Eienskappe van die Persoonlike God
van die Abrahamitiese godsdienste

Deur Jaco Steyn op 1 April 2012

Alhoewel baie aanhangers van die drie Abrahamitiese gelowe – die Christendom, die Judaïsme en die Islam, beweer dat húlle God nooit voldoende d.m.v. beperkte menslike vermoëns begryp of verstaan kan word nie, is daar tog verskeie plekke in die Ou Testament waar sekere van die menslike eienskappe van hul veronderstelde God duidelik na vore kom. Sekere van hierdie eienskappe soos verstandelike vermoëns, die vermoë om lief te hê, jaloers te wees, wraakgierig te wees en mag te hê, word vergroot en van toepassing gemaak op 'n Superwese wat ál hierdie eienskappe het in die uiterste graad. 'n Persoonlike God wat die ganse Kosmos vanuit niks geskep het, moet vanself-sprekend Almagtig wees sodat niks buite Homself in staat is om Hom te onttroon nie. Hy moet ook slimmer wees as enige van Sy skepsels en Hy moet inteendeel per definisie só slim wees dat Hy alles omtrent alles en almal weet. Terwyl sommige teïste beweer dat God buite enige menslike verstaan van begrippe soos "Goed" en "Kwaad" "Is", is daar ander teïste wat beweer dat Hy Perfek Goed is en daarom verdien om deur Sy skepsels vereer te word. Hy is volgens laasgenoemde teïste baie lief vir Sy skepsels en Hy wil daarom hê dat Sy skepsels gelukkig moet wees. Die 64 miljoen dollar vraag is natuurlik waarom Hy dan niks doen aan die daaglikse pyn en lyding van biljoene van Sy skepsels nie??

Baie teïste glo dat God buite Tyd en Ruimte bestaan en dat Sy "bestaanstoestand" (Engels: state of Being) daarom nié soortgelyk is aan die bestaan van die geskepte heelal en alles daarbinne nie. Tyd en Ruimte is dus nié deel van God se "bestaanswerklikheid" nie en omdat Hy Alwetend is, weet Hy presies wat in die "toekoms" van die heelal sal gebeur omdat Hy as't ware buite Tyd "Is" en sodoende bewus is van alle toekomstige gebeurlikhede; asook van alles wat in die verlede in die heelal plaasgevind het. Binne God se "verstaan" van Sy ondergeskikte skepping is alle gebeure dus voorafbepaal omdat Hy presies weet wat alles gebeur het en wat in die toekoms sal gebeur. Daarom is Hy in staat om d.m.v. profete die toekoms aan gewone "tydsgebonde" mense bekend te maak. Calviniste se uitverkiesingsleer is dus een van die logiese gevolgtrekkings van hierdie verstaan van die eienskappe van 'n Alwetende God. Alle mense is dus hiervolgens 100% afhanklik van die genade van God en hulle beskik op die ou end beslis nié oor 'n vrye wil waardeur hulle toekomstige gebeure onbepaald en willekeurig kan beïnvloed nie. Alle mense is dus as't ware marionette van God, terwyl hulle slegs dink dat hulle "vrye wilsbesluite" kan neem. God is dus "gedurigdeur" bewus daarvan dat sommige van Sy skepsels eendag "Hemel toe gaan", terwyl die ander ongelukkige biljoene bestem is om "Hel toe te gaan". Die omgee vir en genade betoon aan andere is per definisie tydsgebonde omdat iemand wat omgee of liefhet, altyd ander mense se welstand voor en na 'n spesifieke tyd, met mekaar moet vergelyk. Menslike denke en dade is gebonde aan tyd en ruimte, terwyl God se Wil "altyd" dieselfde is omdat Sy Wese / bestaanstoestand "altyd" onveranderlik is en nie verander van een oomblik tot 'n volgende oomblik nie. Hy kan dus nie "Lief" wees vir Sy skepsels soortgelyk aan mense se verstaan en ondervinding van die begrip "liefde" nie.

Daar is egter sogenaamde oop teïste wat beweer dat die toekoms beslis nié 100 % vooruitbepaal is nie. God se mag word beperk deur mense se wilsbesluite. Mense beskik dus eintlik oor 'n "vrye wil" wat toekomstige gebeure onbepaald kan verander. Hierdie godsbeeld herinner nogal aan sommige kwantumfisici se aanname dat klein deeltjies soos o.a. kwarke, se toekomstige bewegings nié 100% akkuraat voorspel kan word nie. Na gelang wetenskaplikes meer kennis opdoen van die bewegings van klein deeltjies, kan hulle meer akkuraat bepaal wat die waarskynlikheid daarvan is dat 'n deeltjie links in plaas van regs, vorentoe sal beweeg. Profesie is dus volgens hierdie godsbeskouing nooit 100% akkuraat nie, maar afhanklik van beide menslike en Goddelike wilsbesluite. Die probleem met hierdie "halwe-teïstiese" godsbeskouing is dat God eintlik nié 100% Almagtig of Alwetend kan wees nie omdat Hy nooit seker kan wees van dinge wat môre of oormôre binne Sy geskepte heelal gaan plaasvind nie!!

Haat die God van die Ou Testament Sy eie skepsels?

Terwyl daar dus aan die een kant 'n verskil is tussen "oop" teïste wat glo dat God nie eintlik heeltemal Almagtig is nie omdat toekomstige gebeure tot 'n mate afhanklik is van mense se vrye wilsbesluite, en "geslote" teïste wat glo dat God presies weet watter besluite mense gaan neem omdat mense se oënskynlike vrye wilsbesluite eintlik deur God vasgestel is, is daar aan die ander kant 'n verskil tussen teïste wat glo dat God altyd dieselfde Perfekte bestaanstoestand het wat buite Tyd en Ruimte "Is", en ander teïste wat glo dat God se gemoedstoestand kan verskil van een oomblik tot 'n volgende oomblik. God is dus volgens laasgenoemde (Bybelse?) siening in staat om Sy skepsels lief te hê of te haat omdat Hy een oomblik wraakgierig kan wees en 'n volgende oomblik liefdevol kan wees...

'n Goeie voorbeeld van die aaklige eienskappe van die god Jahwe van die Ou Testament, is die "les" wat die profeet Elisa aan 42 kinders geleer het nadat hulle met hom die spot gedryf het oor sy kaalkop:

II Konings 2:23-24: "En daarvandaan het hy [Elisa] opgegaan na Bet-el; en terwyl hy met die pad opgaan, kom daar klein seuntjies uit die stad uit wat met hom spot en vir hom sê: Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop! Toe het hy agter hom omgekyk en hulle gesien en hulle gevloek in die Naam van die HERE [!]; en twee berinne het uit die bos gekom en van hulle twee-en-veertig kinders verskeur."

Wanneer ons hierdie storie in die Bybel van naderby ontleed, is dit duidelik dat daar heelwat ooreenkomste is tussen die optrede van sommige hedendaagse duiwelaanbidders en die profeet Elisa!

Volgens 'n aanlyn woordeboek se definisie van die woord "vloek" (Engels: curse), gebruik 'n sekere persoon 'n vloek om die hulp van 'n bonatuurlike wese (gewoonlik 'n god – in hierdie geval Jahwe van die Ou Testament) te verkry ten einde iemand anders leed aan te doen:

curse: 1. a calling on God or the gods [of duiwels?] to send evil or injury down on some person or thing. 2. a profane, obscene, or blasphemous oath, imprecation, etc. expressing hatred, anger, vexation, etc. 3. evil or injury that seems to come in answer to a curse. 4. any cause of evil or injury.

Duiwelaanbidders sowel as die profeet Elisa versoek dus die hulp van 'n (denkbeeldige?) bonatuurlike wese ten einde hul slagoffer(s) doelbewus leed aan te doen.

Daar is nog voorbeelde in die Ou Testament wat daarop dui dat God sommige van Sy skepsels haat omdat hulle die een of ander oortreding begaan het:

  1. Numeri 16:30 "Maar as die Here iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die Here verag het."
  2. Hoséa 9:15 "Al hulle boosheid is byeen in Gilgal, want daar het Ek hulle begin haat weens die boosheid van hulle handelinge; Ek sal hulle uit my huis uitdrywe, hulle nie meer liefhê nie. Al hulle vorste is opstandig."
  3. Jeremia 19:9 "En Ek sal hulle die vlees van hul seuns en die vlees van hul dogters laat eet, en hulle sal elkeen die vlees van sy naaste eet..."

Die probleem met die werklikheid van Boosheid in die wêreld

Nie-teïstiese filosowe het al verskeie kere die werklikheid van boosheid as 'n argument teen die bestaan van 'n Almagtige en Perfekte Goeie God gebruik. Óf God wil ontslae raak van alle boosheid, maar is nie in staat om dit te doen nie omdat Hy nie werklik Almagtig is nie, óf God kan ontslae raak van alle boosheid, maar wil dit nie doen nie omdat God óók Boos is! Tradisionele Christene het al probeer om hierdie teenstrydige eienskappe van 'n veronderstelde Liefdevolle en Almagtige God genoegsaam te verduidelik, maar elkeen van hulle argumente is geweeg en te lig gevind. Victor J. Stenger verwys op bladsye 220 tot 222 van sy boek God: The failed hypothesis na die volgende mislukte pogings van hulle:

Die volgende teenargumente weeg egter swaarder as die voorgaande flouerige pogings:

Daar is baie onnodige lyding op aarde soos natuurrampe wat nié die gevolg is van menslike besluite nie en wat onder die beheer staan van 'n veronderstelde Almagtige God. Mense kan lesse geleer word sonder al daardie onnodige pyn en lyding in die wêreld. Die goeie kán sonder die bose bestaan – om 'n pop vir jou dogter te koop is 'n goeie daad, maar om nié 'n pop vir haar te koop nie is nie noodwendig 'n bose daad indien sy alreeds 'n kamer vol poppe het nie. Indien God 'n ander betekenis heg aan die woord "Boos" is Hy eintlik maar self 'n Bose maghebber wat nie verdien om deur mense aanbid of vereer te word nie. Waarom sou God dan in die eerste plek mense geskep het wat na bewering "na Sy beeld geskape is", maar wat 'n ander verstaan van die begrippe "Goed" en "Kwaad" het? Indien die Duiwel verantwoordelik is vir alle Boosheid, is God tóg inderwaarheid op die ou end indirek verantwoordelik daarvoor omdat Hy na bewering die Skepper is van die Duiwel en die Duiwel binne 'n oogwink kan vernietig as Hy regtig wou. Daar is nog boonop geweldig baie onnodige pyn en lyding (boosheid) in die wêreld wat beslis nié geregverdig kan word deur enige veronderstelde "Goeie" Goddelike Plan nie.

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 083 384 1115. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za