.

Die Christendom se gelukkige krisis

Deur Dr. Piet Muller op 1 Maart 2013

.

In haar boek Christianity After religion: The End of the Church and the beginning of a New Awakening, verskaf die Amerikaanse godsdiensnavorser, Diana Butler-Bass die volgende statistieke oor geloof in Amerika. Sy wys daarop dat sedert 1960 het die aantal Amerikaners wat sê dat hulle aan God glo afgeneem van 97% tot 71% ('n val van 26 punte). Net 20% van Amerikaners woon weekliks 'n erediens by. Ongeveer 44% van alle Amerikaners het die kerk waarin hulle opgegroei het verlaat vir 'n ander kerk of ander godsdiens. In 2010 was die derde grootste geloofsgroep in Amerika onafhanklike jong mense sonder 'n vaste kerk, vaste geloofsoortuigings, 'n besondere teologie of 'n enkele aanvaarde opvatting oor God.

Die Christendom beleef tans 'n ernstige krisis, maar dit is 'n 'gelukkige' krisis waaruit hy sterker en lewenskragtiger behoort te kom.

Die afgelope 2000 jaar het die kerk nog elke 500 jaar deur 'n eksistensiële krisis gegaan wat tot 'n ernstige skeuring aanleiding gegee het, maar waaruit nuwe groeikrag gebore is.

Aan die einde van die eerste periode het die kerk as instelling, die "ortodokse" of regdenkende kerk, met die hulp van die staatsmag sy gesag oor alle Christene gevestig en bepaal wat 'regdenkende Christene' moet glo. Die verloorders in hierdie stryd was die oorspronklike 'Judese Christene' en die 'gnostici', wat nie oorhoofse gesag oor hulle wou aanvaar of hulle wou laat voorsê oor wat en hoe om te glo nie.

Uit hierdie stryd het die "regdenkende (ortodokse) en algemene (katolieke) kerk" sterk na vore gekom en was sy gereed om haar stempel op Europa af te druk tydens die donker eeue, wat op die val van Rome gevolg het. Dit was aan die kerk te danke dat 'n vlammetjie van die beskawing brandend gehou is en Europa nie totaal in barbarisme verval het nie.

Aan die einde van die eerste millennium het die verborge spanning binne die kerk egter na vore gekom in dispute oor die aard van God en sy aktiwiteite; oor wie is Christus Jesus en hoe verlos hy ons? Hoe vergelyk Jesus-aan-die kruis met die Jesus van die Berg van Verheerliking? Wat is sonde en waar moet die oorsprong daarvan gesoek word?

Hierdie spanning het so ondraaglik geword dat dit oorgespoel het in die politiek van die dag en die oorblyfsel van die Romeinse Ryk het op kultuurlyne geskeur tussen die Griekssprekende Ortodokse kerk en die Latynsprekende Katolieke Kerk.

Albei was na die skeuring aansienlik lewenskragtiger as die kerk voor die skeuring. Die Roomse Katolieke kerk het haar bekeringswerk na die res van Europa en Brittanje voortgesit, terwyl die Grieks Ortodokse kerk veral die Slawiese lande bearbei het en 'n reeks van Ortodokse volkskerke gestig wat tot in Rusland gestrek en selfs die verowering van Konstantinopel deur die Turke oorleef het.

Na die val van Konstantinopel in 1453 vlug honderde geleerdes Weste toe en dra soveel boeke as wat hulle kan met hulle saam. Hierdie geskrifte, wat in Europa meesal onbekend was, dra ruim by tot die ontstaan van die Renaissance, wat alles wou ondersoek en dus ook alles bevraagteken het.

Sterrekundiges begin die hemelruim ondersoek en maak die skokkende ontdekking dat die son nie om die aarde draai nie, maar die aarde wel om die son. Teoloë begin die Bybel in Grieks en Hebreeus lees en beweeg al verder weg van die Roomse kerk.

Portugese, Spanjaarde, Hollanders en Engelse onderneem ontdekkingsreise en open nuwe seeroetes waarmee goedere, geld en idees tussen die Ooste en die Weste vloei. Terselfdertyd begin 'n nuwe nasionalisme in Europa posvat en skaaf die tuig van die Heilige Romeinse Ryk later so hard dat 'n dertigjarige oorlog uitbreek en volkstate, met 'n eie taal en kultuur, 'n werklikheid word.

Teen hierdie tyd het die Hervorming al die Rooms Katolieke kerk in twee geskeur en die Christelike wêreld van die Weste verdeel in Katolieke en Protestante. Twee lewenskragtige 'Christendomme' ding nou met mekaar mee om mag en die stig van kolonies.

Nou is dit al weer vyfhonderd jaar later en intussen het die spuitvliegtuig en globalisering die grense tussen Oos en Wes uitgewis. Godsdienste uit die 'uithoeke' van die wêreld het in die hoofstroom beland en ding openlik en op gelyke voet met die Christendom mee.

Boonop is dit 'n onsekere wêreld waarin verwag word dat ons in een eeu die ekwivalent van 20 duisend jaar se verandering gaan beleef. Nuwe beroepe verskyn soos meteore en verdwyn net so vining. Die aard van die verhouding tussen werkgewer en werknemer het verander en skielik bestaan daar geen werksekerheid meer nie. Vertroude samelewingstrukture, soos die huwelik, is besig om te verdwyn en plek te maak vir nuwe waardes. Die grootste volksverhuising in menseheugenis is besig om plaas te vind en dit is haas onmoontlik om jou nog in die veiligheid van jou eie taal en kultuur te isoleer.

Die groot Katolieke hervormer van die twintigste eeu, Karl Rahner, het in sy lewe nog gewaarsku dat die Christendom van die toekoms oral op aarde 'n minderheidsgroep sal wees, omdat die wêreldbevolking vinniger sal groei as die aantal Christene. "Die kerk sal 'n klein kuddetjie van broers van dieselfde geloof wees, met dieselfde hoop en dieselfde liefde."

Gelowiges sal dus, ondanks kerklike verskille, met mekaar moet leer saamleef en saamwerk.

Na die eerste dekade van die Een en Twintigste Eeu kan 'n mens al die volgende afleidings maak:

Vir die "Nuwe Christene" is veral Jesus se lewe en leringe belangrik en hulle wil dit gebruik as rigtingwysers vir die vind van nuwe waardes in 'n veranderende wêreld. Hierdie groep lyk in oortuiging en optrede baie soos die Judese Christendom wat kort na Jesus se dood ontstaan het. Selfs die huiskerk en die rondreisende leeraar maak weer hul verskyning.

Hierdie groep sê graag dat hulle spiritueel is maar nie godsdienstig nie. Hiermee bedoel hulle dat hulle 'n nuwe manier soek om met God, hul naaste en hulself om te gaan – en dat hulle dit nie in die tradisionele kerke vind nie.

Vir albei hierdie strominge lê daar op die kort termyn groot demografiese probleme voor. In die Eerste Wêreld het die bevolkingsaanwas 'n historiese laagtepunt bereik, terwyl die bevolkingsgroei stellig tot 2040 toe sal aanhou styg in die Ontwikkelende Wêreld. Daarna sal dit afplat tot die peil van die Eerste Wêreld vandag.

Die kerk in die Eerste Wêreld word vandag grootliks gedra deur mense tussen 50 en 80. Hierdie geslag "Baby Boomers" (gebore na 1947) was vir 'n yslike styging in die wêreld se geboortekurwe verantwoordelik. Die nuwe lewensverwagting ten spyt, gaan hierdie geslag van 2018 af op groot skaal begin uitsterf. Hierdie "Groot Sterfte" sal 'n dramatiese uitwerking hê op die ledetal van tradisionele kerke. Verwag dus dat die middelpunt van die Christendom vanuit die Eerste Wêreld na Afrika en Suid-Amerika sal verskuif.

Ter wille van oorlewing sal Protestant, Katoliek en Ortodoks op 'n ongekende skaal moet leer saamwerk. Terselfdertyd plaas die ongekende bevolkingsverhuising en die Ontwikkelende Wêreld se bevolkingsaanwas hierdie kerke toenemend onder druk van veral Islam.

Wanneer die bevolkingsaanwas na 2040 sterk begin afneem en die uitwerking van sekularisasie begin toeneem, mag die tradisionele kerk sowel as Islam besef dat hulle meer norme en waardes deel as wat daar sake is wat hulle verdeel. Hulle mag dus gedwing word om toenemend saam te werk ten einde 'n "konserwatiewe pool" te vestig – soos wat geruime tyd reeds al in die Kaap besig is om te gebeur.

Die "Nuwe Christendom" mag in die tweede deel van hierdie eeu die draer word van "liberale en humanitêre" waardes, soos medelye, medemenslikheid en geweldloosheid. As sodanig sal dit waarskynlik 'n sterk invloed op die politiek uitoefen.

Verwag egter dat die "Nuwe Christendom" sterk beïnvloed sal word deur die Boeddhisme, met wie dit belangrike waardes sal deel.

Vir alle wêreldgodsdienste sal die Een en Twintigste Eeu 'n smeltkroes wees, vergelykbaar met die eerste drie eeue van die Christendom se geskiedenis. Oor wat uiteindelik hieruit sal ontstaan kan 'n mens nog nie eens begin droom nie.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.