n hele wingerd, die hele aarde, die hele lugruim, die hele son, die hele melkweg, die hele heelal. En pasop, dink ek, vir die dwang, die absoluutheidsaanspaak, van één godsdiens, één staat, één party, één baas, één heer, één waarheid. Vandag het ons 'n groot behoefte en 'n éénmalige geleentheid om 'n nuwe, ligte, soepel integrasie van wetenskap en mistiek, materie en bewussyn, ensovoorts te bedink – nie as 'n finale, onbetwyfelbare Antwoord nie, maar as 'n voorlopige, eindige ontwerp, soos 'n ligkring om 'n kers in die donker. Ons soek die nuwe samehang van 'n lewensbeskoulike simfonie, 'n alles-omvattende komposisie vol konstraste, harmonies uitgevoer deur 'n veelstemmige koor.

8   die mens

... Die mens is, in een sin, 'n nietige, kontingente onderdeel, 'n laat-kommer, in die groot proses van emanasie (met insluiting van biologiese evolusie) en terugkeer. In 'n ander sin is die mens baie belangrik, met 'n sleutelrol en verantwoordelikheid in die groot proses. As klein eenheid van syn-leef-voel-weet – dus as gees – is die mens 'n groeipunt aan die boom van Kosmos, van groot Gees. Die mens is – miskien, waarskynlik? sover ons weet – die enigste wese met 'n besef van Einde en Absoluutheid en Oorsprong. Wanneer ek sterf, sou ek dink, keer ek terug in die bo-individuele Kosmos, in die Oneindigheid en Ewigheid van Ongrond. Ek is tevrede en dankbaar. En terwyl ek leef, is my bestemming om in voeling met die groot proses te kom, om in ooreenstemming daarmee in welwillendheid, medelye, medevreugde, gelykmatigheid en regverdigheid jeens alle wesens, sonder uitsondering, te lewe, en om fyner, beter, edeler gees te word.

9   swakhede en foute

.... Die mensheid leef nie volgens sy potensiaal, in ooreenstemming met sy wese en bestemming nie. Die mens het 'n besondere vermoë tot boosheid, dit weet ons. Die mens is die wrede dier. Maar ek dink ná dat die mens as gees inherent goed en edel is, met 'n hoë bestemming in die wêreld. Die menslike geskiedenis en die menslike toneel is vol foute, maar ek kyk daarna as tragiek, eerder as moralisties. Die mensheidsgeskiedenis bestaan nie uit twee rye – een lang ry vol skurke en ander sondaars en 'n kort rytjie ikone, idole, helde en heiliges nie. Nee, almal dra die vermoede van die Diepte, die neiging tot insig, liefde en lewe, die droom van geheelheid in hulle. Pasop, dink ek, vir sado-masochistiese sonde- en skuldbeheptheid. Ek kyk na mense as inherent edeles met 'n tragiese streep selfsug, weersin en dwaasheid – maar nogtans bestem tot helderheid van insig, klaarheid van emosie en wil, en skoonheid van lewe, en wat dit kan verkry. As mens verkeerd gedoen het, erken jy dit en keer meditatief in Ongrond in wat alles – jou eie foute en ander se foute – tot Einde bring. Ongrond is die groot oseaan wat alle wasgoed skoon was; mens se self-suiwering is deel van daardie proses. Maak reg so goed jy kan, leer uit jou foute en begin telkens nuut uit Ongrond as Oorsprong leef. Daar is altyd 'n nuwe kans; mens is nooit gedoem en onherroepelik aan 'n verlede gekluister nie.

10   godsdienste en ander betekenisstelsels

... Alle betekenisstelsels (dit sluit die wetenskappe en die godsdienste in) is uiteindelik op waarheid, goedheid en skoonheid gerig. Ek dink hulle moet almal in daardie sin 'tendensieus' verstaan word. Dit beteken hulle kan almal verstaan word as – miskien onbewustelik en onbedoeld – in 'n sekere rigting neigend, soos alle voetpaadjies in 'n bos na dieselfde watergat toe neig. Hulle is stippellyne, soms duideliker, soms onduideliker, soms korter en soms langer wat heenwys na Absoluutheid. Dus dink ek 'n inklusiewe logika is beter as 'n ekslusiewe logika; dit beteken nie almal is ewe goed of ewe sleg en verkeerd nie. Rooi is 'n ander kleur as blou, en miskien het ek 'n voorkeur vir rooi. Maar ek weet altwee kleure kom in dieselfde spektrum voor en is manifestasies van dieselfde lig. Dus kyk ek met begrip na almal, sonder om enigeen te verabsoluteer en enigeen te demoniseer. Almal is betreklik, het meer of minder waarheidselemente. Skerp, venynige of stomp, bot opposisionering is nooit goed nie. Ek kyk eerder irenies-ironies, welwillend-krities na almal, en soek eerder 'n groter metafisies-mistieke ruimte waarin die wetenskappe en al die religieë 'n konteks vind, en waarin elk van hierdie stelsels sy plek vind en tot sy reg kom.

11   die grotes

... Dit is goed om met respek na die groot individuele metafisies-mistieke geeste van ons spesie te kyk en hulle te ken: Abraham, die onbekende woudbewoners wat die Upanishads geskep het, Siddharta Gautama, Lao-Tzu, Plato, Chuang-Tzu, Jesus, Plotinus, Ibn Arabi, Isak Luria – om net 'n paar van lank gelede te noem – sonder om party te verafgod en party te minag. Die meeste is vergeet, baie is nooit geken nie. Die grotes het nooit roem en breë populariteit gesoek nie. Hulle kom uit vele verskillende kulturele en historiese kontekste en hulle sê nie almal dieselfde ding nie, maar agter en in hul almal se lewens en boodskappe is, dink ek, dieselfde tendens, dieselfde stippellyn – miskien verborge en nie deur hulself begryp nie – na dieselfde stil, leë Ongrond, al het hulle nie almal ewe ver daarop beweeg nie. Nádink, dink ek, is om hulle ná te dink, by hulle te leer.

12   spiraal

... Daar is boosheid in die Kosmos, en ons kan dit uiteindelik nie verklaar nie. Ek dink die groot proses is nie 'n reguit lyn van begin tot finale end nie, ook nie 'n blote sirkelgang wat eindeloos herhaal nie, maar 'n spiraal waarvan ek die bestemming nie kan ken nie. Maar ek vermoed, spekuleer, verbeel, droom na vore. In daardie spiraal het mens die voorreg en verantwoordelikheid om 'ja' te sê vir lewe-en-dood – ja, hulle is twee kante van dieselfde proses. Mag jy verantwoordelik, vrolik, vry, vasberade en vaardig lewe. Mag dit met elke wese waarmee jy in aanraking kom, goedgaan.

Prof. Kobus Krüger

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za