Dr. Nico Smith: Wat is die sin van die lewe?

Dr. Nico se laaste skrywe voor sy dood volg hierna...

Bekende kerkman en stryder teen apartheid oorlede

In Rapport, 19 Junie 2010, deur Johannes de Villiers

Dr. Nico Smith, een van die bekendste Afrikaanse teoloë, is gisteroggend oorlede.

Smith, 'n omstrede, maar ook dikwels geliefde predikant, skrywer en kerkpolitikus van die VGK, het aan 'n hartaanval beswyk. Hy was 81.

Smith sou gisteroggend 'n tafelgebed by die verjaardagontbyt van me. Retha Janson, weduwee van dr. Murray Janson, 'n ou studentevriend, gedoen het.

Volgens dr. Ellen Smith het sy en haar man vroeg by die Pretoriase Nasionale Botaniese Tuin aangekom waar die geleentheid gehou is. Hulle moes 'n entjie na die restaurant stap. Kort nadat hulle daar aangekom het, het sy hart probleme begin gee.

Toe 'n ambulans 'n halfuur later opdaag, was hy reeds dood.

"Dit voel so onwerklik dat hy nie by ons is nie. Hy het nog die laaste paar dae so lekker na die sokker gekyk."

Smith het veral opslae gemaak toe hy in die 1980's uit die NG Kerk getree het uit protes teen apartheidsteologie en by die swart NG Kerk in Afrika (later VGK) aangesluit het. Hy en sy vrou het in 'n pastorie in die Pretoriase swart woonbuurt Mamelodi gaan woon.

In die daaropvolgende jare het hy sy fel kritiek teen die NG Kerk volgehou, veral oor die onvermoë van die NG Kerk en die VGK om saam te smelt.

Later was hy weer in die nuus oor sy boek Die Afrikaner-Broederbond, waarin hy oor sy jare as lid van dié geheime organisasie geskryf het.

Smith is gister uit sowel die VGK- (as iemand wat "nooit stilgebly het as ongeregtighede teenoor onskuldige swart mense gepleeg is nie") as NG-geledere (as iemand wat "nie vir die duiwel sou stuit as hy oortuig was hy is reg nie") gehuldig.

Smith laat sy vrou, drie dogters en vyf kleinkinders agter.

 

SES het die volgende artikel van Dr. Nico in die week voor sy dood ontvang – die laaste artikel wat hy geskrywe het:

Wat is die sin van die lewe?

deur Dr. Nico J. Smith (teoloog en vryheidsvegter)

Dié vraag is deesdae aan die orde van die dag. Dit is asof mense 'n versadigingspunt ten opsigte van die lewe bereik het. Die geweldige pas waarmee dinge in die wêreld gebeur en die feit dat ons tans in staat is om vier en twintig uur per dag kennis te kan neem van wat oral in die wêreld gebeur, maak die lewe net te oorweldigend. Jou brein het eenvoudig nie die kapasiteit om alles in te neem en te verwerk nie. Dit voel of 'n tsunami van gebeure oor jou heen spoel en jy net moet vasgryp aan elke moontlike voorwerp of denkstruktuur wat vir jou nog vastigheid kan bied.

Maar daar is ook die oorversadiging aan wat die lewe bied om te geniet. Ten spyte van al die luukshede en genietinge is daar by die moderne mens 'n vorm van lewenssatheid teenwoordig. Daarom het depressie pandemiese afmetings onder die mensdom aangeneem – 'n moedeloosheid oor die lewe wat mense in depressie stort en die lus om te lewe ontneem.

Natuurlik is depressie hoofsaaklik 'n welvaartsiekte. Mense wat dag na dag moet worstel om te oorleef, het nie tyd om depressief te word nie. Vir hulle word die lewe totaal in beslag geneem deur 'n stryd om te bestaan – hoe om liggaam en siel aan mekaar te hou. In 'n ondersoek wat onlangs onder swart kinders gedoen is, het die grootste persentasie kinders op die vraag: Wanneer is iemand ryk? geantwoord: Wanneer hy elektriese ligte in sy huis het! Dit het my vir die eerste keer laat nadink oor die feit dat ek dit as vanselfsprekend aanvaar, en ook as 'n reg waarop ek aanspraak kan maak, om elektriese ligte in my huis te kan hê.

Wat is dan die sin van die lewe as sommige verdrink in hulle oordaad en ander vergaan in hulle gebrek? Is dit moontlik om in 'n wêreld wat teen so 'n dolle spoed voortstoom nog sin te vind en dus sinvol te leef? Waarom bly so baie mense sielsongelukkig ten spyte van die gunstigste lewensomstandighede? Dit is 'n vraag waarop 'n verskeidenheid van antwoorde gegee kan word.

As 'n gereëlde luisteraar na preke en oordenkings wat oor die Afrikaanse radiosender, RSG, aangebied word, verstom ek my aan wat aan mense aangebied word on sinvol te leef. "Glo net in God en Jesus, en die lewe sal sinvol wees. Vertrou net jou lewe aan God en Jesus toe en jy sal 'n vaste punt hê waaraan jy kan vashou." Blykbaar is dit nog die enigste boodskap wat die Christelike godsdiens vir die moderne mens aan te bied het. Daarom gaan dit in feitlik alle preke en oordenkings altyd maar weer en weer om vir die luisteraars 'n vashouplek aan te bied.

My kamermaat wat vir 'n tyd lank met my 'n kamer gedurende ons universiteitsopleiding gedeel het, was geen gelowige nie. As ek oor iets gekla het, het hy altyd geantwoord: "Moses 3 vers 16: Moenie worrie nie, glo net." Vir my as vroom gelowige student het sy raad na godslastering geklink. Dit was in elk geval my kamermaat se idee omtrent die essensie van godsdiens.

Om terug te keer na die vraag oor hoe om sinvol te leef, is dit vir my persoonlik die belangrikste om die kuns te leer bemeester hóé om te leef. Om werklik sinvol te leef, beteken dat jy die kuns leer bemeester om mens te wees. En juis hierdie kuns is die grootste en moeilikste kuns van alle kunste. Dié kuns word nie by geboorte as geskenk gegee nie. Die potensiaal om die lewenskuns te leer, is wel by geboorte teenwoordig. Maar die potensiaal moet in werking gestel word. Om hierdie kuns te leer bemeester, is 'n lewenstaak. Daar kom nooit gedurende enige mens se lewe die punt waar hy kan sê: "Ek het die kuns bemeester". Die lewe is van begin tot einde 'n leerskool waarin hierdie lewenskuns geleer en beoefen moet word.

By hierdie lewenskuns is ook sterwenskuns ingesluit. Sonder dat die sterwenskuns by die lewenskuns ingesluit word, het die mens nog nie die lewenskuns geleer nie. En om te sterf is beslis die laaste groot uitdaging vir die mens. Om te kan sterf, kan nie voor die dood reeds beoefen word nie. Die mens moet wag vir die oomblik wanneer die lewensasem sy liggaam verlaat.

Wat die mens wél by die lewenskuns kan insluit, is die voorbereiding vir die sterwensoomblik. Wie in vrede kan sterf, het daarin geslaag om die lewe sinvol af te sluit. Vir my persoonlik is die dood nie 'n verskrikking nie. Dis egter die proses wat met doodgaan gepaard kan gaan – ondraagbare pyn, ongemak, ens. Om die dood ten spyte van die moontlike gepaardgaande lyding tegemoet te gaan, is voorwaar ook 'n kuns wat reeds voor daardie oomblik bemeester moet word. Wanneer die lewensdraad dan geknip word en die erdekruik stukkend in die graf of die oond val, het ek daar geen bitterheid oor of verset daarteen nie.

Die grootste tragedie omtrent die mens is dat hy oor die intellektuele gawe beskik om die lewenskuns te leer en dat so weinig daarin slaag om dit te bemeester. Almal leef maar voort en beleef maar elke dag as net nog 'n dag wat beleef moet word. Daar is geen sentrale doel waarna die mens streef om te verwesenlik nie. Daar is eintlik ook geen begeerte om die lewenskuns te leer bemeester en te beoefen nie. Elke dag is maar net nog 'n dag wat verby moet gaan om môre weer verder te kan leef.

Dit is daarom te verwagte dat die voorkoms van selfmoord steeds sal toeneem? Nee, beslis nie. Selfmoord is 'n verskynsel wat so on-eie aan die mens is dat nog nooit 'n finale antwoord gevind is op die vraag waarom mense selfmoord pleeg nie. Waarskynlik kan alleen maar gesê word wat die groot kenner van die menslike psige, Carl Jung gesê het: Selfmoord behoort tot "the dark underside of human existence," – 'n terrein van die menslike psige wat hy ten spyte van al sy kennis omtrent die psige van die mens, nog nooit kon deurgrond en verklaar nie. Dit bly nog steeds 'n onverklaarbare aspek van die mens se lewe. Sover ek weet is dit alleen die menslike spesie wat oor die "gawe" beskik om selfmoord te kan pleeg. Dit is dus 'n potensiaal wat alleen tot die menslike psige behoort en wat deur die menslike intellek oor besluit kan word.

En wat is die sin van die mens as 'n religieuse wese dan? Navorsing oor die menslike brein het tans so ver gevorder dat wat genoem word die "God spot" in die menslike brein "ontdek" is. Daar is in elke menslike brein 'n area, wat indien dit gestimuleer word, die inherente religieuse gegewe van die brein in werking stel. 'n Mens sou dus in der waarheid kan sê: "Alles wat van Bo is, is van Onder." Toe die menslike spesie tot selfbewussyn gekom het, kon die mens nie anders as om ook 'n godsbewussyn te ontwikkel nie. Die mens moes 'n verklaring vind vir wat hy/sy rondom hulle waargeneem het. Aan dié bewussyn wat ook deur 'n proses van evolusie gegaan het, het die mens verskillende gestaltes gegee. Die mens moes 'n god bedink. Hy/sy kon nie anders nie. Dit was in die brein vasgelê.

Wat my persoonlik dus betref, het ek as deel van my leerproses om die lewenskuns te probeer bemeester, tot die slotsom gekom dat ek, soos die Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, dit reeds dekades gelede uitgespel het, naamlik dat ek asof sonder God voor die aangesig van God leef. Dit is aan my met my geboorte gegee om in 'n god te glo en dit vorm deel van die lewenskuns wat bemeester moet word, naamlik om voor die aangesig van God te leef. Hierin gaan dit in die eerste plek nie oor God nie maar oor die lewe. Vir die lewe wat aan my geskenk is, moet ek volle verantwoordelikheid aanvaar en daarom na die beste van my vermoë verantwoordelik leef teenoor myself sowel as diegene wat saam met my die gawe van lewe deel. Die gawe van lewe sluit dan ook in alles wat lewe, die ganse skepping waartoe ek behoort. Ek het 'n verantwoordelikheid ten opsigte van alles wat lewe en dié lewe moet ek as 'n lewende wese met die gawe van denke vir alle vorme van lewe mede-verantwoordelikheid aanvaar.

Vir baie jare van my lewe het ek geglo dat dit alleen spraak is wat die mens van alle ander vorme van lewe onderskei. Ek moes in die loop van tyd leer dat alle vorme van lewe hulle eie vorme van kommunikasie met mekaar het. Wat anders is daar dan wat die mens onderskei van alle ander vorme van lewe? Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die gawe wat die mens besit om vrae te kan stel, wel die enigste onderskeiding is waaroor die mens beskik – die mens kan vrae vra en dus antwoorde soek. In dié sin kan ons van die mens praat as die kroon van die skepping. Die mens is in der waarheid koning van die skepping wat besig is om die volle potensiaal van die skepping te ondersoek en te verwesenlik. In die sin wag daar dan ook 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde – óp die aarde en nie in die lug nie!

Oor die sin van die lewe moet elke mens ten slotte 'n eie antwoord vind. Die antwoord van ander kan aan ons insig verleen oor hoe hulle sin gevind het. Maar die uitwerk van lewenssin kan alleen deur elke individuele mens persoonlik uitgewerk en geleef word. Hoe gebrekkig sodanige lewenssin ook al mag wees, moet elkeen dit uitleef op 'n eie persoonlike wyse. Daardeur kan dit, en nie sal dit, vir elke individu moontlik word om sinvol te leef.

 

Dr. Nico sal verseker gemis word en ons sê dankie aan hom vir die voorbeeld van sy lewe vir elkeen wat eerlik en opreg soek na sin in die hier en nou!

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za