.

Die 3de gebod. Jy mag nie...

Deur Dr. Flip Schutte op 1 April 2019

.

Verlede Sondagaand laat lui my foon. Dis iemand wat 24/25 jaar gelede in 'n vorige gemeente van ons was. En hy wil my dringend kom sien. Ons maak 'n afspraak en die afgelope week een aand, daag hy toe daar op. Sy probleem is toe: Hy kry nie 'n teks nie en hy het dringend 'n teks nodig. Hy is feitlik desperaat op soek na 'n teks.

Nodeloos om te sê dat my adres die verkeerde een was om by aan te klop vir 'n teks. My idee van 'n goddelike werk nie met tekste nie. Maar sy idee van 'n God werk streng volgens tekste.

Die probleem op die tafel is dat sy getroude kinders in die Kaap bly. Hulle behoort daar aan een of ander vreugdevolle, singende, biddende gemeente wat Jesus se passie vir die armes en ellendiges in die samelewing deel. En by die kerk is hulle aangemoedig om 'n kind of kinders aan te neem om sodoende iemand te probeer help om 'n beter kans in die lewe te staan. En sy kinders het hierdie roeping met hulle ouers kom deel oor hierdie kind wat hulle gaan aanneem. Maar hierdie pa skop vas. Hy wil niks weet van hierdie volksvreemde roeping wat die kinders ontvang het nie.

En hy het nou al, al die argumente in die boek probeer: Van "julle kan tog, kry dan liewer nog een van julle eie," tot die genetiese predestinasie waarvoor hulle katvoet moet stap, kultuurtaboe's en dreigende familie-vervreemding en moontlike skeuring, tot spyt en verwyte as dit te laat is... Maar die kinders skop vas.

En toe besluit hy om hulle as 'n laaste uitweg en eindpoging op hulle eie terrein aan te vat, naamlik die geloof. En hy het die Bybel van voor tot agter deurgeblaai op soek na 'n teks wat hierdie soort van aanneming verbied, maar helaas kon hy niks kry nie. Toe word ek sy laaste uitweg. Miskien het hy misgelees, dalk ken ek 'n iewers-versteekte teks. Dalk het ek 'n teologiese argument wat darem die skakering van 'n teks sou kon weerkaats om hulle van hulle onsinnige besluit te laat afsien ... maar helaas moes ek hom bedroeë wegstuur en sê dat hy en sy vrou maar aan hulleself sal moet werk en tot aanvaarding moet kom, want as hulle gaan aanhou om hulle kinders teë te gaan, gaan hulle dalk net meer spanning en verwydering veroorsaak.

Hierdie hele insident laat my toe aan die Tien Gebooie dink en veral aan die derde gebod wat sê dat jy nie die Naam van die Here jou God ydellik mag gebruik nie. Want sien, ons skep vir ons gode na gelang van ons omstandighede en dan lê ons vir hulle woorde in die mond om argumente namens ons te voer. Is dit nie ydellik nie?

Vir jare en jare onder die ou bedeling met sy strenge sensuurraad is flieks, toneelstukke en boeke verban as dit die eksplisiete naam van God sou gebruik buite amper net die konteks van aanbidding. Maar mense kon God se naam gebruik om hulle politieke belange, ekonomiese ambisie en persoonlike geskille mee aan te spreek. Dis tog misbruik ... ydellike gebruik!

Hoeveel keer het ons nie in die verlede gehoor dat die Here wil hê ons moet die orde in sy skepping eerbiedig en soort by soort laat bly nie, dat gemeenskappe nie moet meng nie, maar afsonderlik moet ontwikkel. Ons het gehoor dat God die uitslag bepaal het by Bloedrivier en baie ander gevegte ook, want hy wil 'n nasie vir Hom hier aan die Suidpunt van Afrika vestig om die beskawing en die lig van die evangelie hier te bring. Hoeveel keer het ons nie die afgelope twee, drie jaar gehoor dat God homoseksualiteit haat nie? En dat kerke wat gay-huwelike bevestig en gay predikante toelaat van die bose is. God sal self met hulle afreken. "Dis hoekom dit so droog is in die Kaap," het party kan verhoë en kansels af gesê.

En so skep mense vir hulle gode. Daar is die kosmiese misteriegode en die aardse wetgewergode. Mense wat van die misteriegode hou, vra vrae soos waarom is daar iets en nie net niks nie? Wat of wie het die grondbeginsels van die fisika en die natuurwette gevorm? As daar 'n God is, is hy lig of energie of 'n bewegende gees? Dis die tipe God waaroor daar laatnag om 'n kampvuur gespekuleer word wanneer mens wonder waaroor die lewe nou eintlik gaan.

Maar dan is daar ook mense wat hou van wetgewergode. Hulle God het 'n opinie oor modes, kleredrag, kos, seks, politiek. Hy is 'n kwaai ou man wat iewers in die lug bly. Dis die gode van die kruistogte en die inkwisisie. Die God wat wette en dekrete maak en gehoorsaamheid eis.

En dan is daar mense wat dit regkry om die misterie met die wette te versoen. Die wat diep bewus van die onverklaarbare en die wonder van die skeppingsproses is en wat die oerknal aan God se plan toeskryf. En dan kry hulle dit op 'n manier reg om te sê dat omdat dit God se handewerk is en hy die skeppingsproses aan die gang gesit het, mag mense nie skei nie en mag vroue nie bikinis dra nie. Ons verstaan nie die oerknal nie, daarom moet vroue hulle hare en gesigte met swart linne in die openbaar bedek. Ons het nie 'n benul van die oerknal nie, daarom moet gelowiges teen gay-huwelike protesteer en nie sterk drank gebruik of rook nie. En omdat ons nie weet hoe alles ontstaan het nie en die oerknal vir ons 'n misterie is, moet mense net kos eet wat kosher of halaal is, of waarvoor jy ten minste bid voordat jy wegval en eet.

En so reguleer ons ons wêreld en die samelewings waarin ons leef deur gode te skep en woorde in hulle mond te lê om te sê wat ons dink die beste manier is om die samelewing mee in te rig. En dan noem baie mense dit Christelike etiek en hulle maak daarop aanspraak dat etiek en die Christelike godsdiens onafskeidbaar van mekaar is. Etiese optrede is slegs moontlik wanneer jy Bybel lees en 'n Christen is.

Maar hulle vergeet dat mense al etiese wette gehad het nog lank voordat daar 'n Moses, Mohammed of Jesus was. Dat selfs sekere aapspesies eties teenoor mekaar optree en mekaar help en versorg. Dat mense al een dag 'n week in Egipte gerus het, derduisende jare voor die sabbatsgebod opgeteken is. Dat sogenaamde etiese wette dalk veel eerder evolusionêr verklaar kan word as oorlewingspatroon onder sekere spesies, eerder as dat dit 'n godsdienstige basis het.

Ek dink dit het tyd geword dat mense die woord "God" moet ophou ydellik gebruik om hulle eie wense en begeertes, strewe en ambisie, ideologie en paradigma mee te probeer versterk, maar dat ons elkeen net sê wat ons wil sê. En ons opinie uitspreek soos wat dit in ons denke leef, en dat ons maar net verstom en verbaas voor die misterie van als wat ons nie ken en verstaan nie, sal bly, sonder om die misterie, wat vir baie goddelik is, te probeer kaap om sanksie en legitimiteit aan baie van ons eie denkstrukture te gee.

Mense skep verhale en maak wette en gaan leef dan daarbinne. Die goddelike is 'n misterie. Onkenbaar. Ondefinieerbaar. On-in-'n-blik-druk-baar. Onmanipuleerbaar. Ons kan ons maar net vol verwondering vergaap aan als wat ons nie verstaan nie. Maar ydellik, mag ons dit nie misbruik nie. Veral nie om ander mense, of selfs ons kinders, mee by te kom of te beïnvloed of te manipuleer nie!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.