Die Christendom is nie besig om te sterf nie

Deur Dr. Piet Muller op 1 Februarie 2011

Die Christendom is beleef een van sy periodieke "500-jaar-krisisse", waaruit dit waarskynlik sterker en meer "eietyds" te voorskyn sal kom. En soos voorheen in die geskiedenis, sal daar weer twee "kerfamilies" wees wat mekaar met argwaan bejeën.

Verskeie berigte die afgelope tyd oor kwynende lidmaatgetalle en die feit "dat die Afrikaner minder godsdienstig raak", kan die indruk werk dat 'n mens hier met die laaste stuiptrekkinge van die Christendom te doen het. Wanneer 'n mens egter probeer om 'n toekomskundige perspektief op die verskynsel te kry, stuit jy gou teen die feit dat die kerk (in die wydste sin van die woord) en godsdiens in die algemeen, nog nooit voorheen so 'n uitstekende 'sakegeleentheid' was soos tans nie.

Wêreldwyd word die waarde van byvoorbeeld die Christelike uitgewersbedryf sowel as die musiekbedryf in miljarde bereken!

Dit is egter eers wanneer 'n mens op die afgelope 2000 jaar se geskiedenis terugkyk, dat 'n mens werklik perspektief kry op wat besig is om te gebeur. Die kerk het tot dusver nog elke 500 jaar 'n 'krisisperiode' beleef waaruit dit telkens in twee radikaal nuwe gedaantes te voorskyn gekom het en beter aangepas was by die politieke en maatskaplike omstandighede van sy tyd.

In die eerste periode na Jesus se dood het die meeste Christene sy radikale koninkryksgedagte uitgeleef, deur armes en vreemdelinge by te staan, gevangenes te besoek, siekes te verpleeg en selfs vreemdelinge en armlastiges te begrawe.

Die eerste 'krisis' het begin toe keiser Konstantyn op die toneel verskyn het. Hy het pas 'n bloedige burgeroorlog gewen en na 'n manier gesoek om sy verskeurde ryk weer te verenig. Dit het hy in gevind in die vorm van die Christendom wat by die norme en sedes van die Romeinse Ryk aangepas het.

Hoewel hy self nie altyd besonder moreel gelewe het nie, was hy 'n geniale visioenêr wat besef het dat 'onder die regte bestuur' die Christendom uiteindelik in staat sal wees om al die verskillende geestelike hoofstrominge binne sy ryk bymekaar te bring in een omvattende godsdiens. Dit was presies waarna hy gesoek het: een God, een Keiser, een Kerk, een Ryk.

Waar sy voorgangers dikwels die Christene vervolg het, het hy dit tot wettige godsdiens verklaar en selfs 'n vergadering van biskoppe uitgenooi om onder sy voorsitterskap in die stad Nicea bymekaar te kom om leerstellige kwessies uit te klaar.

Let wel, hy het net biskoppe genooi! 'Demokratiese' gemeentes, wat nie deur biskoppe regeer is nie is buite rekening gelaat. Wat Konstantyn gesoek het was sterk gesag, want die Romeinse Ryk was in wese 'n gesagstaat waarin vrydenkers nie welkom was nie.

Konstantyn se ideaal van een God, een Keiser, een Kerk, een Ryk het net 500 jaar geduur voordat taal en politiek dit uitmekaar gekeur het.

In die tyd van Jesus was die algemene omgangstaal in die Romeinse Ryk nog Grieks. Konstantyn het die antieke Griekse stad Bisantium laat herbou en na homself herdoop tot Konstantinopel. Dit het egter nie beteken dat Rome sy droom van die herstel van sy eertydse glorie ooit vergeet het nie.

Geleidelik het die gebruik van Grieks in die Wes-Romeinse Ryk plek gemaak vir Latyn en het die Pous van Rome dieselfde status en gesag opgeëis as die Patriarg van Konstantinopel. Waar die Ou Testament lank voor die geboorte van Jesus al in Grieks vertaal was (die sg. Septuagint), is sowel die Ou- as die Nuwe Testament nou in Latyn vertaal (die Vulgaat) en het 'n stryd ontstaan oor waar die gesag van die Christendom gesetel is: Konstantinopel of Rome; by die Patriarg of by die Pous?

Hierdie stryd, saam met leerstellige kwessies, het later so erg geword dat die Ryk sowel as die kerk in twee geskeur het. In die Ooste het die Grieks Ortodokse kerk, met sy mistieke teologie, die enigste verteenwoordiger van die Christendom geword, en in die Weste het die Rooms Katolieke kerk dieselfde rol gespeel, met die Pous as oppergesag en Latyn as die enigste kerktaal.

Dit is binne hierdie kerk dat die leerstelling van erfsonde ontwikkel is en die teologie van 'n mensdom wat so verdorwe was dat net die offer van 'n onskuldige wese, wat volkome God en volkome mens was, God se woede teen die mensdom kon besweer. Twee leerstellings wat vandag nog deur die meeste Westerse Christene beskou word as so 'essensieel Christelik', dat as 'n mens nie daaraan glo nie, jy nie 'n Christen kan wees nie.

Die kruistogte om die "Heilige Land' uit die hande van die 'heidene' te bevry, het Europa met 'n skok laat besef hoe ver hy veragter het, teenoor Islam wat met rasse skrede ontwikkel het – hoofsaaklik omdat vlugtende 'ketters' klassieke werke saam met hulle geneem en in Arabies vertaal het. So het Islam die erfgenaam van die klassieke Grieks-Romeinse kennis geword, terwyl Europa in 'donker eeue" verval het, omdat die Bybel verhef is tot die enigste betroubare gesag oor alle wetenskaplike sake.

Die reaksie hierop was die Renaissance of wedergeboorte van geleerdheid, wat die Christendom voorberei het op sy volgende groot krisis. As deel van die Renaissance is die grondtale van die Bybel weer bestudeer en is opvallende foute in die Latynse vertaling van die Bybel blootgelê. Terselfdertyd het die aansprake van verskillende pouse teen mekaar, die leer van die onfeilbaarheid van die Pous 'n doodsteek gegee.

Die volgende 500-jaar-krisis, wat bekend staan as die Hervorming, het die grondslag gelê van die 'moderne' wêreld. Dit was nie net 'n intellektuele en teologiese krisis nie maar ook 'n uiters bloedige politieke krisis, wat na dertig jaar se oorlog die grondslag gelê het vir die ontstaan van nasionale state, elk met 'n eie taal en kultuur.

Martin Luther se antwoord op die vraag waar die gesag van die Christendom gesetel is, was kort en kragtig: in die Skrif self. Die suksesvolste van die Protestantse kerke, wat uit hierdie krisis gebore is, was die Calvinistiese kerkfamilie, wat 'n feitlik volmaakte uitdrukking was van die gees van die tyd – demokraties van bestuur, ondersoekend en simpatiek teenoor die wetenskap – maar let wel, 'n wetenskap soos gedefinieer deur die Franse filosoof en wiskundige, René Descartes: 'n wetenskap wat die materiële dinge ondersoek, terwyl die siel die domein van die kerk is!

Die sukses van die Hervorming moet in 'n groot mate toegeskryf word aan die uitvinding van die boekdrukkuns, wat nuwe idees vinnig en goedkoop kon versprei. Maar hoe vinniger kennis versprei kan word, hoe vinniger ontstaan nuwe kennis en hoe vinniger verander die wêreld rondom ons. Aan die begin van die 21ste eeu het kennis omtrent elke nege maande verdubbel. Slegs tien jaar later kon die Amerikaanse toekomskunde, Ray Kurtsweil voorspel dat ons in die 21ste Eeu die ekwivalent van 20 000 voorafgaande jare se ontwikkeling binne een eeu gaan beleef. Dit is hierdie snelle tempo van verandering wat die huidige 500-jaar-krisis binne die kerk veroorsaak het.

In 1859 het Charles Darwin sy opspraakwekkende boek, On the origin of Species, gepubliseer. Daarin sit hy sy teorie uiteen dat alle lewe 'n gemeenskaplike oorsprong het en dat 'n proses van natuurlike seleksie om spesies by die behoeftes van hul omgewing te help aanpas, die rede is vir die groot aantal spesies diere op aarde.

Hierdie teorie het uiterse ongemak in kerklike kringe veroorsaak, omdat dit René Descartes se aanname dat materie die gebied van die wetenskap is en die siel die gebied van die teologie, omvergewerp het. As Darwin se teorie korrek is, beteken dit dat die mens (wat volgens die kerk die draer van 'n siel is) afstam van wesens wat geen siel het nie. 'n Siening wat die letterlike vertolking van die Bybelse skeppingsverhaal, en dus die Skrifgesag, in gedrang bring.

Die kerk het nog onder hierdie 'aanslag' gesteier, toe Freud en daarna Jung op die toneel verskyn, en die begrip 'siel' in gedrag gebring het.

Hulle het die psige, die 'siel' van die mens in detail beskryf en duidelik laat deurskemer dat dit ook 'n baie a-morele en donker kant het en dat die diepste laag daarvan – die kollektiewe onbewuste – in allegorieë en beelde 'praat'. Ook dat Bybelse verhale, soos die van Jona en die Vis en selfs Adam en Eva op 'n allegoriese vlak verstaan moet word, soos wat 'n mens drome en sprokies moet verstaan. Iets wat die groot kerkvader, Origenes, drie 500-jaar-krisse tevore al gesê het, maar waarvan die kerk intussen vergeet het.

Jung en sy geniale jonger kollega, Joseph Campbell, het selfs daarop gewys dat die Christus-verhaal 'n "argetipe' (oerverhaal of mite) oor die groei en ontwikkeling van die mens se Self is, is wat in verskeie godsdienste voorkom.

Soos Martin Luther se idees deur die boekdrukkuns onder die breë massa versprei is, is hierdie idees gepopulariseer deur middel van die radio en televisie.

In 1960 is Die Pil vir die eerste keer op die mark geplaas, wat die gevestigde sosiale orde omver gewerp het. Vroue kon vir die eerste keer langtermynloopbane beplan, wat die hoeksteen van die Reformatoriese spiritualiteit, die gesin, tot in sy wortels geskud het.

Voeg hierby dat moderne teksnavorsing getoon het dat daar nie 'n enkele grondteks bestaan waaruit die tekste van die Nuwe Testament vertaal kan word, wat sonder foute is nie – van gewone oorskryffoute tot opsetlike veranderinge om by heersende teologiese interpretasies aan te pas.

Boonop het daar in die tweede helfte van die twintigste Eeu drie dinge gebeur wat die wêreld se godsdienskaart deurmekaar gekrap het:

Die resultaat hiervan was heel onverwags: Die (meestal Protestantse) Christendom is in die state van Suid-Oos Asië, Afrika en Suid-Amerika geplant, terwyl talle jong Amerikaners as oortuigde Boeddhiste en Hindoes huis toe gekeer het, en hierdie nuwe gelowe in Amerika geplant het.

So het 'n nuwe wêreld begin waarin kerk, tempel, sinagoge en moskee dikwels in een straat staan. Baie soos wat dit in die tyd van Jesus self was.

Die Internet het aan gewone mense toegang tot die opvattings en liturgieë van ander kerke en godsdienste gebied en getrou aan die post-moderne leefstyl het hulle spoedig onderling elemente by mekaar begin 'leen'. In die Katolieke Frankryk gaan sowat 5% van die mense gereeld mis toe, maar sowat 25% mediteer of het reeds met meditasie geëksperimenteer.

Die Amerikaanse godsdienskryfster, Phyllis Tickle, verduidelik in haar boek The Great Emergence hoedat die vier hoofstrome binne die Christelike kerk in die 1960's onderling by mekaar begin leen het. Hierdie strome beskryf sy as die "liturgiese kerke" (Rooms Katoliek, Anglikaans, Grieks Ortodoks, Kopties ens.) en naas hulle "Sosiale geregtigheid-kerke" (soos die Metodiste byvoorbeeld). Onder hulle plaas sy die "Vernuwers", waaronder veral die Pinksterkerke en die Charismatiese kerke inpas. Teenoor hulle plaas sy die Konserwatiewe kerke, wat in die verlede al beskryf is as Teokraties, Evangelies of Hoofstroom.

Teen die jare tagtig was hierdie gerieflike afbakening lankal nie meer 'n goeie beskrywing van die kerke in Amerika nie, omdat die kerke onderling en oor en weer van mekaar elemente oorgeneem het en daar 'n groeiende groep kerke was wat al hoe sterker gegroepeer was rondom die punt waar die vier lyne van die kwadrant bymekaar kom. Hierdie groeiende groep kerke is gaandeweg die "Ontluikende kerke" genoem en dit was nie langer meer moontlik om hulle binne enige van die kwadrante te plaas nie. Hulle staan, ook in Suid-Afrika, meesal bekend as "onafhanklike kerke", "interkerklike kerke" en "gemeenskapskerke". Hul kerklike bestuurstyl is "entrepreneuries".

Boonop het TV en die Internet hierdie verskynsel sterk aangedryf, omdat dit mense wat voorheen min van mekaar sou weet aan mekaar blootgestel het. Dit het 'n Christelike "vlooimark" geskep waarop gelowiges elemente kon "koop" en tot nuwe modes bymekaar kon aanpas.

Die Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, wat 'n martelaarsdood onder die Nazi's gesterf het, het eenmaal gesê dat die Christendom soos 'n breë en taamlik droë rivierloop is, waarin twee stroompies parallel langsmekaar vloei – die fundamentalistiese en liberale Christendom. Sy ideaal was dat daar eendag soveel water in die rivierloop sal afkom, dat die twee strome teen wil en dank saam met die hoofstroom gesleep sal word.

Dit is klaarblyklik wat nou in Amerika en Engeland besig is om te gebeur.

Daar word geskat dat teen die tyd dat hierdie "ontluiking" afgehandel is, sowat 60% van alle Amerikaanse Christene aan kerke binne die Ontluikende groep sal behoort. Dit gee 'n mens die idee dat hierdie proses in Suid-Afrika nog maar in sy kinderskoene staan, omdat die "hoofstroomkerke" getallegewys steeds taamlik sterk staan.

Maar al behoort slegs sowat 30% tot 40% van alle christene uiteindelik aan die ou hoofstroomkerke, speel hulle nogtans 'n groot rol binne die proses van ontluiking: hulle verleen die stabiliteit, waarsonder die proses van middelpuntsoeking waarskynlik chaoties sal word en uitmekaar val.

Hierdie kerke speel 'n sterk fasiliterende rol in die ontwaking, maar sal waarskynlik in die toekoms nuwe sin vir hulself vind deur "nog meer te word soos wat hulle oorspronklik was", soos Tickle dit stel. By gebrek aan betroubare godsdiens-sosiologiese gegewens oor Suid-Afrika, moet 'n mens teen wil en dank die Amerikaanse model gebruik om ontwikkelinge by ons te probeer verstaan.

In Suid-Afrika sien 'n mens reeds watter groot fasiliterende rol die Rooms Katolieke speel in die nuwe "ontluiking". Die Katolieke retreat-sentrum Good Shepherd, by die Hartebeespoortdam naby Pretoria, is bykans al 'n jaar vooruit vol bespreek – meesal deur nie-katolieke groepe wat daar byeenkom onder die een of ander vaandel van die "Groot Ontluiking". En dat Katolieke nonne kursusse aanbied vir NG- en ander Protestantse kerklidmate is niks snaaks meer nie.

Die feit dat sowat 60% van alle gelowiges hulle uiteindelik in die Ontluikende groep sal bevind, beteken nie dat daar 'n nuwe superkerk besig is om te ontstaan nie. Dit is baie duidelik dat die Ontluikendes besig is om na die twee teenoorgestelde oewers van die "rivier" te beur.

Phillis Tickle beskryf dit as die ortonomiese stroom en die teonomiese stroom.

Ortho is die Grieks vir die regte ding om te doen. Nomos is in die Griekse filosofie byna 'n mistieke woord. Dit het oorspronklik beteken die reëls wat resonansie en harmonie in musiek en die poësie waarborg. In die Griekse vertaling van die Ou-Testament is dit ook gebruik vir die wette van God. Tickle beskryf dit as "die onuitsêbare skoonheid van die goddellike, veral wanneer dit beslag vind in tyd en ruimte."

Orthonomie sal dus die 'korrekte harmonie' wees waarna gestreef moet word binne 'n Christelike kerk. Vir hierdie christene is 'n stryd oor leerstellings soos die drie-eenheid, die maagdelike geboorte en die letterlike opstanding haas onbegryplik. Die feitelikheid hiervan of nie, het volgens hulle weinig met die saak te doen. Dit is eenvoudig "so mooi" dat dit spiritueel of allegories waar kan wees, sonder dat dit noodwendig histories of wetenskaplik waar is. Hierdie kerke sal ook weinig waarde heg aan geloofsbelydenisse – en selfs sakramente – soos wat die Kwakers al eeue lank doen.

In Suid-Afrika sou die Nuwe Hervorming Netwerk en die Renaissance gemeentes hulle uiteindelik binne die ortonomiese groep kon bevind.

Teonomie is 'n samestelling van theos (God) en nomos. Vir die teonomiese kerke is God die enigste bron van die ware en die goeie. Die vraag is net: Hoe peil 'n mens God se wil? En dit bring 'n mens terug by Luther se beginsel van Sola scriptura, die Skrif alleen.

Maar hoe gemaak as verskillende kerke die Skrif verskillend uitlê en as die jongste Skrifnavorsing lyk of dit die tradisionele gesag van die Bybel ondermyn?

Die "Groot Ontluiking" het by ons maar pas begin! Maar wanneer dit afgehandel is, sal die grense tussen kerke waarskynlik minder rigied wees – die dialoog tussen hulle hopelik minder bitsig.

Geraadpleegde bronne

Butler Bass, Diana: A People's History of Christianity
Muller, Piet: More is 'n Nuwe Spel
Tickle, Phyllis: The Great Emergence
Sien ook www.thunderstruck.org

Dr. Piet Muller

Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za