.

Bid en eet

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 April 2017

.

Eet is meer as net die vervulling van 'n menslike behoefte tot oorlewing. Dit is in alle menslike kulture ook 'n sosiale samebindende gebeurtenis – ons eet saam met ander. Die mens het oor tyd heen altyd sy bestaan rondom kos en drank gevier, van ons oorwinnings, suksesse, verhoudings, huwelike, familie, vriende en selfs dood en verlies. Ons eet saam om ons lewe saam te vier.

Soms het dit natuurlik met oordaad gepaard gegaan soos die drank benewelde orgies van die ou Griekse Bacchus vierings; of die adellikes aan die koninklike tafels wat gekreun het onder die kos, terwyl die massas van honger gesterf het. Maar dis 'n gesprek vir 'n ander keer. Terug by eet en drink as simbool vir die viering van die lewe. Reeds sedert die vroegste tye was eet en saamkuier sinoniem met 'n gasheer. Iemand wat opgetree het as die tafelhoof. Iemand wat sou opstaan en almal verwelkom, selfs 'n tipe toespraak lewer.

Natuurlik die wortels van die tradisie van die dankgebed of tafelgebed is juis binne hierdie tradisie te vind – 'n gebruik wat tot vandag toe oorleef het. 'n Gebruik wat ongeag mense se spesifieke geloof of ongeloof, deel geword het van die "toespraak" en verwelkomingswoorde deur die gasheer of dame. Met tyd saam het dit omvorm in 'n spreukformule of 'n kort (tafelgebed) rympie. Godsdienste het dit gesien as 'n wonderlike geleentheid om hulle dogma te vestig binne die elke-dag lewe van mense. Want sodoende was die "kerk" betrokke by elke ete en elke feesviering.

Die ete het dus die plek geword van erkenning gee aan 'n spesifieke godsdiens se verstaan van God en die lewe. Die dank was gerig tot die voorsienige Hand van God. Iets wat in sigself nie vir my 'n slegte ding was of is nie. Want so 'n danksegging voor 'n ete, bring 'n bewustheid en erkenning vir iets groters as net die gewone menslike handeling van eet. My probleem is meer met die misplaaste fokus van die dank.

Ek voel sterk dat dankie sê, nie aan een of ander teïstiese wese gerig moet word nie. Maar veel eerder 'n teken van respek teenoor die lewe self moet wees.

Kom ek verduidelik. In die produksie-ketting van die landerye na die kruidenierswinkel se rak tot op my bord, het dit veel meer te doen met die "netwerk van lewe" as wat dit te doen het met een of ander God se seën. Want sien, die lewe is ten nouste gekoppel aan 'n groter omvattende geheel, waarvan ek en jy 'n klein deeltjie uitmaak. Die mens is vir seker nie die kroon van die skepping nie.

Ons is slegs een en deel van een lewende organisme: mense, diere, insekte, plante, minerale, klippe, riviere, ensovoorts. Alle vorme van lewe is ten nouste verbind aan mekaar. En ons het mekaar nodig. Één groot familie. En die hartklop van hierdie een familie is respek. Respek vir mekaar, respek vir die lewe.

Ons het nodig om weer ons eenheid, ons respek en eerbied vir mekaar – ongeag spesie, ras, klas of geslag – te herontdek. Ons het nodig om eerbied vir mekaar te hê. Om weer te verstaan dat ons mede-verantwoordelik is vir mekaar se oorlewing. Dit geld vir hoe ons omgaan met die aarde se natuurlike hulpbronne, ons eetgewoontes en ons elke dag se verbruik en misbruik gewoontes. En meer as enigiets anders moet ons tafel dankgebed erkenning gee aan die ander lewensvorme wat hulle lewens opgeoffer het, vir my om te kan eet. Diere en plante het hulle lewens geoffer vir my, daarvoor moet ek dankie sê.

Presies dit wat die Nobel-vredespryswenner, Albert Schweitzer (1875-1965) gesê het met: "Until man extends his circle of compassion to include all living things, he will not himself find peace." Schweitzer was nog altyd vir my 'n bron van inspirasie en 'n rolmodel as dit kom by verantwoordelikheid neem vir mekaar; en met mekaar bedoel ek alle lewe. Hoor hoe mooi stel hy dit self: "I can do no other than be respectful before everything that is called life. I can do no other than to have compassion for all that is called life. That is the beginning and the foundation of all ethics."

En dit is juis sy filosofie van "respek vir die lewe" en die feit dat hy dit geleef het wat vir my so inspirerend van hom is. En presies dit is hoekom 'n tafelgebed of dankbaarheidsgebed vir my nog so belangrik is. Want deur voordat ek eet te stop en 'n oomblik van diep respek en dankbaarheid te toon, is in wese vir my om te erken hoe afhanklik ek is van alle lewe. En dat hierdie wonderlike planeet waarop ek leef, nie net 'n dooie stuk rots is wat doelloos in 'n baan om die son wentel nie. Nee, dat alles – ek ingesluit – pols met energie. Met wat ons noem "lewe." En dat, net soos Schweitzer se "respek vir lewe" ek ook moet erkenning gee vir alles wat hulle lewe moes opoffer om vir my vandag 'n maal te wees. Dat met die kos wat ek gaan eet, ek nooit sal vergeet dat iets moes sterf sodat ek kan lewe nie.

Kom ek verduidelik dit so: In Zen word daar geleer dat niks 'n unieke "ís-heid" het nie, alles bestaan omdat alle ander dinge bestaan (interbeing).

Neem 'n vrug as voorbeeld: Dit is 'n vrug omdat dit volledig uit "nie-vrug-elemente" bestaan. Sonder die boom se wortels en sonder die son kan daar geen vrugte wees nie; net so is dit afhanklik van riviere en die see, wolke, reën, sowel as die aarde se vrugbaarheid, wat op haar beurt die gevolg is van alles wat voorheen was. 'n Vrug is dus leeg van unieke vrug-elemente en vol van nie-vrug-elemente. Dit is juis wat 'n vrug 'n vrug maak. Net so ook ek as mens. Ek bestaan in hierdie vorm omdat alle ander dinge bestaan. Die menslike wese is deel van die geheel wat ons die kosmos noem. En binne hierdie kosmos is ek, jy en ons 'n deeltjie beperk deur tyd en ruimte. En so word 'n eenvoudige tafelgebed vir my 'n lofsang van dankbaarheid en respek teenoor alles wat lewe. Dit herinner my om stadig en met agting te eet.

Hier is een van die Boeddhistiese gathas wat ek baie keer bid voor 'n maal:

Ek eet hierdie kos in dankbaarheid.
Ek sê dankie vir elkeen en alles wat bygedra het tot die ete.
Ek belowe om op my beurt met respek, wysheid en deernis te leef.
En sodoende die lewens en energie wat opgeoffer is vir die maal, te eer. Amen.

Dit sluit aan by wat Norman Wirzba gesê het met: "When we say grace, we do not merely say a few words over our food. Rather, we are transformed so that our eating of life is also a sympathetic participation in the ways of life. Thanksgiving becomes the means through which we elevate and hold before each other the sanctity and grace of the world."

Maak so ook elke ete van jou 'n heilige en transformerende geleentheid. Smaaklike wakker, eet met respek en met deernis teenoor alle lewe!

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.