Die Soeke...

Deur François du Toit op 1 Oktober 2010

HY WAT ONVOLMAAKTHEID, TYDELIKHEID EN VERANDERING ERVAAR SAL ALTYD NA DIT WAT VOLMAAK, EWIG EN ONVERANDERLIK IS, SOEK.

Alles in 'n veranderende omgewing is uitgelewer aan verandering. Die moontlike veranderinge kan egter of gevrees word of na uitgesien word. Hoe jy na verandering kyk word gewoonlik deur jou huidige sowel as vorige ervaringe bepaal. Oor die algemeen hou die mens van roetine en veral roetine wat positief ervaar word. Die moontlikheid van verandering wat beloof om ons lewe drasties te verbeter het vir ons 'n onweerstaanbare aantrekkingskrag. Net so sal die moontlikheid van 'n baie slegter lewe as waaraan ons gewoond is, ons met angs vervul en, indien moontlik, onmiddellik stappe laat neem om die veranderinge te voorkom.

Elke mens is aan verandering uitgelewer. Of jy wil of nie wil nie, jou liggaam, jou persoon en moontlik ook jou algemene omstandighede sal oor die jare verander. Ons probeer egter alles in ons vermoë om die veranderinge te beheer. So glo ons dat die mens eendag, met die regte mengsel van byvoorbeeld tegnologie, opvoeding en godsdiens, die liggaam se veroudering sal kan verhoed en ook die volmaakte, onveranderbare persoon sal kan "bou".

Omdat jy weet dat jy, jou omgewing en dit wat van jou verwag gaan word met tyd gaan verander wil jy byvoorbeeld weet: Wat is dit wat jy moet doen – wat is jou verantwoordelikheid, indien enige, wat van jou as lid van die spesie Homo Sapiens op aarde geëis word – wat is die sin van JOU lewe?

Verder sal jy keuses maak, of jy wil of nie. Jy sal byvoorbeeld kies wat jy gaan glo betreffende dood en lewe, of daar 'n God is of nie, wie die regte God is, of jy ander gaan vertrou en die "waarheid" wat hulle predik net gaan glo, en of jy eerder self na sekere waarhede gaan soek.

Kortom beteken dit alles dat jy, net soos alle ander mense, sal soek om te ken: – dit wat reg en dit wat verkeerd is – dit wat goed en dit wat kwaad is – dit wat beter en dit wat slegter is. Dit is onmoontlik vir enige mens om ooit eerlik te kan sê dat hy alles gevind het waarna hy gesoek het – dat hy nie meer kan verander nie – en daarom nie meer soek nie.

Is die mens van nature 'n soeker na die Ware God; Of soek hy net 'n God-tipe persoon om alles wat vir hom onverstaanbaar is aan op te hang. Is Paulus reg as hy in Romeine 3:11 sê dat niemand na God soek nie?

Is die wat dan wel na die Ware God soek nie dié wat, deur God se eie toedoen, onwetend 'n "oomblik" met Hom gehad het en nou na meer soek, soek om die Ware Lewe te ken en te verstaan, nie? Die wat God gevind het weet ook dat jou soeke nooit ophou nie. As jy in die God van die Bybel glo sal jy weet dat jy na Hom en Sy koninkryk moet soek – tot Hom moet nader. Jy moet die Lewe najaag!

Het die mens wat net wil kerk toe gaan en glo (net soos die ander moet jy net in jou kerk of 'n kerk se leer glo) al ooit 'n persoonlike ontmoeting met die ware God gehad? Saulus was ook so 'n goeie kerk-mens tot God hom van sy perd af gegooi het – toe eers begin hy God soek.

Die feit is, of jy dit nou glo of nie, jy is 'n ewige wese (vir die Christen staan dit bv. in Efesiërs 1:4). Waar jy was en hoe jou presiese profiel gelyk het voor jy in hierdie aardse liggaam gebore is kan jy nie onthou nie. Waar en hoe jy gaan wees na jou aardse bestaan weet jy ook nie – moontlik is dit reeds wat jy op die aarde moet bepaal. Jy is nou beperk, bloot omdat jou aardse liggaam jou gees in alle opsigte beperk en van alle nie-aardse vermoëns gestroop het. En nou, in hierdie "dom" toestand van jou, moet jy nou weet wat die regte keuse is om die ewige lewe te be-erwe.

Omdat jy steeds ook gees is kan jy weer deels dit ontdek waarvan jy gestroop is – dis nou te sê as jou geestelike oë geopen kan word. Elke mens het 'n vrye wil en dit is al wat nodig is om die saad wat vanuit die heelal is te laat ontkiem en die vrug van daardie saad voort te bring – om die waarheid te kan sien. Ons vrye wil kan egter net vrugbare grond voortbring as ons inwillig tot 'n persoonlike soeke na die ewige. Moet nooit die soeke na die ewige verruil vir dit wat tydelik is nie, en veral nie vir diens aan 'n God wat jy nie self ontmoet het nie.

Dit is nie maklik om self te soek nie, want soos jy soek kom jy, onder andere, agter dat die waarheid nie grense het nie. Die waarheid is byvoorbeeld dat net soos daar materie bestaan daar ook anti-materie bestaan – dat dit wat is en dit wat nie is nie altwee werklikhede is, selfs al sou dit nie bestaan nie. Die egte waarheid is gewoonlik dit wat alle verstand te bowe gaan. Die wat met 'n waarlike oop gemoed soek kan dus ook dit vind wat hulle nie gesoek het nie – soos byvoorbeeld die Ware God – en as daar een Ware God is kan ek jou waarborg dat daar sin in jou en my lewe moet wees. Ek is ook seker dat die Ware God elke mens se hart ken, eintlik net in jou hart belangstel (want dis daar waar die werklike jy eintlik is) en baie meer daarmee kan doen as wat ons kan opdroom.

Moet nooit dink dat vrae wat jy lank in jou binneste rondgedra het nooit beantwoord sal word nie. Hy wat soek sal vind, maar om te vind is nie om self iets op te maak nie. Glo en vertrou en wag geduldig – jy sal vind.

Deur François du Toit (alias: Jan Alleman). Jan Alleman het sy eie soeke na die sin van die lewe, die waarheid en antwoorde op dit wat hy wou verstaan in boekvorm en as e-boek onder die titel Lewe Sonder Grense op die webwerf crink.co.za gepubliseer.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za