.

Die Drie-Eenheid in ‘n ander baadjie

Deur Prof. Sakkie Spangenberg op 1 Oktober 2012

(Soos gepubliseer op die Nuwe Hervorming Netwerk webtuiste.)

Wanneer mens oor Jesus se goddelikheid wil skryf, is daar twee benaderingswyses.
(1) Mens kan dit 'van bo' benader en 'n verhewe Christologie daarstel.
(2) Mens kan dit 'van benede' benader en 'n aardse Christologie daarstel. Hierdie twee benaderings het hulle wortels in die Nuwe Testament self.

Die skrywers van die sinoptiese evangelies werk met 'n benadering 'van benede', terwyl die skrywer van die Johannes-evangelie en Paulus met 'n benadering 'van bo' werk. Die benadering 'van bo' het uiteindelik getriomfeer in die teologieë van die Griekse en Latynse kerkvaders en in belydenis-dokumente. Dit beteken egter nie dat ons vandag die benadering 'van benede' nie mag gebruik of laat herleef nie. Ons kennis van die tyd waarin Jesus geleef het én ons eie konteks vra na so 'n benadering. Ons het nie 'n ewigheidsperspektief nie en die wyse waarop sommige Nuwe-Testamentiese skrywers en die kerkvaders die saak benader het, laat nie reg geskied aan óns kennis en óns konteks nie. Die volgende stelling van James Charlesworth ('n Christen en kenner van die Dooie Seerolle) bly vir my rigtinggewend (1998:64-65):

"Dogmatics has been important in Christian history to clarify and defend the faith. That should be acknowledged, but it does not mean that what was defined as Christian faith for St. Augustine must be operative and constricting for us today. I am convinced that Augustine would have been opposed to such a move. It is now clear that we have insights into Jesus' time which Augustine did not know about, and that this new information, as well as the cultural climate at the end of the second millennium, necessitates finding new ways of expressing our understanding of Christian faith. Augustine struggled to shape faith – rather, the art of believing – for his time. Do we not have the same responsibility?"

Enige teoloog wat tans oor Jesus wil skryf, moet eers die volgende vraag beantwoord: 'Watter godsdiens het die historiese Jesus en sy ouers beoefen?' Teoloë mag hierdie historiese vraag nie ontduik nie, want dit het 'n radikale invloed op hoe mens se argument verder sal verloop. Bybelwetenskaplikes aanvaar dat die historiese Jesus en sy ouers tuis was in die Judaïsme van die Tweede Tempeltydperk (512 vC - 70 nC). Hy is immers besny, het die tempel en die sinagoges besoek, die Sabbat gevier en offers gebring. Dáárdie Judaïsme het besonder klem gelê op die eenheid van God. Die historiese Jesus se godsbegrip was dus monoteïsties (daar is slegs één God). Jesus het nie 'n Drie-eenheid verkondig en Homself ook nie as 'die ewige Seun van God wat voor alle eeue bestaan het,' voorgehou nie.

Mense reageer gewoonlik op sulke stellings deur na die Johannes-evangelie te verwys en te vra: 'Maar wat dan van die uitspraak in Johannes 14:9-11 waar Jesus Homself met God gelykstel?' Die antwoord hierop is dat die Johannes-evangelie eers teen die einde van die eerste eeu nC geskryf is. Daarin vind mens 'n ander beklemtoning as in die eerste drie evangelies. Daar is duidelike verskille tussen die eerste drie evangelies en die evangelie van Johannes en ons kan die Jesuskarakter wat hulle teken, nie sommer net met mekaar vermeng nie. In die eerste drie evangelies (wat die oudste kanoniese evangelies is) maak Jesus nêrens aanspraak dat Hy God is nie. Lees mens die eerste drie evangelies noukeurig is dit duidelik dat Jesus God as 'Vader' aangepreek het en God se liefde, barmhartigheid en empatie in woord en daad uitgeleef het. Johannes daarenteen, teken Jesus as 'n 'hemelse reisiger' wat tydelik op aarde kom woon het. Johannes se Jesus is meer tuis in die Hellenistiese wêreld as in die Joodse wêreld waarin Jesus self geleef het.

Die koninkryk van God waarvoor Jesus Hom volgens die sinoptiese evangelies beywer het, het te doen met God se regering hier op aarde en nie met 'n hemelse koninkryk nie. Jesus wou beklemtoon dat as God (soos Hy Hom as Joodse profeet leer ken het) regeer het, die wêreld van sy dag anders sou gelyk het as die wêreld van die Romeinse keisers en die Joodse godsdiensleiers.

In daardie tyd het die godsdiensleiers van die Joodse volk die hoofklem laat val op reinheid. Die totale samelewing was volgens hierdie idee gestruktureer en dit het mense se doen en late radikaal beïnvloed. Wie rein geleef het, was 'n kind van die heilige God, het die godsdiensleiers geleer. Maar reinheid het 'n hiërargiese struktuur gehad. Aan die bo-punt van die struktuur het die priesters en leviete gestaan, gevolg deur die gebore Jode en dan die bekeerde Jode. Aan die onderpunt van die leer het die mense van gemengde bloed gestaan (die 'bastards' gebore uit Joodse en 'heiden' ouers) gevolg deur mans sonder testikels en diegene sonder penisse.

Jesus het Hom teen hierdie strukturering van die Joodse samelewing verset en God se barmhartigheid en liefde kom beklemtoon. Hy meng met die onreinstes van onreines (die 'sondaars' volgens die destydse klassifisering) deur toe te laat dat melaatses naby Hom kom en vroue wat menstrueer Hom aanraak. Hy eet saam met die onreinstes van onreines van daardie samelewing en vertel 'n gelykenis wat uitwys dat reinheid (heiligheid) nie vir God belangrik is nie, maar barmhartigheid (vgl die gelykenis van die barmhartige Samaritaan). Ons het dan ook die volgende spreuk uit die historiese Jesus se mond: 'Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is' (Luk 6:36) en dit staan duidelik teenoor die spreuk: 'Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig' (Lev 19:2).

Daar is ook twee ander vrae wat teoloë moet antwoord: (1) 'Wat is die geboorte-uur van die Christelike godsdiens?' Is dit 4 vC (die geboortedatum van die historiese Jesus), is dit 33 nC (die sterfdatum van die historiese Jesus), of is dit 70 nC (die val van Jerusalem en die vernietiging van die tempel) en (2) 'Sedert wanneer is Jesus die weg, die waarheid en die lewe?' Binne Bybelwetenskaplike kringe is dit 'n aanvaarde standpunt dat die Christelike godsdiens eers na 70 nC begin het. Vergelyk die volgende stelling van die Ou-Testamentikus Robert Coote (1990:116):

"The Christianity of the New Testament began not with the birth, death, or resurrection of Jesus, but with the end of the temple to which the first cell of his followers was attached."

Tot en met 70 nC was die vroeë Christene slegs maar 'n groepering binne die Judaïsme van die Tweede Tempeltydperk. Daar was wel twee prominente subgroepe binne hierdie groep (1) Arameessprekende Christen-Jode, en (2) Griekssprekende Christen-Jode. Petrus en Jakobus was leiers van die Arameessprekende Jerusalemgroep, terwyl Paulus hom by die Griekssprekende groep tuisgemaak het. Die Jerusalem-groep het streng probeer hou by die Joodse tradisies, terwyl die ander groep vryer daarmee omgegaan het. Die boek Handelinge weerspieël iets van die spanning wat tussen die twee groepe ontstaan het. (Vergelyk die debatte oor besnydenis en die dieetvoorskrifte.) Die Jerusalem-groep het in Jerusalem saamgetrek en daar geleef in afwagting van die wederkoms. Maar die wederkoms het nie aangebreek nie en toe die Romeine in 70 nC Jerusalem inneem en die tempel vernietig, moes ook hierdie Christene Jerusalem noodgedwonge verlaat. In hierdie krisisuur begin alle Joodse groeperinge (ook die vroeë Christene) oor hulle godsdiens en hulle verhouding met God nadink. Die rabbyne trek teen die einde van die eerste eeu by Jamnia saam en omskryf Judaïsme nou baie duidelik. Dit veroorsaak dat hulle hulle van die Christen-Jode distansieer en hulle die sinagoges verbied. In hierdie smeltkroes van gebeure triomfeer die sienings van die Griekssprekende Christen-Jode wat meer tuis was in die Hellenistiese wêreld. Die vroeë Christendom was dus aanvanklik gevarieerd, maar teen die vierde eeu toe Theodosius die Grote (379-395) dit tot staatsgodsdiens verklaar het, is Christene gedwing om uit een mond te praat.

Die uitspraak 'Ek is die weg die waarheid en die lewe' kom in die Johannes-evangelie voor (Joh 14:6) en is nie deur die historiese Jesus uitgespreek nie. Die skrywer van die Johannnesevangelie het dit in Jesus se mond gelê om daardeur te beklemtoon dat die Christene wat nou uit die sinagoges verdryf word nie meer die Wet as oriënteringspunt gebruik nie. Die wet is nie meer vir hulle die weg, die waarheid en die lewe nie, maar Jesus is dit vir hulle. Ons moet hierdie uitspraak in sy historiese konteks verstaan. Dis gemaak teenoor die tydgenootlike Jode wat hulle mede-Jode wat Christene geword het, uit die sinagoges ban (vgl die vertelling in Joh 9:1-34). Die evangelie verraai duidelik sy omgewing. Dis 'n omgewing waar die breuk tussen Christene en Jode op die spits gedryf is, daarom maak Johannes se Jesus ook die kru uitspraak in Johannes 8:44 'Julle het die duiwel as vader' wanneer Hy met sekere groepe bots. Dit is egter nie die historiese Jesus wat hierdie woorde uiter nie, maar die vertelde Jesus van die Johannes-evangelie. Die Jesus van die Johannes-evangelie is 'n Jesus met totaal ander karaktertrekke as die Jesus van die sinoptiese evangelies.

Die studies oor die historiese Jesus van die afgelope paar dekades het uitgewys dat Jesus en sy verkondiging teen die agtergrond van die Judaïsme van die Tweede Tempeltydperk verstaan moet word. Baie van die uitsprake wat later oor Jesus gemaak is, het te doen met die feit dat Christen-Jode nou in die Grieks-Romeinse wêreld verstrooi is en dat hulle hulleself in daardie samelewings moes handhaaf. Dis ook in hierdie wêreld waar Paulus tuis was en daarom verkies hy om te praat van 'Christus Jesus' en nie 'Jesus Christus' nie. Hy herdefinieer Jood-wees en beklemtoon Jesus se goddelikheid. Dis in hierdie Hellenistiese samelewings dat die vertellings oor Jesus se hellevaart, sy opstanding en hemelvaart gegroei het tot belangrike verkondigings. Ons moet egter onthou dat die vertellinge oor Jesus se hellevaart (vgl Ef 4:9; 1 Pet 3:19, 4:6) sy opstanding (Matt 28:1-10; Luk 24:1-12) en hemelvaart (Luk 24:50-53; Hand 1:9-11) ingebed is in daardie mense se kenniswêreld. Hulle het 'n drieverdieping heelal geken en teken die triomf van Jesus se boodskap deur middel van hierdie drieverdieping-kosmos. In ons wêreldbeeld is daar egter nie 'n hel en 'n hemel meer nie en lyke word nie weer lewendig nie. Om hierdie verhale met 'n moderne wêreldbeeld te interpreteer en dit as 'wolhaarstories' af te maak, doen die verhale onreg aan. Ons moet dit kultuursensitief bestudeer en interpreteer. Doen ons dit só behoort ons in ag te neem dat ons hier met mitiese inkledings te doen het en mites is nooit waar of onwaar nie, maar 'lewendig' of 'dood'. In die woorde van Robert Lane (1994:44):

"We cannot refute a myth because as soon as we treat it as refutable it is no longer a myth but has become hypothesis or history. We need not believe everything we read in the Bible as literally true (because it is not), but it can be read as pointing towards a truth, or truths, about the human history."

Daardie gelowiges wou verkondig dat die saak van Jesus nie afgeloop het nie. God se liefde, barmhartigheid, vergewensgesindheid en sorg is steeds 'n werklikheid wat mense deur die Gees kan beleef.

Die volgende vraag wat ons moet beantwoord, is of gelowiges wat die hellevaart, die opstanding en die hemelvaart van Jesus nie meer as historiese en fisiese gebeure erken en bely nie, nog as Christene kan deurgaan. Hierop gee John Macquarrie 'n baie goeie antwoord (1990:412):

"Suppose in our account of the career of Jesus we had felt compelled to draw the bottom line under the cross? Suppose we omitted the 'joyful mysteries' that traditionally came after the cross? Would that destroy the whole fabric of faith in Christ? I do not think so, for the two distinctive Christian affirmations would remain untouched – God is love, and God is revealed in Jesus Christ. These two affirmations would stand even if there were no mysteries beyond Calvary."

Dit is hierdie soort Christologie – die Christologie 'van benede'; die Christologie wat erns maak met die historiese Jesus, die wêreld waarin Hy geleef het en die ontwikkeling van die vroeë Christendom – wat heelwat gelowiges in die een-en-twintigste eeu trek. Vir diegene wat nie die worstelpad met die kritiese Bybelwetenskap geloop het, en nie vertroud is met die navorsing rondom die historiese Jesus nie, mag dit na 'n reduksie van die Christelike boodskap klink, maar dít is dit allermins. Die Jesus wat mens deur kritiese studies leer ken, laat jou hart net so warm klop soos voorheen – indien nie warmer nie.

Die vraag oor die Drie-eenheid kan ons dus soos volg probeer beantwoord:

Die idee van 'n Drie-eenheid (één Wese en drie Persone) is 'n interpretasie en konstruksie van die Griekse en Latynse kerkvaders. Dis hoe húlle vir húlle tyd die geloof in Jesus verwoord en relevant probeer maak en behou het. Ek hou van die stelling dat die tradisionele dogmas slegs maar 'gekontekstualiseerde matafore' is. Niemand van ons kan God volledig omskryf nie en die beskrywing van die kerkvaders was goed en reg vir hulle tyd, maar dis na my mening nie meer geskik vir ons dag nie. Wanneer ons met die begrip van panenteïsme werk ('God is in alles en alles is in God, maar God is ook meer as alles') kan ons sê dat God in Jesus teenwoordig was. In die woorde van John Selby Spong (2002:146): "God is beyond Jesus, but Jesus participated in the Being of God, and Jesus is my way into God."

Die historiese Jesus was 'n besonderse Joodse profeet, 'n uitnemende Joodse wysheidsleermeester, en 'n Joodse gelowige wat naby God geleef het. Hy was deurdrenk van God se Gees en het God se hart aan sy tydgenote kom wys en sy regering kom voorleef. Hy het God se liefde, barmhartigheid en empatie beklemtoon en teen die godsdiensleiers van sy dag getuig dat God meer begaan is oor liefde, vergewensgesindheid, barmhartigheid en sorg as oor reinheid (heiligheid).

Hierdie boodskap geld ook vir ons dag en Christene moet ook God só in ons samelewing teenwoordig maak. Mense moet in ons handelinge iets van God en iets van Jesus van Nasaret kan raaksien. Sy Gees (en dus die Gees wat in Jesus teenwoordig was) moet op ons lewens beslag lê sodat God ook weer in ons wêreld sigbaar kan word.

Die Drie-eenheid moet nie as 'n uitspraak oor God se wese verstaan word nie, maar as 'n uitspraak oor hoe mense God in Jesus se woorde en handelinge ervaar het – ook nadat Hy gekruisig is en mense van sy teenwoordigheid deur die Gees begin praat het. Ons kan hierna verwys as 'n ervaringstriniteit. Mense het iets van die goddelike in Jesus ervaar ('God se Gees het in sy volheid in Hom gewoon') en ons ervaar dit steeds vandag as ons die historiese Jesus teen die Joodse wêreld van sy dag interpreteer. Ons kan Hom as 'n besonderse openbaring van God sien en getuig dat Hy ons met God se liefde, barmhartigheid, vergewensgesindheid en sorg in aanraking gebring het. Wie deur die Gees leef, sal dan ook ervaar dat dit die rigting is waarin die Gees van God ons lei.

Vandag kan ons werk met 'n aardse Christologie ('n Christologie van onder) waarin ons erns maak met die historiese Jesus, en 'n ervaringstriniteit waarin ons nie spekuleer oor presies hoe God is nie, maar oor hoe ons God kan ervaar. God is 'n Misterie wat ons verstand te bowe gaan, maar in Jesus van Nasaret het mense iets van God se liefde, barmhartigheid, vergewensgesindheid en sorg ervaar (en ervaar mense dit steeds). Dit laat ons in ons samelewing uitreik na ander in nood, ellende en pyn. Om gelowiges van die een-en-twintigste eeu te beveel om die tradisionele interpretasies van die Bybel te aanvaar en die tradisionele verwoordings van die geloof te bly handhaaf, maak nie sin nie. Die Suid-Afrikaanse Nuwe-Testamentikus John Suggit (1997:128) het 'n waar woord gespreek toe hy die volgende geskryf het:

"We today need a richer vision of God, not confined to credal formularies, however important these may have been. The doctrine of the Trinity tells of a God who gave himself in love to the world in Jesus and who continues to challenge and empower the church to respond to his love in the changing situations of the world. The danger of fundamentalism in any form is that it holds that the truth once given is immutable and fixed, either in the words of scripture or in dogmatic pronouncements."

Diegene wat hierdie eietydse interpretasie wil brandmerk as ketters en meen dat so 'n verstaan buite die Christelike tradisie gedefinieer moet word, kan gerus nadink oor die volgende stelling van Maurice Wiles (1999:74):

"So giving expression to Christian belief is never a matter of simply being faithful to the teaching of the past, of preserving the deposit of truth as it has been handed on to us by previous generations. Every generation has the task of constructing forms of belief and practice appropriate to its own times and culture."

Hierdie uitspraak sluit aan by die een van James Charlesworth waarna ek aan die begin verwys het. Nuwe tye vra nuwe verwoordings van die geloof. Belydenisskrifte, dogmas en liedere is en bly mensewerk. Geen kerk kan daarop aanspraak maak dat hulle verwoording van die geloof absoluut en finaal is nie. Alle verwoordings is en bly voorlopige verwoordings van 'n gedeelte ervaring.

Bibliografie

Charlesworth, J 1998. The Dead Sea Scrolls and the Christian faith: (In celebration of the Jubilee Year of the discovery of Qumran Cave 1). Harrisburg: Trinity. (Faith and Scholarship Colloquies Series).
Coote, R B & Coote M P 1990. Power, politics, and the making of the Bible: An introduction. Minneapolis: Fortress.
Lane, R D 1994. Reading the Bible: Intention, text, interpretation. New York: University Press of America.
Macquarrie, J 1990. Jesus Christ in modern thought. London: SCM.
Spong, J S 2002. A new Christianity for a new world: Why traditional faith is dying and how a new faith is being born. San Francisco: HarperSanFrancisco.
Suggit, J 1997. The gospel and the gospels. Cape Town: Celebration of Faith.
Wiles, M 1999. Reason to believe. London: SCM.

Prof. Sakkie Spangenberg, Departement Ou Testament en Ou Nabye Oosterse Studie, Universiteit van Suid-Afrika.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.