.

Britte het rasgevoel na die Kaap gebring

Deur Dr. Piet Muller op 1 Februarie 2016

.

Jan van Riebeeck het klaarblyklik geen rassevooroordeel met hom saamgebring toe hy in 1652 aan die Kaap geland het nie. Dit merk 'n mens as jy die oudste Afrikaanse families se moederlyn naspeur en agterkom dat die bloed van slawe en politieke bannelinge taamlik vrylik in hierdie families voorkom.

'n Swart slavin, bekend as Lijsbet (Sanders) van die Kaap, se nageslag het waarskynlik die meeste heldefigure in die Afrikaner se geskiedenis opgelewer, terwyl nog 'n slavin, Angela van Angola, se nageslag drie staatspresidente opgelewer het.

In die eerste eeu was daar gewoon 'n tekort aan vroue aan die Kaap, sodat dienaars van die kompanjie noodwendig met slawe en bannelinge omgegaan en getrou het. Die een onverbiddelike eis was dat sulke slawe eers gedoop moes word. Tussen "Christen" en "heiden" was daar 'n diep kloof, hoewel nie 'n rasseskeiding nie.

Die historiese ou hooggeregshof-gebou aan die bopunt van Adderleystraat in Kaapstad het begin as die Moederstad se slawelosie – en die jong nedersetting se nie-amptelike bordeel.

Die buite-egtelike kinders van Europeërs is in hul vroeë twintigs van slawerny vrygestel en het so in die huweliksmark beland. Talle slawe en hul afstammelinge was ekonomies suksesvol en het later onder die welgesteldes aan die Kaap getel. So is bloed uit Afrika en veral uit Indië en Oos-Indië mildelik onder Afrikaanse families versprei.

In ag genome die klein bevolking van daardie tyd kan 'n mens gerieflik aanvaar dat die nageslag van alle stamvaders wat in die eerste 100 tot 150 jaar ná Van Riebeeck die Kaap bereik het, noodwendig die bloed van slawe en bannelinge in hul are sal hê.

Eers toe daar sowat honderd jaar ná Van Riebeeck 'n sterk gevestigde middestand ontstaan het, het 'n kleur- en standsensitiwiteit begin ontwikkel.

Volgens Karel Schoeman, in sy boek Cape Lives of the Eighteenth Century, was dit toe ook nie soseer kleur waarop neergesien is nie, maar veral mense se slaweagtergrond. Dit was dus eerder 'n klassevooroordeel as 'n rassevooroordeel.

Dit was ook nie net amptenare uit die lae range wat met gekleurdes omgegaan en getrou het nie, maar ook hoë amptenare. Aan die Kaap het die sieketrooster Pieter van Meerhof getrou met die Hottentotvrou Eva (of Krotoa, soos sy haar self genoem het). Sy kon sowel Nederlands as Portugees praat en was een van die amptelike tolke aan die Kaap. Hul dogter, Pieternella, is met Daniël Zaaiman getroud, en het só een van ons Afrikaanse stammoeders geword. Sy is die hoofkarakter van Daleen Matthee se roman Pieternella van die Kaap en Dan Sleigh se Eilande.

Soos die geval van Pieternella van Meerhof duidelik illustreer, sal 'n mens meesal nie jou gekleurde stammoeders se herkoms raaksien as jy net navorsing doen oor jou voorvaderlyn nie. Die moederlyn is baie belangrik vir 'n deeglike begrip van 'n groep se waardes en leefstyl. Vroue dra immers nie net gene aan hul nageslag oor nie, maar bepaal in die meeste gevalle ook die styl en kultuur van 'n gesin.

Gelukkig is daar deesdae baie vroue wat in genealogie belangstel en ywerig besonderhede oor ons voormoeders naspeur.

Daar is navorsers wat meen die gebruik om seuns van vrygestelde slawe die middelnaam Africanus te gee (dogters Africana), die begin was van die woord Afrikaner. Soos Hendrik Bibault (Biebow/Biebauw) teenoor die gehate landdros Starrenburg van Stellenbosch uitgeroep het: "Ik ben een Africaander." Waarskynlik bedoelende dat hy nie 'n hierjy is nie maar 'n vrygeborene van Afrika en geen "Hollander" nie.

Omdat die VOC 'n handelsorganisasie was, was hulle nie besonder geïnteresseerd in die koloniste se ekonomiese welvaart nie. Daarom was daar vroeg al 'n neiging om die Hottentots-Hollandberge oor te steek en 'n bestaan as veeboere op die grens te maak.

Grensboere het meesal verkies om Khoi-arbeiders te huur eerder as om slawe te koop, want die Khoi het geweet hoe om met vee te werk. In die kompanjie was daar aanvanklik die vrees dat hierdie mense sal verwilder en hul "beskawing" sal verloor. Maar hulle het as "blanke Christene" meerderwaardig gevoel teenoor die "swart heidene" met wie hulle saamgeleef het.

Die neiging van een groep om meerderwaardig te voel teenoor 'n ander groep is blykbaar universeel. Die woord Khoi-Khoi, waarmee die inheemse inwoners van die Kaap hulself benoem het, beteken "ware mense" en die woord San was hul skeldnaam vir die Boesmans, wat hulle nie as volwaardige mense beskou het nie.

As mens die opmerkings van reisigers en selfs besoekende amptenare lees, is dit duidelik dat baie grensboere eintlik maar in naam Christene was. Mettertyd het die skeiding tussen "Christen" en "heiden" dus verander in "wit meerderwaardigheid" teenoor "swart minderwaardigheid."

Ná die Britse oorname van die Kaap in 1814 het kleurvooroordeel sterk begin toeneem. Lady Anne Barnard skryf dat mense van kleur, hoe ryk of goed opgevoed ook al, geen hoop het om deel van die toonaangewende klas aan die Kaap te word nie.

In 'n onderhoud wat ek jare gelede met die bekende Groot Trek-navorser, wyle prof. C.F.J. Muller, gehad het, het hy vertel hoe die Britse houding oor stand en kleur spoedig 'n uitwerking op die hele samelewing gehad het. So het die bekende Strooidakkerk in die Paarl sy gebruik om in kerkregisters na mense van kleur te verwys as "van die Kaap," verander na "groot gedoop," om die kleurelement te verbloem.

Mense in gemengde huwelike het as gevolg van sosiale druk toenemend uit die Boland na die Oosgrens verhuis, en vandaar dikwels ook in een van die Groot Trek se laers beland. Ons weet ook uit Louis Trichardt se dagboek dat sy trek – die heel eerste – 'n besonder rasgemengde trek was.

Hoewel die kerk aan die Kaap van die volksplanting af geen onderskeid op grond van kleur gemaak het nie, het die Kaapse Sinode in 1857 besluit om "ter wille van die swakheid van sommige" die nagmaal voortaan apart aan gekleurdes in sogenaamde sendingkerke te bedien. Dit het twee dekades later gelei tot die stigting van 'n aparte NG-Sendingkerk.

Hoewel kleurvooroordeel aan die Kaap verhard het, was daar in die grensgebiede, wat 'n mens met die Amerikaanse Wilde Weste kan vergelyk, heelwat meer sosiale beweeglikheid. Omring deur óf die Khoi óf die Xhosas, kon mense van kleur makliker deel van die blanke groep word.

Natuurlik ook van die Khoi of Xhosa-gemeenskappe as dit was wat jy verkies het. Só iemand was die Griekwahoof Adam Kok, wat deur die De Bruyns aan die Mullers verwant is.

Hierdie groter kleurverdraagsaamheid het blykbaar tot vroeg in die twintigste eeu voortbestaan, aangesien verskeie Vrystaatse burgers ná die Anglo-Boereoorlog met gekleurde vroue uit St. Helena teruggekeer het.

Mens moet jou afvra of die heftige debat oor bloedvermenging, wat die Nasionale Party se oorwinning in 1948 voorafgegaan het, ooit moontlik sou gewees het as daar nie in die praktyk rassevermenging op taamlike groot skaal plaasgevind het nie?

Toe die NP in die 1950's wetgewing aanneem wat rassevermenging kriminaliseer en liefde oor die kleurgrens tot die misdaad "ontug" verklaar, het rassevooroordeel noodwendig verhard. Mense en hul gesinne se lewe is verwoes deur strafregtelike ontugsake waarvan die getuienis wat in die hof gelewer is, vandag dikwels lees soos die teks van 'n surrealistiese drama.

Amptenare, wat waarskynlik self nie besef het hoeveel gekleurde bloed in hul eie are vloei nie, het dekrete uitgevaardig wat bepaal het dat kinders uit een huis op grond van hul velkleur na verskillende skole gestuur moes word. D.J. Opperman het 'n gedig getiteld "Draaiboek" oor hierdie gevalle geskryf.

Elke stukkie inligting wat mens vandag oor ons gekleurde voormoeders kan uitvind, help ons bevry uit hierdie benepe en benouende rasbeheptheid.

Bloedlyn van slawe en bannelinge

My niggie Anneke Muller van Stellenbosch het haar moederlyn in die families Muller, Diederichs, Prinsloo en Louw nagevors. So het sy ons hele familie aangesteek om die skemer-wêreld van politieke bannelinge en slawe te ondersoek, waaruit later van die belangrikste heldefigure in die Afrikanergeskiedenis gestam het.

'n Swart slaaf uit Wes-Afrika, Evert van Guinee, en sy vrou Anna het byvoorbeeld diep spore in die Afrikaner se geskiedenis help trap. Hulle was reeds teen 1669 vrygestel en het grond ontvang om op te boer, terwyl etlike van die oorspronklike vryburgers nie daarin kon slaag om 'n bestaan op die grond te maak nie.

Hulle was die grootmaakouers en dalk regte ouers (hoewel navorsers nog daaroor stry) van Lijsbet (Sanders) van die Kaap, wat waarskynlik die voormoeder was wat die meeste Afrikaanse heldefigure opgelewer het.

Haar dogter, Maria Evert, ook bekend as Swarte Maria, het 'n verhouding met Bastiaan Colijn en word die voormoeder van die Colijnfamilie. By die bekende vrygestelde – en welgestelde – slaaf Louis van Bengale het Lijsbet later drie kinders, Elizabeth, Anna en Maria Louisz, wat almal rolle in verskeie Afrikaner-families speel.

Lijsbet het verskeie verhoudings gehad, onder meer met Johan Herbst, waaruit Clara Herbst gebore is. Clara kon egter ook die kind van die Engelsman William Tarling (Willem Teerling) wees, aangesien Clara reeds 13 was toe die volgende Herbst-kind gebore is.

Clara trou in 1712 met Johannes Potgieter. Deur Clara en haar drie dogters by Louis van Bengale, lewer Lijsbet se nageslag persoonlikhede op soos die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter, generaals Louis Botha en Koos de la Rey, die trekvoël Coenraad Buys, die Voortrekkerverkenner Hans Dons de Lange, wat later deur die Britse bewind in Natal tereg gestel is en selfs die skrywer C.M. van den Heever.

Pres. Paul Kruger van die ZAR het ook haar bloed in sy are, hoewel sy direkte voormoeder Johanna Kemp is. Sy is die dogter van Nicolaas Kemp, wat in 'n amptelike dokument as "halfslag" beskryf word.

Clara se suster, Gerbrecht Herbst, trou met Johannes Vosloo, wat waarskynlik self die kind van die slavin Constantia was. Uit hierdie huwelik is 'n dogter, Helena Vosloo, gebore wat met Johannes Pretorius trou. Onder hul nageslag tel die Voortrekkerleier Andries Pretorius en sy seun pres. Marthinus Wessel Pretorius, die stigters van Pretoria.

Van die Pretoriusse af loop Lijsbet se bloedlyn oor die Oosthuizens, Cronjes en De Jagers tot by die Mullers.

Die Nederlanders het die gebruik gehad om politieke verset teen hul koloniale bewind in die Ooste te onderdruk deur die leierskorps en hul gevolg na die Kaap te verban. So het dit gebeur dat twee bannelinge, Amseboe en Anabe van Timor, voorouers van die Mullers geword het. Hulle dogter, Wilhelmina van Mauritius, ook bekend as (H)Ermina Karelse, trou met een van my voorsate, Pieter Christiaan de Jager.

Amseboe se ander dogter, Maria Elizabeth Jooste, is weer ons voormoeder deur die Prinsloo-lyn en onder hul nageslag tel die Prinsloos van die Slagtersnekopstand. So het ons ontdek dat sowel my pa as my ma ('n nooi Diederichs en nou verwant aan die Prinsloos) die nageslag van Amseboe is.

Die bekende Maria Lozee ("Maria Losie", omdat sy op 'n tydstip 'n toesighouer by die slawelosie was), 'n dogter van die slavin Angela van Angola, se bloed vloei ook oor die families Steyn, Malan, De Bruyn, Prinsloo tot by die Diederichse.

Maria Lozee word dus die stammoeder van drie staatspresidente: Hermanus Steyn, president van die kortstondige Republiek van Swellendam, pres. M.T. Steyn, die beroemde bittereinderpresident van die Oranje-Vrystaat, en pres. Nicolaas Diederichs van die Republiek van Suid-Afrika.

Nog 'n politieke banneling speel 'n rol: Aboel Jonker van Makassar, 'n vrygestelde slaaf. Jonker was 'n woord wat die Nederlanders gebruik het om aan te dui dat iemand van adellike afkoms is. Hy was waarskynlik een van die slagoffers toe die Nederlanders die Portugese handelsposte in die Ooste verower het.

Hy was 'n gesiene onderwyser, koster en boer in Drakenstein. By Rosetta van Java het hy 'n seun wat trou met Petronella Langeveld, dogter van Cornelia Jacobs van die Kaap. Hulle seun Abdol Jonker, is op veertienjarige leeftyd gedoop met die naam Adolph.

Aboel Jonker se bloed vloei tot by die Diederichse. Hy was terloops ook die eerste Afrikaanse stamvader wie se Oosterse herkoms deur middel van DNS-toetse bevestig is.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.