.

Wanneer jy bang is vir die boosheid in jou

Deur Dr. Wilhelm Jordaan op 1 April 2016

.

En toe word Koos Kombuis verlede week amptelik minister van revolusie op Karen Zoid se kykNET-geselsprogram, Republiek van Zoid Afrika. Plaerig, geselserig huldig Zoid hom vir die vrymakende invloed wat hy (en andere) via die Voëlvrybeweging van die 1980's had.

Ek wonder of mense nog onthou hoe 'n enorme steen des aanstoots Koos en die ander voëlvryes vir die destydse wit patriargale gesagsorde was. En hoe "Die Bose," gedra deur "geheime kodes," tóé en later, 'n deel van ons alfabet van angs geword het.

Toe die musiekplaat Voëlvry uitgereik is, is beweer daar is met die klankbaan gepeuter. Deur die tegniek van terugwaartse vermomming ("backward masking") is geheime kodes met okkulte boodskappe geplant.

As jy wou hoor wat Die Bose fluister, moes jy net die plaat agterstevoor speel. Tegnies kon niemand dit regkry nie, maar dít het die gevaarligte net helderder laat flikker. Die duiwel bak en brou mos in die donkerte van kodetaal en dié wat gevoelige ore het om te hoor, sal dít hoor.

In 1991, toe die destydse SAUK 'n nuwe nuuslogo kry, was die (vrydrywende) duiwel weer los.

Toe is beweer die samevoeging van verskillende flitsende beelde van mense (soos F.W. de Klerk, Michail Gorbatsjof, Margaret Thatcher en Nelson Mandela); plekke (soos die Statue of Liberty in New York en Johannesburg se mynhope); en voorwerpe (soos 'n walvis se stert, munte en goudstawe) het 'n "sinistere kode" bevat om Suid-Afrikaners te verlei tot die aanvaarding van 'n nuwe wêreldorde waarin eie identiteit, veral dié van Afrikaners, sou verdwyn. (En dit hét mos nou gebeur soos gewaarsku is, sal sommige vandag selfvoldaan sê...)

In 2006 was dit weer so. Toe was "Die Bose" in J.K. Rowling se Harry Potter-boeke. En watter stout goeters het die duiwel nie alles omgeroer in die gemoedere van onskuldige bloedjies nie. Dít terwyl kundiges gewys het hoe 'n sterk Christelike boodskap die Potter-boeke bevat, al was dit nie Rowling se bedoeling nie.

Van Bok van Blerk se meesleurende liedjie De la Rey is gesê dat dit, via die einste Voëlvry-tegniek, geheime kodes bevat vir verregse verset teen die owerheid...

Dít dan 'n kort geskiedenis van boosheidswaan in ons vir jou Suid-Afrika; as't ware 'n vrye voëlvlug oor die landskap van Die Bose.

Wat al dié dinge sê, is dat mense soms al te verbeeldingryke "agente" is wat geheime kodes agter elke bos uitsnuffel en jou wil wysmaak dat dit jou met verdorwende indrukke en booshede besmet. Weet jy dit nie, wys dit net hoe slu Die Bose is.

Miskien word sulke uitsnuffeling deur vrees gedra. Soos Cervantes se Don Quixote gesê het: "Vrees maak jou uitermate skerpsiende – vir dinge wat onder die grond is, en veral vir dinge wat in die lug sweef."

Want dit is mos dáár, eerder as ín jou, waar boosheid se terra incognita lê. Nie waar nie?

Wilhelm Jordaan is 'n rubriekskrywer en buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy raak ná baie jare steeds aangedaan oor studente wat eg wil weet en verstaan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.