.

Betekenis is iets wat jy aan die lewe gee

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Julie 2015

.

Die kuns van die lewe lê in balans. 'n Mens moet so versigtig wees vir 'n "te" na enige kant toe. Te rasioneel is nie goed nie. Te misties is ook nie goed nie. Te emosioneel is gif en te apaties is onmenslik. Te krities is onnodig en te goedgelowig is dom.

Dieselfde waarskuwing geld ook vir spiritualiteit. Mens kan so maklik vir jouself 'n eensydige definisie formuleer van wat jy dink spiritualiteit is en dan hel jy te erg oor na die kant waar die aksent vir jou lê.

Jy kry diegene wie se totale spirituele ideaal is om soos 'n tipe Boeddhistiese monnik in meditasie een te word met die Bron en om dan amper in daardie staat van meditasie in 'n ewige trans te leef. Om te visualiseer en dit gebeur. Om te dink, en daar staan dit. Om oop te maak en jy ontvang!

Jy kry ander wie se spirituele ideaal is om alle dwalings te ontbloot, alle mites te ontmasker, alle mistiek te verguis, alle geloof te weerlê, alle aannames te verifieer en elke stelling te dekonstrueer tot op so 'n punt waar daar niks oorbly nie ... en dan bewys die niks dat iets soos spiritualiteit dalk ook 'n mite is.

Maar nie een van hierdie twee uiterstes bring jou êrens nie. Jy kan nie so asketies teenoor die wêreld staan, dat daar nie meer vir jou plek op hierdie planeet is nie, net so kan jy ook nie so verwêreld dat die monnik in jou sterf nie.

Êrens moet jy besef dat jy beide is. Daar is plek vir die markplein en die tempel in jou hart. Die ganse kosmos is jou katedraal maar aan die ander kant staan die tafels vir koop en verkoop, handel dryf en sake doen langs mekaar ingeryg tot diep in jou binnekamer.

Die punt is: 'n Mens is nie kompartementeel nie. Jy vat jou hele self altyd oral met jou mee. En as jy onttrek om stil te word, bring jy al die indrukke wat die wêreld op jou gemaak het, terug saam tot waar siel en self mekaar weer soek.

Jy is heilig en profaan. Die diepte van jou menswees lê in die balans wat jy tussen die twee bewerk en bewimpel kry. Die geheim is in die genade wat jy moet vind in die alledaagse. In die was van jou skottelgoed en in die versorging van jou kat. In die uitreik na jou lewensmaat en in die sweet vir jou dag se brood.

Die groei is wanneer jy iets heiligs in selfs die grootste sleurtaak kan raaksien.

Want oral waar jy is, leef of beweeg, is jy jou hele self en neem jy ook jou totale menswees mee. Jou lyf en jou siel.

Die kuns van spiritueel leef, lê juis in die vrede maak met die totale pakket. En om dan vanuit jou diepste self, jou heiligheid in elke alledaagse situasie te laat skyn. Soos lig wat deur loodglasvensters mense na hul asems laat snak van pure verwondering, oor iets so gewoon wat so anders is.

Hierdie tipe spiritualiteit noem 'n mens eksistensialisme of 'n eksistensiële belewenis van spiritualiteit. Dit is nie gebaseer op 'n bepaalde geloof of 'n stel dogmatiese reëls of sogenaamde geloofswaarhede of 'n belydenis nie. (Søren Kierkegaard word beskou as die vader daarvan).

Dit groei, verander en ontwikkel saam met die tyd. Dit is self-krities en intelligent. Dit omhels wetenskaplike resultate en skram nie weg van feite af nie, maar dit probeer terselfdertyd om so diep as moontlik in die mens en in sy innerlike wêreld self ook te krap en te delf.

Dit motiveer en moedig 'n besig-wees met jouself aan: Waarom beleef ek dinge so? Waarom kyk ek so na 'n saak? Waarom interpreteer ek 'n aspek so?

Hoe dieper 'n mens in jouself delf, hoe meer ontdek jy die oorsake agter jou optrede, keuses, opinies en interpretasies, maar ook ontdek jy uiteindelik die dilemma van jou menswees. Jou alleenheid en jou angs. Die nietigheid en selfs die absurditeit van jou bestaan. Jou depressie en onsekerheid, jou wanhoop en skuldgevoelens, die betekenisloosheid en benoudheid wat jy probeer verberg. En wanneer mens dan hierdie dilemma in jou ontdek en die waarheid oor jouself afgeskil uitvind, kan jy dit of omhels en meer eg jouself wees, of jy kan aanhou soek na 'n uitkoms uit jou toestand.

Die nadeel van eksistensiële spiritualiteit is dat jy nie 'n bonatuurlike wese kan verdink van jou toestand in die sin dat hy dit toelaat of oor jou gebring het, of jou daarmee wil toets of sterker maak of beproef nie. Daar sit geen geloof, gebod, of dogmatiese oorsaak agter dit wat jy van jouself in jouself ontdek nie.

Jy moet jouself maar vanuit jou eie rede hanteer en interpreteer. Vrede maak en oplossings en antwoorde vir jou dilemma vind, vorentoe kyk en vrolik aan huppel. Geskend, geskok, maar tog genadiglik nog gereed om met jouself saam te leef.

Soekend om in elke situasie iets heiligs te ontdek, sin te vind en die lewe te omhels omdat die manier waarop jy voluit leef, jou lof-offer en danklied is.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.