Drie-eenheidsteorie

Deur Dr. At van Wyk op 1 April 2010

In 2010 is dit 1685 jaar sedert die Drie-eenheidsleer in 325 nC by Nicea in Bithinië (vandag Iznik, Turkye) aanvaar is. Sedertdien bely ortodokse Christene hul geloof in die Drie-eenheid – God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Maar soos dié belydenis histories in omstredenheid ontstaan het, só is hy byna 17 eeue later steeds omstrede.

Die Drie-eenheidsleer – moeilik verstaanbaar én verklaarbaar – word nie in die Bybel uitgelê nie. Die Rooms-Katolieke Kerk sê die leer is 'n misterie, 'n geopenbaarde leerstelling; met die Duitse teoloog Karl Rahner wat in 1997 in sy The Trinity skryf die Drie-eenheidsleer is 'n volslae misterie wat jy nie verstaan nie selfs nadat dit geopenbaar is.

Die woord trias word die eerste keer gevind in 'n geskrif van Theophilus van Antiochië rondom 150 nC; later verskyn dit in sy Latynse vorm trinitas in 'n skryfsel van Tertullianus (160-215), wat dikwels voorgehou word as die buite-Bybelse gebruiker van die Drie-eenheidsbegrip. Hy het van die Godheid gesê, "Ons omskryf dat daar twee is, die Vader en die Seun, en drie met die Heilige Gees."

Maar hy sien hulle nie as gelyke persone nie – ander uit daardie tyd sien hulle as gelyk en party nie. Want daar is só 'n leerstellige onsekerheid dat daar tot keiser Konstantyn se verskyning vroeg in die 4de eeu net so veel vorms van Christelikheid is as Christelike gemeenskappe – lees jy by Google, "The Early European Church".

Om wille vrede in die Romeinse Ryk is keiser Konstantyn ergerlik toe daar in 318 'n storm in die kerk losbars oor Jesus se plek in die Godheid. Ou biskop Alexander van Alexandrië en sy ondersteuners sê Jesus is waarlik God. Maar presbiter Arius van Libië sê daar was 'n tyd (voor sy geboorte) dat die Seun nie bestaan het nie, daarom is hy minder as die Vader maar groter as die mens – Jesus is niks meer as bemiddelaar tussen die mens en God nie.

Arius en sy gevolg word deur Alexander geskors, maar sy woorde, "Daar was 'n tyd toe die Seun nie was nie," word 'n strydkreet wat soos ander liedjies aan tafel gesing word deur matrose, meulenaars en reisigers.

In Alexandrië gaan dit woes soos die twee partye mekaar beveg oor wat bekend word as Arianisme en elk sy saak stel, met geweld op straat en graffiti teen die mure, só erg dat Christelikheid 'n onderwerp van bespotting word – tot in die teaters, lees jy by Google, "Church Fathers: Church History (Socrates Scholasticus), Book 1, Chapter 6".

Konstantyn, alleenheerser nadat hy Licinius in 324 in die Ooste verslaan het, wil orde in sy ryk hê en skryf iesegrimmig, bevelend en neerbuigend aan Alexander en Arius om tot versoening te kom, maar weet nie mooi waaroor dit gaan nie. Hulle twis voort en hy nooi al 1800 biskoppe van die Christelike kerk – 1000 van die Ooskerk en 800 van die Weskerk – uit na die eerste algemene kerkvergadering by Nicea in 325.

Die opkoms is klein – meestal uit die Ooste – net 318, word algemeen aanvaar, of 17,66 persent. 'n Groot meerderheid van dié klein minderheid neem by Nicea 'n besluit wat eeue bind. Hulle kom van oral, behalwe Brittanje, elk met sy eie priesters, diakens en aanhangers – tesame 'n skaar.

Openbare vervoer en verblyf word vir hulle gereël en as keiserlike gaste word hulle drie maande oormatig van alles voorsien. Die vergadering wat ook ander sake moet bespreek en van 20 Mei tot 25 Augustus strek, word op 14 Junie deur Konstantyn geopen. Hy wag tot almal sit en kom, volgens biskop Eusebius van Caesarea, in soos 'n hemelse boodskapper van God.

Hy pleit-dreig dat die strydendes tot versoening moet kom, maar toe hy gaan sit, gryp hulle mekaar figuurlik aan die keel met veroordelings en beskuldigings; en Arius dreunsing sy voordrag – 'n halfrym getoonset op musiek van Alexandrynse dansorkeste.

Só stoei hulle en na 'n wekelange woordestryd stel Konstantyn die woord homoousios voor om die Godheid te beskryf en bring só die debat ten einde, want dis gevaarlik om die keiser teen te spreek, skryf die moderne ondersoeker Alewyn Burger in 'n ongepubliseerde manuskrip Christendom. Die belydenis word deur almal onderteken, behalwe Arius en nog een, wat albei verban word.

Die woord homoousios beteken van "dieselfde substansie" en in die debat dat God, die Logos en die Heilige Gees van dieselfde substansie is, dus die Drie-eenheid. Dit staan teenoor die Ariane se geloof in homoiousios wat beteken "soortgelyke substansie", met die drie Godsfigure nie gelyk aan mekaar nie.

Dus maak die wegval van 'n enkele i 'n reuseverskil – homoiousios sonder sy eerste i word homoousios en verhef Drie-godheid tot Drie-eenheid by wyse van spreke.

Só gee 'n ongelowige keiser – hy aanbid steeds die songod en word eers op sy sterfbed in 337 deur 'n Ariaanse(!) biskop gedoop – die deurslag in die vaslê van die Drie-eenheidsleer.

Maar die twis duur voort, want Arianisme wil nie wyk nie – tot keiser Theodosius I die Niceense belydenis in 381 in Konstantinopel aan almal opdwing en bepaal dat die volgelinge daarvan katolieke Christene is en al die ander as mal ketters beskou word. Dis ook nou eers dat die Heilige Gees duidelik en met gelyke status by die Godheid ingeskakel word.

Steeds word vóór en ná kerkvergaderings by Efese (431), Chalcedon (451) en Konstantinopel (553) voortgestry oor die Godheid. Die debat is by tye op 'n hoë vlak, maar wat jy daaruit leer, is dis 'n ondersoek na 'n onoplosbare probleem.

Baie word gesê oor Jesus se "verwekking" op nie-lyflike vlak wat anders beoordeel moet word as die verwekking van 'n mens op lyflike vlak, soos die historikus Charles Freeman dit in 2009 in sy AD 381 – Heretics, Pagans and the Christian state verwoord: "The 'begetting' of Jesus is like no other begetting; for a start, one can hardly imagine God having sex."

Ook die kerkvergadering van 553 misluk om die strydendes te versoen, maar gee "rigting" aan die beoordeling van Christelike ortodoksie deur die vorige vier vergaderings – by Nicea (325), Konstantinopel (381), Efese (431) en Chacedon (451) – heilig te verklaar en die deelnemers Heilige Vaders te maak.

Freeman glo die Drie-eenheidsleer tussen 325 en 381 kan uit twee oogpunte beskou word: eerstens, dat die gebeure by Nicea en Konstantinopel as 'n openbaring Gods los staan van die historiese proses; tweedens, dat dit 'n historiese kwessie is wat soos enige ander uit die getuienis en bronne beoordeel moet word. Maar, sê hy, dit lyk of van jou verwag word om die historiese opsie te ignoreer.

Kan jy die historiese faktore in die ontstaan van die Christelike geloof uitwis ten gunste van 'n leer wat deur God "geopenbaar" word?

Hieroor bevind die historikus, wat met feite werk, hom waar hy nie wil wees nie. 'n Manier om kop te hou, is om te glo dat jy hier met mitevorming te maak het – soos dié waarmee die mens hom al millenniums toespin teen sy onkennis en angste.

Met die heiligverklaring by Konstantinopel van die vorige algemene kerkvergaderings en hul "vaders" word die eeue-oue Drie-eenheidsprobleem dermate met seënende hande bedek dat die meeste Rooms-Katolieke tot vandag min aandag daaraan gee, wat die reeds vermelde Rahner laat besluit: "Ons moet bereid wees om te erken dat, as die Drie-eenheidsleer as vals verwerp sou word, die grootste deel van die godsdienstige literatuur dalk ongeskonde sal bly bestaan."

"Ongelukkig het sekere Christene oor eeue heen geglo jy moet belydenisse soos die Drie-eenheidsleer aanvaar; en het hulle geglo hulle is op aarde om dit aan ander op te dwing", skryf Clayton Sullivan in sy Rescuing Jesus from the Christians (2002), soos aangehaal deur Sakkie Spangenberg in sy Jesus van Nasaret (2009).

Dr At van Wyk is 'n historikus.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za