.

Die Drie Verlore Sleutels van die Christendom

Deur Dr. Piet Odendaal op 1 September 2013

.

Wat volg is 'n distillasie van my boek, The three lost keys of Christianity.

Ter aanvang wil ek twee punte noem: Eerstens, waar ek die woord "kerk" gebruik, verwys ek na geen spesifieke denominasie nie, maar is dit 'n versamelwoord vir alle konserwatief-Christelike denominasies. Tweedens, is die boek doelbewus in akademiese styl geskryf met baie verwysings en 'n uitgebreide bibliografie. Ek wou beskuldigings vermy dat ek maar net persoonlike opinies weergee.

ONS LEEF NOU IN 'N ERA waar die institusionele Christendom skerp aan die taan is. Daar is talle aanduiders op die Internet hoedat kerke wêreldwyd lidmate verloor. Tog is dit interessant dat baie van dié wat buite die formele kerk staan, hulself as Christene beskou. Hoe bring mens hierdie kloutjie by die oor? Die antwoord is dat daar baie denkende mense is wat – terwyl hulle nie die Bybel verwerp nie – net nie meer bereid is om dogmas en leerstellings bloot op grond van blinde geloof en tradisie te aanvaar nie. Hulle begin om verby ortodoksie te dink.

Ongelukkig bevind baie van die vervreemdes, oftewel andersdenkendes, hulle nou in 'n niemandsland, sonder duidelike opsies om aan hul geestelike behoeftes te voldoen.

Die Deense filosoof Søren Kierkegaard het geskryf, "Christendom has done away with Christianity. If anything is to be done about it, the attempt must be made to reintroduce Christianity." Kierkegaard het so in die middel van die 19e eeu floreer. Wat Kierkegaard impliseer is dat die aanvanklik suiwer Christendom, met verloop van tyd gestroop is van geestelikheid en agtergelaat is met 'kerklikheid'. Die benadering in my boek val in lyn met Kierkegaard se standpunt en daardeur wil ek bydra tot herontdekking van die vroeë Christendom – 'n Christendom waar geestelike ontwikkeling NA BINNE gesoek word.

HOE HET DIT GEKOM dat ek hoegenaamd so 'n boek geskryf het? Dit vat die pad vêr terug. Ek het in 'n baie NG-konserwatiewe huis in Bloemfontein groot geword. Nietemin het daar by my as kind – soos seker ook maar by baie ander kinders – voor-die-hand-liggende vrae opgekom wat volwassenes nooit bevredigend kon beantwoord nie:

1. Die Bybel vertel ons dat God alles geskep het. Ook staan geskryf, "God is Liefde". Die vraag is hoekom het Hy dan 'n hemel en 'n hel geskep?

2. Daar word ook gesê dat net diegene wat glo dat Jesus vir die mensdom se sondes gesterf het, die saligheid sal beërwe. Wat van mense wat voór Jesus geleef het, of in lande waar hulle nog nooit van Hom gehoor het nie?

3. As mens so na die wondere van die sterrehemel kyk, is daar is ook ander vrae wat by mens opkom: wat is alles daar buite? Is daar dalk ook mense? En as daar wel mense sou wees – Het Jesus ook vir hulle gesterf?

Die standaard antwoorde van volwassenes – hetsy ouers, onderwysers of predikante – was min of meer:

"Dit is nie vir die mens om al hierdie dinge te weet nie"
"Die weë van die Here is duister"

Dis nou nie juis die tipe antwoorde wat 'n soekende gemoed tevrede kan stel nie.

Ek het uiteindelik, na baie jare tot die besef gekom: Die Christus beginsel is universeel. Om dit net te koppel aan die historiese Jesus wat 2000 jaar in Jerusalem op planeet Aarde geleef het, word die Christus beginsel beperk in ruimte en tyd. Dit is in hierdie beperkende konteks dat vrae ontstaan wat net nie antwoorde het nie – soos dié wat hierbo genoem is.

Nou kan ek wel gevra word: "Goed, ortodokse Christelike godsdiens het jou nooit aangegryp nie; maar het iets gebeur om jou geestelike denke in 'n ander rigting te stuur?"

Wel, daar het niks spesifieks gebeur nie; daar was geen 'Aha!' oomblik nie. Dit was eerder 'n proses van geleidelike groei, weg van die ortodoks gebaande weë, en was ongetwyfeld gekoppel aan 'n voorliefde vir lees sedert my vroeë kinderjare. Ek het ure in Bloemfontein se stadsbiblioteek rondgedwaal. Ek skat ek was so sestien – toe kom ek af op boeke van Paul Brunton. Hy het so in die negentien dertigs en veertigs geskryf. Alhoewel hy nooit vir my 'n ghoeroe was nie, het sy boeke tog by my insigte geplant vir 'n wyer soeke na geestelike kennis en ervaring.

Daar is 'n aktiewe Paul Brunton Philosophical Foundation in New York. Dit het 'n webwerf, en 'n besoek is nogal die moeite werd. Die volgende is titels van drie van sy boeke:

Brunton gebruik die term Overself vir die goddelike dimensie in elke mens.

Die aspek wat hy deurgaans benadruk is dat dit die mens se geestelike bestemming is om sy eie heil te soek deur innerlik te delf – langs die binne-pad. Dit is inderdaad die essensie van alle outentieke wysheidsleringe; en ook van die Bybel – as dit allegories verstaan word. So herken ons die binne-pad ook in die mistieke verstaan van Boeddhisme, Hindoeïsme, en die ou Griekse wysgere. Tewens die binne-pad staan sentraal tot die sogenaamde oerwysheid wat pertinent na verwys word in die Bybel:

"Staan op die ou weë en kyk en vra na die ou paaie, wat tog die goeie weg is en wandel daarin." (Jeremia 6:16).
"Wat ons verkondig is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid vir ons voorbestem het." (1 Korintiërs 2:70).

Eusebius was 'n gevierde kerkvader in die 4de eeu en het die eerste geskiedenis van die Christelike kerk geskryf. Een hele hoofstuk van sy geskiedenis is getiteld: Die godsdiens wat Hy verklaar het was nie nuut of vreemd nie. Inderwaarheid is dit die eerste en ware godsdiens.

Augustinus skryf in die vyfde eeu: "Dit wat die Christelike godsdiens genoem word, het nooit nié bestaan nie vanaf die begin van die menslike ras."

Dink mooi oor wat Eusebius en Augustinus sê. Die implikasie is verreikend – naamlik dat die geestelike godsdiens van die vroeë Christene nie gekoppel was aan die persoon van Jesus nie. Dit het gegaan oor die universele Christus-beginsel wat reeds vanaf die vroegste tye bestaan het. Inderdaad, Jesus self het nooit gesê dat Hy gekom het om vir menslike sondes te sterf nie; Hy het gekom om Christus bewussyn te demonstreer – bewussyn van die Universele Christus.

TEEN HIERDIE AGTERGROND het ek deur die jare maar so verby die kerk geskuur.

Sowat agt jaar gelede het ek toe besluit om tog maar die kennis en insigte wat ek oor jare opgedoen het te boek te stel – al was dit dan ook net kennis en insigte uit my persoonlike perspektief. Oor 'n periode van sewe jaar is sowat 700 boeke en 1600+ internet items deurgewerk. Daar was geen plan of raamwerk nie. Ek het bloot deur te 'cut and paste' inligting onder 'n groot klomp trefwoorde versamel – wat op die ou end gegroei het tot 487!

Die aanvanklike titel wat ek vaagweg in my kop gehad het was, From Churchianity to Christianity. Soos ek egter deur die massas inligting geploeg het, het dit gaandeweg duidelik geword dat al die inligting natuurlikerwys onder drie aspekte tuisgebring kan word – aspekte wat die kerk nog altyd misgekyk het of doelbewus negeer het. Die titel wat toe uitgekristaliseer het was The Three Lost Keys of Christianity.

Hoe het hierdie sleutels verlore geraak? Dit was nie deur onkunde of nalatigheid nie. Nee – hulle is doelbewus buite die bereik van gewone mense geplaas deur Romeinse keisers en kerkowerhede. Om dit te verstaan is 'n kort oorsig nodig van die vroeë kerkgeskiedenis.

Vroeë Kerkgeskiedenis

Die vroegste Christene het basies uit twee groepe bestaan. Eerstens was daar dié wat alles in die Bybel letterlik opgeneem het. Die skrywers Freke & Gandy verwys daarom na hulle as Literaliste. Hulle het geen gevoel of benul gehad van die mens se goddelike dimensie nie. Hulle was vêr in die meerderheid – soos vandag nog. Teenoor hulle het gestaan die Gnostici, wat 'n klein minderheid was. Hulle het Christus en die koninkryk van God langs die binne-pad gesoek, en het die Skrif en Jesus se leringe allegories / simbolies verstaan deur aanwending van die intuïsie.

Intuïsie is inderdaad 'n sleutel tot die ervaring en verstaan van geestelikheid. Nicholas van Cusa (1401-1464) – 'n kardinaal en gesiene wetenskaplike en filosoof – het dit só gestel: "Die mens kan slegs tot kennis van God en die heelal kom deur intuïsie." Wat Nicholas impliseer is dat daar vlakke van werklikheid is wat nie met die verstand bereik kan word nie – dit is die geestesvlak – en dat net intuïsie daartoe kan deurdring.

Paulus verwys kennelik na intuïsie as hy praat van die vrede van God wat die verstand te bowe gaan (Filippense 4:7). Dit wat die verstand te bowe gaan, kan net toeganklik wees vir intuïsie.

Dis treffend hoe baie kunstenaars – hetsy skrywers, digters, komponiste, en uitvoerende kunstenaars – praat van inspirasie. Inspirasie is niks anders nie as die invloei van energie of kennis vanaf vlakke wat bokant die verstand lê – en dit is intuïtiewe inspirasie. So noem die beroemde sopraan René Flemming dat ongeag hoe goed haar stem geoefen en tegniek bemeester is – is daar iets anders nodig om 'n gehoor te bereik. Sy vertel hoedat sy op 'n verhoog in die 'zone' ingaan, en dan net 'n instrument word waardeur die stem vloei.

Meeste van ons is waarskynlik nie van nature intuïtief nie. So die vraag is of intuïsie ontwikkel kan word? Jesus gee die antwoord: "Bid en vir julle sal gegee word; soek en julle sal vind; klop en vir julle sal oopgemaak word." (Mattheus 7:7). Dit gaan nie hier oor aardse goed nie, maar oor die vermoë om te kan verstaan – d.w.s. om intuïsie te kan ontwikkel. Maar dit dui ook aan dat daarvoor gewerk moet word – dit val nie sommer in die skoot nie. Daar moet gebid, gesoek en geklop word, Dit verg volgehoue innerlike uitreiking. Tennyson stel dit mooi: "To follow knowledge like a sinking star, beyond the utmost bound of human thought." Daar moet uitgereik word na die onsienlike, die onverstaanbare.

Tog, het Jesus wel ook sy dissipels direk tot geestelike insig gehelp: "Toe open hy hulle verstand om die Skrif te verstaan." (Lukas 24:45).

OM TERUG TE KEER TOT DIE Literaliste en Gnostici: Die verskil is basies die verskil tussen die navolgers van die breë weg en die smal weg, waarna Jesus verwys het. Hy het gesê dat die breë en maklike weg lei na die verderf, en die smal en moeilike pad na die lewe.

Die breë weg is die buite-pad van die Literaliste. In Jesus se tyd is dit gevolg deur bloot aan die uiterlike voorskrifte en rituele van die Fariseërs te voldoen. Dit het geen geestelike aspirasie en soeke behels nie. Die breë weg is vandag nog steeds die blinde – feitlik meganiese – aanvaarding van dogmas, leerstellings en rituele. Daarom is dit die maklike pad wat nie veel poging verg nie. Dít is die buite-pad waarop baie reis.

Die smal weg verg volgehoue innerlike soeke na geestelikheid, wat die moeilike pad na die nou poort is. Dit is die binne-pad wat poging verg sonder ophou.

Die Konsilie van Nicaea (325 NC)

Die Literaliste se sienings en benadering tot godsdiens is by die Konsilie van Nicaea in 325 NC, deur die bemoeiing van Keiser Konstantyn in beton vasgemessel tot diep in die negentiende eeu.

Konstantyn het hierdie Konsilie byeengeroep as gevolg van 'n twispunt tussen twee kerklikes in Alexandrië. Hy het die kerk as deel van die staat beskou en hy het gevoel dat twis in die kerk ook die eenheid van die staat sou aantas. Die Keiser het hom bemoei het met al die fasette van die Konsilie wat twee maande geduur het. Sy persoonlike sienings was op al die uitsette afgestempel, soos bevestig deur Eusebius in sy Life of Constantine. Daar was drie uitkomste van die Konsilie wat die gang van die institusionele Christendom tot diep in die negentiende eeu sou bepaal:

Eerstens was daar die belydenis van Nicaea wat met 'n mate van aanpassing nog steeds in meeste kerke gebruik word. Die belydenis is hoofsaaklik gegrond op historiese feite rondom Jesus – van sy geestelike leringe is daar geen sprake nie. Ongelukkig het die bewoording van die belydenis, gegrond op letterlike vertolkings, daartoe gelei dat literalisme tot vandag toe nog kenmerkend is van die institusionele Christendom. Die kerklike dogmas en leerstellings dui nie op die verstaan van 'n enkele gelykenis nie.

Tweedens het Konstantyn die Nuwe Testament laat herskryf: wat is toe bygevoeg of weggelaat? Hy het alle bestaande manuskripte, saam met ander verbandhoudende geskrifte laat vernietig. Dit plaas groot vraagtekens oor die integriteit van die Nuwe Testament.

Derdens het Konstantyn die doodstraf ingevoer vir kettery – toe hoofsaaklik gemik op Gnostisisme. Hierdeur het hy die saad gesaai vir die verskrikkings van die latere Inkwisisie en hekse-jagtery.

Dit is ontstellend om te weet dat Konstantyn – de facto die formuleerder van die ortodokse Christelike Godsdiens soos dit vandag nog bestaan – die reputasie gehad het van 'n massamoordenaar. In dieselfde jaar as die Konsilie van Nicaea het hy sy vrou en seun laat vermoor, asook 'n jong nefie en sy vrou se broer. Hy het massa-slagtings in Noord-Afrika aangevoor en het gevangenes tot die dood teen wilde diere laat veg. Hy het homself eers kort voor sy dood laat doop. Dit was naamlik destyds die geloof dat deur die doop alle sondes vergewe word, en dat slegs sondes wat daarna gepleeg word toerekenbaar is. So het Konstantyn homself genoeg tyd gelaat om met sy gruweldade voort te gaan. Sy seuns het eweneens hulself ook eers kort voor hul dood laat doop.

Die Kerk se donker geskiedenis

Op die fondamente wat Konstantyn gelê het, het die kerk sy letterlik-gefundeerde dogmas en leerstellings meedoënloos afgedwing oral waar hy politieke mag bekom het. Alle andersdenkendes is vervolg en meermale tereggestel. Die saad vir hierdie gewelddadigheid is deur Augustinus (354-430 NC) gesaai. Hy het hom naamlik beroep op Lukas 14:23: "Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word." Dié wat nie wou inkom nie, moes uitgewis word.

In die dertiende eeu het Gnostisisme sterk ontwikkel in die suide van Frankryk onder die Chatare. Dit het die pous genoop om in 1208 'n kruistog te loods wat 40 jaar sou duur. Soldate is vir hierdie edel taak gelok met die belofte van versekerde toegang tot die hemel en alles wat hulle kon plunder. Die kruistog was meedoënloos. Dorpe en stede is in totaliteit uitgewis – mans, vroue en kinders.

Al was die kruistog uiteindelik suksesvol, het Gnostisisme bly versprei. Daarom het Pous Gregorius IX in 1231 die Inkwisisie ingestel, wat vir 600 jaar sou voortduur. Hekse-jagtery is deur 'n pouslike Bul in 1484 ingestel. Derduisende mense is eers gemartel en dan lewendig verbrand. Die Inkwisisie en hekse-jagtery was verskriklik verby. Daar is museums in Europa wat van die martelinstrumente uitstal wat gebruik is. Mens verlaat hierdie plekke met afsku en walging vir dít wat kwansuis gedoen was in die naam van 'n God van Liefde.

Dit is des te meer onverkwiklik om te weet, die Inkwisisie en hekse-jagtery het nie primêr gegaan oor die sogenaamde 'suiwerheid' van geloof nie, maar oor die najaag van mag en rykdom. Veroordeeldes is nie net gemartel en tereggestel nie – hul eiendom is ook gekonfiskeer, wat naasbestaandes in die grootste ellende gelaat het. Daar was gevalle waar persone so lank as 30 jaar na hul dood opgegrawe, verhoor, skuldig bevind, en hul eiendom dan gekonfiskeer is. Nadat die Inkwisisie al sowat 140 jaar aan die gang was, kla Nicolaus van Eymeric, die hoof-inkwisiteur van Aragon: "In our days there are no more rich heretics ... It is a pity that so salutary an institution as ours should be so uncertain of its future."

Hekse-jagtery bied 'n bisarre voorbeeld van hoe die letterlike lees van die Bybel misbruik is vir finansiële gewin. Die Pous het twee inkwisiteurs, Kramer en Sprenger, opdrag gegee om 'n 'handleiding' vir hekse-jagtery op te stel. Dit is in 1486 gepubliseer onder die titel Malleus mallefecarum ("Die hammer van die hekse"). Daar was veertien uitgawes tussen 1487 en 1520, en ten minste sestien verdere uitgawes tussen 1524 en 1669. Die outeurs het slegs twee Bybelverse aangehaal – albei uit die Ou Testament – om die vervolging van hekse te regverdig:

"Die towerhekse mag jy nie laat lewe nie." (Eksodus 22:18).
"Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan nie – wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie." (Deuteronomium 18:10)

Hoekom het die Jode nooit hekse gejag nie? Die Christene het dit in die 15de eeu skielik ontdek as 'n manier om geld te maak. Die inwoners van Venesië het uiteindelik hewig beswaar by die pous aangeteken teen hierdie vorm van diefstal. Die pous het uiteindelik geswig – en skielik was daar geen hekse meer in Venesië nie!

Die Inkwisisie en hekse-jagtery is uiteindelik gestaak – nie deur herbesinning binne die kerk nie – maar as gevolg van besluite deur sekulêre owerhede. Dit moet genoem word dat Protestante net so lustig aan hekse-jagtery meegedoen het as die Katolieke. Beide Luther en Calvyn het dit sterk ondersteun.

Die kerk het ook kennis en wetenskap onderdruk om te voorkom dat kennis die 'suiwerheid' van dogmas en kerklike leerstellings ondermyn. Dit het gelei tot die vervolging van geniale wetenskaplikes soos Roger Bacon, Giordano Bruno en Galileo Galilei.

Anti-Semitisme was ook lank deel van die Christelike kultuur – gegrond op een vers: "Laat sy bloed op ons en ons kinders kom." (Mattheus 27:25). Dit is wat die Jode geskree het toe hulle by Pontius Pilatus aangedring het op Jesus se kruisiging. Toe die Christene mag bekom, het hulle wel deeglik gesorg dat die bloed van Jesus op die Jode en hul kinders was. Veral tydens die kruistogte is derduisende Jode – mans, vrouens en kinders – uitgewis en hul eiendom geplunder. Daar is gesaghebbendes wat beweer dat die Nazi-kampe en meegaande uitdelging van Jode nooit sou plaasgevind het as dit nie was vir die Christene se voortslepende Jode-haat nie.

JESUS HET GESÊ, "'n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom nie goeie vrugte nie." (Mattheus 7:18). Die vrugte van die kerk was wreedheid, geweld, vervolging, bygeloof, Inkwisisie, hekse-jagtery, anti-Semitisme, onderdrukking van kennis en wetenskap.

Al hierdie negatiewes kan direk gewyt word aan letterlike vertolkings van die Bybel! Daarom maak dit logies sin om die alternatiewe roete te ondersoek – naamlik die allegoriese / simboliese verstaan van die Bybel – en te volg waarheen dit lei. Dit is die eerste verlore sleutel van die Christendom.

Die Eerste Verlore Sleutel

DIE BYBEL MOET ALLEGORIES / SIMBOLIES VERSTAAN WORD

Let daarop dat allegoriese betekenis te doen het met die geestelike gebeure en uitdagings m.b.t. individue. Dit hou nie verband met die geskiedenis en toekoms van stamme, volke of die mensdom as geheel nie.

Daar is pertinente aanduidings in die Bybel dat leringe allegories / simbolies verstaan moet word. Jesus stel die voorbeeld met die gebruik van gelykenisse. Toe sy dissipels Hom vra hoekom hy die mense deur gelykenisse leer, het hy geantwoord, "...omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie." (Mattheus 13:13).

Paulus was sterk ingestel op allegoriese vertolkings en skryf aan die Korintiërs, "Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek vir dié wat verlore gaan." (2 Korintiërs 4:3). Dié wat verlore gaan het nog nie die intuïtiewe insig om geestelike waarheid te bereik nie.

Paulus sê ook, "Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spyse nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie." (1 Korintiërs 3:2). Vaste spyse is die onderliggende waarheid wat nie raakgesien kan word deur dié wat geestelik onderontwikkeld is nie – soos die Literaliste.

Gesiene kerkvaders soos Origenes en Clemens van Alexandrië het herhaaldelik die allegoriese interpretasie van die Skrif beklemtoon. So ook Philo van Alexandrië, 'n tydgenoot van Jesus. Hy was 'n Joodse filosoof, geskiedkundige en kenner van die Ou Testament. Sy versamelde skrywes, Die Werke van Philo, bestaan uit 45 hoofstukke. Drie is spesifiek getiteld Allegoriese Interpretasie. Meeste van die ander hoofstukke is ook deurspek met allegoriese uitleg.

'n Kernboek van die Joodse Kabbaliste is die Zohar. Daarin staan, met verwysing na die Torah (die eerste vyf boeke van die Ou Testament): "The narratives of the Torah are but the garment in which it is clothed. Woe unto him who mistakes the garment for the Torah itself."

Moses Maimonides van die 12e eeu was een van die mees gerespekteerde Joodse filosowe. Hy skryf: "The figures, hyperboles, and exaggerations in Scripture ... would create strange ideas if we were to take them literally."

Ook die ou feë-verhale en mites soos die werke van Homerus is allegorieë.

Hoekom word waarheid allegories versluier? Daar is ten minste vier redes:

  1. Die massas kan nie direkte waarheid begryp nie. Nietemin bied die gesigswaarde van allegorieë meermale morele lesse waarby mense kan baat.
  2. Allegorieë stimuleer die uitreiking na geestelike vlakke van realiteit wat buite die bestek van ons konkrete verstand val. Sodoende word intuïsie ontwikkel.
  3. Direkte openbaring van geestelike waarheid is gevaarlik. Mense wat nie die kapasiteit het om dieper waarhede te verstaan nie, word maklik verward deur die direkte aanbieding van geestelike waarheid. Dan word waarheid verdraai.
  4. Allegorieë dien ook om leringe te bewaar. Ortodoksie het 'n welbewese geskiedenis van Bybelvervalsing. Gelukkig het vervalsers nie genoeg geestelike insig gehad om die betekenis van allegorieë te verstaan nie, en het dit dan onveranderd deurgelaat. In hierdie verband maak Lomas & Knight die volgende amusante stelling in hul boek, The Hiram Key: "It is widely agreed that the very best way of transmitting ideas without distortion is via people that do not understand what they are saying."

'n Klaarblyklike vraag is natuurlik: "Kan allegoriese interpretasies gevalideer word?" Dit is immers so dat dieselfde frase of stelling meermale uiteenlopend geïnterpreteer kan word om by persoonlike ingesteldheid en insig aan te pas.

In haar boek, Chaos Theory, maak Katya Walter die volgende toepaslike stelling: "Your intuition can sometimes pick out a submerged pattern in apparent chaos. In perceiving it, you use the simple skill of pattern recognition." Op dieselfde manier – om die allegoriese leringe van geestelike leermeesters te begryp – moet ons die vermoë ontwikkel om patrone te kan herken. Leermeesters was maar té bewus van hierdie beginsel en het daarom gebruik gemaak van patroonmatige herhalings.

Ortodokse dogmas en leerstellings berus op enkele of slegs 'n paar verse, met min of geen stawing elders in die Bybel nie. Mens soek tevergeefs na patrone vir geloofwaardigheid van sodanige dogmas en leerstellings.

Is daar wel 'n herhalende patroon of leitmotief wat deur die allegoriese verstaan van die Bybel na vore kom? Die antwoord is 'n besliste ja – en dit is die tweede verlore sleutel van die Christendom.

Die Tweede Verlore Sleutel

DIE MENS IS 'N TWEEVOUDIGE WESE WAARIN KRAGTE VAN GEES EN MATERIALISME TEEN MEKAAR STRY.

Deur die koerante en ons self te moniteer, is ons maar té bewus van al die mens se negatiwiteite. Tog is daar verskeie stellings in die Bybel wat goddelikheid in die mens konstateer. Tewens, goddelikheid moet noodwendig in die mens wees a.g.v. die alomteenwoordigheid van die godheid, soos op verskeie plekke in die Bybel gestel:

"Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons." (Handelinge 17:28).
"Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge." (Romeine 11:36).
"Een God en Vader van almal wat oor almal en deur almal en in julle almal is." (Efesiërs 4:6).
"Want julle is almal een in Jesus Christus" (Galate 1:28).

Dat die alomteenwoordigheid van God inderdaad dan ook as 'n goddelike dimensie in elke mens manifesteer, word op verskillende plekke pertinent in die Bybel aangedui:

"Staan daar nie in julle wet geskrywe: 'Ek het gesê julle is gode nie?" (Johannes 10:34).
"Weet julle nie dat die Gees van God in julle woon nie?" (1 Korintiërs 3:16).
"As beeld van God het Hy die mens geskep." (Genesis 1:27).
"U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak. (Psalm 8:6).
"Christus is in julle, Hy is julle hoop op heerlikheid." (Kolossense 1:27).
"Die koninkryk van God is binne-in julle." (Lukas 17:21).

Die voorgaande stellings dat die Gees van God, die koninkryk van God, en Christus, "in julle is", beteken nie die dat dit afsonderlik in elke mens teenwoordig is nie. Met 'n wêreldbevolking van sowat 7 biljoen sou dit beteken dat daar 7 biljoen Geeste, 7 biljoen koninkryke en 7 biljoen Christusse moet wees. Nee, daar is 'n universele koninkryk, 'n universele Christus, en 'n universele Gees van God, waarin elke mens bewustelik kan deel.

Tewens as mens daaroor nadink, besef ons dat as God in alles is, is Hy ook in elke blaar en elke korrel sand. Die mens verskil egter van die sandkorrel en die blaar deurdat hy die potensiaal het om bewus te word van die innerlike goddelike teenwoordigheid.

Ongelukkig het die kerk oor die eeue heen die besef van goddelikheid in die mens dig versluier. Dit is gedoen deur afstand tussen mens en God te skep: Die mens – hiér; en God – daár. Dit is die essensie van die buite-pad.

NOU AS GODDELIKHEID WEL IN DIE MENS IS, vanwaar al sy negatiwiteite? Die antwoord lê in die mens se dualiteit, soos gestel in die tweede verlore sleutel: Die mens is 'n tweevoudige wese waarin kragte van gees en materialisme teen mekaar stry. Paulus verwoord hierdie innerlike stryd baie duidelik:

"Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar." (Galate 5:17).

Wat Paulus hier sê kan diagrammaties só voorgestel word:
WAT DIE GEES WIL  << >>  SONDIGE NATUUR

Om Paulus se woorde tot moderne terminologie te bring, sal dit só lyk:
GEESTELIKE DIMENSIE  << >>  MATERIALISTIESE DIMENSIE

Die slagveld is die menslike bewussyn.

Hierdie vyandige dualiteit in die mens word op vele plekke in die Bybel simbolies aangedui: bv. Kain en Abel; Jacob en Essau; Ismael en Isak; en Egipte en Kanaän. Die Psalms bied 'n deurlopende dualiteit tussen die Here en my vyande. Die woord 'Here' word sowat 1000 keer in die Psalms gebruik, en 'vyande' sowat 80 keer. Nou, niemand het juis vyande nie – behalwe politici. Daarom moet ons die woord, 'vyande', hier allegories verstaan as manifestasies van die laer self.

Dis ook in hierdie sin dat Jesus gesê het, "Ja 'n man se huismense sal sy vyande wees." (Mattheus 10:36). Letterlik is dit tog nie waar nie! Jesus gebruik egter meermale die woord, 'huis', as simbool vir die menslike bewussyn. 'Huismense' is dan die gedagtes wat mens in jou bewussyn toelaat. Deur jou gedagtes, kies jy self die vyande wat jy in jou huis innooi en huisves. Nietzsche dra dieselfde gedagte oor as hy sê: "But the worst enemy thou canst meet, wilt thou thyself always be; thou waylayest thyself in caverns and forests."

Paulus gebruik wydlopende terminologie vir die pare van teenoorgesteldes in die mens. Ek het sestien pare opgespoor en lys hier ses van hulle:

HOËR SELF

LAER SELF

Nuwe self

Ou self

Gees

Vlees

Die sigbare

Die onsigbare

Lig

Duisternis

Eerste mens

Tweede mens

Innerlike mens

Uiterlike mens

DIE MENSE SE GEESTELIKE EIND-DOEL is die algehele bewussyn van sy Hoër Self. Dit beteken terselfdertyd die totale oorheersing van die laer self of ego. 'n Mens loop hierdie pad alleen en soos Heraclitus dit verwoord, moet elkeen vir sy eie goud grawe: "If men care for gold, they must dig for it, otherwise they must be content with straw."

Die Pad is ook lank. Christina Rosetti druk dit so uit:

"Does the road wind up-hill all the way?
Yes, to the very end,
Will the day's journey take the whole long day?
From morn to night, my friend."

Ja, die reis is lank en moeilik en kan nie in een leeftyd voltooi word nie! Neem ook in ag die gevalle van kinders wat vroeg sterf en van persone wat verstandelik gestremd is. Hulle het geen kans om goddelike bewussyn in 'n enkele leeftyd te bereik nie.

Ons het egter nie net een leeftyd om die doel te bereik nie. Die mens is naamlik onderworpe aan die wet van wedergeboorte en die meegaande wet van oorsaak en gevolg – algemeen bekend as reïnkarnasie en karma. Dit is die derde verlore sleutel van die Christendom.

Die Derde Verlore Sleutel

DIE MENS IS ONDERWORPE AAN DIE WETTE VAN WEDERGEBOORTE EN VAN OORSAAK EN GEVOLG

Hierdie doktrine word nie maklik deur ortodokse Christene aanvaar nie. Die rede is hoofsaaklik omdat dit verdoem was by die Konsilie van Konstantinopel in 553 NC – onder leiding en aandrang van Keiser Justinianus – hoofsaaklik om politieke redes. Dit het toe tradisie geword vir ortodoksie om reïnkarnasie te verwerp.

Nietemin word daar in die Bybel – veral die Nuwe Testament – duidelik na reïnkarnasie en karma verwys. Die bekendste geval is sekerlik die genesing van die man wat blind gebore was, en die dissipels aan Jesus gevra het, "Wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?" (Johannes 9:2). Jesus het nie sy Dissipels betig oor hierdie vraag wat duidelik die aanvaarding van reïnkarnasie en karma impliseer nie. Tewens, as Jesus die lering as foutief of gevaarlik beskou het, sou hy sy dissipels daarteen gewaarsku het. Hy het dit egter nooit gedoen nie, en daar is ook nêrens in die Bybel enige uitspraak daarteen nie.

Jesus het self het by geleentheid verklaar dat Johannes die Doper 'n reïnkarnasie was van Elia: "...maar Ek sê vir julle dat Elia al gekom het, en hulle het hom nie erken nie, maar aan hom alles gedoen wat hulle wou. So sal die Seun van die mens ook deur hulle ly. Toe verstaan die dissipels dat Hy met hulle van Johannes die Doper gespreek het." (Mattheus 16:12-13).

Ons moet ook kennis neem van die Essene – 'n derde Joodse sekte naas die Fariseërs en Sadduseërs – wat langs die Dooie see gewoon het, nie te ver van Jerusalem af nie. Volgens twee prominente geskiedskrywers van daardie tyd – Josephus en Plinius die Ouere – het die Essene reïnkarnasie aanvaar. Die wêreld het vir die eerste keer werklik bewus geword van die Essene met ontdekking van die Dooie See Rolle in die periode 1947-56.

DIE ORTODOKSE CHRISTENDOM leer dat mense na die dood óf hemel toe gaan óf hel toe. Die absurde implikasie van hierdie siening is dat die mens geen verlede het nie, maar 'n oneindige toekoms. Die aard van daardie toekoms hang af van wat 'n persoon tydens sy/haar leeftyd op aarde gedoen of geglo het – 'n leeftyd wat kan wissel vanaf enkele minute tot meer as 100 jaar. Die Katolieke Kerk leer wel die bestaan van 'n vaevuur as 'n soort van 'houtenk' voor 'n finale afstuur ter hemele of ter helle. Die eindresultaat bly egter dieselfde: hemel of hel!

Inderwaarheid leer die Bybel dat daar geen straf of beloning is nie – slegs oorsake en gevolge. Gevolge pas presies aan by die aard en omvang van spesifieke oorsake:

"Hy wat die bloed van 'n mens vergiet, sy bloed sal deur 'n mens vergiet word." (Genesis 9:6).
"En jou oog mag nie verskoon nie: lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet." (Deuteronomium 10:21).
"Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk, en volgens 'n man se wandel laat Hy hom ondervind." (Job 34:11).
"Wie 'n kuil grawe, sal daarin val; en hy wat 'n klip rol, dit sal na hom terugkom." (Spreuke 26:27).
"Werp jou brood uit op die water, want na verloop van baie dae sal jy dit vind." (Prediker 11:1).
"Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade." (Mattheus 16:27).
"Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai." (2 Korintiërs 9:6).

DAAR IS OOK DEKADE-LANGE NAVORSING in drie velde aan die gang, waarvan die gesamentlike bevindings die onus reeds verplaas het na diegene wat die realiteit van reïnkarnasie betwyfel:

Naby-dood ervarings (NDEs)
Dis 'n verskynsel waaroor sommige mense rapporteer wat klinies dood was, en toe weer bygekom het. Hulle ontmoet afgestorwe familie en vriende en in sommige gevalle 'n Wese van Lig. Hierdie Wese bevestig in sommige gevalle by hulle die realiteit van reïnkarnasie. 70% van mense wat NDEs gehad het, aanvaar reïnkarnasie. Die International Association for Near-Death Studies is in 1981 gestig, en 'n wetenskaplike joernaal oor die onderwerp is in 1997 geloods.

Hipnotiese regressie
Persone word onder hipnose geplaas en dan teruggevoer na 'n vorige lewe (of selfs lewens). In vele gevalle is die inligting wat so verkry is deeglik opgevolg en het dit merkwaardig geklop met feite wat tydens die hipnotiese sessies verkry is. Dit gaan hier spesifiek oor feite wat nêrens neergepen is nie, en wat slegs deur deeglike opvolgwerk gekontroleer kon word. Dit geld dikwels gevalle waar die betrokke persoon in 'n 'vorige lewe' in 'n totaal ander kultuur en geografiese omstandighede gelewe het. Ook in hierdie veld is daar nou 'n internasionale wetenskaplike vereniging, en 'n eerste internasionale kongres oor die onderwerp is in 2003 gehou.

Onthou van vorige lewens deur sekere jong kinders
Hierdie navorsing is in 1960 begin deur Dr. Ian Stevenson van die Universiteit van Virginia. Hy het gevind dat kinders wat van vorige lewens praat, begin om dit te doen op ouderdom 2 tot 4. Hulle hou dan op so teen 6 tot 7. Daarna kan hulle selfs ontken dat hulle enigiets onthou. Die lewens wat die kinders onthou is baie resent en die gemiddelde tydsverloop tussen sterwe van die vorige entiteit en die betrokke kind se geboorte, is slegs 15-16 maande. Dis ook gevind dat waar die manier van sterwe van die vorige persoon bekend is, het 70% op onnatuurlike wyse gesterf.

'n Fassinerende aspek van hierdie navorsing is die verband wat dikwels gevind word tussen geboortemerke of -defekte en die wyse waarop die vorige person gesterf het.

Stevenson het meer as 2500 gevalle-studies oor 'n periode van 40 jaar opgeteken. Hy het 12 boeke gepubliseer. Sy magnus opus is 'n werk van byna 2300 bladsye, met honderde foto's as dokumentêre getuienis.

Slotopmerkings

Die laaste deel van die boek gaan oor die draai van die sleutels – hoe kennis van die drie sleutels lig werp op die betekenis van die lewe, en die verstaan en toepassing van insigte wat vir baie eeue verdraai is deur letterlike vertolkings van die Bybel.

As mens die drie sleutels verstaan gaan daar 'n pad oop – al is dit smal en moeilik – waarop mens daagliks kan werk aan die groei van geestelike bewussyn. Dan verstaan mens Jesus se skynbaar enigmatiese stelling:

"Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld." (Mattheus 11:12).

Die implikasie is dat ons nie ons uiteindelike geestelike doelwit kan bereik deur net met gevoude hande vroomheid voor te hou nie. Paulus het gesê hy 'sterf daagliks', bedoelende dat hy elke uur van elke dag moet stry om gebondenheid aan die materialistiese ego of laer self af te sterf. Die geestelike pad is geen maklike pad nie en ons mag nooit terugsit en voel ons het nou bereik nie. Daar is 'n treffende Engelse frase vir die houding wat ons moet nastreef – eternal discontent.

Robert Browning stel dit so mooi:

"Ah but a man's reach
Should exceed his grasp,
Or what's a heaven for?"

Self-tevredenheid is inderdaad die gif wat geestelike aspirasie en ontwikkeling in die spore stuit. Die pad bly maar moeilik en die poort is nou.

Die boek The Three Lost Keys of Christianity kan bestel word by Dr. Piet Odendaal, 0128043599 / 0828765087 /

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.