.

Die Onbekende Jesus

Deur Dr. Piet Muller op 1 Oktober 2017

.

Jesus is stellig die mees miskende persoonlikheid in die Nuwe Testament. Nie die "Liewe Jesus" van kindergebedjies of die "offerlam" van die kruis nie, maar die Jesus van vlees en bloed. Die een wat deur Johannes in die Jordaan gedoop is; wat met sy leerlinge tussen Galilea en Jerusalem gereis het; en wat invloedryke vroue as leerlinge gehad het in 'n patriargale tydperk toe vroue, soos kinders, veronderstel was om gesien maar nie gehoor te word nie; die Jesus wat met armes en rykes tafelgemeenskap gehou het en wat baie lief was vir blomme.

Hierdie Jesus moes 'n baie besonderse mens gewees het, want sy volgelinge het in sy lewe en optrede 'n afspieëling van die goddelike gesien. Hy inspireer vandag nog mense van verskillende godsdienstige oortuigings. In Islam is Jesus, oftewel die profeet Isa, 'n geliefde persoonlikheid, wat sulke tipiese Jesus-spreuke kwytraak soos:

Die wêreld is 'n brug, stap daaroor; moenie daarop gaan sit nie.

In die Boeddhistiese Zen-tradisie is daar die verhaal van 'n student wat aan Zen-meester Gasan gevra het: "Het u al die Christelike Bybel gelees?"

"Nee, lees vir my," was sy antwoord. Waarna die student uit Mattheus lees:

"Waarom bekommer julle jul oor wat julle sal aantrek? Dink aan die lelies van die veld, hoe hulle groei. Hulle vermoei hulle nie en hulle spin nie ... en tog het Salomo in al sy heerlikheid nooit so mooi aangetrek nie ... Moet julle nie bekommer oor more nie, want more sal vir homself sorg."

Waarop Gasan antwoord: "Wie ook hierdie woorde gesê het, beskou ek as 'n verligte man."

Die student het aangehou lees.

"Vra en vir julle sal gegee word, soek en julle sal vind, klop en vir julle sal oopgemaak word. Want aan elkeen wat vra sal gegee word, elkeen wat soek sal vind en vir hom wat klop sal oopgemaak word."

Gasan antwoord: "Uitstekend. Wie dit gesê het, is nie ver van Boeddha-skap af nie."

Om te verstaan wat Gasan bedoel het moet 'n mens besef dat prins Gautama, wat die Boeddha (Verligte) genoem word, deur die Mahayanaskool, waartoe Zen behoort, nie net as 'n buitengewone leermeester beskou word nie, maar as 'n kosmiese godheid. Wat Gasan dus sê, is dat die Jesus van Mattheus al byna God is.

Mohandas Ghandi, die Indiese vredesaktivis, wat Indië sy onafhanklikheid van die Britse Ryk help verkry het deur sy en sy Hindoe-volgelinge se veldtog van geweldloosheid – wat op Jesus se leerstellings gegrond was – het eenmaal gesê: "(Jesus) is waarskynlik die beste voorbeeld van iemand wat bereid was om alles te gee en niks in ruil te vra nie, en wat nie omgegee het watter geloof deur die vraer bely word nie. Ek is seker as hy vandag onder ons gewoon het, hy die lewens van talle sou geseën het wat waarskynlik nog nooit van hom gehoor het nie, maar wie se lewens sy voorbeeld beliggaam: die deug van jou naaste lief te hê soos jouself en om goeie en liefdadige dinge aan jou medemens te doen."

Dit is hierdie Jesus wat vergete geraak het onder al die godsdienstige dogmas wat rondom hom geweef is; toegegooi onder al die vroomheid rondom die aanbidding van "Liewe Jesus." Daar het selfs in die kloosters van Europa 'n erotiese mistiek ontstaan rondom die idee van die "Bruid van Christus."

Judese Christene

Om te verstaan hoe die historiese Jesus vergete geraak het, moet 'n mens teruggaan na die beginjare en besef dat Jesus se volgelinge Jode was en dat sy preke afgestem was op veral plattelandse Jode. Mense wat in baie gevalle weinig meer as slawe was, want die Romeinse Ryk het sistematies en meedoënloos klein grondbesitters van hul grond afgedruk vir grootskaalse boerdery deur die aristokrasie. Hulle is ook so toegegooi onder belasting in die vorm van produkte sowel as geld dat hulle dikwels nie genoeg kon oorhou om van te lewe nie.

Dan het die tempel-elite ook jaarliks hul belasting van tien persent geëis. Wie nie kon betaal nie was "onrein" en kon nie offers in die tempel bring nie. Hierdie verstotelinge was Jesus se "gemeente."

Ons lees egter ook van ryk en invloedryke vroue soos Johanna die vrou van Gusa, "'n hoë amptenaar van Herodes en Susanna en baie ander" (Lukas 8:1-3), wat "uit hulle eie middele" vir Jesus en die twaalf gesorg het.

Dit op sigself is baie merkwaardig, want vroue se status in Jesus se tyd was minder as die van slawe en geen getroude vrou sou dit gewaag het om sonder haar man se goedkeuring 'n reisende prediker te volg en te onderhou nie. Tensy sy natuurlik in eie reg ryk was of weens haar hoë afkoms oor onafhanklikheid beskik het.

Jesus en Maria Magdalena

Dan was daar "Maria, bekend as die Magdalena (van die plek Magdala) uit wie sewe duiwels uitgegaan het." Hierdie laaste ses woorde is deur Pous Gregorius die Grote in die vyfde eeu as genoegsame getuienis beskou om haar te bestempel as die prostituut wat Jesus se voete gewas en hom met kosbare nardusolie gesalf het. 'n Mens wonder hoeveel tehuise vir "gevalle vroue" daar deur die eeue na haar vernoem is, voordat die kerk by monde van die Pous teen die einde van die Twintigste Eeu eers verskoning gevra het vir die onreg wat haar aangedoen is. Want die vroeë kerk het goed geweet wie sy was: die apostula apostulorum, die apostel van die apostels.

Volgens die buite-Bybelse tradisie was sy Jesus se briljantste leerling, wat selfs in die vroegste ikone van die kerk afgebeeld word waar sy besig is om aan mans klas te gee! Sy het trouens die eretitel van maran (meester) gehad. Sy word ook beskryf as "die vrou wat die Al ken" (wat 'n volledig ingewyde en verligte mens is).

Om dit te verstaan, moet 'n mens gaan kyk na algemene opvattings in daardie tyd, wat nie altyd met die Joodse ortodoksie ooreenstem nie. So is daar sedert die Griekse filosoof en wiskundige, Pythagoras, en later Plato, geglo dat die mens bestaan uit 'n liggaam en 'n siel en dat die siel onsterflik is. Die Gnostici het nog verder gegaan en gereken dat die siel ook verganklik is, maar dat daar in die kern van die siel 'n gees (Grieks: pneuma) bestaan wat onsterflik is. Hiervan weet alleen mense wat diepe selfondersoek gedoen het. Eers wanneer 'n mens tot die besef van hierdie kern van jouself gekom het, is jy in staat om die Al (alles wat bestaan, insluitend jouself) te ken.

In die tweede-eeuse Evangelie van Filippus vra Jesus se leerlinge hom eenmaal waarom hy Maria liewer het as hulle ander? Sy antwoord was dat wanneer 'n blinde en 'n siende saam in die donker is, is daar geen verskil tussen hulle nie. Maar wanneer die lig deurbreek, sal die siende sien en die blinde nog steeds blind wees.

Onder Jesus se leerlinge was Maria Magdalena dus 'n siende tussen blindes.

In die buite-Bybelse evangelies, waarvan die meeste in 1945 by Nag Hammadi in Egipte herontdek is, word Maria Magdalena dikwels beskryf as die metgesel van Jesus. Al meer navorsers reken vandag dat sy inderwaarheid Jesus se vrou was. Want vir 'n ongetroude vrou in daardie dae om so saam met mans rond te reis, sou ongehoord gewees het.

Dit sou net so ongehoord gewees het as Jesus ongetroud was. Soos vandag nog die geval is, was dit in Jesus se tyd van 'n rabbi verwag om getroud te wees. Die Judaïsme reken steeds dat 'n huwelik en 'n gesin die ideale omstandighede skep waarin iemand se geestelike ontwikkeling kan plaasvind.

In Jesus se tyd was om te trou 'n heilige plig. As 'n Jood destyds vir langer as tien jaar by 'n vrou kinderloos was, het die wet vereis dat hy óf van haar skei óf 'n tweede vrou neem. Joodse mans was gewoonlik teen 14 of 15 reeds getroud. Soos in die geval van sy broer Jakobus, wat 'n Nasireër was en 'n lewenslange maagd, sou dit sekerlik vermeld gewees het as Jesus ongetroud was. Dit is dus ook heel moontlik dat Jesus kinders gehad het.

Griekse "Jodegenote"

Voor die Joodse opstand van die jare 66 tot 70 waarin Jerusalem verwoes was en die groot opstand in Noord-Afrika in die jaar 119 – waarna die Jode letterlik oor die hele bekende wêreld verstrooi is – was die Jode 'n geëerde volksgroep. Hul monoteïstiese godsdiens het talle Grieke en Romeine aangetrek en daar is reeds in die derde eeu voor Christus begin om die Ou Testament in Grieks te vertaal, die sogenaamde Septuagint. Heidense belangstellendes het in baie gevalle "luisteraars" of "Jodegenote" in die sinagoges geword, hoewel hulle ook nie in Jerusalem offers kon bring nie omdat hulle nie besny was nie.

Soos alle ander Jode het Jesus se volgelinge, Jode sowel as Grieke, ook weekliks hul plaaslike sinagoge besoek. Soos hulle getalle toegeneem het, het die spanning tussen hulle en ander Jode ook begin toeneem.

Die gemeente van Jerusalem, wat ná Jesus se teregstelling onder leiding van Jesus se broer Jakobus die Regverdige was, moes ryker gewees het en al hul verpligtinge teenoor die tempel kon nakom, want ons lees dat hulle daagliks in die tempel vergader het. Van Jakobus word vertel dat sy knieë so hard soos die van 'n kameel geword het van die ure elke dag wat hy in gebed deurgebring het. Hy was nooit getroud nie en het die lewe van 'n Nasireër gelei en geen drank gebruik of sy hare gesny nie. Sy lewe is goed beskryf deur tydgenootlike geskiedskrywers (soos onder meer Josephus) en deur die vroeë kerkhistorici. Hy moes uit 'n priesterlike familie gekom het (en Jesus dus ook) en het nie sy afkeer weggesteek vir die hoëpriester wat koning Herodes aangestel het, en wat nie uit 'n priesterlike geslag was nie. Op 'n keer het hy selfs die allerheilige van die tempel binnegegaan en vir die volk gebid, iets wat slegs die hoëpriester toegelaat was om eenmaal per jaar te doen. Dit het indirek gelei tot sy martelaarsdood op die tempelplein.

Die Joodse geskiedskrywer, Josephus, skryf selfs die latere vernietiging van die tempel toe aan die moord op Jakobus. Want hierna het jare se onderdrukte gevoelens teenoor die Romeine uitgebars in openlike rebellie.

Jakobus se dood in ongeveer die jaar 63 was die teken vir die gemeente van Jerusalem om die stad te verlaat en oor die Jordaan te vlug na die stadjie Pella. Sommige het daarvandaan na die wêreldstad Alexandrië in Egipte gegaan en die evangelie daar geplant, terwyl ander na die groot handelstad Edessa (vandag Urfa in Turkye) verhuis het, waarvandaan hulle sendingwerk in Indië gedoen het.

Toe die Portugese in die sestiende eeu die seeweg na Indië ontdek, was hulle verbaas om in Kerala Christene aan te tref wat nog nooit van die Pous gehoor het en nie die vier Bybelse evangelies ken nie. Volgens oorlewering is hierdie gemeente deur die apostel Thomas gestig, in 'n sendingaksie wat vanuit die stad Edessa van stapel laat loop is.

Die rabbynse Judaïsme

Die Joodse rebellie het gelei tot drie jaar se beleg van Jerusalem deur die Romeine, waarna die stad afgebrand en die tempel heeltemal verwoes is. Jode is selfs verbied om in Jerusalem te woon en kon slegs eenmaal per jaar die ruïnes van die tempel besoek om daar oor hul verlies te treur.

Vir die Jode was dit 'n groot bestaanskrisis. Hulle volksbestaan was ten nouste gekoppel aan hul godsdiens en hul godsdiens aan die tempel. Die verlies daarvan het hulle sosiale struktuur vernietig en gedreig om die hele Joodse volk te laat verdwyn.

Uit hierdie chaos het die Fariseërs met groot insig die rabbynse Judaïsme begin bou, waar 'n rabbi en die plaaslike sinagoge die plek van die tempel ingeneem het. Om hierdie eksperiment te laat slaag was veel meer as 'n godsdienstige saak, dit was 'n saak van die nasionale voortbestaan van 'n volk wat sy land verloor en oor die hele wêreld verstrooi is.

Dit het die Christene en hul Griekse bekeerlinge ten nouste geraak. In die nuwe klimaat wat ontstaan het, was daar geen simpatie met 'n Jesus-beweging nie en Christene is uit die sinagoges verdryf. Vandaar die nydigheid teenoor die Fariseërs wat 'n mens in die Bybelse evangelies teenkom. Joodse Christene het veral ooswaarts getrek, na die uiterste grens van die Romeinse Ryk, waar die Oos- en Wes-Aramese kerk ontstaan het, asook die Assiriese kerk.

Hulle was soos alle Jode streng monoteïste en het nooit aanvaar dat Jesus 'n god was of dat hy maagdelik gebore is nie. Hulle opvattings het ook 'n groot invloed gehad op die leerstellings van Islam, wat in die 6de eeu ontstaan het.

Nadat Keiser Konstantyn in die 4de eeu die Christendom omarm het, is die Joodse Christendom eenkant gestoot en baie gou vergeet. Die nageslag van die oorspronklike gemeente in Jerusalem is selfs tot ketters verklaar, omdat hulle nie die goddelikheid van Jesus of sy maagdelike geboorte wou aanvaar nie.

Die Grieks-Romeinse Christene

Die Grieks-Romeinse Christene, waarvan die gemeente van Antiogië 'n goeie voorbeeld is, het in die Grieks-Romeinse wêreld probeer insmelt. Hulle behoefte was die behoefte van alle bekeerlinge wat probeer om hul nuwe godsdiens by hul eie kultuur te laat aanpas. 'n Natuurlike behoefte waarvan elke sendeling vandag nog bewus is.

Sedert Alexander die Grote se oorwinnings in die derde eeu voor Christus, het die ganse beskaafde wêreld, vanaf wat vandag Pakistan is tot by die huidige Spanje, Grieks gepraat. Hoewel Rome later groot dele van die Griekse wêreld oorrompel het, het Grieks steeds die kultuurtaal van die hele gebied rondom die Middellandse See gebly.

Hierdie gebied het een universele godsdiens gehad, dié van die god-mens wat gedurende sy lewe nie herken word vir wie hy is nie en dan onregverdig om die lewe gebring en in baie gevalle gekruisig word, maar weer uit die dood opstaan om sy volgelinge tot hulp te kom. Hierdie god-mens, wat gewoonlik uit 'n maagd gebore is, is onder verskillende name vereer: Horus, Bacchus, Attis, Baal, Mithras en Dionysos, en sy opstanding is tydens die Europese lente gevier.

Die volgelinge van Attis het met die aanbreek van die lente (wat natuurlik saamval met die Joodse Paasfees) vir mekaar koekies geskenk wat presies soos vandag se "hot cross buns" gelyk het.

Die heidense bekeerlinge tot die Christendom kon kwalik die ooreenkomste tussen Jesus se lewe en die lewe van hul verskillende god-mense miskyk en dit was vir hulle die mees natuurlike ding om Jesus se lewe ook in hierdie patroon in te pas. Met dié verskil dat die ou godsdienste oor mites gehandel het, wat sekere sielkundige aspekte van 'n mens se lewe aanspreek, terwyl Jesus se verhaal "geskiedenis" was en "regtig" gebeur het. Jesus is dus "regtig" uit 'n maagd gebore en sy lyk het "regtig" weer lewendig geword.

Die Griekse filosofie het ook bepaal hoe mense van daardie tyd oor God gedink het. Volgens Griekse filosowe was God 'n volmaakte, selfgenoegsame wese, wat niks van niemand nodig gehad het nie, en ook geen nodigheid gehad het om te skep nie. Om dus te verklaar waarom God die aarde en hemelruim geskep het, het die filosowe gekom met die gedagte van die logos of "Woord" van God, wat die skeppende intelligensie, sowel as die taal waarmee God skep, verteenwoordig.

Hoewel die term al deur die filosoof Herakleitos (4de eeu voor Christus) gebruik is, het die begrip 'n hele oplewing ondergaan in die eerste en tweede eeue van ons jaartelling – juis die periode wat saamval met die ontstaan van die Christendom. Die eerste keer wat die woord logos in verband met die Joodse godsdiens gebruik is, was in die Griekse vertaling van die Ou Testament (die sogenaamde Septuagint). Daar beteken logos die skeppende woord van God in Genesis.

Dit is veral in die wêreldstad Alexandrië in Noord-Afrika waar baie oor die woord logos nagedink is. Die Joodse filosoof Philo (20 vC tot 50 nC) het die logos beskryf as 'n goddelike wese wat die bemiddelaar is tussen die onvolmaakte materie van die wêreld en die volmaakte hemelse vorms. Hy het die logos ook beskryf as die "eersgeborene van God" en as die kosmiese bemiddelaar tussen God en die mense, wat ook die verpersoonliking is van God se waarheid en wysheid.

Ander Joodse groepe, waaronder die Gnostici (groeperinge wat radikaal anders begin dink het oor God en die wêreld en wat na "kennis van die hart" gestreef het eerder as "kennis van die kop") het na die logos begin verwys as die "Christus" (gesalfde van God). Op grond van die voorafgaande denke wat by Philo begin het, is die begrip "Christus" verstaan as die skeppingskrag van God en die bemiddelaar tussen God en die mense, asook die "eersgeborene van God." Die Christus was egter net die manlike aspek van 'n tweeledigheid waarvan die vroulike aspek die Heilige Gees was. Om hulle taak te kon uitvoer moes die twee aspekte egter oorskadu word deur die goddelike. Hiervandaan was dit net 'n klein treetjie na 'n Drie-eenheid wat bestaan uit Vader, Seun en Heilige Gees. Die probleem was net dat hoewel pneuma (Grieks vir gees) 'n vroulike woord is, is spiritus (Latyn vir gees) 'n manlike woord, sodat die Rooms Katolieke Kerk uiteindelik beland het met 'n drie-eenheid wat uit drie manlike wesens bestaan.

In baie opsigte was die gemeente van Antiogië, wat ook Paulus se tuisgemeente was, 'n pionier in die Griekse denke oor God. Daar is Jesus se volgelinge vir die eerste keer Christene genoem, klaarblyklik omdat hulle Jesus vereenselwig het met die logos of die Christus van God. Vir hulle het hierdie abstrakte filosofiese begrip in Jesus vlees en bloed geword.

In Paulus se brief aan die Galasiërs lees ons van die spanning tussen die Joodse gemeente van Jerusalem waar Jakobus, broer van Jesus, die leier was en die Griekse gemeente van Antiogië. Dit lei tot die eerste "Sinode" tussen die twee gemeentes, waar besluit word dat heidense bekeerlinge nie besny hoef te word nie, maar hulle aan die Joodse dieetreëls moet hou, deur onder meer nie bloed te eet nie – iets waaroor Paulus klaarblyklik ook nie baie geesdriftig was nie, as 'n mens aan van sy ander briewe moet oordeel.

Paulus (wat in die jare vyftig skryf, dus so twintig jaar ná Jesus se dood) het klaarblyklik nie veel erg aan die historiese Jesus nie en haal hom prakties nooit aan nie, want hy "verkondig Christus wat gekruisig is." Selfs wanneer hy vertel hoe Jesus die nagmaal ingestel het, klink dit eerder na 'n ritueel uit die gewilde Mitras-godsdiens van sy tyd, of selfs 'n herinneringsmaal vir die god Dionysus – ook 'n "seun van god" wat gekruisig is omdat mense hom nie herken het vir wie hy werklik was nie: die god van plantegroei, vir wie wyn 'n besonder gepaste simbool van sy "bloed" sou wees en brood van sy liggaam. By Dionysus se tempels het daar ook jaarliks die "wonderwerk" plaasgevind van water wat in wyn verander.

Die rusie tussen Paulus en Jakobus gee ons 'n insig in hoe vroeg die paaie van die Judese Christene en die Grieks-Romeinse Christene al begin skei het. Paulus se reisgenoot, Lukas, redigeer Jakobus grootliks uit sy Handelinge van die Apostels en maak van Paulus en Petrus die hooffigure. Maar uit Paulus se eie briewe weet ons dat Petrus eintlik die boodskapper van Jakobus was. Jakobus se 'sonde' is natuurlik dat hy die verpersoonliking was van die Judese Christendom en dus 'n streng monoteïs, wat nie te vinde sou wees vir die vergoddeliking van Jesus of van sy moeder nie.

Gedagtig aan die Ou-Testamentiese verbod op die eet van bloed, wonder 'n mens vandag hoe die Judese Christene gevoel het oor Paulus se voorstelling dat hulle deur nagmaalwyn te drink die bloed van Christus gebruik? Veral gedagtig aan die besluite oor die eet van bloed wat op die eerste "Sinode" geneem is.

Die vroeë Christendom

Nogtans het Jesus se deernisvolle lewe en sy filosofie van geweldloosheid 'n stempel afgedruk op die Christelike leefwyse van die eerste drie eeue. 'n Mens lees dat Christene bekend was om hul gasvryheid; dat hulle hongeres kosgegee en gevangenes in die tronk besoek het. Hulle het selfs die liggame van mense wat nie 'n begrafnis kon bekostig nie, plegtig begrawe. 'n Mens lees ook van 'n slaaf wat 'n paar dae lank gevas het, sodat hy sy eie karige rantsoen kon skenk aan mense wat nog minder as hy gehad het.

Die vroeë kerk was na die voorbeeld van Jesus uiters vrou-vriendelik. Paulus stuur meer dikwels groete aan vroue as aan mans en gebruik vroue dikwels om draers te wees van sy briewe aan gemeentes. Dit gee hulle ook die reg om die briewe aan die gemeentes voor te lees. As die Romeinse satirikus, Celsus, ongeveer die jaar 13O met die Christene spot, vertel hy hoeveel gemeentes na vroue vernoem is en hoeveel evangelies deur vroue geskryf is.

Toe Keiser Konstantyn in die 4de eeu sy beskermende hand oor die Christendom uitstrek, het dinge egter vinnig verander. Die gemeentes moes inpas by Romeinse norme en dit het beteken dat hulle van vroulike gemeenteleiers ontslae moes raak. Waar 'n soldaat voorheen uit die Romeinse leer moes bedank om 'n Christen te word, moes soldate later Christene word om 'n soldaat te kon wees.

Dieselfde staatspolisie wat voorheen Christene vervolg het, is later deur biskoppe in die kring van die keiser gebruik om Christene wat van hulle verskil as ketters te vervolg, veral Judese Christene. Hulle is later kerklik geïgnoreer en daarna vergeet, tot in die tweede helfte van die Twintigste Eeu.

Ander "ketters" het so ver as Persië (vandag Iran) uitgewyk en vandaar sendingaksies na China geloods. Van die besonder suksesvolle Christelike kerk wat vir 'n paar eeue in China bedrywig was, het die Christene in die Weste niks geweet nie, totdat hul geskrifte in die vorige eeu ontdek is.

Christene in China

Die verhaal van die kerk in China begin by Biskop Nestorius, Patriarg van Konstantinopel, aan wie die leerstelling van Jesus se twee nature – 'n goddelike en menslike natuur – toegeskryf word. Tog het hy in sy later lewe self probleme met die opkomende ortodoksie gehad toe hy nie die siening dat Maria die Theotokos, of Moeder van God en 'n immermaagd is nie. Hiervoor word hy in sy sterfjaar, 451, tot ketter verklaar.

Sy volgelinge vlug uiteindelik na die uiterste oosgrens van die Romeinse Ryk, maar ook daar word hulle nie met rus gelaat nie; hulle soek dus skuiling binne die Persiese Ryk (vandag Iran), waar hulle floreer.

In 653 vertrek 'n groep monnike onder leiding van biskop Aleben, op 'n voetreis van 5000 kilometer, oor twee woestyne, twee bergreekse en verskeie gletsers na Xian, die hoofstad van die nuwe Tang-dinastie, om die Christendom in China te plant.

Hulle het gou die guns van die verligte despoot, keiser Taizong, gewen en is later in beheer geplaas van die keiserlike welsynswerk. Die keiser het vir hulle 'n klooster laat bou en opdrag gegee dat Christelike geskrifte in Chinees vertaal moet word. Onder sy beskerming en later die van sy seun, het die Christendom dwarsoor China uitgebrei, totdat 'n regentes in die 12de eeu alle "vreemde godsdienste," dus ook die Boeddhisme, verbied het. Toe omstandighede weer gunstig word het Islam egter alle kontak tussen die Christelike wêreld en China onmoontlik gemaak.

In 1623 het 'n groep grafgrawers in die buitewyke van Xian afgekom op 'n kliptablet van 2 ton en byna drie meter hoog. Dit het gerus op twee reuse gekerfde skilpaaie en aan die bopunt het dit twee drake gehad (volgens die Chinese die simbool van die hoogste spirituele gesag) wat 'n skild vashou waarop 'n lotus uitgebeeld is (simbool van die Boeddhisme) en uit die lotus 'n kruis te voorskyn kom. Op die stele is in 2000 Chinese lettertekens die verhaal opgeteken van biskop Aleben en sy monnike se "Kerk van die lig uit die Weste."

In 1900 is daar in 'n toegemesselde grot in die oase-stad Dunhuang duisende geskrifte gevind, hoofsaaklik Boeddhisties geskrifte, maar ook 'n versameling Christelike geskrifte, die sg. Jesus-soetras. Die meeste hiervan het uiteindelik beland in die British Museum en in die Louvre in Frankryk. Daar het dit vir 'n eeu gelê en verwaarloos, voordat die Britse historikus, Martin Palmer van hierdie tekste vertaal en in sy The Jesus Sutras uitgegee het. Later het The Lost Sutras of Jesus, deur die Amerikaners Thomas Moore en Ray Riegert verskyn.

Van die Confucianisme neem die Christendom die eerbied vir 'n mens se ouers oor; van die Taoïsme die begrip Tao, wat vertaal kan word as Weg of pad (onthou die vroeë Christene is ook "mense van die Weg" genoem ). Maar Tao is ook veel meer: dit is die grond van alle bestaan; die Godheid aan wie geen kenmerke of name toegeskryf kan word nie. Dit kan selfs ook die natuurlike harmonie van dinge beteken.

As 'n mens die natuurlike harmonie van alles kan insien en jou lewe daarvolgens inrig, lewe jy in harmonie met die Tao en gebeur alles moeiteloos. Hieruit kom weer die begrip wu wei voort, 'n bedrieglik eenvoudige begrip wat vertaal kan word as moeitelose moeite of selfs inspanningslose inspanning.

Uit die Boeddhisme kom die insig dat begeerte die bron van alle lyding is en dat niks ooit permanent is nie. Ook die begrip karma, wat letterlik oorsaak en gevolg beteken. Die mens word nie na 'n finale oordeel deur 'n goddelike regter gestraf vir sy dade nie, maar elke daad het sy eie gevolge. As 'n mens die verkeerde dieet volg kry jy diabetes of hartkwale; as 'n mens ander mense sleg behandel gaan hulle vyandig teenoor jou wees. Aan die ander kant, as jy mense goed behandel sal hulle jou goedgesind wees. 'n Mens 'straf' jouself as't ware deurdat al jou dade gevolge het.

Nog 'n begrip wat uit die Boeddhisme kom is dharma, wat meesal gebruik word om 'n onderrig of lering mee te beskryf. Hoe al hierdie begrippe op die Christelike leer ingewerk het, merk 'n mens duidelik uit die Soetra van die vier dharma-wette:

Een van sy volgelinge vra: "U sê dat Geen Begeerte, Moeitelose Aksie, Geen Meriete en Geen Waarheid die vier wette is wat na vrede en vreugde lei. Maar ek verstaan nie hoedat daar vreugde kan wees as 'n mens nie kan lewe nie."

Die Een Heer, die Messias, antwoord: "Wat 'n goeie vraag. Laat ek dit weer verduidelik. Dit is slegs Niks wat tot Iets aanleiding kan gee. As dit in iets anders was sou Vrede en Vreugde nooit kon ontstaan nie. En hoekom nie? Neem as voorbeeld 'n berg met 'n digte woud. Die blare en takke van die bome sprei vanself uit en bied skaduwee en skuiling. Hulle het nie nodig om voëls en diere te gaan soek om daar te skuil nie, hulle kom uit hul eie soontoe om neste maak en weg te kruip.

"Of dink aan die oseaan wat die water van al die riviere en fonteine aantrek en wie se dieptes onpeilbaar is. So 'n oseaan het tog nie nodig om visse en ander waterdiere te gaan soek nie; hulle kom woon daar uit hul eie.

"Die van julle wat vrede en vreugde soek is soos die voëls en die visse. Julle hoef net julle gemoed te kalmeer en stil te lewe. Wanneer julle dit doen hoef julle nie eens te soek na vrede en vreugde nie, dit sal vanself daar wees, nes die woud en die see. Dit is hoe Niks aanleiding gee tot Iets."

'n Mens kan slegs raai hoe die Christendom van China uiteindelik daar sou uitgesien het, as die onderbreking in die 12de eeu nie plaasgevind het nie. Dit sou waarskynlik uiteindelik net so radikaal van die Grieks-Romeinse Christendom verskil het as wat laasgenoemde van die Judese Christendom verskil het.

Die tydperk waarin die Christendom in China bedrywig was, was juis 'n uiters kreatiewe tydperk waartydens byvoorbeeld Zen-Boeddhisme uit die kontak met Taoïsme ontstaan het; en die Suiwer Land-Boeddhisme, wat sê dat 'n mens uit genade gered kan word bloot deur net die naam van die Boeddha Amida aan te roep, dalk uit die kontak met die Chinese Christendom ontstaan het.

Die evangelies

Geen een van die evangelies wat onder die Judese Christene gewild was, soos byvoorbeeld die evangelie van Thomas, die Hebreërs, die Nazoraeërs of die Ebioniete is in die Bybel opgeneem nie, net evangelies wat hul oorsprong gehad het in die sendingveld van Paulus.

So het die Joodse Jesus, die moshal meshalem, meester van die gelykenis, ook vergete geraak. Die offerlam van die bloedteologie het baie belangriker geword as die briljante leermeester met sy nederige leefwyse, wat sy leerlinge met sy spreuke en gelykenisse van die een insig na 'n ander tot 'n dieper geestelike lewe gelei het. Iemand wat 'n duisend jaar voor die eerste Zen-meesters van China en Japan al "raaisels" of koans gebruik het om sy leerlinge voor 'n dilemma te plaas wat nie deur ons gewone dualistiese denkwyse oor goed en kwaad opgelos kan word nie. Dink maar aan die volgende spreuk uit Thomas vers 7:

"Geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal 'n mens word. Vervloek is die mens wat deur die leeu geëet word, want die leeu sal 'n mens word."

Die eerste geslag vertalers van die Thomas-evangelie was so verstom oor hierdie spreuk dat sommiges nie hul oë wou glo nie en dikwels die tweede reël vertaal het as "en die mens sal 'n leeu word," omdat hulle nie kon verstaan dat Jesus hier van die menslike ego praat nie.

Maar wat was Jesus se doel met sulke raaiselagtige spreuke? Jesus het nie van sy leerlinge verwag om 'n stel dogmas te aanvaar nie, maar oor een saak was hy onverbiddelik: iemand wat nie werk daarvan maak om hom- of haarself te leer ken nie, kan nie sy dissipel wees nie. Met hierdie koans, soos dit 'n duisend jaar later in Zen-Boeddhisme genoem sou word, wou hy sy dissipels help om die dieptes van hul eie innerlike bestaan te leer ken en die stil punt te ontdek waar hulle een met hulle self en met alle lewe is. Om te besef dat hulle self die seuns (en dogters) "van die lewende Vader is" (Th. 3).

Dit is hierdie besef van eenheid met alles wat lei tot deernis en medelye, wat die kenmerk was van die vroeë Christene, wat in Jerusalem hulself die Ebioniete – die armes (van gees) – genoem het. Sagmoedigheid en barmhartigheid was 'n leefwyse, daarom dat die leer van Jesus ook Die Weg genoem is, voordat die vergriekste gemeente in Antiogië die gekruisigde Christus begin aanbid en hulself Christene genoem het.

Die kerkvader Clemens van Alexandrië, wat aan die einde van die tweede eeu gelewe het, gee 'n interessante verduideliking van hoe Jesus sy leerlinge onderrig het. 'n Mens moet onthou dat die Christendom na Alexandrië gebring is deur lede van die Jerusalemse gemeente, sodat Clemens se woorde waarskynlik nog die Jerusalemse tradisie weerspieël.

Clemens verduidelik dat Jesus nie aan almal geopenbaar het wat nie deur almal begryp kon word nie, maar net aan hulle wat werklik blyke van begrip getoon het.

As iemand sê dat daar geskryf is dat "niks verborge is wat nie geopenbaar sal word nie, en niks weggesteek is wat nie gevind sal word nie," dan beteken dit ... dat vir hulle wat die verborgene verstaan die verborgene geopenbaar word. Iemand wat in staat is om dit wat versluierd oorgelewer is in ontvangs te neem, sal in die versluierde die geopenbaarde waarheid vind; en wat vir baie verborge is sal vir 'n handjie vol geopenbaar word ... Die geheimenisse word op 'n versluierde manier weergegee sodat dit enkel en alleen sal pas op die lippe van die meester en die ingewyde; of anders gestel, nie op hulle lippe nie maar in hulle bewussyn. (Stromateis 1.1.13,1-4)

Daar is dus nie 'n bepaalde leerplan wat deurgewerk moes word, waarna "eksamen geskryf" is nie; elke leerling het teen haar of sy eie pas gevorder, soos wat hulle in staat was om insig te verkry in die een spreuk of koan na die ander – presies soos Zen-meesters vandag nog doen. Almal het 'n gelyke toegang tot die leermateriaal, maar nie almal vorder teen dieselfde tempo nie.

Die Evangelie van Thomas en die bronteks Q

Wanneer 'n mens 'n bloemlesing van Jesus se spreuke saamstel, moet jy noodwendig kort-kort vra: "Het Jesus dit regtig gesê?"; "Is dit waarskynlik dat hy dit gesê het?"; "Klink dit soos iets wat Jesus sou gesê het?" Dit is dieselfde vrae wat die Amerikaanse president Thomas Jefferson (dood in 1826 en skrywer van Amerika se Declaration of Independence) ook gevra het, toe hy sy bekende Jefferson Bible saamgestel het, deur net verse waarvan hy oortuig was dat dit met Jesus se karakter en etiek strook, uit te knip en in 'n spesiale boek te plak, met hul Griekse en Latynse vertalings langsaan.

"Het Jesus dit werklik gesê?" was ook die kernvraag wat die sogenaamde "Jesus Seminar" in die laaste kwart van die Twintigste Eeu gestel het. Die aanvanklike groep het bestaan uit ongeveer 200 internasionaal bekende Bybelwetenskaplikes, wat elke vers in die evangelies sorgvuldig oorweeg het. Hul uiteindelike gevolgtrekking was dat net ongeveer 20% van alle spreuke wat aan Jesus toegeskryf word, eg is. In die Evangelie van Johannes kon hulle net 'n kort frase vind wat waarskynlik aan Jesus toegeskryf kan word.

Hulle verdere gevolgtrekking was dat Jesus nooit "Ek is"-uitsprake gemaak het nie, soos "Ek is die weg en die waarheid; homself nooit "messias" of "Seun van God" genoem het nie; en ook nooit oor 'n eindtyd geprofeteer het nie. Hulle gevolgtrekking was ook dat die Evangelie van Thomas aanvaar behoort te word as die "vyfde evangelie", en dat sy oudste laag waarskynlik die oudste opgetekende woorde van Jesus bevat.

Mens moet onthou dat Jesus in 'n tyd geleef het toe min mense kon lees en skryf. Om mense te help onthou moes 'n spreker op so 'n manier iets sê dat sy luisteraars die trefwoorde sal onthou, baie soos 'n mens vandag 'n grap onthou. Wat Jesus gesê het, is in baie variasies onthou, bloot omdat daar geen geskrewe, gesaghebbende teks was nie.

Die eerste "evangelies" was ook nie biografies nie, maar het slegs Jesus se spreuke bevat. Ons aanvaar vandag byvoorbeeld dat Mattheus en Lukas uit dieselfde spreukeversameling gewerk het, want hulle haal Jesus eenders aan, hoewel hulle die spreuke op verskillende plekke gebruik. Die een plaas Jesus se groot openbare optrede byvoorbeeld op 'n berg en die ander op 'n vlakte.

Deur al die spreuke bymekaar te bring wat deur sowel Mattheus as Lukas gebruik is, kon die oorspronklike teks met redelike sekerheid hersaamgestel word. Dit word die Q-teks genoem, afgelei van die Duitse woord Quelle, of bron.

Daar is heelwat redes om te aanvaar dat hoe bondiger 'n spreuk is en hoe lewensgetrouer aan die Galilese omgewing waaruit dit kom, hoe nader dit aan die oorspronklike staan. Dit maak gevolglik van die Evangelie van Thomas 'n uiters belangrike bron. Vir lank is gereken dat hierdie evangelie heeltemal verlore geraak het, totdat dit weer in 'n Koptiese vertaling (die ou taal van Egipte) herontdek is.

Dit bevat grootliks dieselfde spreuke van Jesus as in die Bybelse evangelies, maar met 'n hele paar onbekendes by. Hierdie spreuke is so kort en bondig en so getrou aan die lewe in Galilea, dat daar geen twyfel kan wees dat die oudste laag van Thomas ouer is as die Q-teks waaruit Mattheus en Lukas gewerk het. 'n Mens hoef net na die gelykenisse van die saaier en van die mosterdsaad te kyk om dit te weet. Trouens, prof. Gilles Quispel bereken dat die oudste laag dalk so vroeg as die jaar 40 onder die gemeente in Jerusalem gesirkuleer het.

In hierdie spreukeversameling vervloek Jesus niemand nie en noem hy niemand 'n huigelaar nie. Trouens, Jesus se moedertaal Aramees, het nie eens 'n ekwivalent vir die Griekse word hipokrites (huigelaar) nie. Hoewel Jesus die Fariseërs kritiseer, eer hy hulle ook as die wettige leermeesters in die lyn van Moses.

Prof. Gilles Quispel het in sy Het Evangelie van Thomas al oortuigend aangevoer dat die samesteller(s) van die teoretiese Q-teks gebruik moes gemaak het van Thomas, maar dikwels ook afwyk van wat in Thomas staan en boonop van 'n Grieks-Romeinse oorsprong moet wees.

Bowenal maak Jesus in die Thomas-versameling geen "Ek is"-uitsprake nie en noem hy homself nooit die enigste seun van God nie, maar beklemtoon juis dat almal wat hulle self leer ken het, die kinders van die lewende God is. Dit is die rede waarom daar soveel spreuke uit Thomas in hierdie bloemlesing opgeneem is, want dit is onverbloemd Joods en nog nie vergrieks nie.

Ons weet ook vandag dat nie een van die vier Bybelse evangeliste Jesus persoonlik geken het nie, daarvoor het hulle te lank ná sy dood geskryf, en buitendien is die apostel Johannes saam met sy broer Jakobus in die jaar 44 deur koning Agrippa onthoof.

Baie interessant is dat die eerste drie Bybelse evangelies nie in die eerste plek geskryf is as 'n geskiedenis of biografie van Jesus nie, maar as liturgiese tekste. Die Jode het naamlik 'n vaste orde gehad waarin die Ou Testament gelees is, sodat hulle telkens by dieselfde gedeeltes uitgekom het wanneer 'n bepaalde Joodse godsdienstige fees aanbreek.

Die eerste Christene het die patroon en ritme van die sinagoge gevolg en het spoedig 'n behoefte gehad aan hul eie tekste, wat by dieselfde feeste gelees kon word. Daarom is Markus so kort, want dit dek slegs 'n halfjaar se godsdienstige feeste. 'n Mens kan dus nie uit hierdie evangelies aflei hoe lank Jesus in werklikheid sy bediening beoefen het nie.

Die 'Jesus Seminar'

Oor wat 'n egte spreuk van Jesus is, het ek my met dankbaarheid laat lei deur die norme wat die Amerikaanse 'Jesus Seminar' aanvaar het om te probeer vasstel wat Jesus waarskynlik gesê en wat hy waarskynlik nie gesê het nie. 'n Mens moet nogmaals onthou dat Jesus geleef het in 'n tydperk toe die meeste mense nie kon lees of skryf nie. Alles was mondeling en as jy wou hê iemand moet iets onthou moes dit kort en bondig wees en soos 'n goeie grap ook 'n "punch line" hê wat maklik onthou kon word. 'n Mens kom dus gou agter dat tipiese Jesus-spreuke meesal die aanvaarde opvattings van sy tyd weerspreek en dat dit daarom skok en verras, en juis daarom hoogs onthou-baar is. Die man wat op pad Jerigo toe aangeval is, het stellig nie verwag dat 'n Samaritaan hom sou help nie, maar dit is wat gebeur het. Die seun wat sy erfporsie deurgebring het wou as 'n arbeider op sy pa se plaas gaan werk het, maar is met 'n feesmaal verwelkom.

Of dink hoe lekker sy luisteraars moes gelag het toe hy die koninkryk van die Vader vergelyk het met 'n mosterdplant. Hulle het goed geweet dat die selote, ultranasionaliste wat die Romeine in die see wou jaag en 'n teokrasie wou begin, die statige seder van die Libanon as hulle embleem beskou het. Eksklusief en elitisties soos hulle was, sou hulle ook nie enige voël in sy takke laat nesmaak nie. Net die uitverkorenes en die reines!

Dan kom Jesus en vergelyk die koninkryk met 'n bossie met 'n dik stam wat skaars meer as 'n meter hoog word. Boonop is dit 'n regte pes in 'n tuin, want waar dit eers posgevat het, roei 'n mens dit met moeite uit. Maar in die herfs, wanneer dit vol saad is, kom alle soorte saadvoëls om tussen sy blare te smul.

Hierdie gelykenis illustreer ook 'n ander norm vir 'n outentieke Jesus-woord: dit moet die leefwyse en praktyk in Galilea illustreer. Jesus het beter geweet as om te sê dat die mosterdsaad uiteindelik 'n groot boom word waarin die voëls nes maak. Net soos hy geweet het dat vissers in Galilea nie soos die visser van die Middellandse See met groot treknette werk nie, maar met ronde werpnette. Daarom dat vir hierdie twee gelykenisse die weergawe in die evangelie van Thomas ingesluit is, pleks van die meer bekende, maar minder outentieke spreuke in die sinoptiese evangelies. Dit is ook waarom daar oor die algemeen soveel spreuke uit Thomas in hierdie versameling opgeneem is.

Mattheus en Lukas gebruik dikwels presies dieselfde spreuke, meesal afkomstig van dieselfde bron ("Q" plus Markus) wat albei gebruik het, maar plaas dit binne verskillende kontekste, sodat die betekenis tussen hulle dan verskil. Om uit te vind wat 'n spreuk van Jesus beteken, moet 'n mens dit gevolglik eers uit die teologiese konteks van 'n bepaalde evangelie "bevry," sodat die spreuk of gelykenis self vir jou kan vertel wat dit beteken; wat nie maklik is nie, en 'n mens 'n indruk gee van hoe sy leerlinge soms daarmee geworstel het om sin uit Jesus se "koans" te maak. In vers 62 van die Thomas-evangelie sê Jesus immers: "Ek vertel my geheimenisse net aan hulle wat vir my geheimenisse ontvanklik is."

Maar hierdie ervaring leer 'n mens ook hoe effektief hierdie spreuke binne 'n didaktiese proses gebruik kan word. Soos die Amerikaners dit so mooi stel: "A mind once stretched by a new idea can never return to its original proportions."

As 'n mens lank genoeg met Jesus se woorde omgaan, sonder om deur 'n dogmatiese bril daarna te kyk, kan jy nie help om groot bewondering te ontwikkel vir hierdie uitstaande leermeester nie. 'n Mens weet instinktief dat jy hier te doen het met 'n briljante en 'n geslypte brein. Geen gewone timmerman wat net op 'n dag besluit het om sy werkswinkel se deur te sluit en te begin preek nie. Hy is nie 'n George Fox nie (vader van die Kwaker-beweging), alhoewel Fox ook 'n begenadigde prediker was. Die metodiek wat hy gebruik om sy leerlinge tot dieper insig te lei, dui eerder daarop dat hy uit 'n lang tradisie kom, waar spiritualiteit en psigologie nou verweef is.

Die uitkoms waarna gestreef is, was om "geheelde" mense op te lewer. Of soos die Switserse sielkundige Carl G. Jung sou sê "geïndividueerde mense." Waarskynlik het hierdie benadering sy wortels in die Joodse wysheidskool, wat nog ontstaan het in die tyd van die koninkryk van Ou Israel; in die streke wat daarna bekend gestaan het as Sirië, Galilea en Samaria.

In die sinoptiese evangelies Mattheus en Lukas (so genoem omdat hulle deur dieselfde bril, naamlik die Q-teks, na Jesus kyk) weet ons dat Jesus nie net deur Johannes gedoop is nie, maar dat hy ook sy eerste twee dissipels van hom ontvang het. Boonop was Jesus se doop nie 'n bekeringsdoop nie, maar eerder 'n "bevestigingsdoop" van iemand wat sy eie bediening betree. Het Jesus dalk 'n vorm van "opleiding" by Johannes ontvang?

Ons weet ook uit die sinoptiese evangelies dat hy met sy dissipels in die Jordaanvallei agtergebly het toe Johannes om die een of ander rede sy bediening verskuif het, eers na Samaria en toe na Galilea, waar hy onthoof is. Eers daarna keer Jesus en sy groep terug na Galilea.

Jesus as inspirasie

Daar is baie oor Jesus se lewe wat ons nooit sal kan weet nie, behalwe dat sy woorde en voorbeeld vandag nog mense van alle godsdienste en kulture aanspreek en inspireer. In die twintigste eeu was dit veral Mohandas Ghandi en Leo Tolstoi wat die bekendste moderne dissipels van Jesus was.

Miskien moet ons in die Christendom meer aandag begin skenk aan die "lewende Jesus," van wie Thomas praat. Dié Jesus wie se woorde in ons eie lewens resoneer. Ons moet weer wandelaars op Die Weg word – die soort oefening wat net moontlik die verkalkte beendere van die Westerse Christendom nuwe groeikrag en lewe kan gee.

Om Jesus se spreuke en gelykenisse te lees sonder dat dit voorkom in 'n vertelling, is 'n besondere ervaring wat 'n mens die gevoel gee dat jy Jesus "weer vir die eerste keer" ontdek; dit maak die spreuke ideaal vir oordenking en kontemplasie. As jy meer inligting oor 'n bepaalde vers wil hê, sal jy agter in die boek kommentaar oor elke vers en gelykenis vind wat in hierdie versameling opgeneem is.

Hierdie artikel verskyn as inleiding in dr. Piet Muller se nuwe publikasie, Die Evangelie volgens Jesus, 'n Bloemlesing van Jesus-spreuke uit verskillende tradisies, elkeen met 'n verklarende aantekening. Die boek sal later vanjaar verskyn by De Novo-boeke, in Bloemfontein.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.