.

Die Heldereis

Deur Dr. Piet Muller op 1 Desember 2012

.

Dr. Piet Muller is SES se Voordenker vir 2013.

Tydens die bronsperiode is daar oral op aarde, van Amerika tot in Asië vreemde spirale op verskeie plekke aangebring: Dit is op ringe en muntstukke gegraveer en teen mure geverf; uit klip gegraveer en op so 'n reuse skaal op aarde gevorm, dat 'n mens die volle omvang daarvan slegs uit die lug kan waarneem.

Hierdie spirale het onverwags nuwe 'lewe' gekry en 'n mens vind dit deesdae as motiewe op tekstiele, juweliersware en selfs in die herlewing van die tradisionele labirint. Naby my huis het iemand onlangs 'n sementpaadjie gebou en uit sagte metaal twee spirale in die sement ingedruk. Hierdie spirale, as 'n argetipe van die siel, soos ons later sal sien, is gewis nog lewendig in die psige van die mens van die 21ste eeu.

.

Die spirale op hierdie foto kom voor op die drempelsteen – wat die heilige deel van die profane gedeelte onderskei – van die ruïne van die tempel van die aardmoeder op Malta. Bekyk 'n mens dit goed, merk jy dat die een spiraal wat van binne af buite toe oopmaak, die mens se lewe voorstel, van geboorte tot volwassenheid. Daardie periode waarin 'n mens buitentoe moet reik en ego-sterkte opbou.

Die tweede spiraal sluit van buite af binne toe en verteenwoordig 'n mens se lewe vanaf jou middeljare tot jou einde toe, want geestelike groei hoef nooit op te hou nie.

Die betekenis van die verskil tussen die twee is goed opgesom deur Carl Gustav Jung, wat gesê het dat wat iemand in die oggend van sy of haar lewe buite haarself moet soek, moet iemand in die middag van sy lewe binne homself soek.

Van oudsher af is die lewensloop van 'n mens as 'n reis voorgestel. Joseph Campbell noem dit die "heldereis" en die kern van hierdie reis vind 'n mens in al die heldeverhale, vanaf die verhaal van Gilgamesj in Mesopotamië, tot die van Jason en die Goue Vlies en Theseus en die Minotaurus in Griekeland.

Elkeen van ons moes ook op reis gaan, maar die verskil tussen 'n heldereis en 'n 'gewone' reis is dat helde hul eie agenda volg, terwyl gewone mense ander se agendas uitleef. Ouers is veral gretig dat hul kinders die ideale moet uitleef wat hulle self nooit kon najaag nie.

Die 'n Heldereis is nie noodwendig moeiliker as 'n 'gewone' reis nie. Die enigste verskil is dat 'n heldereis uniek aan iemand spesifiek is.

.

Die Duitse filosoof Martin Buber, vertel in sy Verhale uit die Hasidisiese Beweging die verhaal van Rabbi Eickel die seun van Rabbi Jeickel, 'n brandarm rabbi wat iewers op die grens tussen Rusland en Pole gewoon het. Ondanks sy armoede het hy 'n brandende begeerte gehad om vir sy dorpie 'n behoorlike Schul te bou.

Een nag het hy 'n droom gehad dat daar onder 'n sekere brug in Praag 'n yslike skat begrawe is. Rabbi Eickel het hom nie daaraan gesteur nie en buitendien lê Praag meer as 'n duisend kilometer ver – en as 'n mens te voet reis voel dit nog verder.

Die tweede nag het hy presies dieselfde droom gehad en hom ook nie daaraan gesteur nie, maar toe hy vir 'n derde keer dieselfde droom het, het hy besef dat hier 'n boodskap is waarna hy behoort te luister. Hy het sy bondel gepak en te voet die lang reis aangedurf.

In Praag aangekom het hy gou die presiese brug van sy drome opgespoor. Ongelukkig is dit as 'n strategiese punt beskou en is dit deur die keiserlike garde bewaak. Elke dag het hy 'n draai by die brug gaan maak en later goed bevriend geraak met die kaptein van die wag.

Op 'n dag vra die vir hom wat presies hy in Praag kom doen het en omdat Rabbi Eickel 'n eerlike man was, het hy hom alles van sy drome vertel. Die kaptein het omtrent sy maag vasgehou soos hy gelag het. "Ek het eenmaal drie nagte namekaar gedroom dat daar op 'n dorpie tussen Pole en Rusland 'n Jood woon met die naam Eickel die seun van Jeickel en dat daar onder sy stoof 'n skat begrawe is. Stel jou voor dat ek alles moes los en soontoe stap om die skat te probeer opspoor! Nogal in 'n dorpie waar elke tweede Jood Eickel of Jeickel heet."

Maar Rabbi Eickel het die boodskap verstaan. Hy het weer sy bondeltjie gepak en heelpad teruggestap huis toe. Daar het hy onder sy stoof gaan grawe en genoeg geld gevind om 'n Schul te bou.

Die les wat hierdie storie, en elke soortgelyke storie ons wil leer, is dat die geestelike reis noodwendig eers na buite lei maar net so noodwendig later na binne keer. Daarom dat daar so 'n groot verskil is tussen 'oggendspiritualiteit' en 'middagspiritualiteit'.

Neem die verhaal van die held Theseus. Hy het as 'n prins in 'n koninkryk naby die Bosporus groot geword. Sy ma was een van die vele antieke maagde wat deur 'n god swanger gemaak is. In die geval die seegod Poseidon.

.

Toe Theseus sy tienerjare bereik het hy op 'n dag 'n yslike klip in die tuin omgekeer en afgekom op 'n geroeste swaard en twee halfverrotte sandale. Hy het dadelik daarmee afgesit an sy ma toe, wat vir hom nuus gehad het waarop niks hom voorberei het nie.

"My seun, jou pa is die koning van Athene. Hy het dit daar begrawe en gesê dat as jy groot genoeg is om dit te ontdek, ek jou alles omtrent hom mag vertel. As jy hier bly sal jy eendag die koningskap erf, maar jy kan ook Athene toe gaan en jou erfdeel gaan opeis."

Theseus moes nou 'n keuse maak tussen 'n 'gewone' reis en 'n 'heldereis'. Bly hy sal dit ook met hom voorspoedig gaan, maar hy sal nooit weet of hy dalk tot roemryke dade in staat was nie. Buitendien groei 'n mens se gees nie deur by die huis te bly nie. Vertrek hy is die kans ewe goed dat hy nooit sy bestemming lewend sal bereik nie.

Toe hy sê dat hy wel Athene toe wil gaan het sy ma hom aangeraai om per skip soontoe te vaar, want dit is vinniger en veilig. Maar Theseus het gedroom van roemryke dade, soos die wat sy neef Herakles beroemd gemaak het, en het verkies om die langer en gevaarliker pad oor land aan te pak.

Al die teenspoed wat Theseus op pad teengekom het, is simbole van die soort probleme wat elke jongmens op sy of haar lewenspad kan oorkom. Sy eerste ontmoeting was met die geweldenaar Sinis, wat reisigers voorgelê en dan met brute krag aan twee omgebuigde bome vasgemaak het. Wanneer hy die bome laat los en hulle weer regop skiet, is die ongelukkige reisiger in twee geskeur.

Dit is 'n simbool van die gevaar daarvan om op twee gedagtes te hink, want wie nie kan besluit tussen twee opsies nie sal nêrens kom nie. Om 'n doelwit te bereik moet 'n mens 'n doelwit hê – en dit is verbasend hoe min mense persoonlike doelwitte het.

Die tweede problem wat Theseus moes oorkom, was nog moeiliker as die eerste, want die lewe het 'n manier om ons in boksies te probeer druk en van ons vaal, identiteitlose mensies te maak. So het Theseus tereg gekom by 'n herberg waar die eienaar, Procrustes, 'n toorbed gehad het. As jy te kort was na sy sin, het die bed vannag jou voete vasgegryp en jou gerek totdat jy lank genoeg was. En was jy te lank het Procrustes laatnag ingesluip en met sy swaard jou bene kort gekap sodat jy presies op die bed kon pas.

Maar soos Sinis voor hom, het Procrustes ook sleg tweede gekom teen Theseus. Nou het net die derde en laaste versoeking voorgelê: Kort duskant Athene was daar 'n smal pas wat al met 'n steil krans langs geloop het. Aan die een kant was soliede rots en omtrent honderd meter daaronder die see wat met woede die land ontmoet.

Hierdie pas is bewaak deur Sciron wat verwag het dat almal sy voete moes was. Net as jy buk om te was, het hy jou 'n stewige skop gegee sodat jy seekant toe afgeval het. "Voete was" is natuurlik 'n antieke eufemisme vir 'n lekkery effens hoër op met die anatomie. Die soort lekkery wat vandag nog baie van ons se heldereis kelder, net wanneer dit lyk of ons al die obstruksies oorwin het.

Natuurlik het ook Sciron sy rieme vasgeloop teen Theseus en die pad Athene toe was oplaas voor hom op. Maar teen die tyd was Theseus se jeug ook al verby en betree hy Athene as 'n middeljarige.

In Athene aangekom vind hy die stad in rou. 'n Somber optog, met die jong prinses Ariadne vooraan, is van die koninklike paleis af op pad na die hawe van Pireus, waar 'n skip met swart seile gereed gemaak het vir sy vaart.

Dit blyk toe dat Athene onderhorig was aan Kreta en boonop betrek is by 'n bisarre intrige wat op Kreta plaasgevind het: Die koning van Kreta het gesterf en sy twee seuns het met mekaar meegeding om die koningskap. Die seegod Poseidon het egter Minos se kant gekies en hy het die koningskap gekry.

Om die verhouding tussen hulle te versterk het Poseidon aan Minos 'n manjifieke wit bul gegee wat hy tot sy eer moes offer. Maar toe Minos hierdie dier sien het hy as boer besef dat 'n mens nie so 'n buitengewone dier mag slag nie, maar dit op stoet moet sit. Hy het toe 'n ander wit bul uitgesoek en dit tot Poseidon se eer geoffer.

Poseidon was egter bewus van sy plan en het hom op 'n vreemde manier gestraf: Hy het die koningin by haar venster laat uitkyk en hopeloos verlief laat raak op die bul. Sy het geen rus of duurte gehad nie totdat Daedelus, Icarus se pa en die koninklike ambagsman, vir haar 'n houtkoei gebou het waarin sy kon kruip sodat die bul haar kon dek.

Uit hierdie onheilige verhouding is die Minotaurus gebore, half mens half dier, wat onophoudelik gebulk en 'n onversadigbare drang na mensvleis gehad het.

Om hom vir die openbare oog weg te steek moes Daedelus 'n labirint bou wat so ingewikkeld was dat die Minotaurus nooit daaruit kan ontsnap nie. Om sy gebulk stil te kry het hulle gereeld mens-offers aan hom gebring.

Omdat 'n prins van Kreta eenmaal in 'n kroeggeveg in Athene vermoor is, moes Athene as straf met reëlmaat sewe seuns en sewe dogters aan die Minotaurus afstaan, totdat daar later geen jongmense meer in Athene oor was nie, behalwe die koning se eie dogter, Ariadne.

.

Vol bravade oor die heldereis wat hy pas voltooi het, het Theseus aangebied om in haar plek te gaan en die Minotaurus dood te maak. Maar dieselfde beginsels en strategie wat 'n mens deur die oggend van jou lewe gehelp het, is nie noodwendig nuttig in die middag van jou lewe nie. Daarom waarsku Ariadne hom dat dit nie net is om in die labirint in te gaan en die Minotaurus dood te maak nie, want dit is so ingewikkeld dat hy dalk nooit weer daaruit sal kom nie.

Sy gee hom toe drie hoogs simboliese geskenke: 'n swaard, wat die simbool is van manlike rede en rasionaliteit, en haar kroon wat gloei in die donker en die simbool is van vroulike intuïsie. Die boodskap is duidelik: Voordat Theseus sukses kan behaal moet hy eers een van die middeljare se belangrike take afhandel – hy moet sy manlike en vroulike aspekte met mekaar versoen.

Feitlik alle sprokies sluit af met 'n huwelik tussen die prins en die prinses, waarna hulle "vir altyd gelukkig lewe". Hierdie gelukkige huwelike moet nie gelyk gestel word met die huwelik tussen 'n gewone man en 'n gewone vrou nie. Dit is die hieros gamos, waarvan hier sprake is, die heilige huwelik tussen die manlike en vroulike aspekte van onsself. Ons is nie net manlik of vroulik nie, maar 'n mengsel van albei. Om hierdie feit te erken en die verskillend elemente te integreer is belangrike lewenswerk. As Jesus se leerlinge vir hom vra wanneer hulle die Koninkryk soos babatjies sal binnegaan, antwoord hy (Vers 22 van die Evangelie van Thomas):

"As julle die twee een maak en as julle die binnekant soos die buitekant maak en die buitekant soos die binnekant, die bokant soos die onderkant en die onderkant soos die bokant; as julle manlik en vroulik een maak, sodat die manlike nie meer manlik en die vroulike nie meer vroulik is nie; as julle die liggaamlike oog vervang met 'n geestelike oog en die liggaamlike hand met 'n geestelike hand; en as jy van jou loopbaan 'n lewensweg maak en jou uiterlike voorkoms vervang met die beeld van God in jou siel, dan sal julle die koninkryk binnegaan."

Dit is duidelik dat 'n mens hier met die "Groot Werk" (Magnum Opus) van die alchemie besig is. Om jou manlike en vroulike elemente te versoen, moet 'n mens ook verskillende ander dinge doen wat ook tot die take van die tweede helfte van jou lewe behoort: Jy moet jou lewenswandel en jou oortuigings in ooreenstemming bring, en jy moet van jou loopbaan 'n lewensweg maak en leer om met geestelike oë en geestelike hande deur die lewe te gaan. Kortom, jy moet 'na binne' leer lewe want jou 'oggendwerk' is reeds afgehandel.

Ariadne gee nog 'n derde geskenk aan Theseus: 'n kluwe wol, 'n stokkie met gespinde draad daarop (in Engels 'n clew). Dit moet hy buite die labirint vasknoop en die stokkie afrol soos hy dieper in die labirint in beweeg. Slaag hy daarin om die Minotaurus te verslaan moet hy weer die stokkie begin oprol en so sy pad terug deur die labirint vind.

Ook hierdie geskenk is uiters simbolies, want ons het almal 'n leidraad nodig as ons die onbekende dieptes van ons psige wil verken – 'n leerstelling, 'n dharma, of selfs net 'n goeie terapeut wat ons kan help om nie die pad byster te raak nie.

.

'n Drieduisend jaar oue rotstekening uit Italië se Camonica-vallei werp meer lig op hierdie oeroue mite, omdat dit duidelik vertel dat die ondier met wie ons in die dieptes van die labirint moet afreken, niks anders is as ons eie donker kante nie. Die Minotaurus is ons self; ons verwerpte en ongeïntegreerde aspekte en veral ons eie ego.

In vers 7 van die Thomas-evangelie sê Jesus:

"Geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal 'n mens word. En vervloek is die mens wat deur die leeu geëet word, want die leeu sal 'n mens word." Ons ken almal mense wat deur hul eie ego's verslind is. Hoe anders is sulke mense, as mense wat daarin geslaag het om hul eie ego's te verteer! Die leeu is 'n simbool van daardie dinge wat 'n mens moet oorwin voordat jy die Koninkryk kan binne gaan. 'n Koptiese Manichese Psalm (CCLVII), sluit hierby aan: "Hierdie leeu wat in my is, wat my elke oomblik besoedel, het ek verwurg en uit my siel uitgegooi."

Hierdie "leeu" is in wese niks anders nie as die Minotauros wat in die middel van die labirint skuil. Dit gaan om 'n archetypiese stryd wat in die dieptesielkunde bekend staan as een van die belangrikste take in 'n mens se sg. "middeljare krisis": om jou ego ondergeskik te maak aan jou Self. Hierdie krisis is nie sielkundig van aard nie, maar in wese spiritueel. Dit konfronteer 'n mens nie net met jou eie ego en sterflikheid nie, maar ook met jou geslagtelikheid; met skadukante van jou psige; en uit eindelik selfs met jou lewensroeping.

Die vroeë Christene was bewus daarvan dat die innerlike reis in die afgrond van die siel om die Minotaurus te konfronteer, deel is van 'n inisiasie wat almal moet ondergaan. 'n Mens kan die stryd om die siel probeer vermy en die innerlike onrus probeer besweer met 'n goedkoop uiterlike spiritualiteit, maar die prys wat 'n mens daarvoor betaal is die verlies aan sielsgroei, wat uiteindelik weer in 'n mens se uiterlike lewe sigbaar sal word. Om die Koninkryk van die Vader binne te gaan moet 'n mens eers 'n innerlike genesing ondergaan; en om die genesing te ondervind is daar eers sekere lewenshuiswerk wat afgehandel moet word.

Mense wat pas die labirint binnegegaan het voel dikwels dat die spiritualiteit wat hulle van hul ouers geërf het, hulle nie langer voed nie, maar hul juis vergiftig. Hulle voel dikwels deur God verlaat, terwyl Hy in die woorde van Thomas Keating slegs na 'n dieper vlak verhuis het en daar op 'n mens wag om jou eie volwasse spiritualiteit te ontdek.

Dit is 'n noodsaaklike stap op "reis na die koninkryk van God" en al die antwoorde op jou lewensvrae kan jy slegs binne in jouself vind.

So waarsku Jesus in Vers 3 van Thomas:

"As julle onderwysers vir julle vertel die koninkryk is in die hemel, moet julle oppas dat die voëls van die hemel nie voor julle daar is nie. As hulle sê: 'Dit is onder die aarde', pasop dat die visse van die see nie voor julle daar is nie. En hy sê: Die koninkryk is in julle oë en rondom julle. As julle julself ken sal julle geken word en julle sal besef dat julle die kinders van die Lewende Vader is. Maar as julle julself nie ken nie leef julle in (geestelike) armoede en julle self is die armoede."

Thomas Keating, wat soveel gedoen het om kennis oor die Sentreringsgebed wêreldwyd te versprei, sê dat al die traumas wat 'n mens in jou kinderdae opdoen later tot uiting kom in 'n mens se ego of "valse self", wat die masker is wat 'n mens na die lewe wys. Hierdie traumas, wat ons verhinder om God se teenwoordigheid te ervaar, moet eers deurgewerk word voordat 'n volwasse verhouding met God moontlik is. Ons moet van ons "valse self" gestroop word om by die "ware self" uit te kom.

'n Mens oorwin ook nie die ego deur 'n direkte konfrontasie daarmee aan te knoop nie, want elke keer as jy dink jy het jou ego nou stewig in 'n greep beet, het hy al lankal teen jou 'n val aangeteken! Hoe goed of hoe sleg 'n mens jou ego onder bedwang gebring het, kan net ander mense jou vertel.

In vers 97 van die Evangelie van Thomas vertel Jesus hierdie pragtige gelykenis oor die spirituele reis en die ego:

Die Koninkryk is soos 'n vrou wat 'n kruik meel gedra het. Op pad, toe sy nog ver van haar huis was, het 'n handvatsel van die kruik afgebreek en die meel het begin uitstroom. Sy het nie daarvan geweet nie en ook niks agtergekom nie. Toe sy by die huis kom sit sy die kruik neer en toe eers kom sy agter dat dit leeg is.

Daarom is dit so belangrik om jou eie skadukante vierkant in die oë te kyk en dan in jou lewe te integreer, want dit is 'n indirekte manier om die ego te oorwin. Skadukante kan beskryf word as "los" brokke van ons psige, wat tydens ons kinderdae nooit 'n geïntegreerde deel van ons persoonlikheid geword het nie.

Die Bybel is vol voorbeelde van mense met skadukante. Die meeste van hulle slaag uiteindelik daarin om dit te oorwin en die skadukante in spirituele goud om te sit. Neem byvoorbeeld vir Jakob, van kleins af 'n "schemer" en aartsbedrieër. Totdat hy by die Jakkobrivier met die engel worstel en in die stryd gewond word. Daarna verander sy naam van Jakob, wat Hakskeengryper beteken, na Israel.

Moses het 'n onbeheerbare opvlieëndheid gehad, wat hom 'n impulsiewe moord laat pleeg het. Dit het jare in die woestyn gekos om hierdie skadukant aan die lig te bring en te integreer. Hierna word juis sy swakste kant sy dryfkrag, wat van hom 'n uitsonderlike geestelike en politieke leier maak.

Godsdiens in die Westerse wêreld het grootliks sy begeleidende rol op reis na die middelpunt van die labirint aan die Sielkunde geabdikeer, wat doeltreffend met patologie kan werk, maar effens verleë is wanneer dit kom by singewing en eksistensiële vrae. Dit het tyd geword dat spiritualiteit weer hierdie begeleidende rol as sy eie opeis, want die afdaling in die labirint van die self is in baie opsigte 'n gevaarlike reis, en 'n betroubare gids is nodig. Maar daarvoor sal dit weer vaardighede moet aanleer wat lankal vergete is.

.

Dat die simboliek van die reis na die labirint steeds leef in die psige van die moderne mens word bewys deur hierdie afbeelding van labirinte uit die dagboek van 'n plattelandse dominee. Die aantekening daarby lui: "Ek weet dat dit iets met God te doen het."

Let daarop dat daar nou drie spirale is en nie net twee nie. Toe die spirale van die bronstydperk hul verskyning gemaak het, was die mens se gemiddelde lewensverwagting ongeveer negentien jaar. Vandag leef ons soveel langer en word die lewensverwagting steeds beter. Sou dit die rede wees waarom 'n derde spiraal in hierdie dominee se droom sy verskyning gemaak het – om ruime te skep vir 'n nuwe spirituele dissipline wat aan die begin van die 21ste eeu sy verskyning gemaak het – Bewuste Veroudering of in Engels, Conscious Ageing?

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.