.

Drie Boeke se wysheid

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Mei 2017

.

Vir eeue stoei mense al met dieselfde vrae. Vrae soos: Waaroor gaan die lewe? Hoe moet ek lewe? Hoekom gebeur dinge soos wat dit gebeur? In die Bybel is daar drie boeke wat die tema aanroer en wat 'n antwoord probeer gee. Die eerste is die boek Spreuke.

Spreuke is 'n boek vol konvensionele wysheid. Mense wat in Spreuke se tyd geleef het, het nog nie geglo in iets soos 'n lewe na die dood nie. Vir hulle was die lewe, die als, en dit het geëindig by die dood. Daar was nie iets soos die idee van 'n hemel of 'n lewe hierna nie. Dit is iets wat eers veel later ontstaan het.

En Spreuke se idee oor die lewe was redelik eenvoudig. Daar is talle mense wat vandag steeds so glo. 'n Oog vir 'n oog! Bietjie meer genuanseerd sou dit geformuleer kon word as: Volg jy hierdie pad sal jy leef, vooruitgaan en goeie dinge ervaar, en volg jy daardie pad, sal jy pyn ervaar, wag daar straf vir jou en sal jy sterf.

Daar was net hierdie twee opsies. So, jy sal saai wat jy maai. Jy kry wat jy verdien. Werk hard en jy sal voorspoed geniet. Dien die Here en jy sal gelukkig wees! So, die kwaliteit van jou lewe hang af van wat jy doen. Daar is orde in die lewe. 'n Skema. Dis hoe dinge werk. Die orde is Reg en Verkeerd. Kies die een waarvolgens jy wil lewe.

As 'n mens na Spreuke luister, sit jy met die vraag: Maar is die lewe regtig so eenvoudig? Werk dinge altyd uit as jy die regte keuses maak? Word die regverdige altyd beloon en word die ongeregtige altyd gestraf? Is die lewe so eenvoudig?

En dan kom die Prediker en hy weerspreek en verwerp die ideologie van Spreuke totaal en al. Prediker kon net sowel 'n ateïs, 'n Zen Boeddhis of 'n Chinese Tao Te Ching gewees het.

Prediker sê: In my lewe het ek baie regverdige mense sien swaarkry en ek het al slegte mense sien vooruitgaan. Die son skyn oor almal en dit reën op die plase van regverdige mense en van sondaars. Een dood wag vir ons almal of jy nou goed of sleg was. Prediker sê: Spreuke maak nie sin nie!

Die lewe loop soos wat dit loop. Rampe, dood, siekte tref almal. Regverdiges ly soms onregverdig, al het hulle die regte keuses gemaak. Daar is geen sin in wat Spreuke sê nie. Alles is 'n gejaag na wind. Tevergeefs. Dit kom tot niks.

En dan probeer hy die vraag antwoord: Maar hoe moet 'n mens dan leef? En waar vind jy dan jou sin? En sy antwoord is: Eet, drink, geniet die goeie en onthou: Daar is 'n tyd vir als: Vir geboorte en vir dood; vir plant en vir oes; vir doodmaak en vir gesondmaak; vir afbreek en vir bou; vir huil, maar ook vir lag; vir treur en gelukkig ook vir dans; vir omhelsing en vir afstand; vir liefde en vir haat; vir oorlog en vir vrede.

So, sy wenk is: Leef voluit – wat ook al die tyd is. Wees teenwoordig in die oomblik waarin jy jou bevind. Dit help nie om te tob oor die verlede of oor die toekoms nie. Albei is 'n gejaag na wind. Tevergeefs! Nietig.

Eet jou brood met vreugde; drink jou wyn met 'n bly gemoed; dra wit klere; versorg jou hare; geniet die lewe saam met jou geliefdes; en, doen met toewyding wat jou hand vind om te doen.

Dis nie die vinnigstes wat altyd die resies wen of die sterkstes wat in die oorlog oorwin nie. Alles word bepaal deur die tyd en die geleentheid – wie is wanneer waar! So Prediker sê: Ware wysheid is: Carpe diem! Moenie die oomblik mis nie. Ontglip vanuit die grys mistigheid van die wintersoggend en leef in die son. Dis waar die dinge gebeur. Die res is 'n gejaag na wind.

Die derde boek wat hierdie tema aandurf, is ons goeie ou vriend Job. Job was nie 'n historiese persoon nie. Daar het nooit so iemand geleef nie en niks in die boek het enige historiese gronde nie. Dis fiksie. Dis 'n filosofiese verhaal wat 'n bepaalde perspektief met die leser wil deel. En die vraag wat die verhaal wil beantwoord, is: Waarom is mense godsdienstig? Is dit omdat hulle iets daaruit kan kry? Is daar vir hulle iets daarin? Is daar iets soos godsdiensbeoefening sonder selfbelang? Is daar iets soos godsdiensbeoefening bloot net ter wille van die godheid self, of is alles maar 'n middel tot 'n doel?

So, dit is 'n taai tema wat die outeur aanpak. Meeste godsdienste propageer hulleself as 'n middel tot 'n doel. Jy kan die hemel kry; of redding en vrede; of dit sal met jou goed gaan en jy sal gelukkig en voorspoedig wees; of jy sal vervuld wees. So, die meeste godsdienste neem God ernstig omdat daar iets is wat jy kan uitkry. En die karakter Job in hierdie verhaal ondersoek die tema.

Job se vriende in die verhaal behoort almal aan die tradisionele, konvensionele denkskool, want toe al die rampe ons karakter tref, kom sê hulle vir hom dat dit met hom gebeur het omdat hy iets verkeerd gedoen het. Daarom word hy so gestraf. Maar Job weier om hulle verduideliking te aanvaar. Hy soek 'n alternatief. En hy vind sy alternatief wanneer die outeur van die verhaal die karakter God aan die woord stel in die laaste paar hoofstukke. God antwoord vir Job vanuit 'n dwarrelwind, heel simbolies, want wie weet waar gaan hy volgende heen waai? En God antwoord in retoriese vrae. En hy gebruik 'n klomp metafore uit die wêreld, uit die groter prentjie van die natuur en hy vra vir Job oor: die fondasies van die aarde; die see; die woonplek van die lig; die stoorkamers vir die hael en sneeu; die konstellasies van sterre; oor wolke, reën en weerlig; oor leeus, bergbokke, 'n beer, 'n wilde donkie, 'n os, 'n volstruis, 'n oorlogsperd, 'n valk, 'n arend, en, die seemonster.

En hierdie metafore word 'n epifanie, 'n openbaring van die grootsheid van die lewe en die misterie daarvan. En dit kontrasteer met die kleinheid en begrensdheid van Job, die mens. En die vraag wat in die lug bly draal, is: Maar wie het al die antwoorde? Dit wat die godsdiens jou leer? Dit wat die lewe jou leer? Dit wat jy ervaar en beleef?

As jy gesien het dat nie jy of dat niemand anders ook maar eintlik weet nie, vra jy ook nie meer so baie nie. Jy leef maar net. Jy geniet die oomblik want jy weet ook nie vir hoe lank hierdie oomblik gaan duur nie.

En so, stoei ons tot vandag toe met dieselfde vrae! Die reis duur voort.

Jy eet jou brood en drink jou wyn en jou mond hang oop van verbasing oor die teenwoordigheid van die heiligheid wat jy oral om jou sien. Oral is daar lig! In 'n blom, in 'n kind se arms om jou nek, in 'n bok wat oor die grondpad draf en in die tevrede oë van 'n oumens. En die lewe self word jou godsdiens, want elke oomblik is heilig.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.