.

Die krag van liefde

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Januarie 2014

.

Een van die sterkste tifone (in drie dekades) het in 2013 die Filippyne getref. Daar word bereken dat die Tifoon, genaamd Haiyan, se rukwinde tot 380 km/h bereik het. Huise is platgevee en bome ontwortel. En hiermee saam het die vloedwater eenvoudig alles wat nog gestaan het uitmekaar geruk. Meer as 1200 mense is na raming reeds dood gevind.

Ongelukkig is dit nie 'n geïsoleerde gebeurtenis nie, van reg oor die wêreld stroom die berigte in van natuurrampe soos vloede, tornado's, siklone, tsunami's en aardbewings wat veel erger is as wat dit voorheen was.

En ons hier in Suid-Afrika is ook nie gespaar hiervan nie, ook in 2013 het die Kaap weer gesteier onder swaar reëns en kitsvloede.

Ek wonder of daar nog enigsins iemand is wat nie sal saamstem dat ons tans 'n ekologiese krisis in die gesig staar nie. 'n Verdere voorbeeld hiervan, lees ek in Rapport 'n berig oor die Weskus se grootste rykdom, sy ryk pelagiese visbronne, wat so te sê uitgeput is. Die vissers wat al vir generasies daar visvang vir 'n lewe, sê almal hulle kan nie meer 'n lewe maak uit visvang nie, "Daar is eenvoudig net nie meer vis nie," sê hulle.

Wie kan dus nog daaraan twyfel dat indien ons nie vinnig en radikaal nuut gaan begin dink en leef nie, die vooruitsigte vir toekomstige geslagte regtig nie goed lyk nie. En die oorsaak van meeste van hierdie dinge?

Natuurlik speel weerpatrone wat oor jare verander en evolusie se natuurlike proses, 'n rol. Maar hoofsaaklik is die mens self die ingenieurs van hul vinnige agteruitgang en ondergang.

Want kom ons erken nou maar aan mekaar, ons is 'n spesie wat verval het in gierigheid, oordaad en selfsugtigheid. Ons het ons selfwaarde begin meet aan wat ons ry, waar ons bly en wat ons kry. Ons verbruikers-mentaliteit het ons 'n dodelike virus gemaak vir ons eie woning.

Die woorde van 'n Amerikaanse Cree-Indiaan kom altyd by my op as ek hieroor nadink: "Only when the last tree has died and the last river been poisoned and the last fish been caught will we realize we cannot eat money."

En intussen besoedel en vernietig ons oordrewe verbruikers-mentaliteit lustig voort. En dit lei natuurlik tot groot industrieë wat hulpbronne opgebruik en besoedel. Alles in diens van ons onversadigbare en gierige behoeftes.

En die gevolge hiervan? Aardverhitting wat klimaatspatrone radikaal beïnvloed, uitsterf van spesies en die opgebruik van natuurlike hulpbronne. Tans voorspel wetenskaplikes dat die wêreld teen die jaar 2050, 50% meer water en energie sal benodig. En die Verenigde Nasies raam dat voedselproduksie met 70% in die volgende 30 jaar sal moet toeneem. En dit voorspel net een ding, grootskaalse hongersnood, ernstige tekorte aan water en energie.

Ons is besig om met ons moderne lewenstyl, elke ekostelsel te vernietig. En dit saam met al die miljoene spesies en organismes wat deel uitmaak daarvan. Ons het 'n groot aptyt vir altyd meer en altyd nuwer. Natuurlik noem ons dit "ontwikkeling". Miskien is die tyd ryp dat ons verantwoordelikheid begin neem vir ons gedrag en ons bydrae tot die misbruiking van moeder aarde.

Hoe het dit gebeur dat ons so verword het? Miskien slaan Mahatma Gandhi die spyker op die kop met sy omskrywing van die mens se sewe dodelike sondes: "Politics without principle. Wealth without work. Commerce without morality. Pleasure without conscience. Education without character. Science without humility. Worship without sacrifice."

Wat my egter opval, is dat die meeste godsdienste – wat tog beskou word as die mens se vernaamste bron van moraliteit en sin vir reg en verkeerd – totaal skitter in hulle afwesigheid as dit kom by die verantwoordelikheid neem vir die mens se vernietigende gedrag.

My vraag is hoekom?

Is die hoofrede nie maar omdat godsdienste die realiteit van hierdie saak afmaak nie, met 'n verantwoordelikheids-verskuiwing – van mens na God? Is dit nie maar wat altyd gebeur as enige gelowiges voor 'n krisis te staan kom nie?

Dink maar aan meeste standaard antwoorde wat in tye van krisis gegee word; "God sal voorsien", "Bid net", "Glo net", "God sal alles kom nuut maak", "God sal red – vertrou net – Hy sal reg laat geskied" en "Eendag sal daar 'n nuwe hemel en aarde wees," en vele ander bonatuurlike, wonderwerk beloftes.

Is dit nie al van die begintye so, dat die mens nie die wrede werklikheid in die oë kan of wil kyk nie? Enige rede om te kan wegkyk word aangegryp. Kom ek verduidelik dit so: Meeste mense, wanner hulle voor 'n probleem te staan kom wat dreig om hulle te oorweldig, gryp na iets wat hulle tydelike verligting sal bied; dit wat vir hulle hoop kan gee of selfs troos, al is dit valse hoop.

Godsdienste floreer juis op hierdie beloftes van hoop. Maar die hartseer werklikheid is dat hierdie juis die rede is, waarom ons huidige situasie is wat dit is. Want hierdie sogenaamde bonatuurlike oplossings en beloftes los eintlik niks op nie, in teendeel, dit vererger net alles.

Want eerder as om verantwoordelikheid te neem, en in te spring en die probleem aan te spreek, word die probleem gerieflik aangegee na 'n hoër gesag. En sodoende word die probleem nie aangespreek nie maar elke keer gesystap en uitgestel.

Dis is vir my een van die grootste probleme wat ek met tipiese godsdienstige denke het. Die feit dat dit mense altyd laat wegkyk van die werklikheid.

Seker daarom dat deur die menslike geskiedenis heen, ongeregtighede en misdrywe in die samelewing nooit eerste deur die godsdienstiges van hierdie wêreld aangespreek word nie. Nee, dit is altyd die sogenaamde "ongelowige" humaniste wat die voortou neem.

Enkele voorbeelde is slawerny, apartheid, miskenning van vroue, wreedhede teenoor homoseksuele, misbruik van die natuur, aardverhitting, armoede en oorbevolking. Wie is altyd eerste op die toneel? Die humaniste, wetenskaplikes en aktiviste. Eers heelwat later daag die godsdienstiges op.

En as hulle weldra op die toneel verskyn is dit nie om noodwendig om te help nie, nee, dit word gesien as 'n geleentheid om hulle spesifieke dogmas en sienings te bemark.

Byvoorbeeld, Christen en Moslem sendelinge se hoof taak is nooit in die eerste plek om armoede of ongeregtighede te beveg nie. Hulle is in die eerste plek daar om siele te red. Die wegkyk van die werklikheid na 'n 'bonatuurlike' eendag koninkryk.

En is dit nie nou al tyd dat die mens moet besef dat enige ideologie of filosofie wat jou essensieel laat wegkyk van die werklikheid, nie goed vir jou of enige belangrike saak is nie.

Of dit nou jou eie foute, swakhede of swak keuses is en of dit politieke, sosiale of ekonomiese misdrywe of probleme is – sodra jy 'n kruk, maklike antwoord of oplossing vind, help dit nie, dit los niks op nie. Dit vererger net die saak.

Dit vra moed om die lewe in die oë te kyk. Die lelike, wrede werklikheid. Want eers as jy die probleem in die oë gekyk het, kan jy 'n moontlike oplossing vind. En die probleem is: dat ons as die menslike spesie ons los begin sien het van die netwerk van die lewe.

Ons het ingekoop op die idee dat ons die kroon van die skepping is, en dat alle ander lewe eintlik ondergeskik aan ons is, en selfs tot net ons voordeel en oorlewing daar is. Seker daarom dat ons so wreed en onrespekvol omgaan met diere en die natuur.

Ons het nodig om weer ons eenheid, ons liefde vir mekaar – ongeag spesie, ras, klas of geslag – te herontdek. Om weer te verstaan dat ons een is. Want slegs wanneer ons verstaan dat ons werklike essensie liefde is en nie ego nie, sal ons anders begin kyk na die lewe.

Dit begin alles by die verskuiwing van die mens as middelpunt. Om op te hou om die mens as die maatstaf te sien waarteen alles gemeet word. Om ook die wêreld godsdienste se 'kroon van die skepping'-stelling, te sien vir wat dit werklik is – ego denke. En tipies ego, word alle ander vorme van lewe dan gesien as benede en slegs daar as hulp en behoefte vervulling.

Dit is presies hierdie manier van dink wat die mens in so 'n vernietigende, selfsugtige, gierige en selfgesentreerde monster laat verander het. Daarom is dit so noodsaaklik dat daar van "antropo-sentriese" na "bio-sentriese" denke geskuif moet word.

Die mens is nie die kroon van die skepping nie, die mens staan nie los daarvan nie. Die mens is maar 'n klein deeltjie van 'n veel groter omvattende geheel. Die ego-monster moet onthoof word: Daar is geen middelpunt van waaruit die geheel beheer word nie. Inteendeel – die mens se bestaan en voortbestaan is ten diepste gekoppel aan die welstand van alle ander vorme van lewe.

En hierdie geheel wat een lewende organisme is – mens, dier, insekte, plante en minerale – is ons almal. Een groot familie. En die hartklop van hierdie een familie is liefde.

Nie romantiese en ego gedrewe liefde nie, nee, ek praat van die sterkste krag op aarde, die bron, hartklop van die kosmos. Die krag wat alles laat wees, alles uitstuur en alles laat terugkeer. Die liefde wat die lewe is en dit ook omvat. Die liefde wat verskillende name gekry het deur die eeue; God, Bron, Alpha en Omega, Ek Is, Bewussyn, Energie, Lewe, Tao, die Groot Misterie en selfs die Groot Leegte of Niks.

Die liefde waarvan Jiddu Krishnamurti praat as hy sê: "The moment you have in your heart this extraordinary thing called love and feel the depth of it, you will discover that for you the world is transformed." En soos ons weet, sodra jy verander, verander alles om jou. Ons is die transformasie wat nodig is om ons wêreld te transformeer; ons is die wapen wat die selfsugtige monster kan verslaan.

Ja, godsdienste en hulle gode sal kom en gaan, hulle profete sal verdwyn en plek maak vir ander maar die liefde sal nooit vergaan nie. Net soos energie nooit vergaan nie.

Ons moet net weer verstaan dat ons almal uit dieselfde sterstof bestaan en uiteindelik weer daarna sal terugkeer; ons almal kom vanuit dieselfde grond en sal weer daarna terugkeer. Kom ons leef met respek, liefde en deernis teenoor alle lewe, in watter vorm dit ookal sigbaar word.

Die tyd is hier en die tyd is nou om anders te dink en anders te wees ... ons voortbestaan hang daarvan af. Ons moet vreesloos ons ware identiteit van liefde leef.

Mahatma Gandhi: "There is a enough in the world for man's need but not for man's greed."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.