.

Die vyf groot beroue

Deur Dr. Piet Muller op 1 Julie 2014

.

Die Dalai Lama reël jaarliks 'n internasionale konferensie met 'n ander groep wetenskaplikes, waartydens hulle debatteer oor die wetenskap en Boeddhisme. So 'n paar jaar gelede het hy ook so 'n konferensie met 'n groepie internasionaal-bekende psigiaters gehou. Een van hulle het tydens sy voorlegging gepraat oor die voorkoms van selfhaat.

Toe 'n tweede spreker ook na hierdie begrip verwys, het die Dalai Lama die verrigtinge gestop en sy vertaler gevra om die sprekers te vra om meer verduideliking van hierdie begrip, aangesien hy in Tibet nog noot van so iets gehoor nie.

Met groot omsigtigheid het die sprekers hom oor hierdie verskynsel ingelig. Aan die einde het die Dalai Lama glo net sy kop geskud en gesê: "A very strange society..."

Die Weste mag miskien materieel die voorspoedigste samelewing op aarde wees, maar geoordeel aan dinge soos geluk en spiritualiteit, is ons inderdaad "a very strange society". Die groot rede hiervoor is waarskynlik omdat ons geneig is om "buite toe" te lewe, maar so selde die dieptes van ons eie gees peil, of ons eie wysheid en die goddelike in ons respekteer. Daarom dat ons lewens so dikwels geestelik onvervuld is.

Die Australiese sangeres en liedjieskrywer, Bronnie Ware, het in in haar lewe ook 'n lang tyd as palliatiewe verpleegster gewerk, wat sterwendes oor die laaste weke van hul lewens versorg het. Sy het eenmaal 'n lys van die vyf groot beroue van sterwendes gemaak en op die internet geplaas. Die reaksie daarop was so oorweldigend, dat sy gevra is om 'n boek daaroor te skryf.

Loshande die grootste berou was, "Ek wens ek het met my lewe gedoen wat ek geweet het ek moet doen, en nie wat ander mense van my verwag het nie."

In my lewe het ek min mense teengekom wat werklik hul lewensdrome uitgeleef het. Op 'n groot konferensie, waarop drie besturende direkteure teenwoordig was, het ek mense gevra om eerlik te wees en hul hande op te steek as dit wat hulle vandag doen werklik die uitleef van 'n hartsbegeerte is. Niemand het 'n hand opgesteek nie.

Die volgende week het ek voor 'n klein groepie mense opgetree. Weer het ek dieselfde vraag gestel en een person het sy hand opgesteek. Hy was nie 'n besturende direkteur of 'n ingenieur of 'n rekenmeester nie, maar 'n industriële tekenaar. Maar die werk wat hy doen is die werk waarvan hy altyd gedroom het. So 'n mens is waarlik gelukkig.

So dikwels is ons as ouers skuldig daaraan dat ons kinders ongelukkig deur die lewe gaan – omdat ons ons eie onvervulde drome deur ons kinders wil uitleef, en hulle nie toelaat om hul eie drome te eer nie.

Die tweede berou is: "Ek wens ek het nie so hard gewerk nie." Dan sou ek meer tyd met my gesin kon deurbring, werklik 'n goeie verhouding met my eggenoot kon opbou en my kinders se lewensfases geniet.

Dit is hoofsaaklik 'n manlike berou, maar vroue werk deesdae net so hard soos mans, indien nie harder nie, en dit gaan ook meer en meer 'n vroulike berou word. Die antwoord op hierdie problem is nie maklik of eenvoudig nie, omdat dit bitter moeilik is om balans in die lewe te bereik.

Op my leggers is 'n brief van 'n beroepsvrou wat 'n hoë posisie bereik het, wat lang ure van harde werk geverg het. Sy het 'n pragtige huis gehad en 'n mooi tuin, maar sy was byna nooit tuis nie. Op een van die min dae waarop sy tuis was, het sy deur haar tuin geloop en begin wonder of dit die moeite werd is om so hart te werk en nooit die tyd te hê om die vrug van jou arbeid te geniet nie.

Kort daarna het sy bedank, haar huis verkoop en bestuurder en opsigter van 'n private wildtuin geword. Vir die eerste keer was haar lewe vervuld.

Die derde berou is: "Ek wens ek het die moed gehad om my gevoelens uit te druk." Om werklik te sê hoe ek voel en nie altyd voor te gee dat ek gelukkig is, wanneer ek nie is nie. Weer eens is dit eintlik 'n manlike berou, omdat mans dit bitter moeilik vind om hul gevoelens uit te druk. Hulle sal jou eerder vertel wat hulle dink as wat hulle voel. Daarom dat hulle dikwels vir jare opkrop eerder as om te praat, en uiteindelik sielsongelukkig sterf.

Die vierde berou is: "Ek wens ek het nie my vriende verwaarloos nie." Weer eens is vroue minder geneig as mans om vriendskappe te verwaarloos. Onder druk van omstandighede is ons egter almal geneig om vriendskappe te verwaarloos. Eers wanneer ons aan die einde van ons lewens kom, besef ons watter groot verlies dit was.

Wanneer 'n mens oud en sieklik is, kan 'n mens nie van jou kinders en kleinkinders verwag om jou eensaamheid draaglik te maak nie. Hulle is immers besig om 'n lewenstryd te stry wat al hoe moeiliker word. Dit is dan wanneer 'n mens jou vriende nodig het.

Die vyfde berou is: "Ek wens ek het myself toegelaat om gelukkig te wees." Geluk is 'n keuse! Maar so dikwels maak ons nie daardie keuse nie, omdat ons 'n vrees vir verandering het. Ons oortuig onsself eerder dat ons wel gelukkig is. Maar aan die einde van ons lewe, wanneer alle illusies wegval en daar geen sin meer is om leuens aan jouself te vertel nie, tref die volle werklikheid van ons ongelukkigheid ons.

Om indagtig deur die lewe te gaan beteken dus ook om eerlik teenoor jouself te wees, anders kan ander mense die teiken van jou ongelukkigheid word.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.