.

Buite-kerlik maar tog gelowig

Deur Dr. Piet Muller op 1 Oktober 2014

.

Op Sondag 8 April 1945, kort voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het 'n jong Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer 'n erediens vir medegevangenes gelei. Daarna is hy deur die Nazi's weggelei om opgehang te word.

Die twee jaar wat hy aangehou is, was seminaal vir sy eie teologiese denke en in die tyd skryf hy aan 'n vriend: "Wat is die Christendom en wat is Christus vir ons vandag?"* Met verwysing na die oorlog waarin die wêreld se voorste Christenlande op 'n ongekende skaal lewens neem en verwoesting saai – en waarin die kerk in Duitsland amptelik sy steun aan Hitler toegesê het – spreek hy die vrees uit dat die Christendom se einde as 'n "religie" aangebreek het, en dat 'n "religielose Christendom" dalk uit die puin gebore gaan word.

Vanuit die veiligheid van 'n neutrale Switserland spreek die sielkundige Karel Jung dieselfde soort vrees uit. Die oorlog ontnugter hom as hy besef dat eeue van Christendom net maar 'n dun nerfie op die Europese psige gemaak het, maar dat die Christendom nooit werklik die hart van Europa gekersten het nie.

In een van sy briewe maak hy die ontstellende bewering dat hy in sy praktyk "meermale op 'n elementêre skoolvlak lesse in die geskiedenis van religie (moes) gee in 'n poging om die weersin en walging in religieuse sake uit te wis van mense wat hul hele lewe lank net met belydenissmouse en predikers te doen gehad het (Briefe ii)."

'n Mens kry byna die indruk dat hierdie twee groot gelowiges, in hul desperaatheid oor die oorlog, raakgesien het dat die Christendom op die vooraand staan van 'n hervormingsbeweging soos wat die kerk nog nie weer sedert die Reformasie beleef het nie.

Bonhoeffer se "religielose Christendom" kan miskien vandag raker omskryf word as "kerklose Christendom." Die kerk se belangrikste taak vandag is nie meer kerstening of selfs evangelisasie nie, maar om uit te vind hoe hy sy gelowiges op die beste manier kan dien en bystaan in 'n vinnig-veranderende, globaliserende wêreld.

Die wêreld se groot godsdienste word nie langer deur geografiese afstand van mekaar geskei nie, maar woon en lewe, danksy globalisering, tussen mekaar en moet mekaar noodwendig beïnvloed.

Boonop word ons eeu deur ongekende verandering gekenmerk. Die Amerikaanse toekomskundige en elektronikakenner, Ray Kurzweil, bereken dat ons in hierdie eeu die ekwivalent van 20 000 voorafgaande jare sal beleef.

Dit kan in perspektief geplaas word deur daaraan te dink dat die landbourevolusie, toe die mens diere begin makmaak en gewasse begin verbou het, tussen 12 000 en 10 000 jaar gelede begin het. Die verandering wat ons in die 21ste eeu gaan ondervind sal dus nagenoeg twee keer soveel wees as sedert die begin kan wat ons "beskawing" noem tot nou toe.

Of anders gestel: In die bestek van 20 000 jaar kan die ekwivalent van tien Christendomme tot stand kom en wasdom bereik.

Aangesien tye van groot verandering ook tot groot onsekerheid lei, is sulke tydvakke by uitstek die periodes waarin groot godsdienste gebore word. Verwag dus dat die 21 ste eeu 'n eeu van groot godsdienstige Sturm und Drang gaan wees.

In 'n wêreld waarin ou waardes hulle skaars nog kan handhaaf en nuwe waardes nog nie uitgekristalliseer het nie, is meer mense besig om van kerkverband te verander as ooit voorheen. Ander eksperimenteer met aspekte van vreemde godsdienste en probeer dit met hul bestaande godsdiens versoen.

Die jongste godsdiens-sosiologiese inligting uit die VSA is vir ons besonder relevant, want dit dui die neiging aan wat toenemend ook hier gaan voorkom:

Volgens navorsing wat deur die Barna-stigting in die VSA gedoen is:***

(Bron: The Fuller Institute, George Barna and Pastoral Care Inc.)****

Selfs in die geledere van wat 'n mens kan noem "oortuigde gelowiges" vind 'n mens al meer mense wat doelbewus geloofspraktyke uit ander godsdienste neem en in hul eie geloof inpas. Of wat amptelik aan meer as een godsdiens behoort. Besonder gewild is die kombinasie Christendom en Boeddhisme, maar Christendom en Islam (veral in die vorm van Soefisme) kom ook al meer voor.

Let gerus ook op hoedat Christene en Moslems in Suid-Afrika besig is om al meer saam te staan teen wat gesien word as die "bedreiging" teen godsdiensonderrig op skool.

Behoudende Moslems en behoudende Christene deel dieselfde vrees: Dat die "Nuwe Wêreld" besig is om hul tradisionele waardes weg te kalwe. Beide groepe sou graag die 20 000 jaar se nuwe kennis en verandering wat besig is om ons eeu te oorspoel wou stuit, al is dit met geweld. Toe president George Bush van die VSA in 2003 oorlog teen Irak verklaar het was 84% van Amerika se Christene bankvas agter hom.* Nou is dit weer ISIS wat in dieselfde wêrelddeel 'n Islamitiese kalifaat geproklameer en in effek oorlog teen hul gematigde geloofsgenote – en die Eerste Wêreld – verklaar het.

Miskien is dit tyd om aan die ondenkbare te begin dink: Dat ons tegnologiese beskawing verswelg kan word deur massas mense wat nie kans sien om daarbinne te lewe nie, net soos wat die eens magtige Romeinse Ryk deur ons eie voorvaders – in kombinasie met godsdienstige fundamentalisme – tot 'n val gedwing en die Europese beskawing tot vier "donker eeue" verdoem is.

Wat die probleem vir die Christendom nog meer ingewikkeld maak, is dat die teologiese gaping tussen wat 'n mens kan noem Behoudende Christene en Progressiewe Christene al groter word.

Oor 'n periode van tweehonderd jaar is die kultiese Jesus van die belydenisskrifte, en die woorde van die 'historiese Jesus' van mekaar losgemaak. Hoe meer ons daaraan gewoon raak om Jesus se woorde buite die konteks van die groot leerstellige twiste en belydenisse van die vierde eeu te beskou, hoe meer glinster dit soos geslypte juwele en hoe groter raak die belangstelling in wat die historiese Jesus geleer en gelewe het. 'n Mens sien dit ook aan die groot aantal boeke wat deesdae verskyn oor liefde, medelye en sosiale geregtigheid.

Voor ons oë is die kerk besig om in twee te skeur: Aan die een kant 'n 'n kerk wat geanker is in die groot belydenisse van die vierde eeu, en wat sê: Glo en bely die regte dinge en daar sal vir jou 'n plek wees in 'n salige hiernamaals.

Daarteenoor staan die nuwe, opkomende kerk wat sê: Moenie iets glo wat jy nie met jou eie verstand kan versoen nie, maar lewe en doen soos Jesus en jy sal die Koninkryk van God in hierdie lewe gestalte laat kry, midde in elke dag se pyn en lyding, geboorte en dood.

Wat 'n geslag gelede nog onmoontlik geklink het, is vandag 'n werklikheid: Dat mense hulself as gelowig, selfs diep gelowig beskou, maar aan geen kerk behoort nie. Wat in die woorde van Biskop John Selby Spong "Alumi van die kerk" is. Hierdie mense is potensiële lidmate van die "Nuwe Kerk," die kerk wat nog nie bestaan nie, maar soekende besig is om vorm aan te neem, sodat hy die behoefte en nood van ons tyd kan help verlig.

Dit is hier waar die groot uitdaging lê: Organisatories sal die opkomende kerk nie bloot 'n replika kan wees van die kerk-met-die-belydenis – maar sonder die belydenis nie. Dit sal die uitdaging moet aanvaar om op 'n totaal nuwe manier kerk te wees vir 'n nuwe tyd. Grootliks 'n kerk sonder mure. 'n Kerk vir nuwe mense wat meer behoefte het aan skoling as aan preke en meer nut aan retreats as aan eredienste. 'n Kerk vir mense wat die Weg van die historiese Jesus wil volg, maar nog nie mooi weet hoe om dit in ons nuwe samelewing te doen nie.

Die vraag is: Is daar al genoeg geloofsleiers wat opgewasse is vir die taak om voor te loop en saam met die gelowige alumni van die kerk nuwe moontlikhede te benut?

Voetnotas

* Dietrich Bonhoeffer, Letters and Papers from Prison, SCM Press, Londen, 1953.
** Diana Butler-Bass, A People's History of Christianity, Harper 2009.
*** Marcus Borg, Top Religious Trends 2014: A Christianity Co-Opted by Individualistic, Exclusivist Faith, Patheos, 2 September 2014.
**** Jean Oosthuizen se "lekepreek" op Stellenbosch het my aandag hierop gevestig.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.