Dogma nie die Bybel nie

Deur Prof. Lina Spies op 1 Mei 2011

Ook gepubliseer op die Nuwe Hervorming Netwerk webwerf.

Ek was nie werklik verbaas oor die giftige aanvalle op prof. Sakkie Spangenberg en andere soos hy, na aanleiding van Kirby van der Merwe se onderhoud met hom, Hoe slaap dominee dan? (BY 26/3) in die briewekolom van BY (2/4) nie. Nogtans kon ek nie anders as om geskok te wees oor die hoogmoed en onverdraagsaamheid wat uit dié "Christene" se briewe spreek nie. Biskop John Shelby Spong sê tereg dat niks so gou konflik en woedeuitbarstings wek as godsdienstige diskussies nie: "One has only to listen to conversations about religion among people holding competing views to see how quickly anger surges. These conversations rapidly escalate into high levels of noncivility. Voices rise, emotions flow, interruptions occur, threats are made and insults are exchanged. Religious discussions become war zones that not infrequently make street brawls looked civilised." Van die oopheid en beskaafdheid wat die gesprek tussen Van der Merwe en Spangenberg kenmerk, vind mens geen weerklank in die aggressiewe reaksies op Spangenberg nie. Dit het tyd geword dat die redes agter die woede wat die briefskrywers se irrasionele betoë kenmerk, 'n keer aan die kaak gestel word.

Die woede is kenmerkend van Christene wat nog vasgevang sit in 'n teïstiese Godsbegrip soos Spong oortuigend betoog. Dié Godsbegrip is gevorm deur die dogma waardeur geglo word in 'n God wat alles beskik wat in die natuur en die menslike lewe gebeur: siektes, aardbewings, tsoenami's. Uit my vroeë kindertyd dateer veral twee gebeurtenisse wat my bygebly het en bygedra het daartoe dat ek as volwassene uiteindelik my geloof in 'n God wat ingryp, afgelê het: Die pragtige jong vrou van een van die dokters op my tuisdorp Harrismith is met maagkanker gediagnoseer en het soos haar man aanvaar het gesterf, ondanks die feit dat sy boesemvriend, die dominee, volgehou het dat sy gesond sou word. Ek het onder die skaduwee van polio grootgeword. Die angs, die gebede van ouers dat hulle kinders daarvan gevrywaar sal bly, het verdwyn toe dokter Jonas Salk die entstof teen dié verminkende siekte ontwikkel het. Jesus as die inkarnasie van God word as dieselfde wonderwerker beskou en daarnaas is die oorheersende beeld van hom die verlosser wat aan die kruis vir ons sondes gesterf het en so vir ons die weg tot die ewige lewe geword het.

Waarom word ortodokse gelowiges so kwaad vir andersdenkendes wat hulleself nog Christene noem, alhoewel uitgestote "Christene in ballingskap"? Die eenvoudige antwoord is dat die ortodokses eintlik met 'n selfgerigte woede te kampe het wat hulle projekteer op andersdenkendes. As Jesus se enigste betekenis sy soendood is, kan dit nie anders as dat jy aan jouself dink as "met skuld besmet; misvorm deur sonde op sonde" nie. Daarom sing kerkgangers ook lustig tydens die erediens: "Verlosser, vriend, o, hoop, o lus/ neem aan die lied/ wat U 'n swakke sondaar bied." Hierdie ingesteldheid spreek luidkeels uit Marthie Driessen se brief. Eerstens moet Spangenberg as "geleerde" afgemaak word: "God het Spangenberg se brein geskape, dieselfde brein waarmee hy die godheid nou probeer verneder." Ek sou wou hê dat Driessen vir my direk uit Spangenberg se onderhoud 'n uitspraak aanhaal waardeur hy God verneder het. Maar sy bevestig haar selfgerigte woede as sy selfvernedering as 'n deug verheerlik: Sy is naamlik "hartlik siek" vir die "verdagmakery van die Christengeloof" deur "slimmes" (haar aanhalingstekens) wat "hulself nie voor hul Skepper kan verneder nie."

Aanbidding is tog seker nie selfvernedering nie. Om in verwondering onder die sterrehemel en voor die diereryk te staan, is benewens jou ervaring van jou kleinheid as skepsel, alreeds ook aanbidding en gebed. 'n Besef van dié kleinheid is nie selfvernedering nie. Dit is waaroor Psalm 8 gaan. Dié Psalm sien die mens as God se onderkoning wat die opdrag het om vir die aarde en die diere te sorg. Ons is 'n bietjie minder as die engele sê die digter van Psalm 8, maar evolusie het ons geleer dat ons net 'n bietjie hoër is as die diere. Mense wat dié standpunt huldig, het selfrespek en 'n nugter besef van eie waarde in hulle verbondenheid aan alle lewendes. Hoe kan 'n mens wat gebuk gaan onder 'n blywende skuldgevoel en homself voortdurend verneder ooit heel wees of word?

Alle spesies klou as lewende organismes vas aan die lewe. Dit is my oortuiging dat vrees vir die eindigheid en die dood mense so heftig laat reageer as teoloë nie die voortgesette lewe in die hiernamaals of die fisiese opstanding erken nie. Ek self kan my geen voorstelling maak van die hiernamaals nie, daarom rig ek myself daarop om hierdie lewe te vier en so voluit as moontlik te lewe. In verset teen die oorbeklemtoning van die hiernamaals het ek my sesde digbundel van 1992 Hiermaals genoem. Dié neologisme het van die begin af probleme geskep. Die bundel is in die pers verkeerd gereklameer as Hiernamaals en tot op hede as my Curriculum Vitae ter sprake kom, is dit by herhaling Hiernamaals. Waar die titel reg gesiteer word, is die opvatting kennelik dat die woord seker verkeerd gespel is. Dat die begrip "hiermaals" as die antoniem van "hiernamaals" so moeilik ingang vind, is 'n bewys dat hierdie lewe deur die godsdiens, spesifiek die Calvinisme, gedenigreer is as die "aardse jammerdal", as "die wêreld is ons woning nie." Dit is 'n houding wat my dikwels laat voel dat ek Paulus se woorde wil omkeer en sê dat diegene wat op Christus hoop net ter wille van die lewe hierna die ellendigstes van alle mense is.

Die essensie van die Christelike evangelie lê vir my in Jesus se samevatting van sy lewensroeping as hy homself identifiseer as die goeie herder deur wie sy skape weiding vind: "Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed."

Prof. Lina Spies, een van die groot digters wat ons land opgelewer het, het geen bekendstelling nodig nie. Sy woon op haar geliefde Stellenbosch. Oor 'n tydperk van meer as dertig jaar het verskeie digbundels uit haar pen mense diep geroer. 'n Hoogtepunt in haar lewe was toe sy in 2008 die dagboek van Anne Frank, Die agterhuis, vanaf Nederlands na Afrikaans vertaal het. Sy maak groot erns met haar spirituele pad en laat geen steen onaangeraak op soek na die misterie van die goddelike nie.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za