.

Wat leer ons as ons die verhale van Boeddha en Jesus met mekaar vergelyk?

Deur Dr. Piet Muller op 1 Maart 2017

.

Kom ons begin met die verhaal van Boeddha se geboorte, ongeveer vyf en 'n half eeue voor Jesus:

"Daar was in Kapilavatthu 'n Sakya-koning, sterk van wil en geëer deur alle mense. Sy naam was Sudhodana of Suiwer-rys.

"Sy vrou Maya-devi was so mooi soos 'n waterlelie en so rein van gedagte soos die lotusblom. As Koningin van die Hemel het sy op aarde geleef, rein van gedagte en onbevlek.

"Die koning, haar man, het haar heiligheid geëer, en die Gees van Waarheid, glorieryk en sterk in sy wysheid, soos 'n wit olifant, het op haar neergedaal.

"Toe sy besef dat die eer van moederskap naby was het sy die koning gevra om haar huis toe te stuur, na haar ouers toe, vir die bevalling. Die koning was bekommerd oor sy vrou en oor die kind wat sy vir hom moes baar en het haar versoek toegestaan.

"Naby Lambini was daar 'n pragtige bos en toe Maya-devi daardeur reis was die bome 'n massa van geurryke blomme en baie voëls het in hul takke gesing. Die koningin het die begeerte gehad om self net 'n entjie deur die bos te loop en het haar drastoel verlaat en in die skadu gaan wandel. Toe sy die groot sala-boom in die middel van die bos bereik, het sy besef dat haar uur gekom het. Sy het aan een van sy takke vasgehou. Haar versorgers het 'n gordyn om haar gehang en teruggestaan.

"Toe die barenspyne haar oorval het vier rein engele van Brahma 'n goue net uitgesprei om die baba in te vang, wat uit die regtersy van sy ma tevoorskyn gekom het, so perfek en helder soos die son wat opkom.

"Die Brahma-engele het die kind geneem en voor sy moeder neergesit: 'Verheug jou, o koningin, 'n magtige seun is vir jou gebore.' Langs haar rusplek het 'n ou vrou gestaan wat die seën van die hemel op die kind afgebid het.

"En al die wêrelde is verlig deur 'n helder lig. Die blindes kon skielik sien, weens hul begeerte om die glorie van die Heer te sien; die doofstommes het met mekaar gepraat oor die wondertekens wat die geboorte van 'n Boeddha voorafgaan. Die kreupeles het gesond geword en die lammes kon loop. Alle gevangenes is uit hul kettings bevry en al die vure van die hel is geblus.

"Geen wolke het die helderheid van die lug bedek nie en besoedelde strome het vanself rein geword, terwyl hemelse musiek oral weerklink en engele van vreugde gesing het.

"Die geluid van die diere was gedemp; alle slegte wesens het liefdevolle harte ontvang. Net Mara, die bose, het getreur.

"Die Naga-konings, wat ook eer aan die Boeddhas van die verlede bewys het, het opgedaag om die jong Boddhisatva te vereer. Hulle het mandaare-blomme voor hulle gestrooi en met harte vol vreugde eer aan hom betoon.

"Die koninklike vader het oor al hierdie dinge nagedink, dan vol vreugde en dan weer vol twyfel. Die koninklike moeder het haar kind vasgehou en al hierdie dinge gade geslaan met onsekerheid in haar gemoed.

"In 'n woud daar naby het die siener Asita as 'n kluisenaar gewoon. Hy was 'n Brahmaan vol waardigheid, nie net bekend vir sy wysheid en geleerdheid nie maar ook vir sy vermoë om tekens te lees. Die koning het hom genooi om die nuwe baba te kom sien. Toe die siener die kind sien het hy gehuil en diep gesug. Toe die koning sy trane opmerk het hy diep bekommerd geraak. 'Hoekom laat my kind jou huil met soveel smart?'

"Maar Asita se hart was vol vreugde, en omdat hy geweet het toe verward die koning was, het hy gesê: 'Die koning, soos die volmaan, behoort groot vreugde te hê want vir hom is 'n wonderlike edel seun gebore. Wees nie bevrees nie want al die tekens dui daarop dat hierdie kind verlossing vir die wêreld sal bring. Omdat ek al oud is kon ek nie my trane bedwing nie, want ek sal die glorie van hierdie kind nie self sien nie. Hy sal óf 'n koning van konings word, wat oor die hele aarde regeer, óf 'n Boeddha. Hy is gebore ter wille van alles wat lewe. Hy het gekom om die armes, die ellendiges en die hulpeloses te red.'

"Toe die koninklike egpaar die woorde van Asita hoor was hul harte vol vreugde. En hulle het die kind Siddhatta genoem, 'hy wat sy roeping vervul.'

"Die koningin het aan haar suster, Pajaapati, gesê: ' 'n Moeder wat 'n toekomstige Boeddha gebaar het sal nooit geboorte gee aan 'n ander kind nie. Binnekort sal ek hierdie wêreld verlaat, my man en my kind Siddhatta. Wanneer ek weg is moet jy 'n moeder vir hom wees.'

Elkeen wat bekend is met die Nuwe Testament sal in hierdie volksverhaal oor die geboorte van Boeddha, al die elemente herken wat ook in Jesus se geboorteverhaal voorkom: Die rein en maagdelike moeder, die verwekking deur die Heilige Gees (van Wysheid); die ou vrou wat vir die kind bid en die profeet wat trane van spyt stort omdat hy nie die kind se toekomstige glorietydperk sal beleef nie. Selfs die latere tradisie dat Maria 'n immermaagd was, want 'n vrou wat eenmaal so 'n wonderkind in die wêreld gebring het, sal nooit weer 'n ander baar nie. Tog het hierdie verhaal minstens vyf eeue voor Jesus se geboorte ontstaan. Maar as mens tot die gevolgtrekking kom dat Jesus se geboorteverhaal plagiaat was, vra jouself die volgende af: Sê nou jy ontmoet iemand wat so buitengewoon is dat mens nie anders kan nie as om te vermoed dat die goddelike op die een of ander manier in hom teenwoordig is – hoe sal jy dan so 'n mens aan ander beskryf? Dink maar aan hoe Nelson Mandela bykans deur die wêreld vergoddelik is, net omdat dit so buitengewoon is dat iemand kan vergewe waar ander sou wraak sweer. En in vergelyking met Jesus of Boeddha se lewe, of selfs Mohammed s'n, was Nelson se lewe maar redelik ordinêr.

As Boeddha en Jesus se geboorteverhale vergelyk word, word 'n mens getref deur hoe ontoereikend taal is om belewenisse van die heilige te beskryf. Wanneer mense se lewens so radikaal afwyk van die norm, dat hul tydgenote glo dat hulle 'n teenwoordigheid van die goddelike in hulle gewaar, het hulle geen ander keuse nie as om hulle tot mitologie te wend, om te verduidelik hoe uitsonderlik hul lewens was. Dit het nie net met Boeddha en Jesus gebeur nie, maar met etlike ander figure uit die Oudheid, selfs met keiser Augustus, aan wie ook 'n maagdelike geboorte toegeskryf is. Die godsdiens van die Middellandse See was veral baie bekend met maagdelike geboortes, want 'n god soos Zeus was voortdurend op loer vir mooi maagde. Hy het homself op 'n keer soos 'n swaan vermom om die maagd Lea by te kom en uit daardie daad is die dioskourie, die tweeling Kastor en Pollux gebore, waarvan die een onsterflik was en die ander sterflik. Ons moet dus nie sonder meer aanvaar dat die verhale oor Jesus se geboorte "afgekyk" is uit Boeddha se geboorteverhaal nie, want die twee godsdienste sou eers tweeduisend jaar later bewus word van mekaar se dogmatiese inhoude. Maar daar kan geen twyfel wees dat die mitiese verhale oor Jesus en Boeddha saans om die vuur op die talle handelsroetes tussen die Ooste en die Werste vertel is nie. Neem die geval van die bejaarde "Rishi" of siener, Asita, wat oor Boeddha se toekoms geprofeteer het. In die Hindoeïsme is 'n tempelritueel vir 'n pasgeborene iets algemeens, omdat daar op elke plekkie 'n plaaslike tempel is. Maar dit was nie die geval in die Judaïsme nie. Trouens, die enigste tempel was in Jerusalem en die besnydenis op die agste dag is sommer tuis deur 'n rabbi waargeneem.

Die storie wat Lukas vertel oor die profeet Simeon en die profetes Anna is heel waarskynlik oorgeneem uit die Boeddhaverhaal. Net soos die verhaal van Jesus wat op die meer geloop het herinner aan 'n volksverhaal oor Boeddha wat op die Ganges sy stapmeditasie gedoen het, uit vrees dat hy tydens die reënseisoen dalk onbewus lewe onder sy voete kan vertrap. Die kinderevangelie van Thomas, waarin verhale uit Jesus se kinderdae vertel word, kon beslis nie geskryf gewees het sonder 'n kennis van die volksverhale oor Boeddha se kinderdae nie. Dit is eers in die tweede eeu geskryf, maar die feit dat dit aan Thomas toegedig is, gee 'n mens die idee dat die inhoud uit Indië kom, want dit is immers Thomas wat daar gaan sendingwerk doen het. Die vraag wat 'n mens jou egter moet afvra is hoedat dit gebeur het dat soveel verhale die Midde-Ooste bereik het via die handelsroetes uit die Ooste? Dan moet 'n mens natuurlik die naam van Alexander die Grote noem, die geleerde jong militêre genie wat op 26-jarige leeftyd 'n leër en die grootste kontingent geleerdes van sy tyd bymekaar gemaak het, en uitgetrek het om alles wat voorkom te oorwin, tot waar die wêreld eindig.

Hy het redelik gou die ryk van die Mede en die Perse verower, maar dit het hom altesaam sewe jaar geneem voordat hy die boloop van die Gangesrivier kon oorsteek. Volgens sy leermeester, Aristoteles, moes hulle nou reeds die einde van die wêreld bereik het en sy soldate het al hoe onwilliger geword om verder te trek. Hulle het byvoorbeeld botweg geweier om die Beasrivier, 'n sytak van die Ganges oor te steek. Ondanks al sy oorwinnings het Alexander gesterf sonder om te weet van China en sonder dat hy ooit met die Indiese beskawing van die Gangesvallei kontak gehad het.

Soos Napoleon was Alexander veel meer as net 'n generaal. Hy was 'n visioenêr wat van 'n Griekse wêreld gedroom het wat van die berge van Indië tot by die Atlantiese oseaan strek. Daarom het hy sy manskappe en offisiere aangemoedig om met plaaslike vroue te trou en so 'n Helleense wêreld geskep en byna sewe eeue lank van die bekende wêreld 'n geglobaliseerde wêreld gemaak, waarin handel vryelik plaasgevind het en waarin Grieks die algemene omgangstaal was. Selfs toe Rome later die Grieke oorwin, het hulle die Griekse taal en kultuur oorgeneem. Alexander het drie Griekse state agtergelaat tussen Babilon en die huidige Pakistan. Een van hulle was Baktrieë, wat vandag bekend staan as Afghanistan, maar wat onder die Grieke 'n internasionale sentrum van geleerdheid was, selfs nog in die tyd van Moslem oorheersing.

Hierdie Griekse state het 'n deurslaggewende rol gespeel in die verspreiding van die Boeddhisme na veral China. Die Griekse koning, Meander, was waarskynlik die eerste Westerse koning wat tot die Boeddhisme bekeer is, en die gesprek tussen hom en die monnik Nagasena, het die eerste werklike Boeddhistiese apologetiese geskrif geword. Indien Alexander verder getrek en die Indusvallei binne gegaan het, sou hy drie eeue voor Jesus se geboorte skaars enige noemenswaardige tekens van die Boeddhisme raakgeloop het. Boeddhisme was toe nog 'n klein sekte binne die groter Hindoeïsme, maar danksy die Grieke het dit binne enkele geslagte verander.

Waar Alexander by die Beasrivier kamp opgeslaan het, is hy druk besoek deur Indiese geleerdes en selfs politieke vlugtelinge. Een van hulle was Chandragupta, wie se pa se koninkryk deur die groter koninkryk van Meghada ingesluk is. Hy was gretig om alles oor krygskunde sowel as staatkunde te leer. Tien jaar later het hy besluit dat die tyd ryp is om Meghada se juk af te gooi en het hierdie koninkryk – wat toe al van binne verrot was – omvergewerp en 'n groter Indiese staat gevestig. Een van sy eerste dade was om die soldate op sy land se Noord-wesgrens te verdryf. Sy kleinseun, Koning Asoka, het die ryk nog verder uitgebrei deur sleuteldele van Indië te verower. Maar die bloedvergieting wat daarmee gepaard gegaan het, het hom al meer gekwel, omdat hy toe al met die Boeddhisme in aanraking gekom het. Sy seun en dogter het tot die kloosterwese toegetree en in Ceylon gaan woon, en hy het openlik sy Boeddhisme bely. 'n Mens kan sê dat Asoka vir Boeddhisme gedoen het wat Konstantyn later vir die Christendom sou doen. Volgens sy eie verslae het hy ambassadeurs en monnike na verskeie lande gestuur om die dharma van Boeddha te verkondig en tuine met genesende kruie aan te lê. Dit is dalk op hierdie manier dat Boeddhistiese monnike in Egipte beland het, want toe Jesus gebore is, was daar reeds vir meer as 'n eeu lank Theravada-monnike in Egipte.

Ons weet bitter min van hulle af, maar daar word vandag dikwels aanvaar dat hulle kloosterlewe die voorbeeld was wat deur die eerste woestynvaders en -moeders van die Christendom nagevolg is. Dalk was hulle ook die geheimsinnige Therepeutai, waarvan ons ewe min weet, behalwe dat hulle wit klere gedra en verskeie genesingsoorde, soos die Bad van Betsaida bedryf het. Pas gerus maar Grimm se wette van klankverandering op die word Therevada toe en merk dat 'n V maklik in 'n P of 'n B verander en 'n D in 'n T, dan is die sprong van Therevada na Therapeuta nie so groot nie. Interessant dat die volksverhale oor Boeddha gemaklik oor die lengte van die karavaanroetes gedra is. So kry 'n mens verhale uit die Jakatas, volksverhale oor Boeddha, in 'n effens ander gedaante ook in Aesopus se fabels. Maar dogma dra nie so maklik oor nie. Verhale oor Boeddha of Jesus se wonderdade is lekkerder om rondom die kampvuur te vertel, as die Belydenis van Nicea of Boeddha se Agtvoudige weg, sodat daar geen sigbare tekens is van die oordrag van die Boeddhistiese geloof na Europa in daardie tyd nie.

Nadat Keiser Konstantyn die Christendom tot staatsgodsdiens help verhef het, het daar ook 'n vloei van inligting vanuit die Weste na die Ooste begin vloei. Ná Nicea het "ketters" al begin wegbreek en na die grense van die Romeinse Ryk verskuif om vervolging vry te spring. Maar die mees invloedryke groep "ketters" was die volgelinge van Biskop Nestorius, wat na die Sinode van Efese in 431 geweier het om te aanvaar dat Maria nou die Moeder van God, oftewel die Theotokos is. Hierdie groep Christene het later tot in Persië versit, om vervolging vry te spring. Tydens die sewende eeu het hulle vyf monnike onder leiding van 'n Biskop gestuur na die hoofstad van die nuwe Tang-keiser in China en die "Godsdiens van die lig uit die Weste" daar gaan plant. Hulle teenwoordigheid is goed gedokumenteer en word vandag ernstig bestudeer, veral in die vorm van die sogenaamde Jesus-soetras, waarvan die titel ook al aandui dat die Christendom deur die Boeddhisme beïnvloed is.

Die vroeë Christendom se sterkpunt was nie soseer dogma nie, maar dade van barmhartigheid, veral praktiese naasteliefde. Hulle gee honger mense kos, verpleeg siekes, begrawe dooies en besoek gevangenes. Alles ongehoorde dade. Dit moes 'n groot indruk op die Boeddhisme gemaak het, want daar is navorsers wat glo dat dit aanleiding help gee het tot die Mahayana-Boeddhisme se ideaal van die Bodhisatva. 'n Bodhisatva is iemand wat op die punt staan om 'n Boeddha te word. Daarom dat daar in die begin na die jong Boeddha Siddhatta Gotama verwys is as die Bodhisatva. Maar in die Mahayana-Boeddhisme laat vaar so 'n persoon vrywillig die kans om Nirvana te bereik en verklaar haar bereid om weer gebore te word, sodat sy haar lewe voltyds kan wy aan die opheffing en verlossing van alle wesens.

Hierdie ideaal sien 'n mens mooi prakties uitgedruk in die Chinese godin van genade, Kwanjin, wat vandag nog gewild is. Sy is 'n vermenging van die Tibetaanse Bodhisatva van Genade, Avalokiteswara, 'n man, en Maria met die Christuskind. 'n Ander eienaardigheid is die Suiwer Land sekte, wat veral in Japan en China sterk is, en wat glo dat as 'n mens die Boeddha Amitaba se naam aanroep, jy op grond van sy vroom lewe se verdienste in die Suiwer Land gebore sal word. 'n Mens kan maklik in die versoeking raak om Amitaba as 'n soort Christusfiguur te beskou. Maar hoe het dit gebeur dat die Boeddha 'n heilige in sowel die Katolieke as Grieks-Ortodokse kerke geword het?

Dit begin alles weer met die gedeelte wat ons aan die begin gelees het, waar die siener Asita voorspel dat die baba óf 'n wêreldheerser óf 'n Boeddha sal word, wat die onderrig sal gee in hoe 'n mens uit die lydingswiel van voortdurende geboorte en dood verlos kan word. Sy pa wou natuurlik eerder 'n wêreldheerser hê en het enigiets gedoen om die werklikheid oor die ellende van die lewe vir sy seun weg te steek. Hy het die mooiste danseresse gekry om hom te vermaak en hom die mooiste bruid van sy keuse laat kies. Maar as hy die paleisgronde verlaat, moes boodskappers vooraf ingelig word, sodat hulle kan sorg dat alle ellendiges en bedelaars hulle uit die voete maak. Maar toe besluit die gode self om in te gryp. Eendag toe die jong Siddhatta weer saam met sy strydwadrywer 'n plesierrit onderneem, verskyn een van die gode in die vorm van 'n ou en sieklike man langs die pad. Siddhatta was geskok toe hy hoor dat alle mense uiteindelik so oud word en dan sterf.

'n Rukkie later het hulle weer afgekom op iemand wat ernstig siek is en weer was Siddhatta geskok. Uiteindelik het hulle verby 'n lykstoet gery. Die lyk was vrolik getooi in blomkranse, maar almal wat die stoet gevolg het, het getreur. Siddhatta was diep geskok hierdeur. Na 'n sieleworsteling het hy besluit om die paleislewe te verlaat en 'n askeet te word. Omdat hy besef het dat almal hom sal prober keer, moes hy sy vlug vir die nag beplan. 'n Laaste keer het hy kamer toe gegaan om sy babaseun en sy pragtige vrou te gaan groet. Maar hy was te bang om hulle te soen, want dan kan hulle wakker word en sal sy vrou hom beslis ompraat om te bly. Met 'n laaste omkyk na hulle het hy die kamer verlaat en by die paleisgronde uitgeglip. Sy klere het hy verruil vir vodde wat hy in 'n begraafplaas gevind het. So het hy sy soektog na 'n geestelike leermeester begin. Sewe jaar van studie en streng askese het gevolg, voordat tot hy tot die besef gekom het dat nie een van sy leermeesters hom werklik die weg kon aanwys nie. Dit was eers na sy diep meditasie onder die Bodhiboom dat hy besef het dat lyding 'n oorsaak het en dat as die oorsaak – naamlik verkleefdheid aan die "ek" – uitgeskakel word, verlossing kan volg.

Op hierdie verhaal is geslagte lank geborduur en uitgebrei en dit het 'n gewilde verhaal geword. Dit is later in Chinees vertaal en van daar weer na Arabies en Persies, Georgies en uiteindelik in die 10de of 11de eeu deur 'n monnik uit Georgies in Grieks. Natuurlik met die al die nodige verstellings om daarvan 'n Christelike verhaal te maak van 'n sendeling wat 'n jong prins tot bekering bring; en hoe die prins alle roem en rykdom verlaat en Ceylon toe vlug waar hy sy lewe in heiligheid deurbring, saam met sy leermeester Barlaam. Hierdie prins se naam was Bodhisat wat in Arabies Budasaf geword het, Jodasaf in Georgies en Josafas in Grieks en natuurlik Josafat in Latyn. Hierdie gewilde verhaal is omtrent in alle Europese tale vertaal en die kerk het later plek vir Barlaam en Josafat ingeruim in sy rei van heiliges. Die Grieks-Ortodokse kerk op 26 Augustus en die Katolieke Kerk op 27 November. So het Boeddha onder 'n "skuilnaam" 'n Christelike heilige geword!

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.