Buite die skedel

Deur Hans Pietersen op 1 Maart 2012

Ons is selde bewus van ons kulturele tekortkominge, nog minder van die foute in ons eie denkpatrone. Teen die tyd wat inligting binne ons skedels gevestig raak is dit ryklik gesnoei en ingekleur met ons persoonlike en kulturele vooroordele. Ons lewe in 'n waas van werklikhede toegegroei deur tentakels van vooroordeel, onkunde en propaganda; in ''n Jumanji-wêreld van deels werklikheid en deels fantasie.

Izak (Sakkie) Spangenberg verduidelik in Jesus van Nasaret dat ons leer swem in 'n kulturele see en nooit besef hoe daardie waters vir ons ingekleur word nie. Wat ons geleer het van ons volk se verlede is nie alles waar nie; die beeld wat vir ons geskep is in kultuurbyeenkomste en handboeke, is nie getrou aan die oorspronklike nie. Gaan ons verder terug vind ons dat die beeld wat ons geleer het rakende die Bybel se geskiedenis; die godsdienssee waarin ons geleer swem het, nog meer dramaties aangedik was. Gelukkig vir ons is daar skrywers soos Bart Ehrman, Robert M. Price, Victor Avalos en Sakkie Spangenberg om diegene wat bereid is om dit te doen, te help om die beendere van die werklikheid te ontdek tussen die gruis van kaf waarin dit gebed is. Dis nou nadat geleerdes soos Keith Windschuttle, Paul R. Gross, Norman Levitt, Roger Kimball en Alan Sokal (Sokal's hoax) die "anything goes"-benadering van postmoderne misleiding – die waardelose kaf waarin die waarhede gebed is, ook blootgelê het en ons aandag daarop gevestig het dat daar wel 'n waarheid is om ontdek te word. Dit is daarom die moeite werd om onsself te leer ken.

Nie dat ek 'n voorstaander is van selfontdekking op die New Age wyse nie. Hoe mense hulle afsonder om hulleself te "vind" het nog altyd my verstand te bowe gegaan – hoe "verloor" mens jouself in die eerste plek? Wie se tande borsel jy dan? Om jouself te leer ken is nie om, soos die kopskuifberaders ons probeer oortuig, die werklikheid met net nog 'n laag modeverf te bedek nie, maar om te leer hoe jy in der waarheid dink en hoe jou eie onbewustelike vrese en neuroses jou denke en besluite kniehalter. Ook hoe en waar jy denkfoute maak, selfs wanneer jy oortuig is jy is korrek. Die motivering daarvoor behoort nie alleen van binne te kom nie (wie wil homself dan nie beter leer ken nie?) maar ook van buite, want daar is, soos Harry Frankfurt bondig en pittig verduidelik in Bullshit, 'n hele weermag van misleiers en slangoliesmouse wat opsetlik voordeel trek uit mense se onkunde en vrese deur kaf (bullshit) te verkondig. Veral daar waar gevestigde belange die nuwer leiers noop om steeds te lieg oor ons taal- en kulturele geskiedenis en die gode wat ons kwansuis verdoem.

Sou dit nie hemels wees om ons voorspoed en teëspoed aan gode te kon toeskryf en daardeur ons eie verantwoordelikhede opsy te kan skuif nie? Dan is my mislukkings tog weens die wil en seëning van Iemand Belangrik eerder as my eie tekortkominge, en my voorspoed te danke aan my goeie karakter en vroomheid eerder as die bydraes van hardwerkende ander. Nie alleen tower ons maklik gode op om gebeure te verklaar nie, maar ons word gemotiveer om dit te doen. Hoe anders kan ons byvoorbeeld voorgee om 'n uitverkore volk te wees wat beter verdien as medeburgers van 'n ander kleur? Hoe anders kan ons voorgee om kennis in pag te hê wanneer die sogenaamde Nuwe Ateïste, wat weier om godsdiensgebaseerde onkunde en opsetlike leuens (waarna Frankfurt verwys as kaf) te respekteer, ons diepste versugtinge in die openbaar uitdaag? Ons enigste verweer is dan om terug te val op retoriek, "herverneuktiek" en logiese drogredes om ons kaartehuis staande te hou. Suiwer kaf neig om alledaagse kaf te verplaas.

Sterk gelowiges weier om in debat te tree deur eenvoudig aanspraak te maak op die letterlike waarheid van antieke geskrifte. Kultuurorganisasies indoktrineer skoolkinders onder die dekmantel van edele bedoelings. Regerings blokkeer die internet om kennis van onderdane te weerhou. Geloofsgroepe dwing ander deur geweld om hulle eng sieninge te aanvaar. En tussendeur maak die denkfoute waartoe ons geneig is, dat ons feite mis. Ons ontduik verantwoordelikhede (Carol Tavris – Mistakes Were Made), mislei onsself (Cordelia Fine – A Mind Of Its Own), neig om bygelowig te wees (Bruce Hood – Supersense), sukkel om ons vrese van feite te onderskei (Comings – Did Man Create God?) en sukkel om reguit te dink (Howard Kahane – Logic and Contemporary Rhetoric). Die hartseer is, ons mislei onsself; ons sukkel om buite ons skedels te dink.

Op 1 September 2011 skryf Abe Steyn in sy SES-artikel Ateïsme – 'n onlogiese denkrigting: "Ek sien aanduidings [sic] dat die heelal beplan is en ook deur "iets" gemaak is, al eienskap wat ek aan God koppel is die vermoë om die heelal te kon beplan en skep." In een sin gee hy gestalte aan feitlik alles wat ek hierbo uitwys. Hy ontken die mensgemaakte see waarin hy geleer swem het en wat die konsep "god" in hom gevestig het. Hy vergeet van die indoktrinasie wat ons geleer het om te glo "iets" (sy idee van 'n godheid) moes 'n ander iets (alles behalwe die godheid self) geskape het. Die "ander" (oftewel, ateïste) is geneig tot drogredes, maar sy eie drogredes ontken hy. Hy toon sy geneigdheid om in 'n bonatuurlike te glo sonder enige bewussyn van daardie swakpunt. Hy help met die voortsetting van kaf en die beskerming van magiese denke deur te weier om sy denke tot die werklikheidsbeginsels van die wetenskap te beperk en die mens se hand in die kunste – die nie-materiële dinge waaroor die wetenskap hom nie uitspreek nie, insluitend baie van wat as "godsdiens" bekendstaan – volledig te verreken. En sy hele verweer staan of val op die aansprake wat hy maak deur te stel dat die nie-bestaan van 'n godheid nie bewys kan word nie en dat hý (regverdiglik?!) oortuig is dat "iets" die res moes skep.

Steynse aansprake skep 'n goeie oefening vir ''n eerstejaarsfilosofiestudent: Een misterie ('n intelligensie sans 'n fisiese brein) kan nie gebruik word om 'n tweede misterie (die ontstaan van die heelal) te verklaar nie en Steyn se insigte kan ewe min die nie-bestaan van Poseidon en Herakles bevestig. Maar my motief is nie om die Abe Steyns van die wêreld tot denkorde te dwing nie – dit is futiel; niemand glo so onwrikbaar soos hy wat wil glo nie. Nee – ek het twee ander doelwitte.

Eerstens om te toon dat die sogenaamde Nuwe Ateïste die godsdiensgesprek finaal in die openbare sfeer geforseer het, van die VSA af tot in Egipte. Of hulle nou moedswillig as "militant" beskryf word (wanneer laas het iemand 'n gebou of kliniek in die naam van ongeloof opgeblaas?), die godsdiens-vs-kennis-debat is nou finaal in die openbare ruimte, ook hier in Suid-Afrika. Boonop is die ongelowige sin die meerderheid gevalle beter ingelig oor godsdiens as hulle gelowige broeders en susters, ook rakende politiek, retoriek, logika, filosofie, geskiedenis en die sielkunde. Die debat gaan ongetwyfeld veral 'n toutrekkery afgee vir die siele van die opvolgende geslagte, tussen diegene wat kinders wil laat lewe ná die dood en diegene wat hulle wil laat lewe vóór die dood.

Tweedens hoop ek dat ek die leser kon oortuig hoe belangrik selfonderrig in ons kennisgedrewe eeu geword het: Ons kan nie meer die predikers, beraders, vryskutskrywers en radioprogram-kopskuiwers vertrou om aan ons akkurate en volledige inligting te gee nie. Ons WAS mislei en word STEEDS mislei. Die enigste verweer, hetsy om uit te vind hoe om voor OF na die dood te leef, is om self in one eie skedels in te loer en te verstaan wat daarbinne aangaan. Hierdie is die moeilikste taak vir enige gelowige omdat taboes en ingeburgerde vrese ons verhinder om kennis onbevange na te streef en ons eie koppe oop te maak. Terwyl ons geleer is om in 'n godsdienssee te swem is ons ook geleer om sensitiewe inligting te vermy. Maar sekerlik kan niemand wat 'n lewe na die dood verwag, veral 'n lewe wat kwansuis bepaal word deur dade in die hede, van 'n tweedehandse denksmous verwag om die waarheid, die hele waarheid en niks behalwe die waarheid te verkondig nie? Om kennis te bekom wat betroubaar is moet ons eers leer hoe om buite ons skedels, buite ons eie tekortkominge, te dink, en boonop streef om die werklikheid self te ontdek. Anders probeer ons ook straks om hersenskimme met behulp van elementêre denkfoute te regverdig.

Staan op, neem jou boeke op, en léés.

Hans Pietersen, skrywer van Die Vrese van Ons Vaders (Griffel Media).

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za