Eietydse spiritualiteit

Deur Johan Enslin op 1 September 2010

Mense bevind hulle vandag in 'n soortgelyke, maar heel waarskynlik 'n baie meer intense situasie, as in die aanloop tot die Renaissance. Hul lewens- en wêreldbeskouing is daagliks, beide implisiet en eksplisiet, onder toenemende druk van nuwe wetenskaplike en tegnologiese kennis asook politieke, ekonomiese en moreel-sosiale verwarring.

Net soos die hervormers, soek hulle egter nie antwoorde in hul rasionele vermoëns nie (almal weet tog dat die rede misluk het) maar gryp hulle terug na mistieke idees uit die voorgeskiedenis. P.J. Proudhon skryf in 1849: "Dit is verbasend om te sien hoe dikwels teologiese argumente gebruik word om ons politiek te begrond."

Ek vind dit nie so verbasend om godsdiens, en miskien meer spesifiek, die mistieke as begronding van fundamentele vrae in die Suid-Afrikaanse samelewing te herken nie, omdat ek weet dat die praktyk altyd begrond word deur filosofie of intellek.

Die metafisiese element van godsdiens, en nie soseer die dogma nie, is sonder twyfel, die kragtigste eksterne element in die vorming van die karakter van die individu en gevolglik ook die groep. Dit is ekstern, want dit kan nie ervaar word nie: dit word aangeleer. Dit is die kragtigste element omdat dit aangeleer word gedurende die vroeë vormingstadium van die brein wanneer die kognitiewe fondasie gelê word waarmee alle verdere kennis geïntegreer word.

Die metafisiese element is die idee van 'n dualistiese wese van die werklikheid. Die gode, of God, bewoon die een (ideale en perfekte) werklikheid, terwyl die mens in onvolmaaktheid die ander (onvolmaakte) werklikheid beset. Menslike onvolmaaktheid sluit menslike kennis in: die mens ken ten dele en weet dit, want hy word geleer om te glo, en nie te bevraagteken nie; wát om te dink en nie hoé hy dink nie.

Dit is algemeen bekend dat daar gedurende die opkoms van Afrikaner-Nasionalisme deurgaans gesteun is op die ideologie van die Calvinistiese teologie. Dit is gevolglik interessant om te postuleer dat Calvinisme, die Nasionale Party en apartheids-ideologie saam gesneuwel het. Die God van Augustinus, Wycliffe, Hus, Luther en Calvyn, is ideologies en dogmaties dood.

Die politieke (en intellektuele) mislukking van die leiersfigure van Afrikaner-Nasionalisme en die verlies aan politieke mag, het verder daartoe bygedra dat mense toenemend gedwing word om hulself intellektueel (metafisies) te herposisioneer in die werklikheid van die heersende politieke, tegnologiese en wetenskaplike wêreld.

Hierdie herposisionering word verhelder in 'n aantal werke deur akademiese en praktiserende teoloë wat sedert die laat 20ste eeu verskyn het, waarin nie alleen die gesag van die Bybel ondergrawe word nie, maar die tradisionele kerke toenemend dogmaties versplinter in ultra konserwatiewe, charismatiese en gnostiese groeperinge.

Dié 'versplintering' verteenwoordig die intellektuele (filosofiese) alternatiewe waartussen mense moet kies, naamlik, teruggryp na "suiwer" Calvinistiese dogma (en die gepaardgaande volksuiwerheid en volkstaat), die teruggryp na emosionele belewenisse deur die Charismate (die beswymingsdans en gepaardgaande hallusinasies van die oermens – party neem sommer die barbituraat kortpad), en die vermitisering van onbegronde kognitiewe elemente van die mens, deur die Gnostisie.

Die verwerping van die reformasie teologie is 'n universele verskynsel. Die dogmatiek het irrelevant geword en mense word toenemend bewus dat demokrasie, as produk van die reformasie teologie, nie 'n oplossing vir sosiale probleme bied nie, maar inderdaad die probleme skep.

In die voorafgaande word geargumenteer dat die rasionele proses (teologie) wat na 'n bepaalde praktiese toepassing (dogma/konklusie) lei, verwerp word, omdat die konklusie misluk. Wat egter in die kontemporêre soeke na spiritualiteit nie verwerp word nie, is die premis waarop die argument berus. Daar word steeds vasgehou aan die idee dat die werklikheid in wese dualisties is – dat dit 'n fisiese en 'n meta-fisiese vorm het. Die teologiese argumente wat hierop gebou word, is logies konsekwent, maar die konklusie is vals, nie omdat die logiese proses misluk nie, maar omdat die premis vals is.

Van Wyk Louw skryf in 1955: "Ons denke van elke dag is aangekors en byna toegegroei van teorieë, – van -ismes, menings wat in ons ingesluip het en ons weet nie meer hoe en waar nie ... Ons wetenskaplike kennis, ons politieke en ander wêreldbeskouings word ál digter en ál harder, totdat ons later in 'n skulp van menings lewe waardeur geen aanraking met die werklikheid buite ons meer moontlik is nie."

Die soeke na eietydse 'spiritualiteit' en sin, moet hierom noodwendig misluk, omdat dié wat voorgee dat hulle soek én die wat wel soek, hulself nie kan of wil losmaak van die rugsak konsepte van die godsdiens en hul verkorste lewens- en wêreldbeskouing nie. So 'n ontkorsting is nie maklik nie, en vir die meeste mense nie moontlik nie, omdat dit deel is van die kognitiewe fondasie in die brein, waarmee alle verdere kennis geïntegreer word en omdat aangeleerde kennis nie struktureel uit die brein verwyder kan word nie.

Ons denke en uitsprake verwoord nie alleen hierdie aangeleerde kennis nie, maar ons funksioneer daarin en daarmee sodat alles wat ons dink en sê en doen en ervaar, nie alleen die inhoud van ons brein vergestalt nie, maar ook die struktuur.

En die vlees het woord geword

Die beste voorbeeld van die rigting-gewende invloed van die kognitiewe inhoud van die menslike brein op sy denkproses, is sonder twyfel, die Oordenkinge van René Descartes. Descartes verhef die denke tot absolute en kom tot die gevolgtrekking dat, alhoewel hy sy bestaan as fisiese voorwerp kan betwyfel, hy nie sy denke in twyfel kan trek nie en hy lei hieruit af dat hy bestaan omdat hy dink – ("Ek dink, daarom is ek.")

Hy redeneer dan verder dat hy onmoontlik die idee van God kon vorm of bedink tensy God self die idee in sy brein geplant het. Hy skryf: "And one certainly ought not to find it strange that God, in creating me, placed this idea within me to be like the mark of the workman imprinted on his work; and it is likewise not essential that the mark shall be something different from the work itself. For from the sole fact that God created me it is most probable that in some way he has placed his image and similitude upon me, and that I perceive this similitude (in which the idea of God is contained) by means of the same faculty by which I perceive myself..."

Ten einde ons kognitiewe greep te verstewig is dit nodig dat ons kennis neem, dat ons, ten opsigte van die kennis-struktuur in ons brein, die produk is van 'n "gedeelde ervaringswêreld" en 'n "gedeelde kenniswêreld". Die gedeelde ervaringswêreld is die fisiese wêreld waarin ons gebore word en wat deur middel van ons sintuiglike waarneming daarvan, die fondasie lê van ons brein se vermoë om idees te vorm. Dit is die wêreld van vorm en kleur en tekstuur en ons ervarings van gemak en ongemak, genot, pyn, hartseer en blydskap, ensomeer.

Ons gedeelde kenniswêreld bestaan aanvanklik uitsluitlik uit die aanleer van klanke wat met bepaalde beelde (vorms) en ervarings geassosieer word. Wanneer 'n kind egter geleer het om bepaalde dinge en ervarings te verklank, kan hy ook geleer word om konsepte te vorm wat nie in sy gedeelde ervaringswêreld bestaan nie, deur hom 'n klank te leer. Betekenis van hierdie klanke word voorsien deur konsepte daaraan toe te dig uit sy bestaande kognitiewe inhoud. Voorbeelde van die laasgenoemde is syfers, goed, sleg, feëtjies, gode, engeltjies, spoke, woede, reg, verkeerd, ensomeer.

Die proses van idee-vorming deur middel van klanke word dan ook op hierdie stadium die standaardproses waardeur kennis aangeleer word. Natuurlik word die gedeelde kenniswêreld nou ons ervaringswêreld waarin ons ervaar en waarmee ons dink en leef. Die aanvanklike ervaringswêreld is nou diep versluier in ons onderbewuste, soos die wortels van 'n boom en ons het nie langer toegang daartoe nie. Ons leef en dink en handel dus asof ons gedeelde kenniswêreld die hele wêreld en die hele waarheid is.

"Ek kry my sit in die skadu van 'n Kiepersol wat homself staangemaak het in 'n klein kransagtigheid. Die water van die tufa suis 'n motreen oor die krans en 'n koelte vog teen my vel. 'n Kraai kras oor bome waarvan ek slegs die toppe kan sien. Die stilte ruis in die suis van die water en die kraak van gras in die ywerige kake van termiete, bo die asem van die wind in die droë blare van 'n vaalbos. 'n Tinktinkie blits na 'n insek en die dartel van 'n gestreepte akkedis oor 'n klip vang my oog. My hart is skielik vol en ek dink aan die mense van die eeue voor my tyd, wat soos ek, hier gesit en geluister het, na die donderende stilte. Ek het hul spore gesien in gelykplekke teen die hang en die klipskerwe van hul werwe ... en ek lig my hand in 'n groet ... want hulle is hier om my en by my. In hierdie stilte."

Ek lees weer wat ek hier geskryf het en ek weet dat die chemiese prosesse wat my denke en my bewussyn dryf en "my hart vul", bloot dit verwoord wat ek geleer het by mense van my tye.

Ek sê vir hulle dankie.

Johan Enslin is soos ander van die soekers 'n ewige student wat poog om die biologie en filosofie te versoen in 'n "teorie van alles". Hy kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za