.

Christus, die Middelaar en gebed

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Desember 2015

.

Van kleins af het 'n mens geleer om jou gebed af te sluit met die woorde "in Jesus se naam, amen!" Of party mense bid ook "om Christus ontwil, amen!" En daarby leer die dogma van die kerk en die Bybel dat Jesus die weg na die Vader is. Niemand gaan na die Vader toe behalwe deur Jesus nie. Of mens het geleer dat Christus die middelaar is. En dat 'n mens deur Christus tot die Vader nader. M.a.w. 'n mens se gebed moet altyd deur Jesus, die Christus gaan. Jy mag eintlik nie direk tot God die Vader bid nie, want Jesus is ons voorspraak by die Vader.

In party kerke het die ideologie ook, dalk na aanleiding hiervan, ontstaan dat gewone mense eintlik nie vir hulleself mag bid nie. Die priester moet vir jou bid. Party dominees en pastore ly aan die uitbrandingsindroom juis omdat dit vir hulle voel asof hulle bidmasjiene geword het. Hulle jaag van siekbed na krisis na sterfgeval na familietwis en al wat hulle doen, is om vir mense te bid ... want daar bestaan een of ander geloof dat die ampsdraer, die shaman, die heilige van die kerk se gebed meer tel as jou eie. Hy werk ten minste voltyds vir God, so God sal eerder na hom of haar luister. Hulle gebede dra dalk net meer gewig.

Ek wil probeer verduidelik waar hierdie idee oor gebed vandaan kom. Die antieke Romeinse samelewing, om die waarheid te sê, die meeste antieke samelewings het volgens 'n bepaalde stelsel gewerk, naamlik die van 'n weldoener of 'n beskermheer, agente en kliënte.

Kom ek verduidelik met 'n hedendaagse voorbeeld: Die verskaffer staan bo aan die voedselketting. Hy beheer die hulpbronne. Dit is bv. die bank wat geld beskikbaar het. Onder aan die ketting staan die kliënt wat bv. graag 'n huis wil koop. Nou moet die kliënt deur 'n agent (Oeba, of die eiendomsagent, of een of ander tussenganger) aansoek doen vir 'n lening om die huis te kan koop. Die agent stoei dan met die bank om die lening goedgekeur te kry, sodat die kliënt gehelp kan word.

Die antieke samelewing het presies op dieselfde beginsel gewerk. Hulle ekonomie het net anders gelyk omdat dit hoofsaaklik agraries was. Daar was bv. 'n paar mense in 'n gemeenskap wat al die grond besit het. En dan was daar klomp mense wat dalk diere (skape/bokke/beeste) gehad het maar geen grond nie. Hulle het die grondeienaars as hulle beskermhere of weldoeners gesien omdat die hulle toegelaat het om hulle diere op die eienaar se grond aan te hou. Meeste van die grondeienaars het nooit direk met die bywoners of grondloses gepraat nie. Hulle het bv. deur hulle seuns of 'n voorman, of 'n tipe tussenganger met die kliënte onderhandel.

Die bywoners of afhanklikes moes in baie gevalle soggens aanmeld by die beskermheer se huis en dan het die seun of die agent bevele of reëlings vir die dag uitgedeel. Wanneer een van die bywoners of armes 'n guns of ekstra kos, of 'n dokter, of een of ander kommoditeit nodig gehad het, moes die tussenganger of agent dan met die weldoener gaan onderhandel om te kyk of die weldoener vir daardie persoon toegang tot daardie hulpbron sal gee.

Dit het dus in die samelewing gegaan oor netwerk en verhoudings bou. Dit het nie gegaan oor wie jy is nie, maar oor wie jy ken. Watter agent kan vir jou toegang tot watter hulpbron verkry. Die agente het dus gesorg dat hulle binne die invloedsfeer bly van die weldoeners en beskermhere ... die mense wat die hulpbronne beheer. Dit is rofweg die stelsel wat in plek was.

En soos wat dit steeds vandag gaan, projekteer die mens sy verstaan van sy wêreld en die sisteme van sy wêreld op sy panteon en dan sê die mens dat dit by sy gode ook so werk.

Daarom het die gewone mense deur die priesters en profete tot die gode genader om gunste te vra. Die gewone mense is m.a.w. die hulpbehoewendes / onderdane / kliënte, want op 'n geestelike vlak is die gode gesien as diegene wat die hulpbronne beheer, die weldoeners en die beskermhere.

Dus is die tipiese plattelandse beskermheer-agent-kliënt-verhouding net so op die panteon geprojekteer.

Chrisostomos vertel in sy Oratio en Cicero doen dieselfde in sy werk De natura dei, dat Zeus as die hoofgod ook skepper en vader genoem word omdat alles aan hom behoort en uit hom is en omdat hy alles beheer soos 'n vader. Niemand het ook direk met die gode gepraat nie. Die orakel is geraadpleeg, of die priesters het offers gebring en gebid. Net soos op die weldoener se plaas, het die gemeente of lede van die godsdiens van tyd tot tyd by die tempel aangemeld vir diensbeurte.

Toe die Christelike godsdiens baie eeue later op die toneel verskyn, was hierdie 'n gevestigde en alombekende en aanvaarde samelewingsisteem. En dit was ook die manier waarop die mense hulle gode verstaan het.

God, wat ook vanselfsprekend bekend gestaan het as die vader, soos Zeus, is dus gesien as die weldoener en beskermheer. Die een wat in beheer van die hulpbronne is. Gelowiges of die Christene is die kliënte. Hulle is die met behoeftes wat guns en genade en toegang tot die hulpbronne nodig het. Al hoe hulle kan kry wat hulle benodig, was om deur 'n agent te werk. En daarom het Jesus in die verhaal, die seun van God die vader geword om as agent te kon optree en daarom het Christus as die middelaar bekend gestaan sodat hy agent kon wees. En deur die middelaar kon gelowiges toegang tot die hulpbronne kry, naamlik vergifnis, guns en genade, sorg, beskerming of watter hulpbron dan nou ook in die mag van die weldoener is.

Daarom word Jesus die weg of die deur na die vader genoem, want niemand kom na die vader behalwe deur die agent nie.

Hierdie samelewingstelsel het vir eeue bestaan. Die konings en prinse in die middeleeue het op dieselfde stelsel gewerk. Ag, tot relatief onlangs het ons ook bywoners selfs in Suid-Afrika op groot boere se plase geken. Dalk net in 'n ander vorm, bestaan die stelsel of mutasies daarvan ook in ons samelewing, want daar is steeds maghebbers wat hulpbronne beheer. Jy moet net die regte mense ken wat vir jou 'n hupstootjie kan gee en 'n goeie woordjie kan doen sodat jy toegang kan verkry tot die werk of guns of kommoditeit wat jy nodig het.

Maar definitief bestaan die stelsel nog in baie mense se geestelike lewe en geloof. God beheer al die hulpbronne en mens moet deur 'n agent of iemand met 'n naam bid wat vir jou kan intree sodat jy toegang kan kry tot dit wat jy nodig het. Die reste daarvan vind mens ook by die Katolieke wat deur Maria of die heiliges bid om toegang tot God se genade te kry. Ook in baie Afrika godsdienste waar die voorouers (ancestors) die rol van agent of tussenganger vertolk.

So as 'n mens dit nou alles gesê het, bly die vraag dan steeds: Maar wat van gebed. Bid mens nog? Help dit? Moet mens? Hoe bid jy?

Dit lyk my dat bid direk saamgaan met die tipe godsbeeld wat jy het. As jy glo dat God, die Vader is en dat Hy alle hulpbronne beheer, sal jy in jou gebed vir God vra vir jou dag se brood, vir jou gesondheid, vir beskerming oor jou gesin, vir elke behoefte wat jy het, want Hy is dan weldoener en beskermheer, vader en skepper.

Is jou godsbeeld dalk minder teïsties en meer post-modern, glo jy dalk dat jou woorde krag en energie besit en dalk soos 'n magnetiese veld funksioneer, want wat jy sê, het energie en met woorde skep jy situasies en bring jy goed tot stand, spreek jy goed uit en dan gebeur dit. As jy behoeftes uitspreek, trek jy dit vanuit die kosmos na jou toe aan. En so word jou gebede by wyse van spreke waar.

Die mense wat in "mindpower" en "The Secret" se tipe "gebedsverhoring" glo, herhaal kort sinne as bevestigings oor en oor, of hulle fokus en konsentreer op een konsep of behoefte en so skep hulle glo 'n nuwe realiteit en kry hulle wat hulle behoefte is.

Ek weet regtig nie hoe om te bid en wat om te vra en van wie af 'n mens wat kan verwag nie. Ek weet nie of daar iemand is wat weet nie. Elkeen predik maar wat hy glo of wat sy dogma hom voorskryf. Partykeer bid ek asof alles van God afhang. Ander kere werk ek asof alles van myself afhang. Soms skep ek met my woorde en denke vir myself nuwe wêrelde en ander realiteite en soms hoop ek op wonderbaarlike ingrypings.

Ons is almal maar net mense met beperkte vermoëns. Ons het almal soms behoefte aan hulpbronne waaroor ons nie beheer het nie en waartoe ons nie toegang het nie. Vir wie moet ons vra? Hoe kan ons ons lot of situasie verbeter of verander? Ek weet nie. Ek kan ook nie sê, sonder om ideologies of dogmaties te raak nie.

My raad oor gebed sou wees: as jy behoefte daaraan het, doen dit dan soos en op 'n manier waarmee jy gemaklik is en wat nie in konflik is met die manier waarop jy die lewe verstaan nie.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.