.

Die Bybel, hipoteses en teorieë

Deur Prof. Sakkie Spangenberg op 1 Augustus 2012

.

Die woord Bybelwetenskaplike dui bloot iemand aan wat hom/haar met óf die Ou-Testamentiese óf die Nuwe-Testamentiese wetenskap besig hou. Dit kan ook gebruik word vir iemand wat op beide terreine navorsing doen. 'n Mens sou wel kon vra: "Sedert wanneer bestaan die vakgebied(e) en hoe word 'n mens 'n vakspesialis?" Hierdie spesialiteitsterreine het gedurende die agtiende eeu na vore getree. Veral nadat Johann Philipp Gabler (1753-1826) in sy intreerede aan die Universiteit van Altdorf (Duitsland) 'n onderskeid getref het tussen "Bybelse teologie" en "dogmatiese teologie". Hy het onder andere geargumenteer dat Bybelse teologie 'n historiese dissipline is wat van die vertrekpunt uitgaan dat die verskillende Bybelboeke in verskillende periodes ontstaan het. Voorts, dat nie slegs één skrywer vir die Bybel verantwoordelik is nie, maar verskeie. 'n Handvol skrywers kon selfs aan één boek geskryf het. Neem die boeke Psalms en Spreuke as voorbeelde, maar vergeet nie van Genesis en Jesaja nie.

Dit was ook gedurende die agtiende eeu dat die Franse medikus Jean Astruc (1684-1766) 'n omwenteling in die studie van die Pentateug teweeggebring het. Hy het 'n boek gepubliseer waarin hy argumenteer dat Moses van ouer dokumente gebruik gemaak het om die boek Genesis te kon skryf. Een van die ouer dokumente het die benaming "Elohim" verkies om na God te verwys, terwyl die ander een die benaming "Jehovah" verkies het. Dit was die geboorte van die J en E-bron van die Pentateug, oftewel die "Jahwis" en die "Elohis".

Enigeen wat met die wetenskaplike proses vertroud is, sal verstaan wat hier gebeur het. Die wetenskaplike proses begin gewoonlik met iets wat 'n navorser waarneem wat hom/haar laat wonder: "Wat is hier aan die gang? Waarmee het ek hier te doen? Hoe kan ek die verskynsel verklaar?" [In Astruc se geval: waarom die verskillende godsname in Genesis as Moses die skrywer daarvan is?] Die volgende stap is die formulering van 'n voorlopige antwoord. [In Astruc se geval: ons het hier met ouer bronne te doen wat Moses benut het.] Die antwoord moet egter aan toetse onderwerp word sodat die navorser kan bepaal: "Is dit die beste of mees geldige antwoord?" [In Astruc se geval: ander navorsers kyk of hulle reste van die J en E-bron ook in Eksodus, Levitikus en Numeri kan vind om sodoende die bronne te kan rekonstrueer.] Die wetenskaplike proses bestaan gewoonlik uit die volgende stappe: (1) waarneming, (2) hipotese-vorming (voorlopige verklaring), (3) toetsing, (4) bevestiging of verwerping. Verwerping lei tot 'n herformulering van die hipotese, of die formulering van 'n totaal nuwe een, terwyl bevestiging bydra tot die versterking van die hipotese wat uiteindelik kan uitloop op 'n geldige teorie. 'n Hipotese word eers 'n teorie as dit aan deeglike toetsing onderwerp is en dit nie as verkeerd bewys kon word nie. Voorlopig nog nie, want teorieë kan wel mettertyd verkeerd bewys word. Dus word nie slegs hipoteses aan toetse onderwerp nie, maar ook teorieë.

Jean Astruc se verklaring vir die verskillende godsname wat in Genesis voorkom, het na 'n goeie verklaring gelyk gegewe die kennis van sy tyd. Verskeie navorsers het aanklank by sy hipotese gevind en bevestiging daarvoor in ander dele van die Pentateug gekry. Só is die bronneteorie wat die ontstaan die Pentateug probeer verklaar, gebore. Waar Jean Astruc nog aanvaar het dat Moses die skrywer van die boek Genesis was, het ander navorsers mettertyd dit as onhoudbaar bewys. Die eeu-oue standpunt dat Moses die skrywer van die hele Pentateug is, is as onwaar bewys en die outeursaanduidings wat in ouer Bybelvertalings voorkom, naamlik "die eerste boek van Moses" [Genesis], "die tweede boek van Moses" [Eksodus], "die derde boek van Moses" [Levitikus], ens. is laat vaar. Martin Luther (1483-1546) het dié benamings nog in sy Duitse vertaling van die Bybel gebruik.

Sommige navorsers het wel begin vra of daar werklik 'n "Jahwis" bestaan het en of dit nie maar net deel van die E-bron was nie – dus 'n JE-bron. Ander dateer die "Jahwis" op hul beurt nie vroeg nie, maar baie laat – ná die Babiloniese ballingskap. Oor die D-bron (Deuteronomium) en oor die P-bron (Priestergeskrif) word daar gevra of ons nie eerder aan redaksionele verwerkings van die Pentateug-materiaal moet dink nie. Al hierdie navorsing is goed, want só word die bronneteorie grondig getoets en word die teorie hersien. Al sou die teorie eendag die nekslag toegedien word, staan een ding vas – Moses sal nie weer as die outeur van die Pentateug beskou word nie. Die JEDP-bronneteorie het daardie oortuiging finaal gekelder. Verder is die oortuiging dat goddelik-geïnspireerde skrywers al die woorde van God ontvang en opgeteken het, ook nek omgedraai. Die Heilige Gees het nie die woorde vir Moses gegee nie, maar ander skrywers het die woorde gevind en geskryf.

Wat die JEDP-bronneteorie ons dus geleer het, is dat die Bybel nie in die hemel sy oorsprong het nie, maar hier op aarde onder mense met 'n vreemde kultuur. In die woorde van Philip Kennedy: "The Bible was not written in heaven, but in a dusty corner of the earth." Bybelse argeologie help ons om iets van daardie "dusty corner" te verstaan – nie om bewyse vir karakters soos Adam, Noag, Abraham, Josef en Moses te vind nie.

Die tweede vraag "Hoe word 'n mens 'n vakspesialis?" moet nog beantwoord word. 'n Vakspesialis – veral in die geesteswetenskappe – is iemand wat die navorsingsgeskiedenis van sy vak goed ken en vertroud is met ouer hipoteses en teorieë. Dis iemand wat ook vertroud is met paradigmas en paradigmaverskuiwings. Toegepas op die Bybelwetenskappe beteken dit dat so 'n persoon sal weet dat hierdie wetenskappe 'n paradigmaverskuiwing teen die einde van die negentiende en die begin van die twintigste eeu beleef het. Hierdie paradigmaverskuiwing het 'n lang aanloop gehad. Maar dié verskuiwing het uiteindelik tot 'n nuwe paradigma op die terrein van die Bybelwetenskappe gelei. Mark Noll ('n kerkhistorikus van die VSA) som dié paradigma mooi op met die woorde: "The Bible, however sublime, is a human book to be investigated with the standard assumptions that one brings to the discussion of all products of human culture."

Anders as in die natuurwetenskappe word ouer paradigmas in die geesteswetenskappe nie altyd opsygestoot nie. Daar is (vreemd genoeg) altyd navorsers wat hul tuis voel binne die ouer paradigma. Daarom vind 'n mens Bybelwetenskaplike navorsers wat hul navorsing steeds onder invloed van die ouer paradigma beoefen. Mark Noll beskryf daardie paradigma soos volg: "...the Bible is the Word of God to be interpreted by the conventions of common sense." Lesers behoort onmiddellik te snap waarom nie almal wat die Bybel lees en bestudeer uit een mond praat nie, en waarom daar altyd meningsverskille sal voorkom. Meeste Christene word deur middel van die ouer paradigma onderrig en daarom verstaan hulle nie altyd die gesprekke wat 'n jonger geslag Bybelwetenskaplikes voer en vind hulle ook nie aanklank by die nuwere navorsingsresultate nie. Om 'n goeie vakspesialis te wees, moet Bybelwetenskaplikes ook goed onderlê wees in die tale waarin die Bybelboeke oorspronklik geskryf was. Kennis van Hebreeus, Aramees, en Grieks is onontbeerlik, want navorsers moet altyd weer gaan kontroleer wat in die ouer dokumente geskryf staan. Voorts moet hulle die wêreld waarin hierdie dokumente geskryf is, so goed moontlik probeer verstaan, want tussen ons en daardie wêreld gaap 'n byna onoorbrugbare kloof: "The first and the twenty-first centuries are divided by precisely twenty centuries, twenty centuries of continual and colossal change" (George Pattison).

Dis hierdie gaping wat verskeie vakspesialiste oortuig het dat daardie skrywers en hul lesers kinders van hulle tyd was wat ander oortuigings gedeel het. Hulle was oortuig dat die aarde plat is en dat die kosmos uit drie vlakke bestaan: (1) hemel, (2) aarde, (3) onderwêreld. Neem as voorbeeld Eksodus 20:4 "Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie." Voorts was hulle oortuig dat daar verskeie gode bestaan het en dat 'n mens byna om elke hoek en draai 'n god kon raakloop wat jou óf goed- óf kwaadgesind kon wees (Gen 32:1-2, 24-29; Eks 4:24). Van die gode het selfs kinders by vroue verwek (Gen 6:1-4)! Wat die mensdom betref, het hulle geglo dat net mans ware mense was. Vroue was halfwas mense en mans kon met hulle handel dryf soos met skape en bokke. Daarom is vroue as deel van mans se besittings gereken (Eks 20:17). Volgens hul oortuiging het vroue géén rol in die verwekking van kinders gespeel nie. 'n Man gee aan 'n vrou 'n "saadbabatjie" wat sy in haar buik moet vertroetel en laat groei (Gen 38:8-9; Job 10:10). Dis die rede waarom die godekinders van Genesis 6:1-4 as "nefilim" bekend staan. ('n Hebreeuse woord wat deesdae liefs onvertaald gelaat word, maar gewone Bybellesers het nie so 'n woord in hul spreektaal nie en daarom verstaan hulle die gedeelte nie.) Daardie mense het nie van sperms en eierselle geweet nie. Ook nie van die oerknal, sterrestelsels en evolusie nie. Hulle het nie geweet dat bloed in die liggaam sirkuleer nie, ook nie dat die aarde miljoene jare oud is en dat kontinente rondskuif nie. Gemeet aan ons kennisraamwerk, was hulle betreklik "dom", maar dit maak hulle literatuur nie waardeloos nie. 'n Mens moet dit net reg lees en interpreteer om dit te kan waardeer. Dis egter hier waar kortsluitings kom. Heelwat gelowiges is steeds tuis in die ouer paradigma en aanvaar dat die Bybel die ewige, onveranderlike en ewige Woord van God is; dat Hy dit deur Sy Gees vir mense ingegee het; dat die voorskrifte daarin vervat ook vandag nog geldig is. Daarom hoort vroue nie in die amp van priester, predikant of pastoor nie; is aborsie en genadedood van die bose, en moet mense met 'n homoseksuele oriëntasie bearbei en bekeer word.

Daar bestaan, na my mening, weinig kans dat die twee groepe navorsers (diegene wat tuis is in die ouer paradigma en diegene wat met die nuwere paradigma werk) mekaar sal kan oortuig. Die verskille het natuurlik ook 'n uitwerking op die rol van kerke in die samelewing. Hieroor maak Philip Kennedy die volgende veelseggende opmerking: "Rehearsing ancient thought in isolation from new knowledge torpedoes any chance of articulating meaningfully and truthfully a Christian theological vision because, unlike Augustine, Aquinas, Dante, Luther and Calvin, people now know that there is no hell in the bowels of the earth, and no heaven above a canopy of stars."

Vir diegene wat geprikkel is en meer wil lees:
Kennedy, Philip. A Modern Introduction to Theology: New Questions for Old Beliefs. London: I.B. Tauris, 2006.
Noll, Mark A. Between Faith and Criticism: Evangelicals, Scholarship, and the Bible. Leicester: Apollos, 1991.
Pattison, George. The End of Theology – And the Task of Thinking about God. London: SCM, 1998.

Prof. Sakkie Spangenberg, Departement Ou Testament en Ou Nabye Oosterse Studie, Universiteit van Suid-Afrika.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.