.

Die goddelikheid van speel

Deur Douwe van der Zee op 1 September 2012

.

"Your learning must take on a new focus. Be like the little children, and inhale the world around you to make it part of yourself. Be like the little children, and learn in order to claim your learning for your Self. Learn who you are through each experience rather than learning in order to find out who you are or what your contribution will eventually be."
– Mari Perron, A Course in Love

Op 'n leeuplaas net buite Johannesburg speel Kevin Richardson gereeld met leeus. Toe die media hom 'n aantal jare gelede ontdek het, het hy regoor die wêreld opspraak verwek. Daar is talle mense wat hom bewonder, en ook heelwat wat hom kritiseer.

Wat hy doen is gevaarlik, sê sommige 'kenners'. Ander sê hy meng in met die natuur, of wat hy doen is skadelik vir natuurbewaring. Ons moet onthou, sê ander 'kenners', dat sy verhouding met die leeus iets is wat slegs deur jare se ondervinding tot stand gekom het.

"Wat is die moeilikste van alles?" het die bekende Duitse wysgeer, digter en wetenskaplike Wolfgang von Goethe gevra. Sy antwoord: "Dit wat jou oë skynbaar die maklikste raaksien; dit wat reg voor jou oë is."

Fred Donaldson was byna 40 jaar gelede al in staat om dinge raak te sien. As professor in aardrykskunde by 'n Amerikaanse universiteit het hy sy geloof in die tersiêre opleidingsisteem verloor. Wat volgens hom daar gebeur het was nie werklik die soort leer waartoe die mens inherent in staat is nie. Hy het bedank en 'n assistent by 'n kleuterskool geword. Dalk kon hy iets by die kinders leer, het hy gedink.

Baie gou het hy opgemerk dat daar 'n patroon in die spel van die kinders is. Of eerder 'n metapatroon; 'n patroon van patrone. Dalk is dit net hierdie kinders, het hy gedink, en met dié is hy Meksiko toe om met straatkinders te gaan speel. Dieselfde patroon. Namate hy met meer en meer kinders van uiteenlopende sosio-ekonomiese agtergronde gespeel het, het hy besef almal speel volgens presies dieselfde patroon.

Fred het vermoed dat die patroon universeel is, en begin toe met diere speel: wolwe, bere, dolfyne en selfs leeus. Oral ontdek hy presies dieselfde patroon. Hy noem dit toe 'original play' of 'authentic play' om dit van kulturele spel te onderskei. Ek verkies die woord 'authentic play', wat ek as 'outentieke spel' vertaal.

Die metaboodskap (onderliggende boodskap) van alle outentieke spel – in diere sowel as in mense – is tweeledig: "Jy is waardevol" en "Daar is niks om voor bang te wees nie." Daar is geen wedywering nie, en dus ook geen wenners of verloorders nie. Regoor die spektrum (kinders en diere) pas die sterkes onmiddellik by die swakkes aan sodat een nooit 'n ander oorheers nie.

Dis wat met Kevin en sy leeus ook gebeur. Kevin het outentieke spel ontdek. Enigiemand wat outentieke spel verstaan – nie net intellektueel nie, maar as 'n diep manier van wees – kan daar instap en dit doen. Diere en kinders verstaan onmiddellik wanneer die verhouding een van outentieke spel is.

Die implikasies daarvan is fenomenaal. Hoewel dit al hoe meer aan kritiek onderworpe is, werk die biologiese wetenskap al vir meer as 'n eeu op die aanname van ewolusie deur lukraak natuurlike seleksie. Binne daardie denkraamwerk of paradigma is speel nog altyd gesien as iets wat jong diere doen om te leer om in die sosiale hiërargie in te pas, te leer jag of roofdiere te vermy, en so meer, om hul oorlewing te verseker. Fred stem nie saam nie. "The more I played, the greater the discrepancy grew between my experience and the books," skryf hy in Playing by Heart. "I became increasingly convinced that I was being initiated into a very different relationship, which scientists variously described as aimless, blowing off steam, acting out, unreal, competitive, childish, pre-learning for adult life and a release of repressed aggression."

Vandag is daar al hoe meer wetenskaplikes wat die ou dogma van die doel van spel in diere bevraagteken. 'n Bekende voorbeeld is Marc Bekoff, wat saam met Fred Donaldson in die National Geographic DVD The Power of Play verskyn.

"I found only a few exceptions to the standard social science treatment of play," skryf Fred verder. "One day, re-reading Gregory Bateson's A Theory of Play and Fantasy, I was struck by his insight that play could only occur if the participant organisms were capable of some degree of metacommunication, i.e., of exchanging signals which would carry the message, 'this is play'. This was what had been happening between me and my playmates."

(Gregory Bateson is bekend vir sy boeke Steps to an Ecology of Mind en Mind and Nature, en het met sy insigte oor dubbele boodskappe (boodskappe en metaboodskappe wat mekaar weerspreek) en skisofrenie, die fondament gelê het vir die sisteemteoretiese benadering in die sielkunde en die 'oop dialoogtegniek', wat onder meer daartoe gelei het dat die Finse Kerapudas psigiatriese hospitaal vandag byna geen pasiënte meer het nie.)

'n Kind het eenkeer uit die bloute vir Fred gesê: "Play is when we don't know that we are different." Wanneer Fred – of ek, of jy – outentiek met kinders of wolwe of leeus of honde speel, gebeur daar 'n wonderwerk: ons verloor die besef van ons eie fisiese identiteit en ons ervaar ons eenheid. Dis omdat sulke spel absolute teenwoordigheid (Engels: presence) vereis.

Sedert ek in 1990 my eerste werkswinkel by Fred gedoen het, het speel my lewe verander. Ek het onmiddellik die 'geestelike' implikasie daarvan gesnap. Vir ses jaar het ek elke week by die Hatfield Montessori Preschool (HMP) in Pretoria gespeel, en sedert ek in 2008 daar weg is speel ek nog steeds omtrent elke keer daar wanneer ek in Pretoria is. Terwyl ek daar was het Donderdae amptelik 'speeldag' geword (hoewel die kinders dit 'Douwe-dag' genoem het). In my boeke en blogs vertel ek van sommige van die fenomenale terapeutiese effekte van die speel wat ons waargeneem het. Vandag is Shan, die direktrise van die skool, oortuig dat, buiten die terapeutiese effek, speel ook direk die kinders se prestasie by die skool beïnvloed. Daardie oortuiging gaan volkome akkoord met die resultate van talle wetenskaplike studies die laaste twee dekades of so.

Ek vermoed dat die HMP die enigste kleuterskool in die land is waar speel so 'n hoë prioriteit het dat kinders onder geen verpligting is om volgens die Montessori-beginsels in die skool te kom 'werk' nie. Kinders speel buite so lank as wat hulle wil en kom net in om te kom 'werk' as hulle so voel.

Sedert speel so belangrik geword het het die hoeveelheid tyd wat die kinders in die klas spandeer afgeneem, maar die kinders se 'prestasie' het toegeneem.

Dis deur my gereelde speel dat ek al hoe meer in die wonderbaarlike bewussynstoestand van klein kinders begin belangstel het, en dit direk in verband gebring het met die woorde van Jesus: "Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle" (Matteus 19:14). Ek verkies die Engelse vertaling: "For the kingdom of heaven belongs to such as these." Subtiele verskil. "Behoort aan" beteken iets heel anders as "is vir".

In haar boek The Absorbent Mind wys Maria Montessori uit wat almal van ons self kan waarneem: Klein kinders het 'n fenomenale vermoë om alles om hulle te 'absorbeer'. Hulle kan verskeie tale terselfdertyd aanleer deur bloot mense die tale te hoor praat. Ek het eenkeer 'n kleuterskooltjie gehad met hoofsaaklik Tswana-sprekende kinders. Vir vier maande het hulle Tswana gepraat en ek Engels. Toe begin hulle een vir een in amper volmaakte Engels met my praat. Watter volwassene kan so vinnig 'n taal aanleer?

Die rasioneel-analitiese deel van die brein – die deel waarop ons hele Westerse Beskawing geskoei is en wat ons tog so belangrik ag – begin eers op ongeveer sesjarige ouderdom ontwikkel. Daarvóór funksioneer die brein grotendeels op delta en theta-golwe – die ekwivalent van hipnose en diep meditasie in volwassenes.

Kinders jonger as ses jaar se bewussyn is dus iets totaal anders as wat ons s'n is. Dis grotendeels gebaseer op gevoel. Ons weet dit, maar tog word dit feitlik deur die bank geïgnoreer. In pleks van om werklik kinders te probeer verstaan is ons geneig om hulle soos klein volwassenes te behandel en hulle soos ons te probeer maak. Oral in die wêreld probeer ons kinders op laer en laer ouderdom aan formele onderwys blootstel. Ten spyte van talle wetenskaplike studies (sien byvoorbeeld www.allianceforchildhood.org) wat duidelik aandui dat hierdie praktyk nie net nutteloos is nie, maar in werklikheid skade kan aanrig, gaan ons voort daarmee. 'n Klassieke geval van Oscar Wilde se woorde "It is always with the best of intentions that the worst work is done."

In haar boek The Continuum Concept skryf Jean Liedloff: "What he [the infant] feels before he can think is a powerful determinant of what kind of things he thinks when thought becomes possible." Sy bekryf die natuurlike verwagtings van alle kinders: onmiddellike kontak met die ma na geboorte, borsvoeding op aanvraag vir 'n paar jaar, feitlik ononderbroke fisiese kontak met die ma en ander gedurende die eerste jaar of so, niks meer of minder hulp as wat die kind self wil hê nie en so meer. Meeste daarvan is die laaste paar dekades deur die wetenskap bevestig, en vir feitlik geen moderne kinders word aan hierdie verwagtings voldoen nie. Alice Miller stel dit duidelik in haar boeke dat baie van wat in die Weste as 'opvoeding' beskou word in der waarheid niks anders as kindermishandeling is nie.

Speel is 'n kritiese deel van kindwees. Stuart Brown se belangstelling in speel as psigiater het begin toe hy gevra is om te ondersoek wat tot die massamoordenaar Charles Whitman se gedrag aanleiding gegee het. Hy en sy span het uiteindelik die lewensgeskiedenis van 26 moordenaars bestudeer en slegs een gemeenskaplike faktor in almal van hulle se geskiedenis gevind: die afwesigheid van speel.

Outentieke speel is 'n universele patroon, en is, vanweë die twee metaboodskappe, krities vir 'n gevoel van eiewaarde. Met ons skuldgebaseerde godsdiens ("Jesus het vir jou sondes gesterf") het ons presies die teenoorgestelde metaboodskappe gegee. In Jean Liedloff se woorde in 'n onderhoud op die Internet: "First we tell them [our children] how bad they are and then tell them to be good. What we're really saying is that they should pretend to be good. If you thought someone was good you wouldn't need to tell them would you? The neighbours are coming to tea or we're going to kindergarten and you say to the child, 'Now be good.'

"It means pretend to be good because we know what you really are: bad. The message goes straight to the heart of the child, to his feeling, where his self-confidence is being formed. What is formed is a feeling that I've got to learn to hide what I am. I'm antisocial, but I'd better try to look good."

En daar het ons die oorsprong van die Fariseërsindroom: die essensie van alle godsdienste. Dis natuurlik nie net die godsdiens nie. In The Selfish Gene skryf Richard Dawkins: "Be warned that if you wish, as I do, to build a society in which individuals cooperate generously and unselfishly towards a common good, you can expect little help from biological nature. Let us try to teach generosity and altruism, because we are born selfish." Dieselfde boodskap: "Jy moet goed wees, maar jy kan nie, want jy is inherent sleg."

Met sowel ons godsdienstige as ons neo-Darwinistiese dogma het ons die idee geskep dat lewe op aarde 'n stryd om lewe en dood is. Toe Jesus in die bekende bergrede kom sê dat dit nie so is nie ("Kyk na die wilde voëls; hulle saai nie en hulle oes nie...") was ons reaksie iets in die lyn van "Ja, dit klink mooi, maar dit werk nie regtig so nie. Maar omdat jy sulke mooi goed gesê het sal ons jou op dieselfde troon as God sit." In The Biology of Transcendence skryf Joseph Chilton Pearce: "We invariably build religions around our spiritual giants or use them to support a religion in order to avoid the radical shift of mind and disruption of culture these rare people bring about."

In dieselfde boek skryf Pearce: "We are born here to play, and nothing else. And as long as we play, fully and completely ... everything will work as it is supposed to." Inderdaad 'n "radical shift of mind."

Wolfgang von Goethe het skynbaar dieselfde insig gehad: "Above all no professionalism. That is against my nature. I want to do everything I can as though it were a game, just as it occurs to me and for so long as the inclination lasts. I my youth I used to play like this unconsciously, now I want to continue to do it consciously for the rest of my life."

Is dit nie maar basies wat Jesus ook gesê het nie?

Die metaboodskappe van outentieke spel, "Jy is waardevol" en "Daar is niks om voor bang te wees nie", druis lynreg teen ons hele tradisionele godsdienstige en wetenskaplike wêreldsiening in. Dis uiters radikaal. En tog is dit geweldig eenvoudig – vir dié wat die moed het om weer met hul eie outentisiteit in aanraking te kom.

In sy boek Playing by Heart beskryf Fred Donaldson sy basiese filosofie – vir sover dit moontlik is. In werklikheid kan outentieke spel nie beskryf word nie. Dit kan slegs ervaar word. Al wat Fred nou al vir amper 40 jaar doen is om, benewens om self met kinders en diere te speel, ander te leer om iets van die heerlikheid van outentieke spel as liefde en vergifnis in die praktyk te ervaar.

Douwe van der Zee

As voormalige biologiese wetenskaplike wat besef het dat nóg die wetenskap nóg die godsdiens ons menslike probleme gaan oplos, het Douwe hom al hoe meer op die menslike psige en spiritualiteit toegespits. Deur jare lank outentiek met kinders te speel, het spesifiek die geweldige krag en vatbaarheid van die bewussyn van klein kinders – en die kragtige effek daarvan op ons lewens – sy belangstelling geprikkel. Hy skryf, gee praatjies en werkswinkels oor outentieke speel, doen wildernis staptoere in wildtuine en is 'n student en onderwyser van A Course In Miracles.
Meer inligting is op sy webwerf douwevanderzee.co.za beskikbaar.
Hy is bereikbaar op

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.