.

Die Kerk as manteldraaier

Deur Ds. Bertus van Niekerk op 1 April 2013

.

Selfs op spesiale uitnodiging na die omstrede oop gesprek tydens die Woordfees 2013 in Stellenbosch kon Braam Hanekom, moderator van die Weskaapse sinode van die NG Kerk, nie verlede week die verleë posisie waarin geloof in die 21ste eeu homself bevind, versteek nie. Die res van die paneel en die gehoor het met hulle eie oë gesien die kerk is kaal en sy het niks om haar skaamte mee te bedek nie.

Prof. Jurie van den Heever, bekende paleontoloog en dosent aan die Universiteit Stellenbosch, het in 'n vyfminuut-hipotese verduidelik hoedat primitiewe mense moontlik begin het om offerhande hemelwaarts te bring. Weerlig veroorsaak veldbrande en dit verwoes op sy beurt gewasse wat verbou word en makgemaakte diere – om nie eens te praat van skuilings wat opgerig is teen die elemente nie. Gekoppel aan primitiewe gemeenskappe se aanbidding van die maan as godin van reëlmaat in die natuur, kon dit seker min geverg het vir 'n teorie om pos te vat dat as 'n persentasie van die vee of graan (en in sommige gevalle kinders of maagde) vrywillig aan die kragte in die biosfeer hierbó opgedra word, dit 'n effek sou hê daarop dat die Transendente Bepaler van menslike lot nie álles in 'n woedebui geuiter in water of vuur sou uitwis nie.

Abel Pienaar, direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, het gesê die metafore van hemel en hel soos deur antieke kulture aan ons oorgedra is nie meer haalbaar vir die post-verligtingmens nie. Ons dink gewoon nie meer in die kategorieë van 'n Sumeriese drieverdiepingwerklikheid waarin God en hemelse figure bokant die plat skyf van die aarde en duiwels en demoniese karakters onderkant die plat skyf woon nie. Die wetenskap het so 'n werklikheidsverstaan tot geskiedenisboeke verban en die mens se prestasies in terme minstens van ontdekkings in die melkwegstelsel in die afgelope eeu het alle redelike twyfel dat ons slegs die tasbare ruimte as bewysbaar kan verstaan, uit die weg geruim.

Prof. Nico Koopman, dekaan van die teologiese fakulteit in Stellenbosch, het hierop die antieke gebruik dat die kerk juis in strydgesprekke betrokke is om die waarde van lewe te debatteer, bepleit. Hy het aktuele voorbeelde gebruik om bywoners van die diskoers oor Hemel en Hel se hartsnare te roer. Gestel, sê hy, gestel jy is die pa wat netjies geklee op 'n weeksdagoggend op 'n straathoek in Kuilsrivier gaan staan, douvoordag. Jy hoop om 'n werksgeleentheid vir die dag te kry. Waar jy staan, staan daar ook twintigstuks ander hoopvolle mans wat op 'n eerbare manier kontant vir oorlewing probeer bymekaarskraap. En daar is nie sitplek nie, jy staan teen die robot of lamppaal en teen namiddag gaan sit jy moedeloos op die sypaadjie. Dis bloedig warm in die somer en in die winter nat en ysig koud. Sommige dae gaan jy huis toe met R100 in jou sak, maar meeste dae gaan vertel jy vir jou gesin daar's niks, nie eens lopende vars water in hulle sinkhuis nie. Jy sal môre weer probeer.

Ja, sê Braam, of moet jy nou vir die kind wat sterwend is aan leukemie sê alles is nou verby en jy is bloot 'n statistiek – niks wag op jou nie? Wat sê mens vir ouers wat hulle kind se wit kissie in 'n graf laat sak: alles eindig hier? Op Abel se opmerking dat ons nie meer aan die hemel kan dink as 'n stad in die lug met goue strate nie en Jurie se tese dat as die siel (wat sonder die liggaam niks weeg nie) in die hel vir ewig sou brand maar nie uitbrand nie, die vuur darem nie ongemaklik warm sal wees nie, grinnik Braam dat ons sekerlik nie dink die kerk is nog só primitief in haar denke nie. Niemand dink meer die hel en die hemel is fisiese ruimtes nie, stem Nico en Braam saam. Die konsep van die hemel is eerder 'n metafoor wat in essensie wil protes aanteken teen die onleefbare bestaan van mense op hierdie planeet en die versugting na geregtigheid wat "op die aarde sal geskied, net soos in die hemel". 'n Begeerte na Goddelike teenwoordigheid. Braam bring byna op 'n punt van orde die paneel en die gehoor tot die insig dat 'n gesprek oor hemel en hel ten diepste afhang van jou begrip van God en hoe Hy oor goed en kwaad beheer uitoefen.

Moet hy byvoeg, sê Braam, dat hy namens die kerk dankie wil sê vir hierdie geleentheid en dat gesprekke soos hierdie wat reeds in die kerk plaasvind, baie breër gevoer behoort te word. Die kerk is juis ten gunste daarvan dat mense oor hierdie en ander eksistensiële vrae moet debatteer. Daarmee trek hy natuurlik 'n streep deur die persverklaring van Danie Mouton, voorsitter van die direksie van die Bybelmediagroep wat Jean Oosthuizen geskors het in die drama wat ontvou het omdat hy die gesprekke in die eerste plek gereël het. Danie het immers gesê hierdie gesprekke vorm nie deel van Kerkbode se "kernbesigheid" nie. Ek snork, want minder as 'n week tevore het Pieter Fourie, uitvoerende hoof van Bybelmedia gesê die deursnee kerklidmaat is te konserwatief om aan hierdie gesprekke blootgestel te word en daarom stel Kerkbode nie meer belang daarin om dit te borg of daarby betrokke te wees nie.

Ek wou vra, maar vrae is nie toegelaat nie: wanneer lieg jy nou, Braam, net vanoggend of elke Sondag? Want hier sê jy nou byna ironies dat die kerk nie stilgestaan het nie en darem wetenskaplike resultate probeer verdiskonteer. Die kerk glo volgens jou nie meer letterlik daar is 'n hemel daarbo waarheen almal gaan wat in Godsvrug gelewe het nadat hulle sterwe nie. In jou eie woorde kan ons net spekuleer oor wat hierná gebeur. Maar élke Sondagoggend van jou lewe lees jy die geloofsbelydenis oor Jesus spesifiek: "...wat ter helle neergedaal het en op die derde dag opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand want God, die Almagtige Vader, vanwaar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het." Watter deel van die belydenis wil jy hê moet mense in jou kerk nog glo, juis nadat jy vir hulle die opdrag gegee het: elkeen bely in sy/haar hart soos volg, en wat wil jy hê moet hulle met 'n knippie sout neem? En dis tog hierdie belydenis wat elke predikant moet onderteken en waaraan bedienaars van die Woord gehou word dat hulle dit glo "omdat dit in volkome ooreenstemming met die Skrif is", anders word hulle geskors? Is dít die eintlike rede agter Jean se skorsing, dat hy op die diskrepansie gewys het tussen wat predikante en dosente éintlik glo en wat die kerk van (konserwatiewe) lidmate verwag om te glo?

Die gehoor stap brom-brom en onvergenoegd uit die Boeketent in die onseisoenale reën wat uitsif en waarskynlik katastrofiese gevolge het vir wingerdboere in die omgewing. Reën is altyd 'n seën, het prof. Dorothea van Zyl sestig minute gelede gesê, veral as jy 'n Karoodogter is. Elders in die Westransvaal en Namibië verloor boere hulle plase hierdie jaar as gevolg van die onseisoenale droogte dáár. Waar's die seën? Sy het gesê ons kan nie vrae aan die sprekers vra nie, maar gerus die gesprek buite die tent voortsit. Bid jou dit aan, sê Henk Groenewalt, afgetrede Stellenbosse natuurwetenskaplike, dat die arme pa wat op straathoeke staan en afhanklik is van stukwerk, se hel nie eens verby is wanneer hy sterf nie. As hy Jesus nie as sy persoonlike Verlosser en Saligmaker bely nie, is die hemel hom óók nie beskore nie.

Lees hier meer oor Ds. Bertus van Niekerk.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.