.

Aspoestertjie se stiefsusters

Deur Dr. Flip Schutte op 1 September 2015

.

'n Mens kan nie wegkom van die feit dat jy 'n psigo-somatiese eenheid is nie. Baie van die goed wat jy in jou denke troetel of oor jouself glo, realiseer in jou lewe of manifesteer in jou lyf. Deesdae is daar ook al meer en meer dokters wat glo dat as hulle jou help om jou spanning, of depressie, of emosies of verhoudings uit te sorteer, baie van die sogenaamde siektesimptome in jou lyf sommer vanself beter sal word, of sal verdwyn.

Daar is selfs al dokters of praktiserende geneeskundiges wat nie meer vir mense vra: Wat gaan met jou aan, nie. Hulle vra: Wie gaan met jou aan? Want so lank as wat jy woede of irritasie, of hartseer of 'n negatiewe gevoel teenoor iemand anders in jou hart saamdra, en so lank as wat jy in jou kop daaroor loop en tob, vir so lank reageer die selle in jou lyf daarop en sal jy nie lekker voel nie. Jy kan fisies siek word omdat jy emosioneel nie op 'n lekker plek is nie.

Mense praat hulleself in negatiewe omstandighede in of hulle dink hulleself siek. Mens hoor dikwels dat iemand bv. sal sê: Ek is gebore om swaar te kry. Ek kry niks verniet nie. Ek moet maar werk vir elke sent wat ek het. Ek sal seker arm doodgaan ook. Of jy sal hoor dat iemand van iemand anders praat as 'n ongeluksvoël want alles wat 'n mens kan tref, tref daardie persoon. Elke siekte wat die land inwaai, kom plak op hom!

So word mense se denkpatrone vir hulle boeie. Dit hou hulle gevange. Dit word kettings wat hulle oral met hulle saamsleep.

Ek lees gedurende die week 'n artikel wat handel oor die verband tussen 'n positiewe selfbeeld en prestasie in die werkplek onder volwassenes. Die bedryfsielkundige wat die artikel skryf, beweer toe dat mense te veel bagasie saamdra wat hulle laat glo dat hulle nie goed genoeg is nie. En as jy glo dat jy nie goed genoeg is nie, sal jy ook nooit presteer en jou doelwitte bereik nie, want jy glo dan dat jy nie kan nie en nie daartoe in staat is nie.

Hy verduidelik dit met 'n mooi beeld in die artikel. Hy sê dat jy gebore word met 'n groot net wat oor jou skouer hang en waarmee jy die lewe instap. As jou ouers bv. skei, sê jy vir jouself: dis dalk my skuld, ek is nie goed genoeg nie en jy vang die bal wat hulle in die lug opgegooi het en jy sit dit in jou net. As jou pa dalk 'n alkoholis was, of as jou pa of ma min by die huis was en min aandag aan jou gegee het, of opmerkings wat maats oor jou gemaak het, of onnadenkende kritiek van 'n onderwyser, 'n verhouding wat nie uitgewerk het nie, 'n vriendskap wat in die hek geduik het, of wat ook al ... al hierdie dinge is soos balle wat in die lug gegooi word en jy het besluit om baie van hulle te vang. Jy het besluit om dit in jou net te sit en dit te interpreteer asof jy nie goed genoeg is nie. En nou sleep jy hierdie net vol balle 'n leeftyd saam.

Wat jy saamsleep, het die geneigdheid om jou op 'n bepaalde manier na die lewe te laat kyk. Dit definieer jou later. Dit word jou bril, jou wese, jou identiteit...

Maar dit is onnodig. As jy gelukkig en gesond wil wees, en as jy jou potensiaal as mens wil uitleef, as jy jou doel in die lewe wil vind en jouself wil uitsorteer, as jy geluk wil vind en doelwitte wil bereik, sal jy daardie balle uit die net moet haal en dit moet teruggooi na die oorspronklike eienaar toe. Dis nie joune nie. Jy het dit gevang en gemaak asof dit joune is. Daarom sleep jy dit in die net saam. Maar dis nie joune nie. Gooi dit terug en maak die net leeg.

As jy dit nie doen nie, maak jy van jou bagasie en van al jou vrese en kritiek wat deur die jare na jou kant toe gekom het, boeie. Jy word 'n galleislaaf wat maar net moet bly roei ... Jy laat toe dat ander se issues jou lewe vernietig en rig en stuur en lei. Jy stap in 'n gedikteerde koers in, in plaas daarvan om jou eie koers te kies.

Dit word dan 'n sindroom waaraan jy ly en wat jou psigies en fisies beïnvloed en aantas, selfs siek maak.

Die archetipe wat met hierdie hele toestand geassosieer word, speel af in die broeders Grimm se sprokie oor Aspoestertjie.

In die storie van Aspoestertjie is die stiefma en die twee stiefsusters die negatiewe denkpatrone wat jy in jou bewussyn skep en dan in jou onderbewuste bêre. Elke mens het 'n nare ou stiefma êrens in ons onderbewuste wat ons weghou van die goeie af. Sy is daardie minderwaardigheidskompleks waaraan ons ly of die swak selfbeeld wat ons keer om ons potensiaal ten volle te bereik, of die geloof wat ons in ons binneste saamdra dat ons nie goed genoeg is nie.

Maar in elkeen van ons se binneste is daar ook 'n goeie fee. Dit is daardie stemmetjie of intuïsie, of superbewussyn, die goddelike in jou, wat jou in iets goeds laat glo. Dit is daardie iets in jou wat vir jou sê dat jy tog kan kry wat jy wil hê. Dat jy tog kan bereik waaroor jy droom. Dit is daardie plek in jou waar alles moontlik is.

En toe verloor Aspoestertjie haar mooi skoentjie op die trap en sy kry haar prins. Hulle trou en leef vir altyd gelukkig saam. In die mitologie en in sprokies dui die archetipe van die "trou en vir altyd gelukkig saam," juis op daardie oomblik in jou lewe wanneer jou lewe uitgesorteer is. Wanneer jou twee kante binne jouself een word, wanneer jou vroulike en manlike kant in jouself vrede met mekaar vind, wanneer jou buitekant soos jou binnekant word.

En as 'n mens vrede het en positief is, gebeur daar ook positiewe dinge met jou en trek jy positiewe gebeure en mense na jou toe aan. Die goeie fee wil elkeen van ons se pampoen in 'n koets laat verander. Maar dit kan alleen gebeur wanneer ons bereid is om die skoentjie op die trap te verloor.

Jy moet doelbewus die balle in jou net uitgooi. Jy moet doelbewus jou bagasie neersit. Gee die goed aan die mense terug wat dit op jou kom laai het. Word ligter soos wat jy aanstap. Breek die ou en negatiewe denkpatrone waarmee jy jouself vergiftig. Verwilder die stiefma in jou hart en luister na die goeie fee. Verdryf daardie stiefsussies in jou kop en sien uit na die bal met die prins.

Jou geluk en prestasie en sin en doelwitbereiking is in jou hande. Jy kan tot 'n groot mate besluit om die vaal grys muise in jou stowwerige kombuis in wit perde te verander om jou koets die toekoms in te trek.

Doen dit wat binne jou vermoë is om van jou lewe en denke die plek te maak waar jy tuis voel en waar jy graag wil wees.

Ons is nie slagoffers nie. Ons is skeppers.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.