.

Die Psalms

Deur Dr. Flip Schutte op 1 September 2017

.

Verlede Sondag se ete saam met die kinders, was net wat ek nodig gehad het. Die midweek in die wildtuin het my batterye herlaai. Die kwartet se uitvoering van die Requiem het my in trane gehad. Die boek wat ek pas gelees het, het my horisonne verskuif. Die troue was so mooi en die begrafnis so 'n waardige afskeid. Die fliek het my hoendervleis gegee en Maandag se koffie saam met jou was 'n oomblik wat ek vir lank sal koester.

So beleef ons elke dag oomblikke wat vir ons iets beteken, wat ons diep raak, wat vir ons 'n ervaring is ... en ons probeer die impak daarvan óp en die betekenis daarvan vír ons lewens verwoord. Tog is die woorde maar net 'n onbeholpe poging om die ervaring mee te verklank.

Mense deur alle eeue het probeer om dit wat hulle beleef en ervaar onder woorde te bring. Mense probeer om diep oomblikke en roerende spirituele ervarings op papier vas te vang. Ons doen dit met poësie in die vorm van gedigte of liedere. Die Psalms is ook so 'n poging op papier.

Dis 'n bundel vol gebede, getuienisse, belydenisse, lof, dank en kla. Dis baie intiem en persoonlik en dit verwoord mense se diepste belewenisse en geloof. Mettertyd het van hierdie gedigte en liedere so volksbesit geword dat dit in die tempel- en sinagoge-eredienste gebruik is as deel van die liturgie. Die priester of rabbi het voorgesing of gechant en die res het ingeval en van die frases herhaal.

Maar die ding met die persoonlike uitdrukking van jou diepste belewenisse, is dat dit tog nou nie feite, of geskiedenis, of wetenskaplike uitsprake is nie. Dis emosie. Jou emosie, want dis jou belewenis en jou ervaring. En omdat jy dit in 'n gedig of lied of een of ander poëtiese segging weergee, hoef dit nie aan een of ander waarheidsnorm of wetenskaplike kriteria te voldoen nie, want dis nie 'n vereiste vir die genre nie.

So wanneer moderne lesers dit waag om die kloof van drie of drie en 'n half duisend jaar oor te steek om 'n psalm te lees, vergeet hulle dikwels van hierdie leeskonvensie. Hulle vertrek vanuit die premisse dat die Psalmbundel deel is van die Bybel en die Bybel is die Woord van God, volgens hulle belydenis, en omdat dit God's Woord is, is dit die waarheid. Nie net op spirituele vlak nie, maar ook op wetenskaplike, historiese, geografiese en dogmatiese vlak, want God het tog die Bybelskrywers geïnspireer en daarom moet dit die waarheid en niks minder as die reine, heilige waarheid wees.

Juis hierdie vertrekpunt en leesperspektief het al baie mense se lewens vernietig, bygedra tot onnodige pyn, lyding en hartseer, en dit veroorsaak 'n dwase spanning tussen wetenskap en geloof. Ek kan nooit verstaan waarom neem mense hierdie naïewe leesposisie in wanneer hulle ou Joodse of Grieks-Romeinse letterkunde lees nie, maar hulle doen nie dieselfde wanneer hulle eietydse literatuur lees nie. Almal, ook die stoere fundamentaliste en biblisiste weet tog dat 'n mens 'n wetenskaplike artikel in 'n akademiese vakjoernaal anders lees en benader as 'n Ingrid Jonker gedig. Albei kan in dieselfde biblioteek, nie ver van mekaar af op die rak geplaas word, maar mens lees dit nie dieselfde nie. Tog doen hulle dit met die Bybel. Hulle ignoreer die genre, die wêreldbeeld, die voor-wetenskaplike tydsgees wat in die teks weerspieël word, asook die kloof tussen toe en nou. Hulle offer hulle intellek in 'n poging om soos 'n kind te kan glo!

Hierdie leesdwaling het so 'n negatiewe etiket aan die teks verleen dat moderne lesers hulleself van die teks distansieer, nie omdat daar fout met die teks per se is nie, maar omdat stiefsussies die aspoesterskoen aan 'n voet probeer druk waarvoor dit nie ontwerp is nie.

Baie van die psalms is so deurgrond met rou emosie, of selfs menslike verwondering oor goed wat hulle nie verstaan nie, wat dit eintlik so kosbaar maak, maar omdat mense nie weet hoe om dit te lees nie, het dit deur 'n proses tot onaanvaarbare dogma verword.

In die geval van die psalms en profesieë, verstaan mense ook nie Hebreeuse poësie en stylfigure nie. Hulle verstaan nie hoe koeplette en triplette gevorm word deur parallelismes wat of sinoniem of antiteties kan wees nie. En omdat hulle nie die antieke digter se gereedskap verstaan nie, verwring hulle die teks tot iets wat dit nie wou sê nie.

'n Digter sê bv: "My God, waarom het U my verlaat? Waarom kasty en straf U my so? Waarom het u dit oor my gebring?" Toe die digter hierdie woorde geuiter het, was sy bedoeling nie dat dit 'n dogma moes word wat bevestig dat God sekere goed oor mense se lewens bring en dinge toelaat om in mense se lewe te gebeur om hulle geloof mee te toets nie. Die digter het bloot sy persoonlike ervaring van sy omstandighede verwoord.

Toe 'n ander digter by geleentheid opkyk en sê: "U het die hemelkoepel soos 'n tentdoek gespan en vir u 'n woonplek oor die waters daarbo ingerig en u het die aarde stewig op sy pilare gevestig," het hy nie 'n wetenskaplike uitspraak gemaak om te bevestig dat die hemel daarbo is en dat die aarde plat is en op pilare staan nie. Dis 'n gedig of 'n lied. Mense sê snaakse goed in liedjies. Wanneer Koos Doep praat van lankvergane skepe in die kelders van die see, maak hy nie 'n wetenskaplik uitspraak wat bevestig dat daar vertrekke onder die see is nie, of as Karin Zoid vir haar seun sing dat hy vir hom 'n meermin moet vind, bedoel sy nie haar kind moet met 'n vis loop trou nie.

'n Ander digter het 'n goeie dag by die werk gehad, toe skryf hy: "Met my God spring ek oor 'n muur en loop ek 'n bende storm." Iemand anders beleef 'n oomblik van vergenoegdheid en hy sê: "Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy bring my by waters waar daar vrede is." 'n Ander ou soek oplossings vir 'n moeilike probleem en hy dink: "Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?" Die ander ou ervaar 'n emosionele hoogtepunt en dig: "Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag, aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan nie." Duidelik beleef hy 'n hoogtepunt en wil hy 'n persoonlike ervaring deel wat nie universeel van toepassing is nie, want hier in Suid-Afrika is ons maar bang en versigtig vir gevaar in die nag, aanvalle oordag en pes wat in die donker toeslaan! Ons deel nie sy euforie nie!

So wanneer mens vandag steeds die psalms sou wou lees, moet dit vir jou 'n ervaring wees. Ervaar die metafore, die metrum, die vryheid en spasies tussen die woorde. Jy moet in jou lees probeer agterkom wat die oorspronklike digter of sanger se ervaring was en waarom hy hierdie belewenis met ons wou deel, eerder as om te probeer om een of ander dogma, of godsbeeld of gekanoniseerde wêreldbeeld of geïnspireerde skeppingteorie daaruit af te lees. Probeer om jou eie belewenis in die poësie van die psalm oor te sê sodat jy die grense van jou eie ervaring kan laat vervloei met die belewenis in die teks, al is julle ligjare van mekaar verwyder.

So, om op te som: Die psalms is bedoel om ervaar te word, dis nie daar om teologiese dogma uit af te lei nie.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.