.

Christenskap en ongeletterdheid

Deur Johannes Bertus de Villiers op 1 September 2012

.

Hierdie artikel het op Kletskerk verskyn en is ook op www.johannesbertusdevilliers.co.za gepubliseer.

'n Ruk gelede, kort nadat Christene 'n massiewe boikot-optrede teen Rapport wou begin weens Deon Maas se rubriek in dié koerant, en nadat die helfte van die Christelike bevolking gedreig het om Ster-Kinekor te boikot oor hulle die ateïstiese rolprent The Golden Compass vertoon het, het 'n leser (blykbaar sonder ironie) die volgende SMS-boodskap aan By gestuur: "Baie geluk aan die duisende papbroek polities korrekte Christene wat op die punt gekom het waar hulle die moed het om saam te span om een keer hul geloof te verdedig. Hoekom moet ons altyd die ander wang draai en alles wat na ons kom in liefde aanvaar? Kan ons nie asseblief begin met 'n veldtog teen die misbruik van die Here se naam nie?"

Dit het my laat dink aan 'n voorval wat eeue vroeër plaasgevind het.

Rondom die eeuwending toe die 12de eeu die 13de eeu geword het, het pous Innocentius III onder sy Europese kudde voorbrand gemaak vir 'n militêre veldtog na die Heilige Land – 'n ekspedisie wat volgens hom in die verowering van Jerusalem sou uitloop, maar wat uiteindelik die rampspoedige Vierde Kruistog sou word.

Die Tweede en Derde Kruistogte wat in die voorafgaande eeue plaasgevind het, het vir die Christendom min blywende welslae opgelewer, die helde van die vorige kruistogte was nie weer beskikbaar nie – Richard Leeuehart van Engeland was oorlede en koning Filippus van Frankryk is deur paleisintrige en seksskandale besig gehou. Innocentius III moes dus nuwe rekrute vir sy kruistog vind en dit het hy gedoen deur charismatiese predikers – sê maar die Billy Grahams van sy dag – na die lande van Noord-Europa te stuur om die laer adellikes en die gepeupel deur lewendige prediking met godvrugtige entoesiasme te vul en so soldate vir Christus op te kommandeer.

Een van dié predikers was ene Fulk van Neuilly. Hy was nie die bekendste of die suksesvolste nie, maar hy was nogtans interessant.

Fulk het blykbaar 'n aptyt soos 'n beer gehad en het enigiets geëet wat mense voor hom neergesit het, 'n eienskap wat hom die harte van gewone Christene help wen het in 'n tyd toe die meeste geestelikes anderwêreldse bleeksiele met 'n voorliefde vir die vas was.

Sy prediking het selfs meer gedoen om hom (en die Kruistogte wat hy gepropageer het) gewild te maak. Ons lees hy het 'n dawerende stem gehad. By sommige van sy saamtrekke het hy selfs geloofsgenesings gedoen. En wanneer hy gepreek het, was dit veral sy tirades teen die sonde wat toegejuig is. Sy gunsteling sondaars was geldskieters en owerspelige vroue. Fulk het nie 'n deernisvolle woord oor dié twee groepe te sê gehad nie en kon ure lank uitvaar teen sondaars.

Die gevolg van sy prediking was dat honderde (na sy eie bewering 200 000) Christene hulle as soldate vir die Kruistog aangemeld het.

Die geskiedenis van dié Vierde Kruistog is verder welbekend. Die gepeupel van Europa het ooswaarts gestroom en op pad besluit dat hulle hulself nie sal kan inhou totdat hulle die Moslemlande bereik het nie. Toe hulle die Middellandse See haal, het hulle net daar uit hul pad geswenk en op die stad Konstantinopel – hoofsetel van die Griekse Christendom – neergesak. Die Kruisvaarders, almal Latynse Christene, het dié stad ingeneem, duisende inwoners voor die voet verkrag en vermoor, die kerke afgebreek, die huise geplunder en so die glorie van die Bisantynse Ryk tot 'n skielike einde gebring. Net so. Kaboem! Bloed in die strate.

Daardie SMS-boodskap in By het my aan Fulk van Neuilly laat dink, die Franse godsman met die groot aptyt en die weersin in geldskieters en owerspelige vroue. Hy was hy 'n skakel in dié vrome proses wat uiteindelik op soveel bloedvergieting uitgeloop het, al was hy seker nie 'n noodsaaklike skakel nie.

As mens hom voor jou oë oproep, dan sien jy hoe hy 'n podium of 'n preekstoel bestyg. Aan sy voete is die gepeupel, ongeletterde Christene wat seker nog nooit 'n Bybel voor oë gehad het nie, mense wat nouliks hulself op 'n kaart sou kon vind, wat nog te sê Palestina. En dan het hy begin preek.

Begin preek deur teen die geldskieters en die owerspelige vroue uit te vaar.

As konteks vir jou minder belangrik is, sou jy dit kon begin vergelyk met die Nazi's wat ook hul prediking, die soort wat ook uiteindelik op soveel bloedvergieting sou uitloop, begin het deur teen Jode uit te vaar. Of Mugabe wat (skuim om die mond, wil mens jou voorstel) verklaar dat homoseksuele erger as honde is. Diegene wat daarna luister weet sommer 'n bloedbad van een of ander aard is naby.

Altyd eers die maklike teiken. Die sondaar. Die skare wat "hoor-hoor" skree. Die adrenalien wat begin vloei. Die opgehefte vuiste. Die geslypte kapmesse. Die vrome legioene. Later die krete van 'n vrou wat deur soldate verkrag word. Kinders se bloed.

Fulk se tyd was 'n bloeityd vir die Christendom.

Dit was ook 'n bloeityd vir ongeletterdheid. As mens die syfers glo, was meer as 95% van die bevolking van Europa destyds ongeletterd. Die eerste Bybel sou eers oor 'n paar eeue gedruk word. En wanneer mense die Bybel tydens 'n kerkdiens of 'n mis gehoor het, was dit in Latyn, wat niemand verstaan het nie. Mens kan dus redelik seker wees die skare wat na Fulk geluister het, sou nie juis die Bybel geken het nie. Indien Fulk self ooit 'n Bybel gelees het, het dit waarskynlik nie daardie evangelies ingesluit waarin Jesus sy liefde vir geldskieters en owerspelige vroue verklaar nie.

Maar die Christendom was gespierd.

Ek wonder wat is die geletterdheidsyfer in Nigerië, die land waar die Christendom (en spesifiek die evangeliese soort) die vinnigste groei. Ek wonder hoeveel mense in Brasilië, waar pentakostalisme hand oor voet toeneem, besit Bybels. Die Christendom, besef ons tot ons verbasing, groei die vinnigste daar waar mense nie die Bybel kan lees nie. Daar waar jy teen owerspelige vroue en geldskieters kan uitvaar sonder om jou te hoef te bekommer dat jou gehoor gaan lees dat Jesus eintlik nogal lief was vir owerspelige vroue en geldskieters. Daar waar jy SMS'e kan stuur om Christene teen die draai van 'n ander wang te waarsku, omdat jy weet die meeste Christene is nie baie goed onderlê in die evangelies nie. Mens wonder, is dit moontlik om 'n getalryke en 'n gespierde Christendom te hê daar waar mense die bergpredikasie ken, of ten minste daar waar mense die bergpredikasie ernstig opneem?

Peilings toon tot 90% van Amerikaners is Christene. Meer as die helfte weet nie wie die bergpredikasie gelewer het nie. Meer as die helfte kan nie die tien gebooie opnoem nie. Die meerderheid hou nie van Arabiere en gays nie.

Die SMS in By van 'n Christen wat sy medegelowiges vra om meer veldtogte soos die een teen Maas en The Golden Compass te voer: "Hoekom moet ons altyd die ander wang draai en alles wat na ons kom in liefde aanvaar?" vra dié soldaat-vir-Christus. Dit herinner aan Christen-aktiviste wat briewe ten gunste van die doodstraf vir koerante skryf en dan verklaar dat die Bybel 'n "oog vir 'n oog" gelas. Dié mense is nie ongeletterd nie. Hulle is bloot mense wat nog nie die Bybel gelees het nie, hul woorde sê dit by implikasie self.

Wanneer was die Christendom op sy sterkste? In die ongeletterde Middeleeue.

Wanneer het mense die wapen opgetel vir Christus (benewens nou Petrus se oorkappery)? In die Kruistogte, toe elke provinsie in Europa se enigste Bybel 'n handgeskrewe Latynse manuskrip êrens in 'n klooster was.

Mense wat afskeid neem van die veglustige tipe Christendom, so lyk dit vir my, doen dit dikwels nie omdat hulle minder gereeld die Bybel lees nie, maar eerder omdat hulle méér gereeld die Bybel lees.

As daar iets in die Bybel is wat bowenal die moeite werd is (ek weet nie self of dit daar is nie, ek hoop so, en ek soek die versies uit wat vir my na so iets lyk), is dit iets wat jou van vrees vrymaak. Nie net die vrees vir Deon Maas en vrees vir The Golden Compass en die vrees vir Gareth Cliff nie, maar vrees vir sondaars en vrees vir straf.

As jy van vrees vry is, hoef jy nie meer die dinge te doen wat Kruisvaarders doen nie. Dan draai jy steeds nie altyd die ander wang nie; jy wil nie altyd nie en jy hoef nie altyd nie. Maar soms doen jy dit wel, want jy voel nie jy hoef om jou oorlewing te veg nie.

As jy van vrees vry is, het jy nie 'n probleem daarmee om mense te vergewe as hulle anders as jy dink nie, want jy weet dit maak aan jou en hul siel se ewige lot geen verskil nie.

En as jy van vrees vry is, het jy geen probleem daarmee om jou naaste – sommige in elk geval – so lief te hê as jouself nie, want jy weet mense is belangriker as idees.

Johannes Bertus de Villiers –

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.