.

Die Innerlike Mens en die betekenis van Nagmaal

Deur Dr. Piet Muller op 1 Augustus 2013

.

By Renaissance Gemeenskap gebruik ons wel nog nagmaal. Maar ons verstaan is ver verwyder van die tradisionele verstaan. Die vraag is of 'n mens nagmaal behoort te gebruik as jy nie in Jesus se soendood glo nie? Paulus se woorde in 1 Korintiërs 11, "Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het..." bevat meer as net eggo's van die Mithraïsme. Trouens, Paulus se genialiteit het daarin gelê dat hy die opkomende Christendom moeiteloos kon laat inpas in die Grieks-Romeinse wêreld met sy verskillende kultusse van die god-mens. Omdat Jesus se bediening meesal onder die armes en verstotenes was het hy dikwels sy voedsel met ander gedeel en daardeur van 'n gewone ete, tafelgemeenskap gemaak. Maar of Jesus die Jood ooit aan sy volgelinge sou sê dat deur die drink van wyn hulle in der waarheid sy bloed eet, is uiters problematies. Daarvoor was die Ou-Testamentiese verbod op die eet van bloed net te diep ingewortel in die Judaïsme. Bloed was nie net onrein nie, dit was in die ware sin van die word ook taboe. In die ou Gereformeerde nagmaalformulier is daar 'n pragtige sinsnede wat 'n mens daaraan herinner dat die simbole van brood en wyn selfs veel verder teruggaan as die Mithras-kultus: "Soos baie koringkorrels tot een meel gemaal en een brood gebak word, en baie druiwekorrels, as hulle gepars word, tot een wyn vloei..." Brood en wyn as kultiese simbole kom waarskynlik nog uit die verering van die aardmoeder en die god van plantegroei. Daarom dat hierdie simbole so 'n evokatiewe krag het, want dit roep waarskynlik ou-ou lae van die kollektiewe onbewuste op (lees in hierdie opsig ook die Nederlandse predikant, Harm Knoop, se onlangse boek Leef je eigen mythe (Valkhof Pers). Dit is hierdie gelaaide simbole wat 'n mens die ruimte bied om die gebruik daarvan te herinterpreteer. Wat hierna volg is 'n poging tot eietydse interpretasie van die nagmaal, wat ons gerus weer die eucharis, dankseggingsmaal, kan noem. My dank aan Paul Tillich en C.G. Jung wat die weg voorberei het vir hierdie soort interpretasie.

Die Innerlike Mens

Daar is 'n ou-ou storie wat sy oorsprong in die Ooste het en vertel dat God, nadat hy die skepping voltooi het, iets van homself, 'n vonk van die goddelike, iewers wou versteek, sodat wanneer die mens dit ontdek hy sal besef dat deur toewyding en harde werk ook sy eie lewe vergoddelik kan word.
"Steek dit op die hoogste berg weg", het 'n koor van engele gesê.
"Bêre dit in die middel van die see", het 'n ander groep gemeen.
Maar God het net geglimlag en gesê: "Die mens is slim, vindingryk en baie nuuskierig. Dit sal nie lank neem nie dan klim hy die hoogste berg. Boonop sal hy eendag skepe bou wat op die see en selfs onder die see sal vaar."
"Nou waar op aarde kan iets vir die mens weggesteek word?" – het die engeleskaar gewonder.
"O ek weet", het God gesê. "Op die laaste plek waar hy ooit daarna sal soek ... binne-in sy hart."

Wat hierdie verhaal ons vertel is dat 'n ervaring van die goddelike altyd 'n innerlike "hartservaring" is. Die woord "God" is nie 'n naamwoord nie maar 'n werkwoord wat dui op 'n eie ervaring. Ondanks al die baie woorde wat ons kerkvaders deur die eeue gebruik het om God mee te beskryf, is die konsep "God" in wese onbegrypbaar en onbeskryfbaar. Selfs die Neo-Calvinistiese filosoof, Herman Dooyeweerd, sê dat God buite die "transendentale tydsgrens" is en daarom kan 'n mens niks wesenlik oor God sê nie. Dit is ook die gevolgtrekking waartoe die Pseudo-Dionysius kom in sy klassieke werk, Die Name van God.

'n Mens kan God alleen in jou eie binneste ervaar, daarom moet 'n mens nie die opgetekende verhale van ervaringe met God lees as geskiedenis nie, maar as ervarings wat binne iemand se binneruimte plaasgevind het. Toe Moses 'n ervaring van 'n doringbos gehad het wat brand maar nie uitbrand nie, was dit 'n ervaring wat hom in sy siel aangegryp het. Toe Jesus gedoop is en die Heilige Gees soos 'n duif op hom neergedaal en 'n stem vir hom gesê het: "Jy is my geliefde seun", het hy in sy binneste 'n ervaring van die "Vader" gehad.

'n Ervaring wat meer wesenlik en "waar" was as wat enige feitelike ervaring ooit kan wees.

Hierdie soort ervarings vind pre-verbaal plaas. Dit is nie ervarings in woorde en logika nie, maar in beelde en metafore. Meesal sê mense wat sulke ervarings gehad het dat dit omtrent onmoontlik is om dit in woorde te beskryf. Daarom lê die wese van spiritualiteit en religie nie in dogmas en geloofsbelydenisse nie, maar in persoonlike ervaring.

Die Switserse psigiater, Carl Jung, het eenmaal gesê dat geen leerstelling of dogma Paulus sou oortuig het om 'n Christen te word, as hy nie sy persoonlike Damaskus-ervaring gehad het nie. Hierdie soort ervarings gebeur dikwels spontaan, mits die spreekwoordelike grond eers daarop voorberei is. Daarom dat die dissiplines van stilte en meditasie so belangrik is vir 'n persoonlike spiritualiteit. Een van Jung se briljantste leerlinge, Marie-Louise von Franz, skryf in Man and His Symbols oor die Naskapi-indiane wat aan die begin van die Twintigste eeu nog in die wildernis van die Labrador-skiereiland geleef het. Hulle het so afgesonderd geleef dat hulle nooit gemeenskappe ontwikkel het of selfs 'n formele godsdiens nie. Elkeen was op hom- of haarself aangewys en moes daarom ook besondere aandag aan hul eie binnewêreld skenk. Nie net vir hul eie geesteslewe nie, maar ook vir hul daaglikse fisieke oorlewing. Uit hul eensaamheid en stilte het 'n besondere verhouding tussen hulle bewuste lewe en hul onbewuste ontstaan. Iets wat die ideale teelaarde is vir die groei van die Groter Persoonlikheid of die Self, daardie geheimsinnige middelpunt van ons psigiese lewe. Dit het hulle die Groot Man genoem, wat aan hulle die intuïsie en wysheid gegee het om in alle situasies te oorlewe.

Die meeste mense het minstens een ontmoeting met hierdie Groot Man, die Self, in hul leeftyd en dit is altyd 'n lewensveranderende ervaring. 'n Goedontwikkelde Self gee aan 'n mens 'n gevoel van heelheid en eenheid, van 'n einde aan die versplintering wat ons lewens so dikwels kenmerk. Alle babas word "heel" gebore, maar soos wat die ego ontwikkel en kinders dikwels botsende boodskappe van hul omgewing ontvang, verander hierdie heelheid in versplintering. Daarom dat 'n mens se kinderjare dikwels so traumaties is.

Die verhaal van Adam en Eva en hul verdrywing uit die Paradys is simbolies van hierdie versplintering in ons kinderjare, wanneer ons uit die heelheid van ons kindskap verdryf word. Thomas Keating, die Benediktynse monnik wat baie bygedra het tot die herlewing van Christelike meditasie, gaan selfs so ver as om te sê dat 'n mens geen volwasse verhouding met God kan hê as jy nie eens die traumas van jou kindertyd verwerk het nie. Dit is meesal 'n lewenslange taak.

In die Evangelie van Thomas vra Jesus se dissipels of hulle die Koninkryk soos kinders sal moet binnegaan en Jesus antwoord: "Wanneer julle die twee een gemaak het, die buitekant soos die binnekant, die bokant soos die onderkant; die manlike kant soos die vroulike kant, sodat daar nie meer manlik en vroulik is nie." Ons lewenshuiswerk is dus om onsself te vergaar en alle los dele bymekaar te bring; maar so min mense bereik ooit hierdie staat van heelheid, dat mites en legendes oor sulke mense van die vroegste tye af al bestaan. Hierdie mitologiese Eerste Mens was volgens die legendes so groot dat hy die hele kosmos gevul het. Daar is 'n Joodse legende wat vertel dat toe God vir Adam geskape het hy eers stof van die vier windstreke van die aarde bymekaar gemaak het: swart stof en wit stof; rooi stof en geel stof. Adam was dus nie net die verteenwoordiger van al die soorte mense nie maar, soos wat die vier windstreke aandui, ook die volmaakte, heel mens ... voordat die val gekom en hy uit die paradys verdryf is. In die twee eeue voor die geboorte van Jesus was daar 'n besondere belangstelling in hierdie volmaakte of "heel" mens in verskillende esoteriese Griekse skole. Party het van die Anthropos (letterlike "mens") gepraat, ander weer van die Logos (die Woord), terwyl daar onder Griekssprekende Jode na hom verwys is as Christus, gesalfde, wat 'n vertaling is van die Hebreeuse "messias". In die boek Daniël, wat ook in daardie tyd geskryf is, word gepraat van die Seun van Mens. Woorde wat almal later op Jesus van toepassing gemaak is.

Min mense van vlees en bloed het ooit al hierdie staat van heelheid bereik. Miskien was die Griekse wysgere Pythagoras en Sokrates sulke heel mense. In Sjina is geglo dat Lao-Tse so iemand was en in Indië het prins Siddharta Gautama die eretitel Boeddha (verligte) gekry omdat hy so 'n heel mens was. En dan was daar Jesus, iemand van wie ons histories feitlik niks weet nie. Ons kan nie eens met sekerheid sê dat hy werklik in Bethlehem gebore is en in Nasaret grootgeword het nie. Ons weet trouens veel meer van sy broer Jakobus, wat sy opvolger in Jerusalem geword het. Van Jesus weet ons net met sekerheid dat hy deur die Romeine gekruisig is en daarom deur baie as 'n mislukte messias beskou is. Maar ons weet ook dat hy op 'n manier gelewe en dinge gesê het wat mense diep aangegryp het. So diep dat hulle hom as die volmaakte voorbeeld van 'n "heel" mens beskou het. So 'n volmaakte en heel mens dat selfs nie sy smadelike dood 'n einde gemaak het aan die bewondering vir hom nie.

Die Christendom het nie begin toe Jesus gekruisig is nie; dit het waarskynlik begin die dag toe iemand so aangegryp geraak het deur sy lewe en woorde dat hy gesê het: "U is die Christus, die eniggebore seun van God." Die dag toe iemand hom herken het as die volmaakte "heel" mens. As iemand so iets vir Jesus gesê het, sou hy waarskynlik die persoon se woorde netjies omgekeer en daarop gewys het dat alle mense die potensiaal besit om heel te word, want volgens die Evangelie van Thomas het Jesus eenmaal aan sy dissipels gesê: "As julle julself ken sal julle geken word en weet dat julle die kinders van die lewende vader is. As julle julself nie ken nie sal julle in armoede woon en julle self sal die armoede wees."

Hy het ook gesê: "Wie van my mond drink sal soos ek word; en ek sal soos hy word..." (Vers 108) Net so het hy gesê (Vers 24): "Daar is lig in die binneste van 'n verligte mens en dit verlig die hele wêreld." Wat Jesus vir ons gesê het is dat elkeen van ons die potensiaal het om ook 'n Christus, 'n heel mens, te word. Die vroeë Christene van die stad Alexandrië het gesê dat dit elkeen se plig is om nie net 'n Christen te word nie, maar ook om 'n Christus te word. Biskop Cirilius van Jerusalem, in die tweede eeu, het aan sy dopelinge gesê as hulle uit die doopwater klim: "Nou is jy meer as 'n Christen, jy is self 'n Christus", om hulle te herinner aan die potensiaal wat binne elkeen van hulle opgesluit is.

Jesus self het gesê (Thomas Vers 106): "Wanneer julle die twee een gemaak het sal julle Seuns van die Mens wees, en as julle sê: 'Berg gee pad', sal dit padgee." As 'n mens Paulus se geskrifte deeglik bestudeer is dit duidelik dat hy baie konsekwent van Christus Jesus, om na Jesus se heelheid te verwys, praat en nie van Jesus Christus nie. Waar 'n mens wel Jesus Christus teëkom is dit bes moontlik 'n skryffout of 'n doelbewuste verandering. Daar is ongelukkig nie 'n koninklike weg na heelheid nie, om "die buitekant soos die binnekant te maak, die onderkant soos die bokant; die manlike kant soos die vroulike kant, sodat daar nie meer manlike of vroulik is nie", kos werk aan onsself. Die alchemiste van die Middeleeue het in baie opsigte 'n slegte reputasie verkry omdat daar onder hulle ook maar opligters was wat konings en rykes wou oorreed om hulle ryklik te finansier vir hul beloftes om goud uit lood te maak. Maar die meeste alchemiste was spirituele soekers, wat hulle soektog vir die kerk verberg het onder die dekmantel van nuttige eksperimente. So was die steen van die filosowe, of in Engels the philosopher's stone, die simbool van die geestelike heelheid waarna ons almal moet streef. Maar moeisame werk is nodig voordat hierdie steen kan uitkristalliseer. Eers moet 'n mens die massa confusa (die gemors van ons lewe) in 'n retort plaas en vuur maak daaronder en hoe meer 'n mens dit stook hoe swarter word dit. Maar moenie moed opgee nie want uiteindelik sal dit 'n rooi gloed kry en die rubedo word. Hierdie rooi kleur is 'n aanduiding dat ons massa confusa besig is om getransformeer te word. Maar baie werk lê nog voor, voordat die steen van die filosowe sal kristalliseer. Die hitte moet volgehou word totdat die rooi rubedo 'n wit kleur begin kry en die albedo word. As ons dan nog nie moed verloor het nie, maar volhard, sal die steen van die filosowe uiteindelik uit hierdie albedo kristalliseer. Dit is hierdie potensiaal tot heelheid, die moontlikheid om self 'n Christus te word, wat ons herdenk wanneer ons Nagmaal gebruik. Christus Jesus is nie net ons oudste broer in die geloof nie, maar ook ons wyse leermeester wat ons die pad na heelheid aangewys het.

Nagmaalformulier

Geliefdes, die dag voordat ons meester, Christus Jesus, vir die laaste keer saam met sy dissipels geëet het, het hy twee van hulle vooruit gestuur om vir die huisbaas te vra: "...waar is die kamer waar ek die Pasga saam met my dissipels kan eet?"

As ons vandag op hierdie vraag kan antwoord: "Ons harte is gereed om u vir hierdie maaltyd te ontvang", mag ons met vrymoedigheid by die tafel aansit en van die heelheid en genesing geniet, waarvan die brood en die sap die simbole is.

Die verhaal van die mens se verdrywing uit die Paradys is die verhaal van ons elkeen se verlies aan heelheid, ons verskeurdheid en versplintering, wat 'n pynlike kenmerk van ons lewens is. Hieruit het Jesus weer vir ons die pad na heelheid aangedui, deur ons daarop te wys dat elkeen van ons die Christus-gees as 'n potensiaal in ons dra en daarom in staat is om weer heel te word en die Koninkryk van die Vader binne te gaan. Trouens, Jesus het ons tot heelheid en genesing aangemoedig deur te sê: "Laat hy wat soek nie ophou soek totdat hy gevind het nie" (Thom.: 2). Jesus het ons ook verseker dat 'n mens hierdie staat van heelheid reeds in sy lewe kan bereik, toe hy ons pertinent gewaarsku het (Thom: 3): "As julle onderwysers vir julle sê die Koninkryk is in die hemel, moet julle oppas dat die voëls van die hemel dit nie voor julle bereik nie. As hulle sê: 'Dit is in die see', sal die visse voor julle daar wees. Maar die Koninkryk is in julle harte en rondom julle. As julle julself ken sal julle geken word en julle sal weet dat julle die kinders van die Lewende Vader is. Maar as julle julself nie ken nie sal julle in armoede leef en julle self sal die armoede wees."

Op 'n keer het ons meester babatjies gesien wat aan hulle ma's drink en hy het gesê "Hierdie babatjies is soos hulle wat die Koninkryk binne-gaan" (Thom.: 22). Omdat sy dissipels nie verstaan het dat babas geestelik heel gebore word nie en nog nie deur die lewe versplinter is nie, was hulle verbaas en het gevra: "Moet ons dan die Koninkryk soos babas binnegaan?" Hierop sê Jesus vir hulle: "As julle die twee een maak en as julle die buitekant maak soos die binnekant, die bokant soos die onderkant; as julle manlike en vroulike één maak, sodat die manlike nie meer manlik en die vroulike nie meer vroulik is nie; as julle die liggaamlike oog vervang met 'n geestelike oog en die liggaamlike hand met 'n geestelike hand; en as jy van jou loopbaan 'n lewensweg maak en jou uiterlike voorkoms vervang met die beeld van God in jou siel, dan sal julle die koninkryk binnegaan."

Sodat ons nie moet moedeloos word nie, het hy ons voortdurend daaraan herinner dat ons self die seuns en dogters van die Vader is; dat die Christus-gees wat alles heel maak ook in elkeen van ons is. Hy het gesê: "As julle voortbring wat in julle is sal dit wat julle voortbring julle red. As julle dit nie in julle het nie, sal dit wat julle nie het nie, julle vernietig" (Thom.: 70). Tydens ons leeftyd weet ons dikwels nie of ons hoegenaamd vordering maak op die pad van heiligmaking en heelheid nie en sal ons dit meesal eers aan die einde van ons lewens besef. Daarom het ons meester 'n gelykenis vertel: "Die Koninkryk is soos 'n vrou wat 'n kruik meel gedra het. Op pad, toe sy nog ver van haar huis was, het 'n handvatsel van die kruik afgebreek en die meel het begin uitstroom. Sy het nie daarvan geweet nie en ook niks agtergekom nie. Toe sy by die huis kom sit sy die kruik neer en toe eers kom sy agter dat dit leeg is" (Thom.: 97).

Die meel waarvan ons lewenskruik moet leeg word, sodat ons weer heel kan word, is ons eie ego, wat soos 'n leeu voor die poort van die paradys van heelheid staan en verhoed dat ons binnegaan. Daarom het Jesus gesê (Thom.:7) "Geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal 'n mens word. En vervloek is die mens wat deur die leeu geëet word, want die leeu sal 'n mens word." Wie hierdie gelykenis begryp is reeds op pad na heelheid. Die Christusgees wat in elkeen van ons is, is in staat om ons heel te maak deur alle teenstellings op te hef: tussen manlik en vroulik, geboorte en dood, goed en kwaad, liefde en haat. Net soos baie koringkorrels, wanneer dit gemaal word één meel word en tot een brood gebak word; en baie druiwekorrels, wanneer dit gepars word tot één sap vloei, so vloei die verskeurdheid van ons gees weer tot één heelheid in Christus saam. Laat ons dan met vrymoedigheid van die simbole van die brood en die sap geniet, in dankbare herinnering aan Christus Jesus, ons leermeester en oudste broer in die geloof, wat weer vir ons die pad na heelheid aangedui en gesê het: "Gelukkig is julle eenlinge en uitverkorenes, omdat julle die koninkryk sal vind, want julle kom daarvandaan en sal daarheen terugkeer."

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.