.

Oor die mistiek, Boeddhisme, meertaligheid, Afrikaans, teologie en die politiek: ‘n onderhoud

Deur Pieter GR de Villiers en Prof. Kobus Krüger op 1 Julie 2018

.

(Soos gepubliseer op LitNet.)

"Die lang nag van apartheid in enige vorm (ook religieus) is nou verby en 'n nuwe dagbreek kan voorlê ‒ 'n Aurora inderdaad, om van die Duitse mistikus Jakob Böhme (1575‒1624) te leen ‒ met as sydelingse, maar belangrike gevolg 'n nuwe waardigheid vir Afrikaans en die behoud van die beste in die kulturele en Christelike religieuse tradisie daaragter, en 'n nuwe skeppende bydrae tot die geheel van hierdie vasteland en die wêreld."

Kobus Krüger is bekend as godsdienswetenskaplike wat rigtinggewende navorsing oor die mistiek gedoen het. Hy het onder andere 'n unieke inleiding tot die mistiek geskryf met die titel, Sounding Unsound. Orientation into mysticism.

Vir Litnet Godsdienswetenskappe het hy 'n bekroonde artikel geskryf ("Oneindigheid as religie-relativerende en -insluitende horison"). Hy het van die belangrikste klassieke mistieke werke aan Afrikaanse lesers in toeganklike en keurige vertalings bekend gestel waaronder Aandag, kalmte en insig: 'n uiteensetting van Theravada Boeddhistiese meditasie aan die hand van die (Mahá-) Satipatthana-Sutta, Dante se Inferno, en, onlangs Die Waarheidsweg: Dhammapada. Vertaal uit Pāli, verklaar, verstaan, vertolk en gepubliseer in 'n pragtige uitgawe by Aosis in Kaapstad. Hierdie werk met Krüger se uitvoerige inleiding, staan in die verlengde aanbod van sy bekroonde artikel en is 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse teologiese literatuur. In die onderhoud word verskeie aspekte van Krüger se ryk, omvattende en uitstaande gosdienswetenskaplike navorsing uitgelig.

I:  Waaroor handel die Dhammapada?

Die Dhammapada (letterlik 'waarheidsweg') is 'n bundel van 423 vroeg-Boeddhistiese verse van Indiese oorsprong. Dit is waarskynlik na ongeveer vyf eeue se mondelinge oorlewering in die eerste eeu VAJ [Voor die Algemene Jaartelling] in Sri Lanka op palmblare neergeskryf. Daar bestaan ook weergawes in 'n paar ander ou Indiese tale. Ek het hier die Pāli-weergawe (Pāli is naby familie van Sanskrit) vertaal.

Dit is te verstane dat daar in die proses van mondelinge oorlewering van die teks en selfs daarna byvoegings en weglatings kon voorgekom het, hetsy per abuis of selfs doelbewus. Ons weet dus nie presies in watter mate die verse uit die mond van die Boeddha self afkomstig is nie. Dit word nogtans algemeen aanvaar dat die teks, selfs met inagneming van later bewerking, in 'n oorweldigende mate na die Boeddha self herlei kan word en dat dit 'n indrukwekkende en geloofwaardige samevatting van die vroeë, vóór-denominasionele kern van die Boeddhisme in Theravada-gedaante is. Theravada (ook effens neerbuigend as Hinayana bekend) is een van die twee groot vertakkings van die Boeddhisme – die ander een is Mahayana.

In Theravada Boeddhisme geniet hierdie teks dus 'n besonder hoë status, vergelykbaar met dié van die Nuwe Testament in die Christendom, die Bhagavad Gita in die Hindoeïsme en die Tao Te Ching in Taoïsme. Tallose monnike, nonne en leke in Suidoos-Asië (Myanmar, Laos, Thailand en Sri Lanka, waar Theravada hoofsaaklik posgevat het) het die Dhammapada as geheel oor die afgelope 20 eeue en meer gememoriseer, en dele daaruit word daagliks deur miljoene volgelinge van die Boeddha mediterend geresiteer of gelees, ook in Westerse lande.

Die Dhammapada is 'n beknopte handleiding in digterlike vorm, waarin die ontwikkeling tot 'n ware edel mens (arahant), 'n verligte mens, beskryf word. Waarvan 'n mens op hierdie weg moet en kan vrykom, so word in die verse geleer, is primêr die drietal begeerte, haat en waan in al hul variante; hulle word progressief vervang met alles-insluitende welwillendheid, onverstoorbare gelykmatigheid van gees en radikale insig. Die sentrale temas van die klassieke Boeddhisme kom in die Dhammapada helder deur, byvoorbeeld die verganklikheid van alle dinge en die rol van menslike daad (karma) in jou eie lotsbepaling as vry, verantwoordelike mens. Die mitologiese Vediese gode van destyds word nie aggressief verwerp nie, ook nie deur terug te val op 'n materialistiese lewensbeskouing (dit was in die tyd heel prominent) nie; hulle word rustig, ek wil sê metafisies-misties, deur die betreding van groter ruimtes getransendeer. Die Dhammapada maak dus uiteraard geen aanspraak op goddelike openbaring nie. Dit wil verligte menslike insig, soos veral in die Boeddha (die 'Verligte') vergestalt, weergee.

Hierdie klassieke geskrif kommunikeer met die hoorder/leser in duidelike taal vol beelde aan die alledaagse lewe ontleen, maar dit word onderlê deur 'n besondere diepte van denke. Die Boeddha verskyn as 'n religie-kantelende mistikus en groot heilbrengende leraar.

Die Dhammapada beskik oor al die eienskappe van werklik groot religieuse literatuur. Daar bestaan nie 'n méér gesaghebbende en tog toeganklike eerstehandse inleiding in en handleiding tot die kernleer en algemene atmosfeer van die klassieke Theravada Boeddhisme nie.

II:  Dit is 'n indrukwekkende, moeilike teks waarvan die vertaling seker baie tydrowend was? Hoe het jy te werk gegaan? Kan jy iets deel oor die manier waarop jy aan die vertaling gewerk het?

Die vertaling was 'n verrykende uitdaging. Die feit dat Pāli aan die Indo-Europese taalgroep behoort en struktureel asook wat woordeskat betref, aan die Westerse klassieke tale Grieks en Latyn en dus aan Afrikaans verwant is, het baie daartoe bygedra. Ek het rondom 1975 met 'n studie van Pāli begin, en die ontmoeting van Europese en Indiese klassieke metafisies-mistieke literatuur, juis in Afrika, het my sedertdien geboei.

Aanvanklik het ek in 1998 en 1999 aan die vertaling gewerk, maar moes die liefdeswerk toe weens ander verpligtinge onderbreek. Na elf jaar, in 2010, het ek dit weer opgeneem, die reeds vertaalde gedeelte grondig hersien en vandaar af verder gewerk. Met hierdie tweede rondte het 'n klein groep belangstellendes by my aangesluit. Sewe jaar lank (dus tot 2017) het ons weekliks vir ongeveer 'n anderhalf uur saam by ons aan huis om die eetkamertafel met die Pāli-teks voor ons gesit. Die name van persone wat minstens vir 'n paar jaar deel van die gespreksgroep was, word met groot erkentlikheid vermeld: Sherral en Johan Herholdt, Willie en Gerda Potgieter, Helen Terre Blanche, Hildegard Behrens, Johan Kleynhans, Johannes de Villiers, Piet Muller, Pieter Erasmus en my vrou, Christina. So 'n ervaring skep lewensvriendskappe.

Die werkswyse het was om eerstens die oorspronklike Pāli-teks grammatikaal te ontleed, die begripswêreld te leer ken en die historiese agtergrond te rekonstrueer. Daarop het die vertaling in Afrikaans gevolg, met verduidelikende notas soos dit nodig geag is. Die hele proses is opgeneem as 'n noodsaaklike, maar uitdagende balansering tussen twee heel verskillende kulturele en epogale wêrelde, en tog verwant. Die vertaling speel af in die spanningsveld tussen Boeddhisme en Christendom, laasgenoemde stellig die religieuse konteks van die meeste van die waarskynlike lesers van die boek.

Die hermeneutiese prosedure wat gevolg is, het die volgende vier aspekte behels:

(a) Eerstens, om reg te laat geskied aan die klassieke Theravada Boeddhisme as unieke historiese verskynsel in 'n bepaalde sosiale konteks van lank gelede, en dit sodoende histories-krities te 'verklaar'.

(b) Tweedens, om reg te laat geskied aan die waarskynlike subjektiewe intensies van die oorspronklike sprekers/skrywers, hoorders/lesers en tradisie-oorleweraars van die verse, en dit sodoende te 'verstaan'.

(c) Derdens, om alle religieuse en mistieke gestaltes, individueel en kollektief, integraal te 'verwerk' en op te neem in 'n teoretiese raamwerk waarin alles as positief verbandhoudend met mekaar begryp word. In hierdie samehangende totaliteit, word elkeen van die historiese manifestasies daarvan eenmalig uniek, en tog saam met al die ander uitlopend in 'n groter sosiale ruimte anderkant en bokant alle religieuse dogmatisering, institusionalisering en mitologisering ervaar. Ek wil elke manifestasie sien as pars pro toto (elk in en vir die geheel) en as pars pro parte (elk in en vir elke ander een). Hierdie teoretiese belang kry in die boek slegs aandag as kort verbandleggings tussen Boeddhisme en Christendom. Ek vertrou dat 'n taamlik omvangryke publikasie wat sentraal op so 'n verstaansraamwerk fokus, later vanjaar sal verskyn. Deel van die uitdaging was om reg te laat geskied aan die unieke onherhaalbaarheid van die ou Boeddhistiese wêreld soos wat in die Pāli-teks voor mens lê, maar om dit te bedink en te verwerk vanuit 'n groter sinoptiese visie. Hierdie boek was egter nie die geleentheid vir 'n lang argument nie.

(d) Vierdens, om die teks, soos alle religieuse tekste (ook die Christelike), 'tendensioneel' te 'vertolk' as ten diepste heenwysend na 'n uiteindelike nie-substansiële leegte, 'n verdwynende gesigseinder waarop alle mistiek, in alle religieë en daarbuite, wesenlik aangelê is – sonder dat dit noodwendig subjektief, 'intensioneel', deur die aanhangers daarvan bedoel of besef word. Geen religie, dink ek, beweeg verder in hierdie rigting as die Boeddhisme nie. Hierdie leegte is inderdaad die primêre vertrekpunt daarvan.

III:  Jou teks toon 'n buitengewone sensitiwiteit vir en bekwame hantering van Afrikaans. Hoe het jou belangstelling vir Afrikaans begin en op watter maniere is jou kennis van Afrikaans gevoed?

Dankie vir die positiewe terugvoer oor die vertaling in my moedertaal, die sensitiefste kommunikasiemedium vir dinge wat mens op die mees wesenlike vlak raak. Die vertaling in Afrikaans het sy eie uitnodigings en uitdagings gebied. Die Pāli-teks was nie 'n interessante veraf affêre nie, maar 'n intieme gespreksgenoot wat my as besonder suaviter in modo, fortiter in re aangespreek het: liefdevol vriendelik, maar onontwykbaar onverbiddelik. Maar hoe vertaal mens dit, as 'n vorm van antwoord daarop gee? Taal is immers nie slegs 'n klank- en grammatikale struktuur nie, maar 'n leefwêreld. Hoe giet mens die nuwe wyn van radikale nie-substansialisme in 'n eerbiedwaardige ou leersak soos die Christendom, en hoe en waarin skink jy dit dan?

My uitgangspunt was dat die vertaler tweede viool moet speel, nie 'na aanleiding van' die oorspronklike teks jou eie een moet skryf nie. Tog is vertaal reeds onvermydelik aktief interpreteer, bemiddel, balanseer, kompromieë aangaan, skep. Ek het die onmoontlike as ideaal voor oë gehou, naamlik 'n versoening van getrouheid in letter en gees aan die ou Indiese gegewe, en 'n nuut-skepping in Afrikaans, asof die teks nou hier oorspronklik sy verskyning maak. Die vertaler, glo ek, moet sover moontlik aan twee tipes relevansie reg laat geskied:

Die eerste is die relevansie van afstand. Die Dhammapada is juis relevant omdat dit metafisies-misties so uitdagend en fundamenteel anders is as waaraan die gemiddelde Afrikaanse leser gewoond is. Dit mag nie 'n bestreelde katjie word, mak gemaak met die oog op suksesvolle oorlewing in die huidige verbruikerskultuur, soos wat inderdaad soms met Boeddhistiese meditasie gebeur nie.

Die tweede is die relevansie van nabyheid. Die vertaling moet direk tot die huidige Afrikaanse leser spreek. Die ou Theravada dokument moet nie 'n museumstuk wees nie, maar 'n outentieke Afrikaanse teks word. Dit het meegebring dat vertroude Afrikaanse woorde soms van 'n bykomende betekenis voorsien is, en dat nuwe woorde en begrippe soms ingevoer moes word.

Pāli-poësie as sodanig, 'n tema in sy eie reg, word nie in die boek aangespreek nie. Die vertaling self maak ook geen poëtiese aansprake nie. Ek het gepoog om in die vertaling naby aan praattaal, maar met aandag aan klank en ritme, as die beste keuse te bly.

Afgesien daarvan dat 'n poging tot goeie, maar tog ook betroubare poëtiese vertaling van groot religieuse poësie altyd 'n gewaagde onderneming is, moet die status van poësie in 'n oud-Boeddhistiese konteks in gedagte gehou word. Dit word nie in die Pāli-literatuur gesuggereer dat poësie noodwendig dieper denke verteenwoordig nie. 'n Mens kan ook 'n vermaning teen persoonlike ydelheid vermoed. Die Boeddha, die Volverligte, is ook nie deur homself of sy volgelinge as digter op 'n voetstuk geplaas nie. Soos Jesus het hy sy boodskap in algemeen toeganklike praattaal meegedeel. Daar was ook niks esoteries aan nie. 'n Belangrike verskil met die tydgenootlike Griekse poësie is dat die Pāli-digters geen aanspraak daarop gemaak het dat hulle op Berg Parnassus geborsvoed is nie en hul voorhoofde is nie met lourierkranse versier nie. Op 'n Sinai-ervaring soos van 'n Moses het die Boeddha nooit aanspraak gemaak nie, en sy digtende volgelinge ook nie. Hulle was slegs naamlose monnike, draers van die boodskap van nie-permanensie, nie-substansie en leegheid, en die morele implikasies daarvan, naamlik nie-begeerte, nie-haat en nie-waan.

Vers 363 gee 'n goeie beeld van goeie taal van 'n goeie monnik deur 'n ander, digterlike een:

Soet is die taal
van 'n monnik wat beheers in spraak
nederig en met insig praat
en die boodskap en sy strekking so verhelder.

Dit is eintlik 'n self-portret van 'n digter-monnik. Dieselfde siening sou, dink ek, net so geld vir 'n vertaler.

IV:  In Suid-Afrika is Engels nou die oorheersende publikasie-medium. Waarom wou jy die teks in Afrikaans publiseer?

Die teoretiese inset wat by vraag II genoem is, het onder andere ook taal- en kultuur-politieke implikasies, en hier wil ek aansluit by die vroeg-Boeddhistiese lewensbeskouing. Ek sou 'n balans wil sien tussen waardering vir die volgende:

(a) 'n Enkele faktor (taal, ensovoorts) in al die beperkte, verganklike eenmaligheid daarvan. Soos 'n enkele mens, sou elke ander soort bydrae (byvoorbeeld van taal en godsdienstige instituut) in al die onherhaalbare uniekheid daarvan hoogagting en liefde verdien, gewoon omdat dit ís en mense oor eeue deur uiters moeilike omstandighede gedra het.

(b) Elke 'ander' enkele, ook vir 'n veelvoud van ander enkeles. Meervoudige denke en respek is nodig.

(c) Organiese groter gehele. Totaliserende denke is nodig. Soos 'n enkele mens altyd onlosmaaklik deel is van groter sosiale samehange, so is elke enkele menslike sosiale struktuur skenkend-ontvangend deel van groter verbande, tot en met die uiteindelike kosmiese totaliteit.

(d) Die alles-omringende maar ook alles-relativerende, ont-absoluterende horison van stilte – waar taal in onmag verstil.

'n Optimale balans tussen al vier sou 'n hele paar misverstande uitskakel. Liefde vir die een sou nie verval tot geslote beheptheid daarmee nie. Dit sou juis die ander ook waardeer en sigself aanbied as bydraend tot groter gehele, waarvan geen met ewigheid beklee is nie. Met 'totalisering' bedoel ek organiese, los-insluitende, oop aanvaarding. Dit staan krities teenoor geslote totalitarisme, ook homogenisering wat altyd vorme van dwang en geweld insluit en minderhede moeilik verdra. Die huidige hedonisties gedrewe globaliseringsproses met die aspekte (oud-Boeddhisties gesproke) van begeerte, geweld en waan so skreiend opvallend, word deur my sterk krities bejeën.

Huidige Afrikaanstaliges het dit nie maklik nie. Die foute van die verlede het gespruit uit sekere tekortkominge wat (a) tot (d), en veral die balans tussen hulle, betref. Ek hoef nie nou in besonderhede in te gaan nie, maar miskien tog noem dat een kernfout 'n vorm van ewigheidsdenke was wat as 't ware 'n apartheidsverpligting op mense gelê het. Wat gedink, gesê en gedoen is, kan histories verklaar word en intensioneel verstaan word as moontlik goed bedoeld, maar dit het tog tragies verkeerd verloop, onder andere omdat die groter kontekste nie goed gelees is nie. Tans dobber talle van hierdie kultuurgroep rond tussen 'n défaitistiese saamdryf met 'n Anglofone globaliseringproses en 'n reaksionêre weiering tot nodige nuwe, toekomsskeppende geheel-denke, waartoe juis 'n Euro-Afrikaanse minderheid 'n betekenisvolle rol kan speel.

Getraumatiseer deur die onverwagse besef van die verganklikheid van alle dinge, die diepte van menslike dwaling en die lyding wat daaruit kan spruit, verkeer Afrikaans in 'n ernstige krisis. Dit is basiese temas deur die Theravada-geskrifte behandel, en hulle spreek tot die huidige Afrikaanse kulturele situasie. Wat sou dit, uit 'n klassieke Theravada-perspektief, beteken om in hedendaagse Suid-Afrika Afrikaanstalig te wees?

Jou vraag oor die publikasie-medium wil ek in bogenoemde konteks verstaan. Wat my persoonlik betref, skryf ek in Engels sowel as Afrikaans. Eergenoemde om deel te wees en by te dra tot die groter gehele waarin ek (en ons) leef; laasgenoemde om die nog onvervulde belofte van Afrikaans te help verwesenlik, naamlik om juis in Afrikaans anderkant apartheid betekenisvol by te dra tot faktore (b), (c) en (d) vroeër genoem.

Laat my byvoeg dat ek elke vorm van rassisme uit 'Afrikaans' wil weer. 'Afrikaans' op sigself is eintlik ook 'n geheel (verwysend na [c]), 'n unieke integrering van merkwaardig uiteenlopende historiese faktore: Afrika, veral die bydrae van die Khoi-San; Europa; en die Ooste (die Maleisiese bydrae). Die Khoi-San is 'n verdronge, vergete, uitgestote groep, en tog, van alle etniese eenhede in die land, op ontroerende wyse die enigste werklik ab origine bewoners van hierdie land: van die begin, die oorsprong van menswording af. Al die ander is laat inkomelinge. Een van die merkwaardigste ontvouinge van die Suid-Afrikaanse geskiedenis was dat die nageslag van die oorspronklike ab origine's, die Khoi-San, hoofsaaklik Afrikaanssprekend geword het. Die uitnodiging, uitdaging, om ook die religieuse wêreld van Indië in die 'Afrikaanse' insluitende geheel te verwelkom, wou ek nie laat verbygaan nie. Soos die term 'Afro-American' vir 'n unieke minderheid in Amerika 'n groot positiwiteit uitdruk, druk 'Euro-Afrikaans' 'n unieke, waardevolle identiteit uit: komend uit 'n waardevolle verlede wat veel te bied het vir die Afrika-hede en -toekoms. Om met liefde in Afrikaans te skryf, druk vir my die moontlikheid uit om doelwitte (a) tot (d) hierbo genoem tot 'n nuwe, skeppende balans te sien ontwikkel.

Van die begin af en wesenlik was Afrikaans die brugtaal. Met die vertaling van die Dhammapada wou ek 'n brug na die fassinerende wêreld van Indië en Suidoos Asië help bou. Dit is vir my 'n voortsetting van die oorspronklike en inherente logika van Afrikaans. Dit is nog 'n jong kultuur en taal en kan nog verskeie kante toe ontwikkel. Die Dhammapada is 'n pragtige geleentheid om nuwe gebied te verken en die reikwydte en diepte van Afrikaans te verryk. Soos die Christelike digkuns van Dante uit die tyd van die Europese hoogbloei, verdien die Dhammapada-gedigte uit die stigtingstydperk van die Boeddhisme 'n plek in die verwysingsraam van 'n 'Afrikaanse' taal en kultuur.

Mag ek nog 'n bietjie uitbrei op die onvervulde belofte waarna hierbo verwys is? Uit sy Gereformeerde erfenis as primêre religieuse voedingsbodem het die Afrikaanse kultuur veel gebied, nie die minste nie 'n stewige arbeidsetiek en 'n sekere sober, binne-wêreldlike askese, nie te versmaai in die huidige nasionale en globale situasie nie. En hulle was buitengewoon beginselvaste, karaktervaste mense, bereid om ter wille van hul geloofsoortuiginge vervolging te verduur. In ander opsigte het die kultuur, ook die religieuse kultuur, tog wel tekortkominge gehad. Die jaar 1652 was nie net die jaar van Van Riebeeck se aankoms in die Kaap nie, maar ook die jaar waarin die mistikus George Fox die Kwaker-beweging in Engeland behoorlik van stapel gestuur het. Sou die geskiedenis van die 'Afrikaanse' taal- en kultuurgroep, ja van die land as geheel, anders verloop het as die Euro-Afrikaanses 'n sterker mistieke inslag gehad het, die lig in alle mense hoër waardeer het, minder dogmaties, minder outoritêr, was? Kennisname van die Boeddhisme, soos byvoorbeeld in die Dhammapada gevind, sou bykomende perspektiewe in hierdie verband bied.

Die geskiedenis kan nie ongedaan gemaak word nie: de-kolonisasie in die sin van volkome tot niet maak van kolonialisasie asof dit nooit was nie is nóg haalbaar nóg wenslik,maar 'n nuwe post-koloniale bedeling van skeppende sintese in die sin soos hierbo gesuggereer, met behoud van die integriteit van Afrikaans, is moontlik.

Krities bewus van die verlede, mag Afrikaanstaliges die toekoms skeppend aandurf. En as die taal tog sou ondergaan, soos met alle tale sonder uitsondering gebeur het of vroeër of later sal gebeur? Laat Afrikaanses dan doen soos 'n Luther wat, selfs in die wete dat hy môre sal sterf, vandag sy appelboompie plant. Die Dhammapada-denke leer dat alle dinge sonder uitsondering 'n anicca (nie-permanensie) en anattā (nie-substansie) karakter dra. Daar is geen belofte dat enige volk en taal ewigheidswaarde het en uiteindelik met goddelike waarborg vir ewig sal bestaan nie. Wat 'n individuele menslike lewe betref, is die implikasie nie onverskilligheid nie, maar juis die plig tot begeertelose, haatlose, situasie-gepaste, verantwoordelike doen (kamma). Dit sou kultuur- en taal-polities ekstrapoleer kon word. Ek sou graag wil hê dat 'n vertaling van hierdie ou vreemde teks in Afrikaans die kortstondige skoonheid van die taal kan help oopgaan soos 'n blom, ontvanklik vir en bydraend tot ander tale en kulture, bewustelik deel van die kosmiese totaliteit, in die besef van omringing en deurdringing deur 'n horison van nie-substansiële leegheid. Laat die tot nog toe onvervulde belofte van so 'n denke tot uiting kom, en mag die taal werklik groei tot draer van mistiek.

Terwyl ons nou in die Pāli-wêreld 'n draai maak, is 'n bladsy uit die geskiedenis van daardie taal dalk nie onvanpas nie. Ongeveer twee millennia gelede is Pāli (toe 'n belangrike voertuig van Theravada-Boeddhisme) toenemend byna geheel en al verswelg deur Sanskrit, die opkomende 'globale' taal van die tyd. Eeue van stagnasie vir Pāli het gevolg, totdat die groot Theravada-geleerde, Buddhaghosa, in die vierde-vyfde eeu AJ [Algemene Jaartelling] in Sri Lanka met sy geskrifte, onder andere sy magistrale Visuddhi Magga ('Pad van suiwering'), nuwe lewe aan die taal gegee het; nie gebaseer op ekonomiese of ander vorme van mag nie, maar suiwer op grond van religieus-mistieke betekenis, kwaliteitsdenke. Weer het 'n insinking gekom, en weer na 'n paar eeue, tydens die Europese Middeleeue, 'n oplewing. Die besonderhede is nie nou van belang nie, wel dat die taal vandag steeds, al is dit nou 'n sogenaamde 'dooie' taal, 'n monumentale betekenis het en bestudeer word as draer van 'n ingrypende, eeue-omspannende boodskap uit 'n verre verlede, vandag steeds aktueel. Afrikaans sou stellig op allerlei terreine beskerm en bevorder kon word, maar die grootste monument wat dit vir sigself kan oprig, sou wees om draer van hoë kultuurgoedere te wees, tuis in die geselskap van die grootste geeste, mistici, wat die mensheid voortgebring het.

Ek wou ou Theravada dus verinheems, verAfrikaans. Die beste manier om dit met 'n vreemde plant te doen, is om 'n handvol sade in jou hand te neem, daarna te kyk, hul tekstuur te voel, hulle te vryf, te weeg, te ruik, dan te saai in 'n nuwe omgewing, in grond wat jy ken en verstaan, hulle te versorg en waar te neem hoe hulle groei. Dit is wat ek met die oorspronklike Pāli woord- en begripsade wou doen, in die hoop dat hulle sal groei tot 'Afrikaanse Theravada'. Dit het niks met missionêre propaganda gemeen nie; die waarheidsweg loop uit op stilte.

Afrikaans mag haarself nie afskryf of laat afskryf as die taal van apartheid nie, nie in woede op vyandskap reageer nie, maar haarself ontwikkel as voertuig van nuwe, belofteryke moontlikhede in die sin van (a) tot (d) hierbo genoem. Die Dhammapada is in Afrikaans vertaal omdat ek dit as hoogs relevant beskou, maar nie uit enige groepsegoïstiese perspektief bekyk nie.

V:  Hoe belangrik is meertaligheid vir jou? Is meertaligheid haalbaar in ons land met sy besondere werklikhede en uitdagings? Watter bydrae lewer meertaligheid aan die intellektuele diskoers?

Ek dink ek het reeds by implikasie op hierdie vraag geantwoord: meertaligheid is uiters belangrik. In Suid-Afrika sou 'n mens as ideaal kon stel dat elke burger vir die doeleindes van vriendelike daaglikse omgang minstens drie tale in 'n mate kan gebruik: jou eie taal, die globale taal Engels, en nog 'n inheemse taal.

Wat Afrikaans met sy historiese wortels betref, sou ook meertaligheid in die sin van 'n lewende verbondenheid met veral die Germaanse stamtale Nederlands en Duits, asook Frans, so ver as moontlik nagestreef behoort te word. Die toenemende verlies aan bekendheid en vertroudheid met veral Nederlands is besonder jammer. Die volgende voorbeeld wat ek in 'n Afrikaanse lesing gehoor het, vertoon die proses van verlies aan meertaligheid: "Soos Descartes so treffend gesê het, 'I think, therefore I am'." Die Frans en die Latyn waarin die filosoof hierdie beroemde gedagte neergeskryf het, funksioneer glad nie, en 'n sterk en treffende Afrikaanse ekwivalent soos gewoon 'Ek dink, dus is ek', is skynbaar nie oorweeg nie. Met groot bewondering vir die skoonheid en rykdom van die Engelse taal dink ek die akademiese diskoers sal erg verarm as akademiese taalmonopolisering die oorhand kry. Ons is gelukkig om Engels as internasionale kommunikasie-medium te hê, maar die gebruik daarvan behoort nie gepaard te gaan met die uitskakeling van die rykdom wat meertaligheid ook in die akademiese diskoers bied nie.

Hierdie gedagtegang het 'n groot rol gespeel in die oorwegings wat my daartoe gebring het om juis onbekende Pāli in juis miskende Afrikaans te vertaal. Die Dhammapada is al dikwels in Engels vertaal; dus, waarom sal die Afrikaanse leser nie net 'n Engelse vertaling optel, die Engelse weergawes van die oorspronklike Pāli-woorde absorbeer en die ou dokument as 't ware met 'n Engelse bril op lees nie? 'n Direkte Pāli-Afrikaanse gesprek het vir my boeiender, vrugbaarder gelyk. Ek het doelbewus sover dit realisties gelyk het, die leser onder die indruk van die Pāli-woorde en hul betekenisvelde probeer bring, en dit regstreeks met die Afrikaanse woordeskat en taalveld laat kommunikeer.

Nog iets: ek glo dat in die akademiese diskoers, veral in die geesteswetenskappe en in die heel besonder die dissiplines wat hulle met die groot religieuse en metafisies-mistieke tradisies van die mensdom besig hou, 'n verlies aan vertroudheid met die tale waarin die bron-dokumente oorspronklik geskryf is, besonder jammer, selfs rampspoedig, sal wees. Die vertaling uit Pāli in Afrikaans het dus onder andere op die strategiese oorweging van wat jy 'meertaligheid' noem (aspek [IV.b] by die hermeneutiese prosedure hierbo genoem), berus.

Meertaligheid is vir my ook nie net 'n kwessie van klank- en grammatikale stelsels nie, maar ook van leef- en denkwêrelde, met insluiting van religieë en metafisies-mistieke stelsels. Prinsipiële insluiting en opsluiting in een taal- of denkstelsel, hoe klein of groot ook al, hetsy met gedwonge uitsluiting of gedwonge insluiting, met verwerping van die veelvoud van ander en die menslike geheel, is kortsigtig. Veral die besef van die horison van stilte verder as alle taalkundige en begripsmatige spreke is vir my uiters belangrik. In die begin was, is, voor-taalse stilte.

VI:  Dit is opvallend dat iemand uit die tradisionele Afrikaanse godsdienstige diskoers hierdie teks vertaal terwyl die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes, insluitende teoloë, grootliks onbekend daarmee is. Hoe pas hierdie teks in jou persoonlike en professionele lewensloop?

Ek is in die vroeë 1960's opgelei as predikant in die Gereformeerde tradisie aan die Universiteit van Pretoria. Vir my doktorale studie in Nederland daarna wou ek die grootste probleem waarvan ek erg bewus was, naamlik apartheid, onder die vergrootglas plaas van die grootste denker waarvan ek op daardie stadium bewus was, naamlik Karl Barth. Die uiteinde was dat apartheid teen die einde van die 1960's wat my betref, teologies en andersins onverdedigbaar was, maar dat ook die teologiese tradisie wat dit direk of indirek moontlik gemaak het (met insluiting van die Gereformeerde tradisie waartoe Barth self ook behoort het), begin inkalwe het. Was die faktor mag miskien subtiel ingeskryf in die struktuur van die teïsme as sodanig? Het dit in die geval van die Christendom teruggegaan op ou patriargale patrone van denke en sosiale struktuur, en finale vorm aangeneem in die Romeinse Ryk, in eeue-durende kompetisie met daardie Ryk? Het dit in die proses van simbiose daarmee sommige trekke van die Ryk oorgeneem, en die Ryk uiteindelik oorleef en oorwin, met Augustinus (354-430) se konstruk van 'n civitas Dei contra paganos 'n indrukwekkende, triomfantelike hoogtepunt? Sou hierdie denktrant, alles in ag genome, vandag nog vir dieper-denkendes oortuigend wees, en indien nie, sou daar 'n uitweg wees? Ek het my in 'n intuimelende kaartehuis bevind. Geen absolutistiese aanspraak op waarheid en uiteindelike mag het bly staan nie. In my geval het die groot twyfel nie uitgeloop op materialistiese ateïsme of iets dergeliks nie, maar op die ontdekking van die mistieke diepte, teenwoordig in alle religie soos 'n onderaardse stroom. So teen die middel 1970's het ek Taoïsme en Boeddhisme leer ken, en veral laasgenoemde ernstig begin bestudeer.

Geleidelik het ek 'n begaanbare rigting ontdek. Eerstens het ek van voor af begin skool gaan by die mees diepsinnig denkende en mees liefhebbende geeste van die mensheid as 'n geheel. Ek sou my nie weer blindelings en uitsluitlik onderwerp aan enige een nie, maar in 'n ontvanklike en tog toetsende verhouding tree met minstens sommige van hulle, sover hulle vir my histories toeganklik was. Tweedens het ek my begewe in sulke stelsels van mistieke denke, gevoel en praktyk in 'n verskeidenheid vorme, soos poësie, verhale en sistematiese leerstellinge, met insluiting van selfs skolastiek met die hartstog van die skolastiek vir intellektuele noukeurigheid en omvattendheid. Prakties het dit neergekom op 'n intensiewe studie van die Boeddhisme en 'n besondere verdieping in Pāli-literatuur. Maar ek het my afgewend van alle houdings en formules wat aanspraak op absolute waarheid maak, en gevind dat vir my die diepste begrip neig in die rigting van die uiterste gesigseinder van menslike uitreiking. Derdens het ek my finaal afgewend van enige konformistiese onderwerping aan enige magsgeöriënteerde religieuse instituut, en vreugde gevind in die vry vriendskap van edel vriende, buite alle kampe.

Die ernstige lees van ou Boeddhistiese geskrifte en die vertaling van enkeles in Engels en Afrikaans was deel van daardie proses. Die vertaal, verklaar, verstaan, vertolk en verwerk van die Dhammapada was vir my 'n besondere ervaring op daardie reis.

Op geen stadium het ek die gevoel van revolusionêre opstand en omverwerping van enige bestaande orde gehad nie. Jy is heeltemal reg in jou vraag: ek is 'uit die tradisionele Afrikaanse godsdienstige diskoers' afkomstig. Maar ek het deurgaans toenemend bewus geword van 'n noodsaaklike, miskien moontlike, groot evolusionêre sprong in denke en praktyk wat vir die mensheid as geheel in 'n bedreigde ekologiese en sosiale opset voorlê – ook in Suid-Afrika. Die balans en integrering van beginsels IV(a)-(d) kan slegs met liefde en geduld, maar ook met intellektuele onkreukbaarheid, benader word.

Dit is die persoonlike konteks waarin die Dhammapada in Afrikaans vir Afrikaanse mense (en ander) voorgelê word.

VII:  Jy is veral bekend oor jou navorsing en boeke oor die mistiek. Hoe sou jy aan 'n oningewyde leser die mistiek beskryf?

In plaas van 'n definisie in 'n akademiese argument wil ek nou eerder 'n illustrasie gebruik om te suggereer wat ek onder 'mistiek' verstaan. Dwarsdeur die eksperimentele ontdekkingsreis op die terrein waar Boeddhisme en Christendom en ander religieë mekaar in 'n groter mistieke ruimte ontmoet, het 'n sekere beeld in my bly terugkeer. Die wetenskap is ook deel van die panorama, maar dit is nie in die boek aangeraak nie. Hierdie beeld vat vir my die wese van die mistiek saam.

Ek het my 'n buitengewoon hoë, indrukwekkende bergpiek voorgestel. Vandaar af oorsien enkele reisigers op 'hoër, kouer paaie' (Van Wyk Louw), sover dit menslik moontlik is, 'n wye, grootse landskap, die panorama van die geheel van wat is. Die 'enkele' verwys nie na getal nie, maar na die intiem-persoonlike, individuele, self-verantwoordelike kwaliteit van die reis. Ons kan ons ook voorstel hoedat daardie groot stilles sonder hoogtevrees van die piek af tuur sover die menslike oog kan reik, en 'n absolute horison aanvoel eerder as aanskou: 'n gesigseinder so ver dat die kyker nie kan aanneem dat daar natuurlik kamele aan 'n anderkant moet wees en dus is nie. So onoorsteekbaar, onbereikbaar ver dat die panorama net verdwyn, oplos in die leë lug. En tog, vlak voor die voete van ons kyker-siener-niesiener, so naby dat hy daaraan kan raak, 'n enkele veldblom in al haar volle, nederige heerlikheid, beminlik nie ten spyte daarvan dat sy vandag hier is en môre nie meer sal wees nie, maar omrede daarvan. En kyk, daar naby staan nog ander ook, elkeen kosbaar in eie reg. Kosbaar is die voël in die lug en die lelie in die veld, die pasgebore baba en die sterwende bejaarde, 'n taal en kultuur sowel as 'n religie en religieuse instelling wat oor eeue gegroei het, met blomme in hul somers en verdroogde blare in hul winters. Elke bestaande entiteit ‒ met insluiting van elke religie ‒ is uniek en kosbaar, maar geeneen is absoluut waar en ewig nie. Hulle is vergelykbaar, elkeen en almal saam en wedersyds in mekaar geïmpliseer, deel van die een groot totaliteit van die kosmiese landskap, almal verskynend uit en verdwynend in 'n aller-subtielste, alles-omringende en alles-relativerende, alles-oplossende en -oneindige horison. Almal is onderworpe aan die kosmiese wet van verskyning, groei, verval en verdwyning. Dit is waaroor die Dhammapada wesenlik gaan, en dit druk vir my die wese van die mistiek uit, waartoe alle religie tendensioneel neig.

Laat my nog 'n dimensie byvoeg. Heel bo is die groot eenlinge met diepte-insig, panoramiese visie en universele liefde. Ek glo nie een van sulke ligbakens sal aanspraak maak op absolute mag en eksklusiewe waarheid nie. Ek stel sulke groot mistici voor as beklee met stil waardigheid en innerlike gesag, hul kommunikasie nie triomfantelik nie maar selfloos, en tussen en in hul woorde ... stilte.

Swoegend op en af teen die steil hange is diegene, soos religieuse intellektuele, wat die groot panorama vermoed maar dit tog nog nie gesien het nie en die vrede van die uitsig nog nie self ervaar het nie. En op die laer plato's en in die valleie lê die kosbare dorpies waar mense gebore word, leef en sterf soos voëls en lelies en betekenis soek in hul religieë. Verstaanbaar, beminlik. Terloops, vir my slaan die begrip 'mistiek' op die eensamer pieke van individuele insig en emosionele ervaring; 'spiritualiteit' op die belangrike, maar meer gemeenskaplike dimensie van die dorpslewe, meer populêr, maar in 'n goeie sin van die woord. Mistieke bergbestyging op sy beste bestaan daarin om so hoog as moontlik te klim, so wyd en ver as moontlik te sien, en nogtans elke enkele blom en religie nie gering te ag nie, maar te waardeer omdat dit daar is. Ook om nie voeling met die dorpslewe teen die hange of laer af te verloor nie, maar om dit te kan verlaat en nogtans, presies daarom, in liefde en solidariteit daarheen terug te keer.

Mistiek is vir my die uiteindelike perspektief op dinge asook die konteks van die Afrikaanse aanbieding van die Dhammapada, nie 'n god-dienstige of selfs religieuse oefening in die sin van 'n onderskrywing of voorskrywing van enige een van die historiese stelsels nie. Hierdie benadering verwag nie omhulling in enige geslote, selfs afgesonderde religie nie; herlei geen religie na enige ander een (byvoorbeeld Christendom na Boeddhisme of Boeddhisme na Christendom) nie, maar respekteer werklike verskille; vermeng en verwar sulke onderskeie histories-gegroeide stelsels nie bolangs impressionisties met mekaar nie, maar soek 'n integrale versoening bokant hulle; neem nie deel aan religieuse toerisme nie, nóg as gids nóg as toeris; vergelyk nie bloot religieë met mekaar op soek na ooreenkomste en verskille nie, maar tas na die relativerende en tog toelatende ruimte in en om almal; volstaan nie met hoflike inter-religieuse gesprek nie, maar soek 'n meta-religieuse stilte op.

Die woord 'mistiek' roep vir my die beeld op van 'n groot wildernisgebied sonder vaste roetes. Mens mag jou avontuurlustig en gefassineerd-nuuskierig daarin begewe, en jou eie weg vind in ooreenstemming met die landskap, die beskikbaarheid van voeding en jou innerlike sin vir rigting. Ander het voor ons deur hierdie landskap gereis; ons kan hul voetspore vind en hul roetes rekonstrueer en volg.

Mistiek (en die aanbieding van die Dhammapada) wil religieuse apartheid oorkom, ons innooi in 'n ruimte waaruit al sulke begrippestelsels ontstaan en waarin hulle uiteindelik verdwyn. In eg-Boeddhistiese taal (Dhammapada vers 6):

Party besef nie
ons kom almal hier tot 'n einde nie,
maar wie dit besef
se twiste kom tot 'n einde.

Dit is ook waar van religieë.

VIII:  Waarom is die mistiek so onbekend in Afrikaanse teologiese kringe? Wat is na jou oorwoë mening die positiewe bydrae van teologie en godsdiens tot die samelewing, veral in Suid-Afrika en waar kon dinge anders verloop het?

Die Gereformeerde religie waaruit die Afrikaanse kultuur grootliks afkomstig is (om my nou vir 'n oomblik weens ruimte tot hierdie stroom van Afrikaanse religiositeit te beperk) het wel 'n beduidende mistieke komponent gehad, bekend as 'Gereformeerde piëtisme'. Dit het saam met die Gereformeerde religie die binneland in versprei en het op meerdere wyses in verskillende kerke uiting gevind. In die Ned. Geref. Kerk byvoorbeeld was Andrew Murray (oor wie se mistiek Andries Raath [HTS (1), 2011] insiggewend geskryf het) 'n besondere baken. Soos jy in verskeie artikels aangetoon het (onlangs in LitNet Akademies [12(3), 2015] en Spiritus, vol 16 [2016]), was die mistiek vir Murray 'n wesenlike, noodsaaklike kenmerk van religieuse ervaring. 'n Piëtistiese tradisie was opvallend deel van die Ned. Geref. Kerk in al sy kerklike variante. Ek stem met jou saam dat hierdie ondertoon mettertyd toenemend verdring is in 'n hele sindroom wat as 'apartheid' bekend staan, asook in die politiek-teologiese verset daarteen. Indirek maak my aanbod van die Dhammapada in Afrikaans 'n appél op 'n half-vergete maar sluimerende mistieke dimensie van die Afrikaans-religieuse tradisie. En let wel, die ontabsoluterende dimensie daarvan het ingrypende sosiale en politieke implikasies. Op metafisiese mistiek volg gevoels- en handelingsmistiek (soos van 'n Franciscus van Assisi).

Die lang nag van apartheid in enige vorm (ook religieus) is nou verby en 'n nuwe dagbreek kan voorlê ‒ 'n Aurora inderdaad, om van die Duitse mistikus Jakob Böhme (1575‒1624) te leen ‒ met as sydelingse, maar belangrike gevolg 'n nuwe waardigheid vir Afrikaans en die behoud van die beste in die kulturele en Christelike religieuse tradisie daaragter, en 'n nuwe skeppende bydrae tot die geheel van hierdie vasteland en die wêreld. 'n Virtuele identifikasie van geloofsbelydenis en skuldbelydenis in sommige Afrikaans-Christelike kringe bied op die langer duur nie 'n toekoms-uitsig nie. Die roete vorentoe, glo ek, sou moes verloop met inagneming van 'n veel groter landskap en 'n veel ruimer horison as wat vroeër moontlik was. Dit sou meer as die bevindelikheid van 'n Andrew Murray (wat 'n groot rol in my eie jeug gespeel het) behels, naamlik 'n fundamentele kognitiewe evolusie. Met 'fundamenteel' (asook 'radikaal') bedoel ek nie oppervlakkig 'ekstreem' nie, maar wortel-diep, waar dit stil is; en met 'evolusie', organiese ontwikkeling wat op gepaste wyse antwoord gee op 'n steeds groter, komplekser wordende wêreld.

Ek is van oortuiging dat 'n nuwe bloei-periode vir Christelike teologie kan voorlê, mits dit kan oopgaan soos 'n blom, haar eie betreklikheid positief kan waardeer, en haar eie insig kan aanbied as pars pro toto en as pars pro parte: elkeen in, vir en saam met elke ander een in 'n soepel, akkommoderende geheel. Die wedersydse kennismaking van Christendom en Boeddhisme ‒ ek stel my byvoorbeeld belangstellende lesers voor, ernstig oor die Dhammapada geboë ‒ lê op daardie pad. Belowende ontwikkelinge in die rigting van 'n oop denkraam kan inderdaad tans aan sommige tradisionele teologiese fakulteite in die land waargeneem word.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.