.

Die verhale wat ons vertel

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Maart 2019

.

Na al die winskope en afgemerkte items van die rakke af geraap is tydens die Swart Vrydag stormloop, is die wêreld van koop en verkoop besig om voor te berei vir die kersseisoen. Voorraad word uitgepak en swart plakkate word met rooies vervang. Pryse word afgemerk en winkel-ure word verleng, want almal moet die geleentheid kry om aan die "seisoen van gee" deel te neem.

Moslem, Hindoe, Jood en almal wat die voorvaders raadpleeg, om vure dans en in beswymings gaan, vier kersfees. Dis een van daardie gemene delers wat die moderne maatskappy bind. Tradisionele Christene glo nog dat God se Seun gebore is in die kerstyd om uiteindelik aan 'n kruis te sterf vir die sonde van die wêreld. Of soos Johannes 3:16 dit opsom: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het, sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Maar al glo baie mense nie meer in sonde en kruise, en 'n lewe in die hemelse Jerusalem met sy goue strate nie, vier almal steeds uitbundig saam aan die feesgety. Ek dink nogal dis goed en reg so!

Vir jare het ons op 10 Oktober oom Paul se geboortedag gevier. Ons het op 6 April Van Riebeeck se koms gevier en op 18 Julie deesdae, vier ons Mandela-dag. Almal groot geeste wat iets gedoen het en op 'n manier 'n impak gemaak het. Die mensdom vier en onthou en resiteer Martin Luther King se toespraak. Die wêreld herdenk en onthou die passiewe opstand en wyse woorde van Gandhi. Ons haal gedurig vir Confucius, Churchill, Abraham Lincoln en Rumi aan. Ons vier boomplantdag en braaidag. Moedersdag en erfenisdag. Dan kan 'n mens net sowel aanhou om kersfees ook te vier.

Of die verhaal historiese raakpunte het, al dan nie, is irrelevant. Die boodskap van die seisoen is: vrede op aarde en liefde vir die naaste. En met dit kan die meeste mense hulleself assosieer. Net soos Gandhi en Mandela, het die rabbi van Nasaret ook 'n paar waardevolle lesse nagelaat wat steeds vandag met groot vrug aangehaal kan word.

Julle moet mekaar liefhê. Dra mekaar se laste. Wees sout. Wees lig. Draai die ander wang. Stap die tweede myl ook saam.

En juis vir hierdie seisoen van liefde en omgee het hy die mooiste verhale vertel. Soos van die skaapboer wat 'n honderd skape gehad het. En toe hy hulle die aand by die injaag in die kraal tel, en net 99 kry, los hy die 99 net daar en gaan soek na die een wat afgedwaal het. Dis mos nou omgee in aksie.

Of soos die man wat op reis was, toe kry hy iemand langs die pad wat deur rowers aangeval is. Hy help toe die man tot by die naaste herberg, betaal vir sy versorging en sê vir die herbergier dat indien daar enige ander onkoste is, sal hy as hy weer hierlangs kom, dit betaal. Dis mos nou 'n gesindheid van 'n mens wat weet hoe om 'n hart van liefde vir die naaste te hê.

Of die verhaal van die pa wie se seun sy erfgeld op partytjies en los meisies uitgemors het. En toe die seun platsak is en hy kom by die huis aangestap, het sy pa nie vir hom gepreek en met hom geraas nie, maar iets laat slag sodat hulle kon braai en fees vier. Hy't vir hom nuwe klere laat aantrek en 'n ring aan sy vinger gesit. Vergifnis uit die boonste rakke.

So, as ons dan in hierdie dae die geboortedag van die rabbi van Nasaret wil vier en onsself wil herinner aan wat ons by hom oor omgee en die liefde geleer het, dan is kersfees seker een van die wonderlikste feeste om te vier.

In ons kultuur het Desember die tyd geword waar ons afskaal na die gejaag van die jaar. Waar ons rustiger probeer raak en tyd maak vir mekaar. Waar families probeer om by mekaar uit te kom en tyd saam te spandeer. Waar ons saam eet en hier en daar vir iemand iets gee om jou liefde en omgee mee sigbaar te maak. Waar ons almal weer diep in onsself 'n hart ontdek wat omgee en wat wil wys wat liefde is.

As ons in hierdie dae vir omgee en liefde hande en voete gee, en as ons uitreik na mekaar, een ander mens se las ligter kan maak en een moeë hart kan verbly, dan was die viering van kersfees die moeite werd.

Mens hoef nie eers die slaaf van 'n dogma te word, voordat jy die voete van die liefde kan wees nie. Mens moet ook nie die kind saam met die badwater uitgooi nie. Uit die verhaal van die nederige stal, die nuwe blink ster en die wyse manne se geskenkies, klink die woorde van die rabbi se lering: Julle moet mekaar liefhê!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.