Die kognitiewe aansprake van metafore

Deur Louis van Zyl op 1 Augustus 2011

'n Kritiese kyk na M.B. Hesse se verstaan.

Ek praktiseer as prokureur in Klerksdorp, maar is tans besig met my MPhil graad aan die PUK. Die bespreking was deel van my voorbereiding wat ek vir lektore uit Nederland moes doen.

Alle taal is metafories

Standaard analitiese taalfilosofie voorveronderstel dat normale beskrywende terminologie letterlik en stabiel is en net een betekenis het. Professor Mary Hesse verskil van hierdie siening en noem haar teorie: "The network theory of meaning" (Hesse 1983:1). Hierdie teorie is 'n alternatief vir Aristoteles se filosofie van "universals". Volgens Aristotle se filosofie kan "universals" beskryf word as die korrelaat in die werklikheid van die gepaste gebruik van universele terme. Wittgenstein verskil van Aristoteles en noem sy teorie "family resemblances". Hiervolgens kan objekte 'n klas vorm waar al die lede van die klas 'n spesifieke eienskap het, sonder dat daar aanvaar word daar 'n "universal" is wat verwerklik word deur elke objek in die klas. Die skuif in betekenis wat predikate in "family resemblence" klasse ondergaan is soortgelyk aan metaforiese skuiwe in betekenis. Die uitbreiding van betekenis wat plaasvind deur ooreenkomste en verskille in metafore is slegs treffende voorbeelde van iets wat heeltyd plaasvind in die veranderende en holistiese netwerk wat taal konstitueer. Hesse voer aan dat metaforiese betekenis gevolglik normaal is en sekere meganismes van metafore essensieel is tot die betekenis van enige beskrywende taal. Hierdie argument bring haar by die gevolgtrekking dat alle taal metafories is (Hesse 1983:3).

Teorieë oor metafore

Die veronderstelling van Aristoteles se teorie is dat daar 'n verskil is tussen gepaste en ongepaste benaming, wat afgelei is van die teorie van natuurlike soorte en essensies. 'n Metafoor kan beskryf word as 'n woord wat geleen word uit 'n vreemde konteks en wyk die metafoor se gebruik dus af van die normale gebruik van die woord. Metafore het gevolglik geen kognitiewe funksie nie, maar slegs 'n dekoratiewe funksie (Hesse 1983:4).

Die implikasie van hierdie model is dat metafore gereduseer word tot 'n blote vergelyking. Daar is twee besware teen hierdie konstruksie:
1. Dit verarm die metafoor of lei tot die oneindige regressie van die metafoor.
2. Die tweede beswaar teen so 'n reduksionere siening is dat die elemente van verrassing, spanning en kreatiwiteit, wat essensieel is vir die metafoor, verlore gaan in die omskrywing/verduideliking van die metafoor. Die poging om die metafoor te omskryf is 'n poging om ou betekenis te gebruik vir nuwe konsepte. Die nuwe gebruik veronderstel 'n nuwe betekenis en die poging om dit te omskryf beïnvloed opsigself die betekenis van die metafoor en ten minste verwoes dit die kreatiwiteit van die metafoor (Hesse 1983:4).

Max Black was die eerste persoon om reduksionistiese teorieë vir metafore te verwerp en om 'n sogenaamde "interaction" teorie te ontwikkel. Hy beklemtoon die manier waarop die gebruik van 'n metafoor die geassosieerde gemeenplase van die primêre sisteem waarin die metafoor gebruik word saamgebring/geassimileer word met die sekondêre sisteem waarin die woord se letterlike betekenis gebruik word. In die voorbeeld "die mens is 'n wolf" maak ons wolf eienskappe van toepassing op die mens, maar beïnvloed dit ook ons betekenis van die woord "wolf".

Wolwe word dus ook nou meer menslik na gebruik van die metafoor. Aangesien betekenis gevolglik beïnvloed is kan daar geen uitdruklike vertaling of omskrywing van 'n metafoor plaasvind sonder dat daar kognitiewe verlies is nie (Hesse 1983:6).

Alhoewel die interpretasie teorie, Hesse se netwerk-model van betekenis soos 'n handskoen pas verskil dit in twee opsigte:
1. Black handhaaf die letterlike/metaforiese onderskeiding, terwyl Hesse glo daar is geen rede vir so 'n onderskeiding nie.
2. Die netwerk-teorie beklemtoon ook anders as Black, die verband tussen ooreenkoms en analoë tussen primêre en sekondêre sisteme. Volgens hierdie beskouing is ooreenkomste en verskille onreduseerbare primêre verhoudings, wat selfs die eenvoudigste vasstelling van betekenis voorafgaan. Die invoer van ooreenkomste en verskille vir meer komplekse vasstelling van betekenis van 'n metafoor kan nie die herleiding van die metafoor tot sy letterlike betekenis aanmoedig nie. Verder, omdat ooreenkomste primêr en allesomvattend is, moet komplekse skuiwe in die betekenis van metafore ten minste gegrond wees in sekere ooreenkomste, alhoewel voorafgaande ooreenkomste nie noodwendig alle gronde vir betekenis skuiwe hoef uit te put nie (Hesse 1983:6).

Metaforiese verwysings

Nadat Hesse vir die allesomvattende karakter/aard van metafoor in natuurlike taal betoog is, oorweeg sy die volgende twee vrae:

Eerstens, hoe werk metaforiese verwysings en tweedens, kan metaforiese stellings waar of vals wees?

Hoe metaforiese verwysings werk word beskryf deur aan te toon hoe taal aangeleer word deur kennis te neem van die objektiewe ooreenkoms tussen entiteite en die nakom van omliggende sosiale taalgebruik in die klassifikasie van entiteite in relatief stabiele natuurlike soorte of letterlike verwysingsraamwerke. Bovermelde werk die beste in verhouding tot oorspronklike beskrywende taal, waar terugvoer-lusse (feedback loops) tussen individue en die omgewing en tussen individue en die sosiale groep praktiese sukses in kommunikasie verseker. Dit werk ook in verhouding tot die natuurwetenskappe, waar nuwe teoretiese konsepte, oorspronklike beskrywende taalgebruik aanvul deur die gebruik van wetenskaplike modelle en metafore. Alhoewel dit mag voorkom of wetenskaplike taalgebruik afwyk van "observasie" taalgebruik, bly dit steeds vasgevang binne die terugvoer-lus van voorspelbaarheid en toets/proefneming in die natuurlike omgewing (Hesse 1983:7).

Gevolglik het konsensus oor die waarheid met betrekking tot metafore binne die wetenskaplike gemeenskap steeds 'n eksterne grondslag in die natuurlike werklikheid. Die probleem met 'n teorie oor metafore ontstaan in gevalle van poëtiese, religieuse en ideologiese metafore, waar daar nie beroep gedoen kan word op die wetenskaplike metode van toetsing om verwysing en waarheids-waarde te bevestig nie. In sulke gevalle kan waarheids-waarde toegeskryf word aan metaforiese stellings binne 'n bepaalde sosiale netwerk van konvensies. Hierdie netwerk mag so wyd soos 'n streektaal wees of intern tot 'n bepaalde wêreldbeskouing (Hesse 1983:8).

Hesse verwys na die beskrywing van metafore deur Nelson Goodman en Paul Ricoeur om 'n objektiewe interpretasie van metafore se verwysing te vestig. Goodman voer twee argumente aan ter ondersteuning van die beweerde objektiwiteit van metafore. Eerstens voer hy aan dat metaforiese voorspelbaarheid het waarheidswaarde en tweedens maak en hermaak metafore die omskrywe wêreld.

Paul Ricoeur voer aan dat daar geen twyfel is dat metafore na ander wêrelde as die natuurlike verwys nie en dat daar kriteria vir die waarheid of paslikheid van die verwysing bestaan. Volgens kom het metafore 'n sogenaamde gesplete verwysing, beide met betrekking tot die metafoor se "letterlike" betekenis, wat opgeskort word deur die metaforiese spanning en met betrekking tot die metaforiese betekenis wat dit vervang. Om 'n metafoor te kan verstaan moet ons die letterlike betekenis herwin in die lig van die metaforiese en heen en weer wissel tussen die interpretasies. Die tweede metaforiese verwysing het die funksie om "'n ander wêreld" te vestig wat korrespondeer met ander moontlikhede van bestaan en moontlikhede wat ten diepste ons eie sal wees.

Beide Goodman en Ricoeur beroep hulle op verskillende wyses op 'n onderskeiding tussen die alledaagse en fiktiewe wêrelde (Hesse 1983 9-12).

Metafore is gemoeid met die "herskep" of "moontlike" wêrelde op twee maniere: (a) dit funksioneer om standpunte en gevolglik betekenis van voorheen bekende taal te verander en (b) in besonder gaan dit verder as "feitelike" beskrywings wat die produk is van tegniese belang in voorspelbaarheid en beheer (Hesse 1983:13).

Metaforiese gebruik impliseer waardebepalende interpretasies asook beskrywings wat daarop gerig is om 'n gegronde standpunt jeens die wêreld in te neem, wat weer op sy beurt impliseer dat metafore gemoeid is met aksie sowel as beskrywing (Hesse 1983:14).

Hesse sluit af deur daarop te wys dat die behoorlike verstaan van metafore 'n radikale herinterpretasie van kognitiewe betekenis behels en die vraag na die waarheidswaarde van metafore slegs beantwoord kan word in terme van 'n hersiene ontologie en teorie van kennis en waarheid (Hesse 1983:14).

My kritiek teen haar siening is geleë in haar stelling dat alle taal metafories is.

Ek stem saam met Black dat die onderskeid tussen letterlike en metaforiese taalgebruik gehandhaaf moet word. Prof. Hesse brei sekere meganismes van metafore uit na alle beskrywende taal en gebruik dit om haar gevolgtrekking te staaf dat alle taal metafories is. Hierdie argument gaan egter nie op nie, want nie alle taal is beskrywend nie. Dit is duidelik dat sy die onderskeiding wil vervaag om sodoende die letterlike – metaforiese dualisme te oorkom.

Alhoewel sy haarself as 'n gematigde realis beskryf sal haar anti-realistiese siening van die waarheidswaarde van metafore in gevalle van poëtiese, religieuse en ideologiese metafore baie denkers vervreem van haar teorie. Ek is van mening dat die waarheidswaarde van metafore nie afhanklikheid is van hierdie allesomvattende definisie van haar nie, maar stem saam dat 'n hersiene ontologie nodig is vir 'n behoorlike begrip van metafore.

Soos Prof. M.E. Botha tereg aanvoer kan gemeenskaplike universele kondisionerende orde van die werklikheid slegs benader word indien 'n ontologie ontwikkel word wat hierdie orde erken, 'n breër begrip van rasionaliteit ontwikkel word en'n teorie van betekenis ontwikkel word wat die werklike bydraende faktore wat werksaam is in die samestelling van konsepte erken. Metafore speel 'n belangrike rol in bovermelde en verdien gevolglik die onverdeelde aandag van kontemporêre filosofie (Botha 1994:17).

Bibliografie

Botha, M.E. 1994. "Understanding our age. Philosophy at the turning point of the 'turns' – The endless search for the elusive universal." Tydskrif vir Christelike Wetenskap, jrg. 30, 2de kwartaal, 15p.
Hesse, M.B. "The Cognitive Claims of Metaphor." In Metaphor and Religion, J.P. van Noppen (ed.). Brussel: Vrije Universiteit Brussel, 1983, 18p.
Ricoeur, P. The model of the text: Meaningful action considered as a text, New Literary History, 1973, 18p.

Louis van Zyl kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za