.

‘n Ateïs, ‘n Postmodernis en die Pous

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 November 2013

.

Ek't nooit gedink ek sou ooit die volgende woorde sê nie: "Ek hou van die Pous."

Dit is nou die nuwe Argentynse Pous, Pous Franciskus. Die opvolger van Pous Benedictus XVI, wat die tuig vroeër die jaar neergelê het. En die rede vir my nuutgevonde liefde vir Pous Franciskus?

Omdat hy my as 'n postmoderne denker akkommodeer. En daardeur die Christendom weer ook vir my 'n relevansie gee.

Nou wat gebeur het is dat die redakteur van die Italiaanse dagblad La Repubblica, ('n uitgesproke ateïs) Eugenio Scalfar, laas maand 'n artikel met kritiese vrae geskryf het. Vrae wat hy gerig het aan die nuwe Pous.

Hy het die Pous uitgedaag om te antwoord. En teen alle verwagtinge in en ook teen tradisie in, antwoord die Pous toe in 'n ope brief terug.

Een van die vrae is byvoorbeeld, "Does God forgive those who do not believe and do not seek faith?" Die Pous het toe verrassend geantwoord met: "God's mercy has no limits, if you go to him with a sincere and repentant heart, the issue for those who do not believe in God is to obey their conscience."

En met Scalfar se vraag oor sonde, antwoord Franciskus: "Sin, even for those who have no faith, is when one goes against their conscience," en dan voeg hy by "To listen and to obey to (one's conscience) means to decide oneself in relation to what's perceived as good and evil. And this decision is fundamental to determining the good or evil of our actions."

Die feit dat die Pous dit sê is 'n groot ding. Want die Christendom is tans in die omgewing van 2 miljard gelowiges. Hiervan maak die Rooms-Katolieke Kerk by verre die grootste deel uit, met ongeveer 1,2 miljard lede.

En daarom is uitsprake soos hierbo, radikaal en kan die hele rigting waarin die Christendom tans beweeg verander. Daarom ook dat Scalfari in sy antwoord die pous geloof het as 'n wonderlike bewys van die kerk wat nou die grense in dialoog oorkom.

Maar meer nog as hierdie uitspraak, het die Pous se volgende woorde, ongekende implikasies vir die Christelike kerk in die 21ste eeu. En dit is waar Pous Franciskus direk teen sy voorganger, Pous Benedictus XVI en die kerk, se uitsprake ingaan.

Benedictus het byvoorbeeld relativisme as een van die grootste euwels van ons tyd uitgewys. "...the incapacity of modern societies and men to recognize any 'absolute truth,' such as God – is one of the evils of our time."

Waarop Franciskus die volgende sê: "...there is no such thing as an 'absolute truth' if that means a truth that can stand by itself 'without any relationship'."

En net hier beweeg hy oor die diep afgrond tussen modernisme en postmodernisme. Nou ja, toegegee, meeste mense in die kerk leef nog binne die moderne, en ja selfs premoderne denkstrome. Maar dit is mos wat leiers veronderstel is om te doen: voor te loop.

Voor ek verder gaan, kom ek verduidelik eers wat ek verstaan onder die terme premodern, modern en postmoderne denke.

Eerstens, enige denkstrome vloei voort vanuit 'n ander, geen denkstroom staan alleen nie. Byvoorbeeld, postmodernisme vloei uit modernisme en modernisme se wortels lê binne premodernisme.

Premoderne denke verwys na die periode vóór die Hervorming toe die kerk op outokratiese wyse sogenaamde 'goddelike waarheid' voorgeskryf het. Dit was 'n tyd voordat die wetenskap die wêreld verander het, toe bygeloof hoogty gevier en gode en duiwels die mensdom gevange gehou het.

Maar in die 16e eeu met Kopernikus se beroemde stelling dat die son die middelpunt is en nie die aarde nie, soos die kerk volgens Josua 10 geglo het, begin die Christelike kerk se outoriteit te verbrokkel en dit het natuurlik die periode van modernisme ingelei. (Alhoewel daar nog baie premodernistiese denke vandag voorkom, want geen denke kan suiwer in tydvakke vasgevat word nie.)

Maar in elk geval, kom ons gaan aan. Modernisme het toe geleidelik tot stand gekom vanaf die Verligting in die 16e eeu en die Franse Rewolusie van die 18e eeu.

Die doel daarvan was om deur middel van die wetenskap en tegnologie die mensdom te bevry van alle beperkende en irrasionele bygelowe en vrese.

Dink maar net hoe mense se sogenaamde waarheid oor die lewe al verander het. Ek meen in vroeëre tye het goddelike magte en kragte alles bepaal (premodernisme). Maar sedert die Verligting het mense se siening van hulle wêreld al meer rasioneel geword (moderne denke). En met die ontwikkeling van die natuurwetenskappe het dit veral daartoe bygedra dat die lewe meer wetenskaplik verklaar word, eerder as om dit toe te skryf aan onsigbare magte en kragte. Dit het ongelooflike vooruitgang vir die mensdom beteken.

Maar soos met enigiets, het modernisme ook sy eie beperkings. En omdat ons werklikheid waarbinne ons leef veelvlakkig is en dikwels meer kompleks is as wat ons graag wil of kan erken, het hierdie enkelsydige benadering 'n wanbalans gebring.

Miskien is dit presies wat Albert Einstein raakgesien het toe hy die volgende gesê het: "The intuitive mind is a sacred gift and the rational mind is a faithful servant. We have created a society that honours the servant and has forgotten the gift."

In die modernisme het hulle oorgehel na net die "rational mind" en daardeur balans verloor. Daarom is die postmoderne filosofie wat veral onder die Franse filosowe na vore gekom het, 'n fundamentele kritiek op so 'n ongebalanseerde kyk na die werklikheid.

En so het die beperkinge van modernisme geboorte gegee aan Postmodernisme. 'n Denkrigting wat absolute kennis en onaantasbare sekerhede – dit wat bo alle tyd onveranderd verhef word – bevraagteken.

Daarom sê postmodernisme byvoorbeeld dat alle sogenaamde waarheid, is essensieel maar net menslike skeppings – opgestel vir 'n spesifieke plek, tyd en omstandighede. (Dit beteken natuurlik, ook hierdie stelling hier moet met 'n kritiese oog bekyk word.)

Geen waarheid kan ooit finaal wees nie, dit staan altyd in verhouding met die plek en tyd waarbinne dit ontstaan het, en kan dus deur veranderende omstandighede gewysig word of selfs uitgedien raak om uiteindelik plek te maak vir nuwe denke.

Daarom word in die postmoderne denke gekyk na 'waarheid' as iets wat verskillende dinge vir verskillende mense kan beteken. Daar is ruimte vir die kompleksiteit, rykdom en misterie van die lewe.

Daar is ook ruimte vir 'n groter werklikheid as net wat die menslike verstand kan vasvat en daarom ook vir die verskeidenheid van verduidelikings en interpretasies van daardie werklikheid.

Alles moet dus gesien word binne die verhouding waarin dit staan. Die klem val dus op die mens-in-verhouding eerder as op die mens as individu. En in plaas van die waarheid as feite, wil postmoderne denke die werklikheid holisties benader.

Hierdie postmoderne verstaan kom volgens my nogals goed oor die weg met die Bybelse idee dat mense in hierdie aardse bedeling maar net ten dele ken (1 Kor. 13:12).

Daar is dus ruimte vir verskillende stories. En enige denke wat net een storie wil verhef, as die enigste, absolute en geldende storie moet met agterdog bejeën word.

En ja, veral jou eie eie storie en oortuigings moet met suspisie benader word. Die wete dat jou eie denkprosesse en voorveronderstellings maar ook slegs een van vele benaderings is. Daarom dat ek so hou van Jiddu Krishnamurti se woorde: "I maintain that truth is a pathless land."

En dit wat die Pous gesê het oor waarheid en die verhouding waarbinne dit staan, is 'n goeie voorbeeld hiervan. En so kan 'n mens ook vandag iets kry soos 'n Postmoderne gelowige.

Al hoe meer gelowiges soos die Pous, of noem hulle eerder spirituele mense neem die pluraliteit van kulture, verskillende godsdienste, mense en ander stories in ag en besef dat almal staan in 'n onderliggende verhouding.

Die interessante ding is, maak nie saak of jy binne 'n godsdiens staan of daar buite nie, jy werk essensieel maar met 'n stel voorveronderstellings.

En ja, almal van ons funksioneer binne so 'n bepaalde storie of narratief. Of ons dit weet of nie. Ongeag of jy 'n ateïs of fundamentalistiese Christen is, jy werk op die ou einde met 'n meester narratief en daardeur skep jy sekere grense vir jouself.

Die postmoderne gelowige/spirituele mens besef dit. En daarom is so 'n persoon se vertrekpunt dat hulle nooit die enigste waarheid het nie. Dit is slegs maar sy of haar waarheid, vir nou.

En dit is waarheid totdat 'n ander waarheid hulle verder oortuig. Daarom praat postmoderne spirituele mense van hulle spiritualiteit as 'n reis en 'n proses. 'n Reis waarin daar beweeg word tussen sekerhede en onsekerhede.

Dit bring my by die konklusie dat spiritualiteit eintlik nie te veel te doen het met 'n stel ewig geldende waarhede nie of 'n absolute belydenis nie, nee, dit is veel eerder iets wat jy is, wat jy beleef, wat van jou jý maak en wat verseker nie altyd in woorde vasgevat kan word nie.

'n Ewigdurende groeiproses. En juis dit maak 'n mens soveel meer bewus van hierdie oomblik waarin jy jouself bevind. Dit beklemtoon dat 'n mens nooit regtig arriveer nie.

Spiritualiteit gaan dus oor hoe jy elke dag lewe, hoe jy sin vind in hierdie lewe. Dit wat die Pous in sy brief noem "gewete". Dit is jou spirituele bewussyn. Dit is jy. Dis jou ervaring en interpretasie.

Daarom kan die Pous vir 'n Ateïs sê dat God hom ook kan red, as hy volgens sy gewete eerlik en opreg lewe. Die Pous impliseer dus daardeur dat die vaste grense wat die kerk altyd getrek het, toe nooit so vas was of is nie.

En daarom kan ek sê dat ek van die Pous hou. Verseker is daar vele dinge waarmee ek nog nie saamstem nie, maar dan herinner ek my altyd aan die digter Walt Whitman se (postmodernistiese) woorde: "Do I contradict myself? Very well, then I contradict myself, I am large, I contain multitudes."

En net tyd sal leer of die nuwe Pous dit gaan regkry om godsdiens wat in ons tyd meestal ontmasker is as self-gerig, onverdraagsaam en misleidend, te help transformeer na 'n nuwe storie waar almal se stemme gehoor kan word en nie net die van die magtiges en bevoorregtes nie.

'n Plek waar daar ruimte is vir meer as net een storie. Die storie waarin die goddelike se genade en liefde regtig geen perke ken nie.

Albert Einstein: "Everything that can be counted does not necessarily count; everything that counts cannot necessarily be counted."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.