Die monsters in my huis

Deur Johan Steyn op 1 Junie 2010

Monsters was deel van my lewe as kind. Daar was 'n klomp onder my bed en ook een wat om die draai in die donker vir my gewag het. Die een waarvoor ek die bangste was, het in ons dak gewoon. As ek baie stout was, sou hy deur die gat in die ceiling klim en my kom haal. Niemand het my ooit vertel waarheen hy met my sou neem en wat hy met my sou doen nie. Die blote gedagte was egter so vreesaanjaend dat ek in my pasoppens was net vir ingeval hy my dalk sou opraap en die pad met my vat.

Ek is vertel sy naam is Kappie Bolla. In my verbeelding was hy 'n groot monster wat amper soos 'n mens gelyk het, maar hy het bruin wollerige hare reg oor sy lyf gehad. Dit is verseker nie die tipe gedrog waarin jy in 'n donker gang wou vasloop nie. My maatjies het ook monsters in hulle huise gehad: daar was karakters soos Oupa Jas, Sakaboela en natuurlik die gevreesde Tokkelos.

Ek het jare later eers besef dat die monsters gebruik was om my as kind in toom te hou. Ek sukkel om te verstaan waar ouers aan hierdie bogspul gekom het, maar dis asof die mens instinktief weet dat vrees die mens kan beheer. As jy iemand bang genoeg kan maak, kan jy hom sovêr kry om na jou pype te dans.

Hierdie konsep is briljant vasgevang in M. Night Shyamalan se 2004 film, The Village. As jy nog nie die fliek gesien het nie, is ek jammer maar ek gaan nou die einde vir jou spoil. Die storie handel oor 'n negentiende-eeuse geïsoleerde gemeenskap waar mense in vrees leef vir monsters wat in die woude buite die dorpsgrense woon. Die mense het 'n ooreenkoms met die monsters: niemand sal in die woud ingaan nie, en op hul beurt sal die monsters nie die dorpie betree nie.

Só gebeur dit toe eendag dat iemand dit waag om die wêreld anderkant die woude te gaan verken. En wat sou hy agterkom? Die monsters het mooitjies nie bestaan nie. Dit was 'n wolhaarstorie wat die "ouderlinge" van die gemeenskap "geskep" het. Hulle wou sorg dat niemand die wêreld daar buite ontdek nie. "Vrees" was hulle antwoord. Daar is baie meer kompleksiteit aan die verhaal as my eenvoudige opsomming hier, so ek het darem nie alles gespoil nie. Ek reken die boodskap van hierdie film is dat ons monsters skep om die massas in toom te hou.

In die sewentigerjare het ek ook met ander soort "monsters" grootgeword. 'n Groot deel van die samelewing het nie snags lekker geslaap wanneer hulle aan hierdie "onheile" gedink het nie. Julle sal hulle goed onthou:

Baie hiervan is bloot gevrees omdat ons geen kennis daarvan gedra het nie.

Dink maar hoe bang mense vir 'n moontlike atoombom-oorlog tussen Amerika en Rusland was. Daar was films soos The Day After wat my tot laat in my tienerjare nog nagmerries gegee het. En ons vrese dat die Russe ons land sou oorneem? En wat van die mense wat hordes blikkieskos en water voor die 1994-verkiesing gestoor het, net vir ingeval die Swart gevaar ons uit die land sou dryf?

En dan is daar wragtag nog steeds vandag mense wat nie hierdie "monster" wil laat gaan nie. Hulle klink só: "Hou maar net dop wat ná die sokker gaan gebeur! Of wag net tot Mandela doodgaan. Dán sal julle sien hoe brand die land!" Kan ons tog nie nou maar vir eens en altyd ou omie Siener se drome met rus laat nie!

En wat van die Roomse gevaar? Dit klink verregaande, maar daar is steeds mense wat vas glo dat mense, wat die Rooms-Katolieke geloof aanhang, die pous en Maria aanbid. Ek moes eers saam met toegewyde mense in 'n Rooms-Katolieke kerk aanbid en talle boeke lees voordat ek nie meer hierdie "monster" gevrees het nie.

Islam is vars in die geheue. 'n Kollega het my na sy moskee genooi. Dit het nie gerealiseer nie weens die bomaanvalle in Londen. Ons het egter saam trein gery en toe eers kon ek iets van sy pyn verstaan. Met sy lang baard het hy noodwendig aandag getrek. Met die vrees duidelik in hul oë te sien, het mense geskarrel om vinnig uit die trein te kom ... weg van die Islam "monster". Ek het nie saam met hom aanbid nie, maar was wel soos 'n eregas in die moskee behandel. Toe lees ek die Koran ...

So, moenie twak met my kom praat oor hoe hulle almal kwansuis terroriste is nie!

En dan daardie mense in swart klere wat katte slag en bloed drink. Arme sataniste ... As mense maar net kon besef dat die outjies in swart die amateurs is. Dit is belangrike mense in magsposisies wat die groot manne in die wêreld van satanisme is. Ek het in my matriekjaar die dromme in 'n metal band geslaan. Ek was mal oor Metallica en Iron Maiden en King Diamond. Maar toe kom oom Rodney Seale met sy lang blonde hare en jaag die vrees van die duiwel in ons in. Agter elke hoekie is daar 'n duiwel wat jou wil vang! Agter elke stukkie musiek is daar demone wat jou siel wil kom steel. Toe lees ek Rebecca Brown se boeke. Daarna was ek behoorlik getoor. Ek's bang vir die duiwel! Die almagtige alomteenwoordige bokkop-monster wat my siel wil kom steel! Iets moes gedoen word – 'n vriendin se ma help ons toe een aand om by die skool in te breek en nagmaalwyn oor die deure te verf. Dit sou verseker die duiwel wegdryf.

Vandag skaam ek my wanneer ek hierdie hyper spiritual, oningeligte, vreesbevange manewales herroep.

Ek sukkel nog steeds om te verstaan waar mense aan die gedagte kom dat dingetjies en goetertjies in 'n huis 'n vloek oor mense kan bring. Soos byvoorbeeld, 'n sangoma wat muti onder 'n huis begrawe het of Afrika-maskers teen die muur? En nog erger, wat van oorlede groot-oupa se Vrymesselaars-voorskootjie in die kas? En natuurlik die groot gevaar wat uit die Ooste kom – tog net nie 'n Boeddha-beeldjie of kristalle nie! Van waar hierdie bogspul?

Dis dalk die cowboy by die magtige manne wat ons die skrik op die lyf jaag vir hierdie goed (hy moet tog maar leer om die woord Teologie te kan spel). Dalk is dit 'n stukkie Ou Testament wat buite konteks aangehaal is wat ons so bang maak.

Ons dink so maklik die probleme in ons lewe is nie óns skuld nie, maar die skuld van daardie donker, magiese magte wat ons nie kan sien nie en teen wie ons "geestelike oorlogvoering" moet doen. Blaas daai ramshoring om die duiwel bang te maak! Smeer daardie olietjies om siektes weg te hou! Bind daardie duiweltjies wat die kinders so pla!

Dalk is jy siek, nié omdat daar 'n "afgod" beeldjie in jou huis is nie, maar omdat jy verkeerd eet en nie oefen nie. Dalk sukkel jy om werk te kry, al bid jy hoe hard, want jy het nog nie eers jou CV uitgestuur nie. Dalk sukkel jy om 'n man te vang, want jy bid en lees net Bybel. Sit bietjie make-up aan en gaan ontmoet mense!

Ek moet bieg dat daar wel monsters en afgode in my eie huis is. Inteendeel, hulle word trots uitgestal in 'n glaskas, waar almal wat my ken, dit kan sien. Hulle name is: ongeduld, onvriendelikheid, afgunstigheid, grootpraterigheid, verwaandheid, onwelvoeglikheid, eie belang, liggeraaktheid, en boekhou van die kwaad.

Ek is soms so besig om Kappie Bolla en klein Boeddha uit my huis en ander se huise te jaag, dat ek vergeet van die "monsters" in my eie glaskas – dit is die ware monsters!

Johan Steyn het na sy Teologiese studies in Informasie Tegnologie begin werk, beide in Suid-Afrika en die buiteland. Hy was ook vir 'n seisoen predikant by 'n bekende kerk in Johannesburg en was verantwoordelik vir die Jong Volwassene bediening. Sy belangstellings sluit in teologie, spiritualiteit en geskiedenis. Hy skryf graag oor aktuele sake en pen graag poësie.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za