.

Die alternatiewe pad

Deur Prof. Danie Goosen op 1 November 2016

.

Op die agtergrond in die stryd wat op kampusse woed, staan twee botsende opvattings oor die universiteit: die "besigheidsuniversiteit" versus die "revolusionêre universiteit." Wat kenmerk dié twee universiteite? En kan buite hulle gedink word? Albei word immers deur ernstige gebreke gekenmerk. Die oorsprong van die besigheidsuniversiteit kan na die 1980's en in die besonder na die regs-liberale era van Margaret Thatcher en Ronald Reagan teruggevoer word.

Dié tyd het 'n proses ingelui ingevolge waarvan universiteite as blote sakeondernemings beskou en bestuur word. Vandag is die besigheidsuniversiteit internasionaal die algemeenste soort universiteit.

Die besigheidsuniversiteit

Diegene wat in Suid-Afrika teen die revolusionêre geraas op ons kampusse beswaar aanteken, aanvaar dikwels die besigheidsuniversiteit as hul uitgangspunt. Kenmerkend van die besigheidsuniversiteit is dat dit nie meer tot die ou universitêre ideaal van opvoeding (Bildung) verbind is nie. Dit wil sê tot die idee dat universiteite studente oplewer wat volwasse, gebalanseerd en deelnemend lewe. Studente word eerder met die oog op die beroepslewe opgelei.

'n Gevolg daarvan is dat studente uiteindelik hul lewe om hul eie private belange definieer. As daar nog 'n verbintenis tot iets groters as hul individuele self is, is dit om van die staat te eis dat hul regte gehandhaaf word. Besigheidsuniversiteite breek die verskillende dissiplines in die kleinste moontlike verkoopbare eenhede af. Die gevolg van hierdie fragmentasie is dat die besigheidsuniversiteite deur 'n verlies aan insig in die samehang tussen die dinge gekenmerk word.

Hoewel die besigheidsuniversiteit gestig is uit die belofte dat hulle "klein" en "vaartbelyn" sal wees, word hulle ironies genoeg deur groeiende burokrasieë bestuur. Dosente word daarom ook toenemend met die voorskrifte van burokrate sonder enige doseer- of navorsingservaring belas. Met die gevolg dat daar steeds minder ruimte vir 'n ondersoekende en kritiese etos is.

Hoewel dié universiteite hulself graag as plekke van uitnemende dosering en navorsing bemark, blyk dit toenemend niks anders as cliché-agtige verkoopspraatjies te wees nie.

Die revolusionêre universiteit

Hedendaagse revolusionêre word deur 'n nostalgie na die links-liberale 1960's gekenmerk. Revolusionêre uit dié tyd dien as hul groot voorbeeld. Die beroep op die 1960's word egter deur 'n reuse-ironie gekenmerk. Talle van die links-liberale revolusionêre uit dié tyd het intussen (en veral in die 1980's) groot ondersteuners van die regs-liberale sakewêreld geword. Hierdie is nie 'n toevallige feit nie. Inteendeel, dit vertel iets wesenliks van die revolusionêre universiteitsgedagte.

Die belangrikste kenmerk van die revolusionêre universiteits­ideaal is dat dit nie deur histories-werkbare voorbeelde gemotiveer word nie. Daarom kan die indruk ook kwalik ontsnap word dat hulle revolu­sionêre ideale nie met die werklikheid verband hou nie, maar dat dit, volgens die Franse historikus, so­sioloog en filosoof Marcel Gauchet, eerder 'n gestileerde en 'n modebewuste oefening in die fiktiewe verteenwoordig. Bykans niks onderstreep die werklikheidsvreemde aard van die revolusionêre so as hul gebruik van die begrip "dekolonisering" nie. Regdenkendes aanvaar die noodsaak van dekolonisering. Maar bedoel revolusionêre iets anders daarmee as om die universiteite soos wat ons dit ken, simbolies en letterlik tot die grond toe af te brand? Dit ondanks hul beroep op dinge soos "dialoog", "diversiteit" en "openbare deelname"?

Hoe meer revolusionêre in gebreke bly om te verduidelik wat hul drome beteken, des te meer val hulle in 'n ongenaakbare moralisme terug. Daarvolgens is alles in twee uitsluitende kragte ingedeel: enersyds hulself as die "progressiewe" kragte, andersyds die bose kapitaliste, rassiste en koloniste. Ingevolge dié tweedeling kan daar geen dialoog gevoer en uiteindelik ook enige verstandhouding met die bose vyand gesluit word nie.

Inteendeel, met bose vyande kan jy (as jou dissiplinerende regstelling misluk) net oorlog voer. Onderliggend aan die revolusionêre opvattings lê die gewelddadige metafoor van die "skoon lei". "Vee alles skoon, met geweld as dit moet, anders word ons spierwit revolusie bevlek." Dat soortgelyke moralistiese fanatismes in die afgelope twee eeue van revolusionêre eksperimentering tot die grootste geweld in menseheugenis aanleiding gegee het, skeel dié Gucci-revolusionêre kennelik nie 'n duit nie.

Die spanning in die mondering van revolusionêre is reeds meermale in die verlede uitgewys. Soos dat die revolusionêre denke self vanuit die (veragte) Westerse kolonie stam; dat elke antikoloniale bewind mildelik van die Westerse koloniale staat gebruik maak om hul doelwitte na te streef; en dat hedendaagse revolusionêre graag tipiese neoliberale en kapitalistiese leefstyle najaag. Maar die grootste spanning blyk uit hul afsku in die koloniale verlede. Omdat hulle kwalik 'n positiewe idee het van hoe 'n postkoloniale orde behoort te lyk, definieer hulle hulself bykans uitsluitlik in negatiewe terme.

"Ons haat die Weste, daarom is ons revolusionêre," lui hul selfdefinisie. Maar só bly hulle ironies genoeg in die koloniale erfenis vasgevang.

Alternatiewe universiteit

Hoe moet die alternatiewe universiteit lyk? Dit is waaroor die gesprek oor die toekoms van die universiteit behoort te gaan. Ter wille daarvan kan enkele voorstelle gedoen word:

Eerstens, dat universiteite hulself, te midde van die belangrikheid van beroepsopleiding, ook tot die ideaal van opvoeding verbind. En in die besonder tot die ideaal om burgers op te lewer wat volwasse, gebalanseerd en deelnemend lewe.

Tweedens, dat universiteite plekke sal wees waar, te midde van die strewe na waarheid, 'n veelheid van lewensvisies, gemeenskappe en tradisies tuis sal voel. Dit wil sê plekke waar die plurale gedagte in die hart daarvan sal staan (en nie 'n neerdrukkende eenheid nie).

Derdens en in aansluiting daarby, dat universiteite plekke sal wees waar 'n egte dialoog tussen die Westerse en Afrika-intellektuele tradisies gevoer word. Dekolonisering kan nie beteken om een meesterverhaal (die Westerse) met 'n ander meesterverhaal (Afrika) te vervang nie.

Volgens die dialogiese benadering beteken dekolonisering eerder om plek vir albei te wees – ook 'n plek waar hulle mekaar kan kritiseer.

Soos gepubliseer in Beeld.
Prof. Goosen is voorsitter van die FAK-direksie.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.