Die prentjie in jou kop

Deur Dr. Flip Schutte in Beeld (By) 13 Maart 2010

Tant Nelie Loubsher is 82 jaar oud. Sy het vrede met die wêreld en met die lewe gemaak. God is in beheer en Hy het haar dae getel. Voor die grondlegging van die wêreld het Hy al geweet dat sy haar man vroeg in haar lewe sou verloor en dat sy haar drie kinders self sou moes grootmaak. Daar was 'n doel daarmee. Sy weet nog nie presies wat dit was nie. Dalk was dit om haar nederig te hou en om haar afhanklik van die Voorsienigheid te maak.

Hulle het dit nie breed gehad nie. Sy het gebak vir 'n inkomste, maar sy kon haar kinders deur die skool sien, want God het voorsien. Sy sien daarna uit dat die ou aardse tentwoning afgebreek word sodat sy die hemelse kan ervaar. Al haar sondes is bely. Sy sien uit na die opstanding uit die dood en na die ewige lewe. Sy hoop maar dat God genadig sal wees en dat Hy haar sal toelaat om by die Nou-poort in te gaan. Sy het haar hele lewe lank geleef vir hierdie oomblik.

Elke mens leef in 'n verhaal waarvan ons self die outeur is. 'n Verhaal wat soms ligjare verwyder is van die feite op die tafel ... as daar so iets is, want eintlik is daar nie 'n werklikheid nie. Eintlik is daar nie 'n milieu waarteen ons lewe afspeel nie. Eintlik is daar nie twee mense op dieselfde planeet nie. Eintlik is daar net interpretasies.

Elkeen van ons leef in 'n wêreld wat ons vir onsself geskep het. Daar was dalk insidente, snellers, redes wat kon bydra, maar grootliks leef ons in 'n verhaal wat ons self geskryf het. Ons baklei soms met mense in ons koppe oor goed wat hulle nog moet doen en sê. Ons werk onsself op oor insidente wat nog nie eers plaasgevind het nie. Ons neem besluite, maak aannames en veroordeel mense op grond van die verhale wat in ons kop leef, en nie noodwendig op grond van wat is nie.

So mis ons die punt, want ons tree op teen karakters in 'n denkbeeldige wêreld. Ons tree op teen die spoke en drogbeelde van ons eie verbeelding.

Ons het dieselfde ook met God gedoen.

Ons skep vir ons 'n prentjie van hoe ons dink God is en dan leef ons in 'n verhouding met hierdie beeld. Ons maak van hom 'n liefdevolle Vader of 'n veroordelende Regter. Ons maak van hom die kern van alle materie of die oorsaak van alles wat "is". Ons maak van hom 'n ver-af Lig en dan gee ons hom die krediet omdat dit glo hý is wat ons eie denkprosesse verlig. Ons maak onsself deel van God omdat ons graag ook "Liefde" wil heet. Ons sê God bestaan nie, God gebeur. Maar ons weet nie wat om met al die ongoddelik te maak wat ook gebeur nie!

Ons hou ander verantwoordelik vir tekortkominge in onsself. Ons interpreteer ons ongemak as 'n teken of 'n besluit wat ons ter wille van ons geloof moet neem. Ons praat baie slim woorde en dink lang sinne uit, maar eintlik het ons nie 'n clue nie!

Om te begin om spiritueel te groei, is om te erken dat jy teen spoke veg, verhale self opmaak en dat jy jou prentjie van die goddelike misbruik sodat die skoen jou kan pas. Die wat al hoër op beweeg het op die spirituele leer en wat al op ander vlakke en dimensies is, is daar omdat hulle verhaal vir hulle sê hulle is daar ... omdat hulle so ingekoop het in die skryfproses van die werklikheid wat net in hulle koppe bestaan dat hulle nie meer hulle eie karakter en rolspel in die draaiboek van hulle ingekoopte werklikheid raaksien nie.

'n Mens is wat jy dink en die wêreld lyk soos wat jy dit vir jouself teken. Daar is met ander woorde nie iets soos 'n objektiewe teenoor werklikheid nie. En oor geloof en spiritualiteit het niemand antwoorde nie. Elke mens probeer maar net om sy paradigma beter as die vorige persoon aan jou te verkoop, want die mens is nie gemaak om alleen te wees nie. Jou waarhede klink darem net beter as jy dit met ander kan deel en hulle koop daarby in.

Die punt wat ek dus met hierdie artikel probeer maak, is dat ons nederig en stil moet wees; dat ons die ding van verhale in ons kop en spoke in ons bokskryt moet besef en dat ons moet onthou dat ons reaksie op dinge in die lewe meer van onsself sê as wat dit eintlik iets van die situasie sê; dat ons uitsprake oor dinge meer van die verhaal sê waarin ons leef as wat dit iets van die dinge sê wat ons aanspreek, en dat baie van ons gevegte minder van die persoon sê met wie ons veg, as wat dit van ons eie bagasie sê wat ons maar daagliks met ons saamdra.

Dr. Flip Schutte is 'n teoloog en skrywer. Sy nuuste boek is Diaspora van die nuwe Christene. Hy is ook die leraar van Sola Fide gemeente in Pretoria. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za