.

Die Opstandingsverhaal

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Oktober 2017

.

Die geloof in die opstanding van Jesus uit die dood, is die een aspek wat die Christelike geloof uniek maak. Baie ander gelowe glo ook in 'n hemel en 'n lewe na die dood, dis hoekom Moslem-bomdraers bereid is om hulleself op te blaas, en jy in ander tradisies kan reïnkarneer en nog 'n rondte op aarde kan hê, omdat jy inherent onsterflik is, maar dis net die Christendom wat glo aan 'n fisiese opstanding. Waar grafte en nissies eendag sal oopgaan en dooies en verastes, op die laaste dag, wanneer die trompette blaas, weer asem en beendere bymekaar sal bring in 'n verheerlikte liggaam, wat dan die goue strate van Jerusalem tot in ewigheid sal bewandel.

Hierdie hoop en troos maak die Christendom uniek. Dit gee baie Christene ook dié perspektief dat die lewe nie so belangrik is nie, want die hemel wag op ons. Ons moet net deur hierdie lewe ploeter en daarmee klaarkry, want dan het jy waarop jy gehoop en geglo het. Dis tog waarom jy tot bekering gekom het; dis waarom jy elke dag jou sonde bely; dis waarom jy die gebooie gehoorsaam en uit dankbaarheid offergawes gee. Om hemel toe te kan gaan. Om eendag vir altyd te kan leef. Want Jesus, die Verlosser, het uit die dood uit opgestaan. So, baie mense leef net om uiteindelik te kan doodgaan, sodat hulle hierdie wonder waarvan die verhaal vertel, kan beleef.

Dis wat baie kerke glo en preek. Dis wat die Christelike dogma tot 'n groot mate proklameer, maar is dit in die eerste plek histories die waarheid en in die tweede plek, is dit wat die Nuwe Testament regtig sê?

Die Jode, ons geestelike voorouers en die bed waaruit die Christelike geloof gebore is, het nie van altyd af geglo in 'n ewige lewe nie. Prediker onder andere en 'n klomp van die voor-ballingskap skrywers het geglo dat as jy dood is, is jy dood. Daarom moet jy eet en drink en vrolik wees, want alles kom tot niks. Dis 'n gejaag na wind. Maar tydens die ballingskap het Israel by die Perse geleer van lewe na die dood. Die Perse het 'n geloof gehad, in die konteks van martelaarskappe, dat iemand wat vir 'n goeie saak sterf, veral dan nou gemartel word, post mortem beloon sal word. Dit is voorgehou as 'n troos dat iemand wat dan sy lewe vir sy land of sy koning, of sy geloof opgeoffer het, dit darem nie tevergeefs gedoen het nie. Later van tyd het die storie 'n stertjie gekry, veral in die intertestamentêre tyd, dus die tyd tussen die Ou en die Nuwe Testament, dat dié wat die martelwerk gedoen het, m.a.w, diegene wat teen die martelaar se koning, of land of geloof was, dan na-doods gestraf sou word.

Toe Israel uit die ballingskap terugkom, het hulle hierdie invloed wat hulle tydens Ballingskap opgetel het, saamgebring en dit het begin deurskemer in van hulle geskrifte wat in die na-ballingskap periode ontstaan het.

So teen die tyd toe die Nuwe Testament ontstaan, was dit 'n gevestigde geloof en omtrent almal, behalwe die Saddusiërs, het toe geglo in 'n opstanding uit die dood om beloon of gestraf te word. So, die algemene geloof was, dat as jy vir 'n goeie saak gesterf het, sou jy opstaan om beloon te word.

Daarom was dit nie snaaks dat mense pas na Jesus se dood begin vertel het dat hy uit die dood sal opstaan nie, want hulle het geglo dat Jesus as martelaar gesterf het. Hy was reg oor God. So, omdat hy vir 'n goeie saak gesterf het, sal hy uit die dood opstaan. So Jesus was nie die eerste of enigste mens van wie vertel is dat hy sal opstaan nie. Dit was algemeen. Jesus is dood in die jaar 30-33 of so.

In die jaar 50-55, dus 25 jaar na Jesus se dood, ontstaan die eerste geskrifte wat die nuwe geloof begin verwoord naamlik Paulus se briewe. 1 Korintiërs is een van die oudste van sy briewe en in hoofstuk 15 is dus een van die oudste tekste wat ooit oor die opstanding opgeteken is, en daar staan: "Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte." En die volgende sin sê: "Hy is begrawe en hy is op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte."

So, volgens die heel oudste getuienis oor die kruis en opstanding, is daar geen historiese bewys daarvoor nie. Paulus het gehoor die mense in Jerusalem vertel dat hulle glo Jesus het 'n martelaarsdood gesterf en dat hy sou opstaan. En as getroue Jood, gaan soek hy toe in die Bybel, nl. die Ou Testament, of daar enigiets staan oor hierdie dinge.

En daar kry hy toe iets. In Jesaja staan daar: "Hy het ons lyding op hom geneem en oor ons oortredings is hy deurboor, vir ons sondes is hy verbrysel en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom." En toe, totaal en al buite die konteks van Jesaja begin daar 'n geloof ontstaan waarmee Paulus Jesus se kruisdood as politieke rebel verbind met 'n Ou Testament teks, want Paulus sê dat Jesus volgens die Skrifte vir ons sonde gesterf het.

So – niemand in die jaar 30 het daar by die kruis gestaan en geweet dat Jesus daar vir mense se sonde sterf nie. Almal het geweet dat hy sterf omdat die Jode vir die Romeine gaan vertel het dat Jesus homself 'n koning ag en dat hy nie onderdanig aan die Romeinse owerheid wil wees nie. Maar 25 jaar later, lees Paulus in Jesaja 'n goeie teks, en hy begin verkondig dat op grond van wat hy in die Skrifte lees, Jesus vir die sonde van die mensdom gesterf het.

En die feit dat hy opgewek is, is maklik te verduidelik, want dit is omdat hy volgens die tradisie as 'n martelaar gesterf het en die invloed wat Israel tydens die ballingskap in Persië gekry het, het vir martelare 'n geloof in 'n lewe na die dood moontlik gemaak.

En die hele idee van "op die derde dag" sê Paulus, het hy ook in die Skrif gekry. Jona was vir 3 dae in die vis, daarom was Jesus net vir drie dae in die graf en daarby sê die profeet Hosea in Hos. 6:2 die Here sal ons na twee dae 'n nuwe lewe laat begin en op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef. En op grond daarvan besluit Paulus die Skrifte sê dat hy op die derde dag opgewek is.

So, niemand wat saam met Jesus geleef het, ook nie een van die geestelike leiers van daardie tyd, of enige dissipel, of iemand wat teenwoordig was toe hy gesterf het, het geweet dat hy vir mense se sonde sterf, of dat hy uit die dood opgestaan het na drie dae nie.

Wat die vroue: Maria, en Magdalena en die dissipels wel sou gesê het, is dat hy as martelaar gesterf het en daarom behoort hy op te staan en tot in ewigheid te leef. Na al die jare lees Paulus die rede vir sy dood en die hele ding oor die derde dag en die geloof oor die opstanding in die Ou Testament, toe hy 'n teks gaan soek. En daar begin 'n geloof wat baie mense tot vandag toe hoop en troos bied. 'n Geloof nie gegrond op feite of 'n historiese gebeurtenis nie, maar 'n geloof op grond van iets wat mense glo en waarvoor Paulus 'n teks in die Skrifte gevind het.

Nou kan u sê: Ja, maar die evangelies vertel tog van die kruis en die graf in Josef se tuin en die Sondag was die graf leeg toe die vroue daar aankom. Maar onthou: Toe was die geloof wat Paulus begin het reeds 15/20 jaar oud, voordat die eerste evangelie ontstaan het. Huisgemeentes het intussen begin ontstaan en mense moes gekatkiseer word. Hulle het begin vrae vra soos: Maar hoe 'n tipe mens was Jesus? Wat het hy gepreek? Hoe was sy dissipels? Wat het aanleiding tot sy dood gegee? Hoe is hy gekruisig? Waarom is hy gekruisig? En om al hierdie vrae van mense in die gemeentes te beantwoord, is die storie telkens oorvertel. Want in elke gemeente was daar ander kwessies wat aangespreek moes word, daarom is die storie deur elke evangelis anders oorvertel.

So vir Paulus lê die bewys van die opstanding nie in die historiese betroubaarheid van 'n gebeurtenis nie, maar in die feit dat die gemeente dit geglo het. En omdat hulle dit glo, verkondig hy dit. En soos wat die tyd verloop en mense begin uitvra oor Jesus, het die storie gegroei en is daar episodes bygeskryf. En omdat mense dit glo, word dit tot vandag toe steeds verkondig. Iets wat verkondig word, hoef dus nie histories of feitlik die waarheid te wees nie. Die voorwaarde is: mense wat glo! Daarom vir so lank as wat daar mense is wat die opstandingsverhaal glo, vir so lank sal dit verkondig word. En dis 'n uitstekende verhaal, want dit is op die bloudrukke in ons onderbewussyn se grondpatroon gekomponeer (volgens Jung), soos meeste van die Griekse mites. Daarom werk die storie so goed!

Vir eeue het mense in die Baäls en die vrugbaarheidsgode geglo. En toe mense ophou om in hulle te glo, toe verdwyn hulle van die toneel af. Vir eeue het mense in Zeus geglo, daarom is die verhale bly vertel. Maar toe mense ophou om in Zeus en die Griekse gode te glo, het hulle van die toneel af verdwyn. Vir eeue glo mense nou al in Jesus, in 'n dood vir ons sonde, in 'n opstanding op die derde dag en in 'n ewige lewe. Maar eendag, wanneer die post-moderne mens sy tegnologie nodiger gaan hê as sy doopbelofte en wanneer cyborg-tegnologie organe driedimensioneel kan druk en nanorobotte in ons are die kieme en cholesterol kan beveg en ons selle voortdurend kan vernuwe, kan ons teoreties tot in ewigheid lewe. Dan, waarvoor het ons nog verhale oor Jerusalem se goue strate nodig? Dan gaan Jesus en sy verhaal dalk finaal van die toneel verdwyn.

Want elke keer as 'n nuwe teleskoop ontwikkel word waarmee ons verder kan sien, skuif God en die hemel 'n paar duisend ligjare dieper die ruimte in ... verder van ons af weg. Maar in die tussentyd, vir so lank as wat daar nog mense is wat glo, vir so lank sal dit nog verkondig word.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.