.

Die Hemel-idee

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Maart 2017

.

Gospelsangers, charismatiese straatpredikers en 'n paar ander fortuinsoekers het die geneigdheid om op 'n verhoog te spring en mikrofoon in die hand jou te konfronteer met die vraag: As jy vannag doodgaan, waar gaan jy heen? Hemel toe of hel toe? Ek gaan nêrens heen nie. Ek gaan net daar bly lê. Ek hoop maar iemand gaan my AVBOB toe vat.

Hierdie hele idee van hemel en hel is so in die Christelike psige ingegraveer dat dit vir baie mense die enigste rede is waarom hulle nog kerk toe gaan en aan 'n geloof behoort, want hulle is bang om hel toe te gaan. Almal wil graag hemel toe gaan.

En vir baie mense is dit ook 'n geweldige troos. Hulle hou vas aan hierdie dogma, want hulle wil graag eendag weer hulle geliefdes sien, of as hulle baie swaar gekry het tydens hulle lewe of sieklik was, of gely het, hou dit 'n troos in dat dit aan die anderkant, in die hemel, baie beter sal wees. Daar is nie meer siekte en pyn nie, en daar lewe almal vir altyd in vrede saam. Inderdaad iets om na uit te sien.

Maar hierdie geloof is nie eie aan die Christendom nie, en dit het nie eers die dag ontstaan toe Jesus volgens die mitologiese verhaal uit die dood opgestaan het nie. En binne die verwysings-raamwerk van wêreldgodsdienste is geloof in Jesus nie die voorwaarde vir jou hemel-toe gaan nie.

Daar is 'n hele evolusionêre proses wat die opstandingsverhaal van Jesus vooraf gaan. Na alle waarskynlikheid het dit begin by die verhaal van Josef die dromer.

Die Jode in die tyd voor die ballingskap het glad nie geglo in iets soos 'n lewe na die dood nie. As jy 'n lang lewe en baie kinders gehad het, was jy 'n geseënde mens. En as jy doodgegaan het, was jy dood. Dis hoekom Prediker sê: Alles is 'n gejaag na wind. Die wyse sterf net soos die dwaas. Eet, drink want môre sterf ons. Dieselfde lot tref mens en dier. Almal gaan dood, die een soos die ander. Almal is van stof en word weer stof. Die een se asem gaan nie op en die ander een s'n ondertoe nie. Albei kom tot niks.

En dit was wat ons voorgangers in die geloof geglo het tot en met die tyd van die ballingskap.

Gedurende die ballingskap het die Jode swaar gekry. En hulle het gesoek na troos en na iets om op te hoop. Iets om hulle staande te hou. Want hulle het alles verloor en hulle moes as vreemdelinge in 'n vreemde land bly en werk.

En toe begin hulle mekaar troos met verhale soos die van Josef. Dat 'n mens, al is jy in moeilike omstandighede, nie moet twyfel of moed opgee nie. Jy moet aan God vashou en getrou bly. Die Here sal jou red. Want Josef is weg uit sy land, hy het in die tronk beland, maar omdat hy getrou gebly het, het die Here hom uit die moeilike omstandighede gered en hy het onderkoning geword. So, die verhale het 'n tema gehad soos dat as jy getrou bly, sal jy tog tot 'n mate daarvoor beloon word. So, dis nie historiese verhale nie. Dis eintlik preke. Verhale met 'n lewenslessie. Die verhaal van Ester en Daniël werk ook so.

En terwyl hulle toe in ballingskap is, maak 'n groep van hulle in Babilonië kennis met Zarathustra en 'n ander groep van hulle maak in Persië kennis met Mithras (oor Mithras praat ons op 'n ander dag). Dit was die groot gelowe in Iran en Irak in die tyd toe Israel daar in ballingskap was. Hulle was vir omtrent 80 jaar in ballingskap. So dis net te verstane dat kulture en godsdienste aan mekaar sal skaaf en mekaar sal beïnvloed gedurende so 'n lang periode in dieselfde spasie.

Die Zoroastriërs het geglo in 'n kosmiese stryd wat aan die einde van die tyd sal plaasvind en waarin die lig sal oorwin; en 'n messias wat in die volheid van die tyd sal kom. Kwaad en pyn sal uit die skepping verdwyn en al wat sal oorbly is die lig. Die afvalliges sal deur vuur vernietig word en die regverdiges sal saam met die gode vir altyd regeer.

Verder het Zarathustra geleer dat 'n mens uit liggaam en siel bestaan en dat 'n mens se liggaam doodgaan, maar jou siel lewe vir altyd.

En toe kom 'n groot groep van die Jode terug uit ballingskap en vir die volgende twee- tot driehonderd jaar herbou hulle die tempel en die stad Jerusalem en hulle plase. En hulle word weer 'n volk. Kry 'n identiteit. Daar het nie veel geskrifte behoue gebly wat vir ons iets vertel van hoe hulle toe geglo en gedink het nie. Tog kan ons uit stukke in Jesaja en Esegiël wat na die ballingskap geskryf is, begin tekens sien van die Zoroastriërs se invloed. Dit begin tog lyk asof hulle nie meer so fatalisties was soos in Prediker se tyd nie. Daar is tog glimpse soos in Jesaja 26 wat lyk asof die meesternarratief uitgebrei is tydens die ballingskap en dat daar nou 'n moontlikheid is van 'n lewe na die dood.

En dan hier in die omgewing van 170 voor ons huidige jaartelling kom die Hellenistiese koning Antiochus aan bewind en hy vervolg die Jode en maak hulle op strepe dood omdat hulle nie vir Zeus wil aanbid tydens sy helleniseringsprojek nie. En die Jode bevind hulle weer in 'n situasie soos tydens die ballingskap. Toe ontstaan die boek Daniël as 'n tipe preek of verhaal om te troos en te bemoedig. En die outeur van Daniël se boodskap is dat 'n mens moet getrou bly aan God al word jy deur Antiochus vervolg en doodgemaak.

En die eintste Josef en Ester verhaal word toe oorvertel, maar net met ander karakters, en die troos en hoop van die verhaal word uitgebrei met nuwe hoop wat die resultaat is van die invloed van die Zoroastriërs op Israel se teologie nadat hulle daarmee tydens die ballingskap kruisbestuif is, want toe skielik kom die gedagte by dat selfs al sterf jy as gevolg van Antiochus se vervolging, is dit nie die einde nie. Jy sal post-mortem beloon word vir jou getrouheid. Jy sal uit die dood opstaan.

Maar dit is baie duidelik uit Daniël en al die apokriewe boeke uit daardie tyd dat nie almal uit die dood sal opstaan nie. Net die wat as martelare ter wille van hulle geloof gesterf het. Die res wat onder normale omstandighede gesterf het, sal dood bly. Maar die wat as martelare gesterf het, sal opstaan, sodat hulle beloon kan word vir hulle geloof en hulle getrouheid.

So, lank voor Jesus se verhaal, was daar al 'n ander verhaal wat gesê het dat mense wat as martelare sterf, sal opstaan om beloon te word vir die feit dat hulle getrou gebly het en met hulle lewens vir hulle geloof geboet het.

So, toe Jesus 200 jaar na Antiochus se vervolging van die Jode wat nie vir Zeus wou aanbid nie, deur die Romeine gekruisig word, was dit niks snaaks dat mense gesê het dat hy sal opstaan nie. Sy volgelinge het geglo dat hy reg was oor God. In die eerste eeu van ons huidige jaartelling was dit nie meer die Grieke wat Palestina beheer en vergrieks het nie, maar was dit die Romeine. En weer is die Jode gedwing om die Romeinse keisers as gode te aanbid en trou te sweer aan Rome. En toe preek die rabbi dat mens aan die koninkryk van God kan behoort terwyl jy binne die Romeinse koninkryk leef. En dat God jou vader is, al moet jy die tweede myl vir die keiser stap.

En toe die Romeine vir Jesus kruisig as politieke rebel en vyand van die staat omdat hy 'n ander koninkryk verkondig en bevorder as die koninkryk van Rome, het sy volgelinge sy dood geïnterpreteer as 'n martelaarsdood ter wille van sy geloof in God. En hulle het geglo dat Rabbi Jesus reg was oor God. En daarom het hulle onmiddelik begin sê dat Jesus sal opstaan uit die dood en die ewige lewe sal hê omdat hy as martelaar ter wille van sy geloof gesterf het. En dat God hom sal beloon.

So die opstanding van Jesus was nie 'n historiese gebeurtenis nie en dit het nie by 'n leë graf en by sy verskyning aan mense begin nie. Dis verhaalelemente van die mitologie wat ander funksies in die verhaal het, soos wat ons by 'n latere geleentheid sal sien. Die opstanding van Jesus het begin by volgelinge wat geglo het dat hy reg was oor God en dat hy as martelaar gesterf het en dat God hom ook sal laat opstaan om hom te beloon vir sy getrouheid tot die dood toe. So, die opstanding het niks te make met 'n lyk wat weer lewendig word nie. Dit het alles te make met hoop en geloof wat in mense se harte leef naamlik dat God regverdig en vol liefde is. En dit was hulle manier om dit te verwoord.

Die opstandingsgeloof het dus binne 'n bepaalde historiese konteks ontstaan waar martelare met hulle lewe vir hulle geloof geboet het. En binne daardie konteks is die Josef verhaal verryk met elemente uit die Zoroastrisme om mense hoop te gee om te volhard.

Baie, baie later is die verhaal verdogmatiseer en is die mitologie as geskiedenis begin oorvertel en dit het verword tot 'n godsdienstige lering dat jy jou hartjie vir Jesus moet gee sodat jy kan hemel toe gaan. Maar eintlik moet 'n mens maar net jou hart vir Hillbrow gee sodat mense rondom jou kan ervaar dat die goddelike liefde ook in jou leef!

Bronne:
Schutte, P. J. W. (2008). The origin of the resurrection idea: A dialogue with George Nickelsburg. HTS Theological Studies, 64(2), 1075-1089.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.