Dié handelsmerk het my verloor

Artikel in Beeld (By) op 10 Desember 2010

Fanta is my gunsteling-gaskoeldrank. Sedert st. 3 simboliseer dit vir my verligting, hoop, vreugde en oorvloed. Hoekom?

Want 'n oranje vragmotor het een keer per kwartaal na ons armsalige asbesskooltjie, waar stof en fabriekrook ons speelterrein was, vir ons elkeen 'n gratis botteltjie Fanta en 'n oranje woer-woer gebring en ons laat glo daar is 'n toekoms en hy's oranje.

Aan bemarkingskoste het Fanta seker net R100 aan my bestee – en daarmee my lewenslange lojaliteit gekoop.

Dieselfde geld Ster-Kinekor, Cadbury, All Gold, Toyota, Wimpy, Firestone, Aventura. Dié handelsmerke sal ek weens aangename konnotasies uit my grootwordjare my lewe lank liefhê, vertrou en, meer belangrik, koop.

Hoekom is die NG Kerk nie een van hulle nie?

Die Fanta-vragmotor het immers net een keer per kwartaal gekom, Ster-Kinekor het ons net een keer per jaar gesien en Wimpy het net met verjaardae gebeur.

Maar die NG Kerk het onbeperkte toegang tot my ontvanklike kinderpsige gehad: Eers in die moederskamer, toe kinderkrans en daarna twaalf jaar van kerk én Sondagskool. Voeg daarby kampe, staptoere, ACSV, JKJA, die studentekerk...

Dit is die soort handelsmerkblootstelling wat géén geld kan koop nie. Stel jou voor Coke, die magtigste handelsmerk op aarde, het dié soort toegang gehad. Die volk sou nooit weer water drink nie.

En tog, ná die kans wat die handelsmerk van die NG Kerk met my gehad het, het dit nie gewerk nie. Ná dekades se indringende bo-die-lyn- en onder-die-lyn-advertering, is die NG Kerk-handelsmerk nie iets wat ek wil koop, sien, dra of besoek nie.

Die meer as 10 500 lidmate wat die NG Kerk in die afgelope jaar verloor het, is waarskynlik, soos ek, in die kerk gedoop, aangeneem en getrou. Maar nie een van hulle wil meer soontoe gaan of daaraan behoort of hul tiende daarvoor gee nie.

Hoekom nie?

Die NG Kerk het my geen trauma of verdriet besorg nie. Ek is nie gay nie en die kerk moes nooit konferensies hou oor of ek hel toe gaan al dan nie. Ek is nie swart of bruin nie.

Ek was nooit terselfdertyd ongetroud en swanger nie. Ek was nie in die jare tagtig oud genoeg om egbreuk te pleeg nie. Ek is nog nooit verbied om nagmaal te neem nie. Niemand het ooit onsedelik aan my geraak tydens Sondagskoolkampe nie.

Ek het eintlik gelukkige herinneringe aan die kerk: my ma se blinkleerhandsak wat na pepermente en Red Door ruik, my pa wat so mooi in die ouderlingsbank lyk. Kinderdankoffer, kerkbasaars, middernagdienste op Oujaarsaand.

Maar dalk, toe ek groter word, het ek genoeg mense geken wat wel gay was, bruin was, swanger was, geskei was ... Dalk het ek, toe ek die eerste keer vriende word met 'n Moslem, hard gesluk aan die teorie dat hy hel toe gaan.

Dalk het die uittog uit die NG Kerk iets met vrees te doen. Met die feit dat ek te bang is om dié rubriek onder my regte naam te plaas.

Want my arme ma. Wat sal die familie sê? Wat sal my baas sê? Wat sal kerkgangers op die internet sê?

As ek eendag ophou Fanta drink, sal niemand omgee nie. Ek kan net ophou – sonder vrees vir die internet of die hel. En dalk is dit hoekom meer as 10 500 eks-lidmate deesdae op 'n Sondag eerder Menlyn as kerk toe gaan. Omdat niks in Menlyn hulle bang maak nie.

Die kerk het in sy bestaan meer goed as kwaad gedoen, maar dalk is dit die vrees en oordeel wat hy tussendeur saai, wat nou so dorstig onder sy lidmate maai. Dalk het vrees – eens die kerk se grootste vriend – sy grootste vyand geword. Dalk is daar vandag genoeg ander goed wat mense bang maak.

Die NG Kerk sal wys wees as hy meer aandag aan dié vraagstuk gee as aan debatte oor of gays die preekstoel en die hemel waardig is.

Anders kan die kerk altyd begin koeldrank en woer-woers by laerskole uitdeel.

Nina Steyn (skuilnaam), die skrywer van dié stuk, is Afrikaans, in haar dertigs en 'n joernalis.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za