.

Te veel dooies haal asem

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Desember 2016

.

Die Christelike godsdiens is nie 'n slegte godsdiens nie. Soos enige ander godsdiens of ideologie plaas dit jou ook maar binne 'n paradigma, sit dit vir jou 'n bril op en laat dit jou na die lewe op 'n spesifieke manier kyk. Dit bied vir jou antwoorde oor eksistensiële vrae binne 'n bepaalde dogmatiese konteks, dit begrens jou openheid, maar tog is daar ook bruikbare metafore, beelde en verhale wat mens kan help om sin uit sekere situasies te maak.

Ek het seker omtrent vyftien na twintig jaar gelede êrens eendag gelees dat die grootste probleem van die Christendom is dat dit daarin gefaal het om sy mites op datum te hou. Die laaste tyd dink ek nogal baie daaroor. In plaas daarvan om sy mites te opdateer en aan te pas, het die Christendom sy mites gehistorifiseer, die verhaalinhoud as feite begin interpreteer en so die magiese, transformerende en mistiese werking en krag van die verhale verloor. Dis seker maar die prys wat mens vir kanonisering betaal.

So, in plaas daarvan om die wondervertellings, soos die genesing van siekes en die vermeerdering van brode en vissies te lees as 'n metafoor wat mens iets wil leer van uitreik na mekaar en omgee en naasteliefde, is dit as fisiese bewyse van bonatuurlike ingrype gelees, of as verhale wat Jesus se goddelike status kondoneer. In plaas daarvan dat die kruisverhaal as 'n metafoor gelees is wat verduidelik wat liefde dalk regtig beteken, is dit verdogmatiseer en as 'n historiese insident geïnterpreteer wat jou lewe van geboorte tot in die lewe hierna beïnvloed.

Dieselfde met verhale soos die van Lasarus en Jaïrus se dogtertjie, wat vertel van dooies wat opgewek is. In plaas daarvan dat dit metafories gelees word as die proses van verligting en spirituele ontwaking, word dit gesien as historiese en fisiese gebeure wat bonatuurlike goddelike krag en ingrype illustreer.

Maar 'n bepaalde manier van kyk deur 'n spesifieke bril, word 'n interpretasie, word 'n filosofie, word 'n paradigma, word 'n dogma, word vir jou die waarheid, word 'n tronk wat jou denke en lewe rig en gevange hou.

Die Deense filosoof Søren Kierkegaard, vertel 'n interessante verhaaltjie ter illustrasie, in een van sy boeke.

Hy sê: Daar was 'n jong seun wat op 'n dag vir sy pa gevra het of hulle twee buite kon gaan stap. Sy pa was nie baie lus daarvoor nie, want daar buite kon daar baie dinge met 'n mens gebeur. Die wind kan bv. waai en dan waai dit 'n sinkplaat van 'n dak los. En dit kan jou dalk tref. Of as 'n mens verby die markplein loop, kan jy jou vasloop in 'n koper en verkoper wat met mekaar staan en rusie maak oor 'n prys. En dalk kan jy dan ook sommer 'n klap van een van die twee in die proses kry. Of daar kan perde op die plein losbreek en op jou afstorm en jou dalk skop of vertrap.

Die pa stel toe voor om saam met sy seuntjie in die woonkamer te gaan stap. En toe doen hulle dit. Heen en weer en heen en weer stap hulle in die woonkamer. En terwyl hulle so stap vertel die pa vir die seun van al die gevare daar buite in die wêreld. Van dakplate wat kan val en klappe op die markplein en perde wat op hol kan gaan.

En 'n dag of twee later vra die seun weer vir sy pa of hulle twee kan gaan stap. Maar nou wil die seun nie meer buite gaan stap nie. Hy verkies dit nou ook om soos sy pa en saam met sy pa in die veiligheid van die woonkamer op en af te stap. En dan vertel sy pa weer vir hom van die wêreld en dakplate, klappe en perde.

En so leer hierdie seun die wêreld ken. Elke dag stap hy en sy pa in die woonkamer en sy pa vertel hom van die wêreld. En so koop hy in en word hy deel van sy pa se verhaal oor die lewe en oor hoe die wêreld is. En later toe die seun groot is, word hy professor in filosofie aan die universiteit, want hy ken immers die wêreld en hy kan oor die lewe praat.

En as professor vertel hy toe ook aan sy studente hoe die wêreld daarbuite is. In die lesinglokaal stap hy heen en weer terwyl hy vertel van dakplate en klappe op die markplein en perde wat op hol gaan. En die studente maak aantekeninge van die verhaal. En hulle drink die professor se woorde in. En teen jaareinde kon hulle hierdie verhaal te pragtig navertel in die eksamen. En so slaag hulle filosofie.

Kierkegaard skilder met hierdie verhaal die verskil tussen egte en onegte kennis. Tussen dogma en werklikheid. Egte kennis kan mens alleen maar opdoen as jy bereid is om die huisie se deur oop te maak en na buite te gaan.

As jy daar in die wêreld leef, en deel van die wêreld word, leer jy van die lewe en leer jy van die wêreld.

Maar die meeste mense ken die wêreld, die lewe / geloof / die goddelike, alleen maar van hoorsê. In preke en in katkisasielesse leer hulle hoe boos die wêreld is. Hoe dakplate en klappe en perde jou kan versondig.

En hierdie mense sien die verhale oor die lewe, en van hoe ander reken hulle die lig, energie en waarheid ervaar aan, vir die lewe en vir die goddelike self. Hulle koop so in die verhaal in, word so deel van die verhaal, glo so in die verhaal, dat hulle nie eintlik eers kans sien om uit die verhaal te klim en die lewe self te gaan ervaar nie. Hulle glo maar wat hulle hoor. Hulle stap in die woonkamer en is tevrede met hoorsê. Hulle voel veilig want die kaggelvuur hou die woonkamer warm. En dag na dag stap hulle heen en weer en so versterk hulle die verhaal, want hulle skans hulle af teen enige ander blootstelling.

Maar diegene wat alleen maar in verhale woon, en ander se geloof en gedagtes napraat, bestaan nie regtig nie en leef ook nie regtig nie. Hulle is eintlik dood. Dooies wat asem haal. Die wat leef, is die wat self wil ondersoek en self wil ervaar. Die wat self antwoorde wil formuleer, wat die goddelike soek en self wil ervaar en wat nie net in verhale oor die goddelike leef en glo nie. Maar hulle leef in hulle eie ervarings met die lewe self.

Elke mens beleef tydens jou lewe oomblikke wat groot is, ervarings wat onbeskryflik, magies, goddelik is, insidente wat jou 'n wedergeboorte laat ervaar. Jy het kontak met mense wat jou weer in goedheid laat glo. Jy hoor en sien dinge wat jou ongekende liefde laat insien en verstaan. Soms vergaap jy jouself oopbek aan verskynsels of feite wat bokant jou begrip en verstand is. Dis magies. En amper misties resoneer dit met die mitologiese templaat in jou onderbewussyn, surrealisties.

Dis jou ervaring. Jou waarheid. Jou belewenis. En jy mag dit op jou manier verstaan en interpreteer ... En so hou jy jou eie persoonlike mitologie opgedateerd. Jy verdogmatiseer nie ander se verhale en belewenisse nie. Jy skep jou eie.

Buite die huisie is dit hoe dit werk. Daar koes jy maar vir vlieënde sinkplate; jy spring weg wanneer daar klappe op die markplein uitgedeel word en jy bly uit losloop perde se pad. Maar terwyl jy koes en spring en versigtig trap, vind jy juwele van wysheid, sien jy oomblikke van lig en selfs spatsels van verligting ... en jy glo onwrikbaar, want jy het jou waarheid aan jou lyf gevoel.

Vir mense wat by ander se verhale oor die wêreld inkoop, sonder dat hulle self na buite gegaan het, vir hulle is die wêreld 'n illusie. Wanneer jy maar net napraat wat ander sê, leef jy nie. Dan is jy dood al haal jy asem. Wanneer jy tevrede is met antwoorde oor die lewe wat ander mense jou gee; wat die tradisie jou gee; wat die godsdiens jou gee; wat die dogma jou gee; wat die gehistorifiseerde geloofsverhale jou gee ... dan is jy nog dood.

Maar wanneer jy ophou om in die woonkamer op en af te stap, die deurtjie oopmaak en self gaan kyk wat buite gebeur, val die skille van jou oë af. Dan kyk jy nie meer in 'n spieël en sien 'n raaiselagtige en dowwe beeld nie, maar dan beleef jy eerstehands. Dan word jy outeur van jou eie mitologie. Jy opdateer jou ervarings. En jy sien as't ware van aangesig tot aangesig.

Jy hoef nie 'n wonderdoener of 'n godeseun te wees om dit te kan doen nie. Jy is dan maar net die student wat die woonkamer se deur oopmaak sodat jy na buite kan stap en self die lewe kan leer ken en die wêreld leer verstaan. Want eers as jy vir jouself begin antwoorde formuleer, leef jy. Solank as wat jy ander napraat en die wêreld en die goddelike bestudeer deur in woonkamers op en af te stap en by verhale in te koop, is jy 'n dooie wat opgewek moet word. Maar die oomblik as jy daarbuite vir perde en dakplate en klappe begin koes, ontdek jy die lewe. Dan rol die klip voor jou grotgraf weg, staan jy op uit die dood en ervaar jy wedergeboortelik die lewe, soos 'n phoenix uit die as, terwyl engele langs die wit linnelappe sit.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.