Christelike dogma en ek

Deur Frik van Eeden op 1 Augustus 2011

Om vir myself klarigheid te kry oor waar ek staan en waarheen ek op pad is met geloof en spiritualiteit, het ek 'n kort samevatting oor die verloop van my pad uit die dogma na die lig geskryf. Mens dink mos intenser en meer verantwoordelik as jy goed op papier begin neersit en veral as jy beplan om dit moontlik in die "public domain" bloot te stel.

Ek sou baie graag van ander "bevrydes" wil hoor hoe hulle paaie vanuit die dogma na hulle individuele weergawes van die lig, geloop het.

Agtergrond

Ek het grootgeword in 'n boere-ouerhuis met godvresende ouers wat my klein laat doop het ooreenkomstig die gebruik in die NG Kerk en my die christelike pad geleer het soos dit deur die baie voorgaande geslagte gedoen is. Kinderkrans, Sondagskool, katkisasie, KJV – die "full house".

In die 1970's en vroeë 1980's was ek soos die tipiese Afrikaanse man van daardie tyd met 'n jong gesin, besig om loopbaan te bou, in die Rapportryers, in die "regte" party, sportmal, het nooit 'n geloftedagviering gemis nie en was ywerig op die plaaslike kerkraad en sendingkommissie bedrywig, overgeset synde – jou standaard Afrikaner.

My geloof was fundamentalisties met die volgende kenmerke:

Die Bybel was die letterlike, onveranderbare woord van God wat alle antwoorde oor alles bevat het – jy moes net soek en dalk bietjie verbeelding gebruik. Wetenskaplike verklarings vir die heelal en die lewe was gesien as ondermyning van die geloof – dus sonde – oor-en-uit!

Darwin was 'n ander naam vir "duiwel" en die "evolusieleer" was die duiwel se Genesis. Die "big bang" teorie was die breinkind van slim wetenskaplikes met 'n "duiwelse" agenda. Hierdie baanbreker-wetenskappe was vreemd vir ons ouens en is gesien as aanslae deur die "Illuminati" geïnspireer deur die duiwel, om die christelike geloof tot niet te maak.

Die bestaan van die duiwel en demone was noodsaaklik. Ontkenning van die bestaan van die duiwel het by ons dieselfde reaksie en emosies uitgelok as ontkenning van die bestaan van God.

Baie ouens het geglo die aarde is 8000 jaar oud – want "die Bybel sê so." Dit was my eerste probleem met die fundamentalisme want ek is wetenskaplik opgelei en het verstaan hoe die ouderdom van rotse in die aardkors, bepaal word.

'n Groot klomp van ons (ek inkluis) het geglo dat die wederkoms in 1988 gaan plaasvind omdat Hal Lindsey dit "baie logies" uit die Bybel afgelei het in sy boek The Late Great Planet Earth.

As ons met ateïste te doen gekry het, is hulle aangevat met die standaard "toolbox" wat ons by kursusse geleer het. Dit werk in elk geval nie met ateïste nie maar dit het ons min gepla want dit was verderaan die duiwel se probleem – ons het "ons deel" gedoen.

Gay persone is gereken as afvalliges met 'n perverse streep wat doelbewus gekies het om die homoseksuele lewenstyl te leef – dus het hulle volgens ons, die "sonde" gekies en moes hulleself bekeer. As hulle nie tot bekering wou kom nie, is hulle uitgestoot en aan die duiwel oorgelaat om die las van ons hande af te haal – een van die duiwel se baie rolle.

Dikwels is daar intens gebid vir een of ander saak, soos siektes en allerhande behoeftes. Dit was baie frustrerend want ons het gevind dat God die genesing van baie siektes weerhou en dat hy geen beskerming teen teëspoed aan sommige toegewyde kinders van hom bied nie. Om ons eie onrus en onsekerheid te sus, was ons dus genoodsaak "to pass the buck", in baie gevalle deur die mislukking van ons voorbidding te wyt aan die ongelukkige lyer se ongeloof – "broer, dis omdat jy nie glo nie" of die verlammende "dis die Here se wil en jy moet maar berus" of die onverkwikkende "eendag sal jy terugkyk en verstaan hoekom jou gebed nie verhoor is nie."

Vroue moes 'n bepaalde rol in die kerk vervul. Toe 'n klompie vroue 'n protes-aksie teen die dra van hoede in die kerk begin het, het die drie sesse in ons koppe opgedoem en 1 Timoteus was die "flavour of the month."

Afvalligheid was met kille doeltreffendheid hanteer. Toe 'n vriend van ons begin logies en verantwoordelik dink en die kerk en geloof versaak het, was ek voor in die koor om hom te verdoem en het gewonder of hy nie dalk 'n gewas op die brein gekry het nie.

Die absurditeit van die drie-eenheid idee het ons genoop om 'n ewe absurde benadering te volg naamlik: God as die "Groot Vader" skep en onderhou alles en straf jou as jy droogmaak. Jesus red, verlos en troos jou as jy ly of huil. Die grys areas en los rolle tussenin, is deur die Heilige Gees ingevul. Ons het allerhande stories geken om die drie-eenheid te probeer verduidelik: Die boom en die stam en die sap; die een elektriese stroom en die drie gloeilampies; ens; ens; ens – almal ewe ontoepaslik en wat geen logiese ontleding kan oorleef nie.

Stampe aan die rytjie domino's

Dit was nie aardskuddende gebeure wat my uiteindelik die kerk en die christelike dogma laat versaak het nie. Dis klein goedjies en my eie nuuskierigheid en denke wat oor 'n lang tyd op my ingewerk het:

1952:  Sondagskool. My huiswerk was een dag om te kom vertel hoeveel kruiswoorde Jesus gesê het. Ek het Matteus en Markus bestudeer en het twee ontdek – dieselfde twee in beide evangelies. Ek dog toe OK dis genoeg en het die ander evangelies gelos. Die volgende Sondag moes ek verneem daar is sewe kruiswoorde; twee in elk van Matteus en Markus; drie nuwes in Lukas en nog twee nuwes in Johannes. My vraag op daardie jong ouderdom was hoekom vertel die evangelieskrywers hierdie belangrike storie elkeen so anders. Johannes klink in party gedeeltes selfs of hy van heeltemal 'n ander ou skryf – onder andere vertel sy Jesus nie eers een van die mooi gelykenisse nie! Verder het ek eendag ontdek dat 1 Samuel sê Dawid het Goliat doodgemaak en dat 2 Samuel sê dat Elgahan hom doodgemaak het... Ek het nog vele ander anomalieë ontdek en niemand kon my kleintyd-vrae bevredigend beantwoord nie en dit is alles in my onderbewuste gebêre.

1963:  Een van my hegste vriende openbaar aan my dat hy gay is en 'n vriend in die stad het. Lang gesprekke het gevolg om oor die skok te kom aangesien ek hom nie as vriend wou verloor nie. Ek begryp deur al ons gesprekke heen dat hy nie gekies het om so te wees nie en dat die christelike geloof (waaraan hy baie geheg was) hom nie kon verander nie omdat hy basies nie kon verander nie. Die behoud van ons vriendskap, die insig in sy natuur en die respek vir hom, het die fundamentalistiese siening oor gays verwerplik laat word.

1969:  Ek lees een middag in 'n filosofieboek van 'n studente-vriend om die tyd te verwyl. Ek ontdek Bertrand Russel en is aangenaam verras deur die man se logika – dis of mens se intellek baai daarin. Ek het ook 'n hoofstuk van hom gelees met die naam Why I am an Atheist. Skokkend logies en ek het die boek dadelik toegeklap. Die gedagtes het egter in my onderbewuste gaan lê.

1981:  Ek stap deur die Westminster Katedraal in Londen en wat sien ek: Hier lê Charles Darwin begrawe tussen konings, naby Newton nogal. Die regeerders en kerke van die Groot Britse Ryk het Darwin hier kom begrawe, sekerlik vir baie goeie redes. Iets in my kliek: Ons ou klomp Christene daar aan die Suidpunt van Afrika is besig om iets te mis! Die gedagte word geliasseer.

1982:  Ek lees van 'n baie prominente NG predikant en 'n egpaar wat huilend uit sy kantoor gekom het omdat hulle drie-maande-oue kind dood is sonder om gedoop te wees en ooreenkomstig die dominee se interpretasie van die dogma, daarom in die hel gaan beland. Dit het my hewig ontstel. Die gedagte word geliasseer.

1988:  Hal Lindsey se profesie oor die wederkoms was toe 'n klomp bollie. Hy en sy volgelinge se geploeter was (en is nog steeds) pateties.

1992:  Ek doen Bybelstudie en hoewel ek jare al bewus was van anomalieë en totaal absurde gedeeltes in die Bybel, het dit my toe ernstig begin pla. Dit het nie meer gehelp om dit "die geheimenisse van God" te noem nie.

2001:  Na jare se intense oplees en nadenke verstaan ek uiteindelik baie meer van die sinmakende evolusieteorie. Die verskeidenheid van lewe om my het al die eienskappe van "wonders" aangeneem. Wetenskaplik-kenbare wonders hierdie keer wat die tradisionele soort "wonders" in die agtergrond laat vervaag het. Ek het op treffende wyse besef ons is net hoër as die ape – nie "net minder as die engele" nie, en dit het my meer waarderend ten opsigte van my eie aard en die natuur om my gemaak. Ek bestudeer en begryp die ewe verstommende "Big Bang" teorie en die gepaardgaande sintese van die swaarder elemente binne-in sterre se ingewandes. Die insig in Karl Sagan se woorde: "The cosmos is within you – you're made of star-stuff" was 'n aha-belewenis.

2007:  In my voortdurende soeke om agter te kom wat die Bybel rêrig is, begin ek lees in Prof. Bart Ehrman se dikwels moeilik-leesbare werke, oor die Bybel se oorsprong en ontwikkeling. Groot ontnugtering! "Wat Dominee ons nooit vertel het nie!"

2009:  Na die volledige kartering van die menslike genoom dryf my nuuskierigheid my om die chemie van DNS te bestudeer – my kwalifikasies sluit gelukkig organiese chemie in. Dit was 'n intellektuele belewenis sonder weerga. Ek het verstaan wat een of ander ou bedoel het met "God is in the details." Mens is geneig, nadat jy jou kop om die sintese van DNS gekry het asook begrip van die dekodering daarvan gedurende selverdeling en proteïnvorming, om te dink dat 'n "groter hand" hier moes geskep het – so kompleks, treffend mooi en tog verstaanbaar is dit. En met verdere studie die insig hoe natuurlike prosesse en evolusie DNS kon ontwikkel het onder die gunstige toestande op aarde, sonder die noodsaaklikheid van 'n "groter hand." Die vinnige en akkurate DNS-analise wat vandag moontlik is, dra verder daartoe by dat navorsers byna daagliks die baie gapings in ons insig van die evolusieproses invul – byna al beter as die fossielrekord.

2010:  Die wetenskaplike verklarings van die kosmos en lewe en die mens se vermoë om dit te verstaan, verklaar die werklikheid om ons vir my baie meer aanvaarbaar as Genesis. Toe die "Genesis-domino" uiteindelik val, het ek 'n ongekende vrymaking beleef en kon ek met my rasionele verstand begin soek na die sin en oorsprong van alles en die moontlikheid van lewe (of nie-lewe) anderkant die graf – as daar ooit 'n "anderkant" is.

Die onvermydelike verandering

Ek het 10 jaar gelede intensiewe Bybelstudie begin doen sonder dogmatiek-handleidings, maar met insig verkry uit die werk van Bybelwetenskaplikes vanuit akademiese instansies (nie op DStv nie!). Hierdie ouens gee die feite uit navorsing oor die oorsprong van Bybelboeke, -briewe, en gedeeltes in hoofstukke.

Die insigte wat ek hieruit gekry het, het die absurditeite van die christelike dogma uitgelig. Die volgende totaal onlogiese idees is ter sprake:

Dit was nogal 'n skrik om te besef in watter primitiewe en absurde goed ons glo en hoe dit in die ortodokse kerk oor die eeue ontwikkel het – alles so geleidelik dat ons steeds vandag geslag na geslag daarin ingelei word soos 'n klomp skape. Ons is so gekondisioneer dat ons al hierdie absurditeite as feite aanvaar sonder om dit ooit te bevraagteken – onder bedreiging met die hel natuurlik. Dis eintlik 'n model van subtiele indoktrinasie.

Dis geen wonder nie dat biblioteke vol boeke oor die Bybel geskryf is en steeds geskryf word om die irrasionele dogma met nuwe studies, nuwe slim idees en al meer onverstaanbare woordeskat (om dit status te gee) te ondersteun en "lewend" te hou. Nuwe inisiatiewe ("projek alfa", "die 40 dae" en wie weet wat nog) sal in die kerke aanhou verskyn om die momentum van die dogma te kan volhou en die absurditeit daarvan verteerbaar te probeer maak.

Mede-Christene se rol in die verandering

Die onverdraagsaamheid en aggressie van baie Christene – van my vriende ingesluit – is nog faktore wat my weggedryf het uit die christen-omgewing. Christene se uiterse arrogansie het vir my aanstootlik geraak. Hulle houding van "net ons is reg en as jy nie dink en bely soos ons nie gaan jy hel toe." Toe ek byvoorbeeld eendag in 'n christen-geselskap vertel van my Moslem-vriende, is daar nie eens verneem wat se werk hulle doen of hoe ons hulle leer ken het nie. Een vriend van my het dadelik kwytgeraak "Moslems? Om te dink as hulle sterf en anderkant hulle oë oopmaak, is dit net vlamme!" Die Moslem-vriende wat hier ter sprake is, is beide gewaardeerde vriende van hoogstaande integriteit. Christen-vriende wat mense so uit die bloute verdoem, skep vir my 'n probleem.

Wat erg is – eintlik tragies is – is dat tussen christen-denominasies hierdie onverdraagsaamheid en veroordelende arrogansie ook voorkom. Ek het dikwels gehoor dat mense uit die charismatiese groeperings aan NG lidmate sê "julle is nie gehoorsaam aan die doop-instruksie (grootdoop) nie en kan nie verwag om gered te word nie." Ek kan myself nie meer assosieer met sulke kilheid en liefdeloosheid nie.

Om die evolusieteorie of kosmologie asook my vrae oor die geloof met my christen-vriende (die wat ek nog mee kan assosieer) te bespreek, is onmoontlik. In plaas dat hulle saam met my probeer besin oor die geloof en redeneer oor die rol van die wetenskap, is hulle gedurig in hulle agterkoppe besig om teenargumente ter verdediging van die christelike dogma gereed te kry – dat hulle "heilige torinkies" tog net nie krake opdoen nie.

Om na debatte tussen Christene en ateïste oor die fondasies van die dogma te luister is lagwekkend. Die christendom is oor baie eeue goed geoefen om met 'n stortvloed van woorde en onakkurate argumente, die indruk te skep dat hulle sulke debatte wen. Christen-debatvoerders kan op hulle voete lieg sonder om te blik of te bloos. Hulle moet natuurlik – in hulle eie en hul volgelinge se oë ten minste – hierdie debatte wen, anders bly hulle geloof in die slag. As 'n mens na afloop van so 'n debat hulle argumente egter tydsaam ontleed, dan ontdek jy die leemtes en teenstrydighede, die wilde aannames, irrelevante argumente en ongeldige afleidings wat gedurende die debat baie behendig as logika en feite voorgehou is. Ateïste is natuurlik met sulke debatte effens onkant en onvoorbereid omdat dit nie vir hulle belangrik is om andere teen wil en dank om te haal tot hulle (ateïstiese) sienings nie. So 'n debat herinner aan 'n leeu wat 'n wildsbok jag. Die wildsbok is die christen en die leeu is die ateïs: Dis wenslik vir die leeu om die bok te vang maar gladnie krities nie. Maar vir die bok is dit absoluut krities om die wedloop te wen met enige "trick in die boek", anders...

Namate die waarheid oor die herkoms van die Bybel en die dogma duidelik geword het en ek besef het wat dit eintlik is, was ek 'n tyd lank baie kwaad vir die totale christelike opset en sy funksionarisse en volgelinge. My gevoel teenoor die kerk was vir 'n tyd lank, soos 'n Engelse vriend van my gesê het: "You took us for a ride all these years! You made me think of myself as filthy and unclean and held me captive with your exclusive remedies of redemption and salvation. You scared the hell out of me for nothing – to maintain your imprisoning system!"

Die dogma en die wyse waarop dit in kerke funksioneer, vervreem mens van jouself en kategoriseer mense in eksklusiewe groepe (denominasies, sektes en cliques) van mense wat vreemd vir mekaar is en waarvan baie mekaar nie kan verdra nie. Die liefde en verdraagsaamheid wat by die kern van die christelike geloof lê, sien mens net tussen sekere groepe christene en as jy net bietjie dieper krap, dan vind jy dat die liefde en verdraagsaamheid wat jy daar sien, ander gronde as die geloof het.

My renons in die kerk en sy mense, het ek egter met vasberadenheid en baie selfondersoek uit my sisteem uitgewerk omdat ek beslis nie hierdie gesindheid uit my vorige bestaan as dogma-navolger, in my "nuwe lewe" wou saamdra nie. Hierdie selfondersoek en gedrags- en gesindheidsaanpassing van my blyk 'n lywige taak te wees vir 'n soekende ou soos ek – maar dis sinvol, gefundeer in die realiteit en is rasioneel en eerder laat as nooit.

Die Bybel en ek

En tog is ek steeds lief vir die Bybel. Wat 'n merkwaardige ou boek! Ek lees die Bybel graag en lees bo-oor die foute en kromheid. Lees verby die gekraakte fondasies van die dogma sonder om te stop en weer te probeer huis bou.

Dis 'n verhaal van mense se soeke na 'n God wat hulle geglo het moet bestaan om die vrees vir die dood weg te neem – om 'n verklaring vir alles se bestaan te gee – om die aardse bestaan sin te gee – om die ondenkbare nie-bestaan na die dood met iets aanvaarbaar in te vul – om oorlewing in moeilike tye moontlik te maak – om die dreigende vyand te kan oorwin – om die begeerde land in hul hande te kry – om hul nageslag soos die sand van die see te laat vermenigvuldig om oorlewing van die volk te verseker.

Ek lees hoe die Israeliete onder Moses 'n God na hul eie beeld geskep het – gegrond op 'n model wat hulle goed geken het naamlik dié van hulle tipiese konings en patriarge van daardie tyd: Magtig, magsbehep, jaloers, onredelik, etniese "skoonmaker", bloeddorstig, diskriminerend en liefdevol teenoor uitgesoektes. 'n God met menslike eienskappe en wat spyt kry, kwaad word en amper wispelturig is. 'n Volmaakte God wat die daarstelling van 'n duiwel genoodsaak het om die probleem met die oorsprong van kwaadwilligheid en rampspoed te kon opklaar. 'n God wat nie Sy gesig wys nie – wat net in die verbeelding bestaan. Ek lees van rigters, konings en profete wat aan die onsigbare en stilswyende God 'n gesig en 'n stem probeer gee het – en ek verstaan dit alles en laat dit gaan as net dit wat dit is: 'n Woestynvolk se wel en weë, strewes en versugtinge. Dit is 'n pragtige verhaal.

Ek lees in die Nuwe Testament met al sy veranderings, invoegsels, verdraaiings en absurde gedeeltes en besef dat ek maar net verder lees aan 'n verhaal van mense wat streef om die onsigbare, stilswyende God van die Israeliete te beklee met 'n nuwe gestalte en te laat praat met nuwe woorde, om sin te gee aan die dilemma waarin hulle hulself as deel van die groter Romeinse reik, bevind het. 'n Jesus-mens wat 'n morele kode en leefwyse sonder weerga verkondig het. 'n Morele kode wat alle ander "heiliges" uit ander gelowe, te kort laat skiet – asof die skrywers en vertellers van Jesus se verhaal, elke denkbare behoudende morele beginsel amper soos 'n wenslysie aan Jesus toegedig het. Verder, omdat Jesus se eerste volgelinge in die sinagoges verplig was om te preek uit toendertydse "heilige geskrifte" (soos in ons kerke vandag nog), het hulle die Ou Testament se profesieë ingespan om Jesus as die Messias te beskryf en so het die ou profesieë in die Jesus-verhaal verweef geraak sodat dit in vandag se Bybel klink asof Jesus al die ou profesieë oor die Messias vervul het.

Verder, soos wat Israel se God ewig is, so moes hierdie "nuwe" beliggaamde God ook ewig wees. 'n God wat in 'n graftombe lê beteken niks.

Die "nuwe" god het nou 'n gesig en 'n stem gehad en is onder andere die "seun van god" genoem. Jesus moes uit die dood opstaan en opvaar na die Israelitiese god se hemel om deel te kon hê aan daardie hoë status. En ek verstaan dat Christene almal hierdeur steeds soek na 'n sin vir hul bestaan – om die ondenkbare nie-bestaan na die dood met iets sinvol in te vul – om te cope met 'n al vinniger-veranderende wêreld – om dreigende sosiale verval en misdaad te stuit – om vir hul nageslag 'n tuiste te laat en helaas, om die verskrikking van die hel wat in hulle koppe ingekondisioneer is, weg te neem. 'n Voortgesette verhaal van menslike versugting.

Wat verder?

My denke het die laaste tyd verskeie pendulum-swaaie deurgegaan. Vir 'n tyd lank was ek 'n ateïs, met Richard Dawkins as rolmodel – wat 'n tydelike oorgangsfase was. Ek het gevind dat ateïstiese "fundamentalisme" vir my net so onaanvaarbaar is as geloofsfundamentalisme. Daarna het ek dit weer sterk oorweeg om die eietydse spirituele strewe te los en terug te gaan na die kerk en die dogma – met ander woorde op te hou dink en wonder en in die gewaande sekerheid van die kerk te bly. Dié gedagte het my amper in 'n depressie laat verval.

Op die oomblik kan ek nie dink dat die idee van 'n god totaal imaginêr is nie – dat dit behoort tot die realm van Harry Potter en Rooikappie nie. As so 'n idee dan nie imaginêr is nie – wat dan? Beteken dit dat ek en ouens wat soos ek soekende is, 'n "nuwe god" moet skep? Weer van voor af 'n "godsdiens" aan die gang moet kry? Ek hoop nie so nie. Ek sou graag liewer deur rasionele en logiese denke, so 'n idee wil eksploreer en kyk wat ek kry. Sal ek ooit iets in die verband kry? Ek weet nie.

Die verwondering oor die kosmos is vir ons almal seker een van die groot lekkertes. Die vraag egter van hoe dit alles ontstaan het bly 'n tameletjie. Die oerknalteorie verklaar die ontwikkeling van die kosmos en die sintese van die elemente verstaanbaar vanaf die eerste 10-33 sekonde na die knal. Maar daar is nog vele uitstaande vraagstukke wat aanleiding gee tot interessante spekulasie en moontlike modifisering van kritiese aspekte van die teorie. Een uitstaande vraag wat niemand 'n idee oor het nie, is wat die oerknal heel in die begin laat ontstaan het? Uit logiese oorwegings is dit verkeerd dat dit uit "niks" sommer net kon ontstaan – ondanks 'n amper aanvaarbare poging deur Stephen Hawking om dit met behulp van kwantum-fisika beginsels as 'n "kwantum-fluktuasie" in die "nothingness" te probeer beskryf. Ek weet rêrig nie of die mens ooit 'n antwoord op hierdie vraag sal kry nie, maar ek hou die publikasies dop.

Die verklarings en ontledings wat die wetenskap en die filosofie vir die realiteit bied is vir my sinvol, veral omdat dit groeiend en dinamies is. Ek dink die menslike intellek het die potensiaal om die realiteit se oorblywende geheime (misterieë) te kan ontdek en te verklaar. Maar dadelik kom die vraag of die mens en die wetenskap dit werklik kan regkry – gegee genoeg tyd en stabiliteit op aarde? Kan die mens se intellek vinnig en breed genoeg evoleer om te kan tred hou met die eksponensiële groei in kennis en kompleksiteit? Ek weet nie.

Ek beleef vir die eerste keer in my lewe meer innerlike vrede nadat ek besef het dat ek 'n eindige wese is wat met my dood sal ophou bestaan – niks meer sal weet, dink of voel nie – soos voor my geboorte toe ek nie bestaan het nie en "weet", "dink" en "voel" betekenisloos was vir die atome en molekules wat my later sou vorm. En dadelik kom die vraag op: Is hierdie siening van my die finale woord oor 'n moontlike lewevorm buite hierdie bekende een? Ek weet nie.

Ek het steeds 'n vermoede dat die materiële wat ons sintuiglik ken – nie die totale realiteit vervat nie. Kyk net wat se balletpassies wetenskaplikes al moes uitvoer rondom kwantum fisika. Hoewel die Copenhagen-interpretasie daarvan, die mens se mees suksesvolle teorie is wat die gedrag van sub-atomiese partikels met 99.999% akkuraatheid kan beskryf en voorspel, bevat dit – om die minste daarvan te sê – absurde idees en verskynsels wat sterk aan die magiese herinner. Ons slimste genieë en beste tegnologieë kon ook nog nie 'n ander stel dimensies (waarvan daar teoreties 'n potensiële 11 geïdentifiseer is in die "string"- en "brane"-teorieë) opspoor en meet nie en kan verder nog nie die vermoede eksperimenteel bevestig dat ons beleefbare vier dimensies net die "oppervlakkige" manifestering van 'n groter dimensionele struktuur is nie.

Wat ook al ek in my soeke uit die wetenskap, filosofieë en die Bybel mag put, sou ek graag wou hê dat my nuwe denkwyse of filosofie (by gebrek aan 'n beter naam) so logies, verantwoordbaar en verstaanbaar soos die groot wetenskaplike teorieë moet wees. Net so lewend, groeiend en aanpasbaar na gelang van nuwe feite en beter insigte. Ek sou graag wou hê dat my spirituele lewe – as daar ooit so-iets is – moet groei deur middel van logiese en rasionele denke en ontwikkeling en nie deur blindelingse geloof wat iemand anders as die "enigste weg" voorhou nie. As my nuwe filosofie 'n hiernamaals of 'n alternatiewe bestaansvorm sou uitsluit – goed dan – daar's 'n unieke rustigheid in so 'n wete en dit verskerp my verantwoordelikheidsin teenoor myself, alle lewendes en die natuur, in die hede – en dit is nogal lekker om dit te beleef.

Ek skryf hier net oor die christelike geloof, omdat dit al geloof is wat ek ken. Ek het egter 'n probleem met alle gelowe. As mens dink die post-hervorming christelike dogma is absurd, dan sal geselsies met Mormone, Moslems, Hindoes en Roomse Katolieke jou verstom.

'n Klompie beginsels wat ek nou probeer volg is:

Verder kan ek nie die hoë morele standaarde, lering en leefwyse van Jesus afmaak as niksseggend nie – al mag dit elemente van 'n antieke wenslys bevat – dit verteenwoordig steeds die strewes, norme, drome en versugtinge van mense soos ons wat gesmag het na 'n beter wêreld en 'n leier wat hulle kan vertrou en wat hulle kan beskerm en versorg in die nimmereindigende see van aardse rampe, menslike kilheid, onbillikheid, onsimpatiekheid en wreedheid. Hierdie hoë standaarde van Jesus sal figureer in wat ook al my nuwe filosofie mag behels.

In my soeke om 'n forum te kry waar ek met ander ouens kan praat oor eietydse spiritualiteit en dalk 'n meer sinvolle benadering daartoe, het ek die NHN en SES ontdek. Hier kan ons met oop en verdraagsame gesindhede en sonder vrees vir 'n denkbeeldige, wraakgierige god of 'n duiwel wat onder aanhitsing van Christene met sy denkbeeldige vuur en kole regstaan, praat oor spiritualiteit en saam werk aan 'n meer sinvolle benadering daaroor in ons moderne tyd.

Frik van Eeden

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za