As die verstoteling sélf uitsluiter word

Deur Pieter Cilliers op 1 Julie 2011

Hierdie het ook in Rapport Weekliks verskyn.

Verlede jaar het ons 'n inskrywing in Kwêla se amateurvideokompetisie ontvang wat my moedeloos gelaat het. Dit is opgeneem by een van mnr. Angus Buchan se Mighty Men-saamtrekke.

'n Paar jong manne het in 'n bussie gesit en voorgegee hulle is homoseksueel. Hulle het dit gedoen deur geaffekteerde handgebare te maak en op 'n verwyfde manier te praat. Dié konsert in die kleine is gehou vir die mans wat ná 'n Buchan-preek daar verby gestap het op pad terug na die tentdorp en met die uitsluitlike doel om hul reaksie op film te vas te lê.

Uit dié mans se reaksie kon 'n mens aflei wat die inhoud van die preek was.

Hulle het die kamma-gays streng (en selfs met weersin) tereggewys. Op hul beurt het die grapmakers die interaksie amusant genoeg gevind dat hulle die video vir die funnies-afdeling van Kwêla se videokompetisie ingestuur het.

Maar dit was nie snaaks nie – behalwe as jy verwerping, stigmatisering en spot as "snaaks" beskou.

Ek het begrip vir die Afrikanerman se ontreddering: Hy het nie meer 'n duidelik gedefinieerde rol nie; sy politieke seggenskap is daarmee heen; hy voel hy is nie meer by magte om sy gesin te beskerm nie; en hy word deur swart ekonomiese bemagtiging uit die werkplek gehou. Hy was voorheen in beheer, maar sy mag is hom ontneem.

Afrikanermans het in baie opsigte randfigure geword: die verstoteling; die nuwe gemarginaliseerde. Gevolglik het hy soeker geword. 'n Soeker na 'n identiteit, 'n plek om te behoort, 'n anker om aan vas te hou. Dis iets waarmee vele gay mans al jare lank worstel, vandaar die titel van my boek Soeker.

Baie Afrikanermans is pro-aktief in hul soeke. Hulle bestuur die verandering positief en is vernuwend en inklusief in hul denke. Vir ander lei daardie soeke na Angus Buchan se Mighty Men-saamtrekke.

Dit is opvallend dat die uitnodiging na dié saamtrekke gerig word aan alle mans, ongeag taal of ras. Tog is dit meesal wit Afrikanermans wat die uitnodiging aanneem.

Waarom? Hoekom lei juis Afrikanermans se soeke hulle na Buchan? Die enigste afleiding wat ek kan maak, is dat hulle met Buchan se boodskap, wat histories deel van hul lewe en kondisionering was, kan identifiseer.

Onderliggend aan dié boodskap, aangebied as kinderlike geloof, lê die temas van patriargie, seksisme en homofobie opgesluit. Dis temas wat aan Afrikanermans bekend is. "Waardes" wat hy (of sy pa) selfs eens op 'n tyd opgedwing het.

Op 'n goedige en vaderlike wyse vertel Buchan vir hom dat hy al die tyd reg was, want die Bybel sê immers so. En dat die land en wêreld 'n beter plek sal wees as ons terugkeer na dié waardes.

Buchan hou die Bybelse Elia voor as die voorbeeld om na te streef. Buchan se Elia is harig; hy dra 'n belt. Hy is kragdadig, macho en nie 'n sissie nie. Hy is in beheer.

Maar wat impliseer dit? Is Elia se belt simbolies van lyfstraf? Word manlikheid gelykgestel aan onderdrukking en mag? As ware mans nie sissies is nie, is gay mans by implikasie wel? En wat word met macho bedoel? Lê dit in die manier waarop 'n man sy spiere bult? Hoe hy sy vuiste kan inlê? In die weligheid van sy borshare?

Met Elia as voorbeeld moedig Buchan mans aan om weer hul gesag te laat geld. Van die min plekke waar die Afrikanerman dit steeds kan doen, is in die gesin en in die kerk. In die gesin word geslagshiërargie as die ideaal voorgehou. Die vrou moet haar plek ken. Van 'n gelyke vennootskap is daar nie sprake nie. Die subteks is mag en beheer. Iets wat tot gesins-geweld en emosionele teistering kan lei.

Naas die gesin is die heteroseksuele Afrikanerman ook grootliks in die kerk aan die stuur. Dit is meesal hý wat in sinodes en algemene kerkvergaderings met die opsteek van 'n hand die lot van buitestanders bepaal.

In die proses word die Bybel gereeld met gesag oopgeslaan.

Hoe dié Boek gemanipuleer word om agendas te steun, kom selde ter sprake. En heteroseksuele mans wat inklusief dink, is ongelukkig in die minderheid. So ook gemeentes waar almal welkom is.

'n Mens sou dink dat juis die heteroseksuele Afrikanerman uit die geskiedenis sou leer wat marginalisasie aan mense doen. Hy was lank die uitsluiter. Die een wat swart mense, vroue en homoseksuele tot randfigure gereduseer het. Met die bordjie verhang, voel hy aan die lyf wat dit is om buitestander te wees.

Maar ongelukkig lyk dit of die meeste mans niks daaruit geleer het nie. Pleks daarvan om die hand uit te reik na die histories gemarginaliseerdes, trek hulle laer by die Mighty Men-saamtrekke – en ook in die kerk – en hulle sluit in die proses steeds uit.

Ja, ek verstaan die soeke van die Afrikanerman, maar wat het van die barmhartigheid geword waarvan Jesus ons leer?

Wat het geword van liefde, meelewing, aanvaarding en die uitreik na mense? Hoe versoen die uitsluiters Jesus se intree vir buitestanders met die kerk se doelbewuste stigmatisering en demonisering van daardie einste buitestanders vandag?

Ek vind Angus Buchan en sy sendelingbroer se populistiese prediking naïef en gevaarlik – deel van 'n wêreldwye swaai na fundamentalisme. Dis kommerwekkend dat bekendes die Mighty Men-filosofie onderskryf. 'n Mens kan nie anders as om daaruit af te lei dat hulle ook heteroseksisme en geslagsongelykheid kondoneer nie.

Sulke onverdraagsaamheid is nie net tot "wit" kerke en gelowiges beperk nie. 'n Mens sou dink dat die swart heteroseksuele man wat nou die mag het uit sy jare lange onderdrukking sou leer. Maar ook dié voorheen gemarginaliseerde het die uitsluiter geword. Die gevolg is dat patriargie, homofobie en seksisme steeds in swart gemeenskappe in stand gehou word.

Wanneer 'n pastoor sê dat gay mense erger as katte en honde is, gaan die gevaarligte aan. Wanneer Christene begin saamsweer om die doodstraf vir homoseksuele ingestel te kry (soos in Uganda), besef 'n mens hoe die kerk vervolging aanmoedig. Wanneer 'n ambassadeur skuldig bevind word aan haatspraak en in sy pos aanbly, vra jy jouself af wat van ons leiers geword het. En wanneer lesbiërs "korrektief" verkrag word om hulle reg te ruk, wonder jy of ons inklusiewe Grondwet ooit sy pad na die hart van die samelewing en die kerk sal vind. Soms dink ek die Grondwet is meer kerk as wat die kerk kerk is.

Dr. Allan Boesak, vir wie ek baie respek het, het in 2008 uit die moderatuur van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) bedank omdat die sinode die Belhar-belydenis net op rassisme laat fokus het. Vir hom was die logiese gevolg van dié belydenis die insluiting van alle gemarginaliseerdes, ook homoseksuele. Die VGK kon dit nie so insien nie.

Daarmee het die slagoffer van vroeër die vervolger geword. Ek het Allan by 'n onlangse teologie-seminaar gevra of hy die verskynsel van die voorheen gemarginaliseerde wat later die marginaliseerder word, kan verklaar. Sy kort antwoord daarop was nee. Ek dink hy moet die lang antwoord self gee.

Ek het self ook nog nie duidelikheid oor dié verskynsel nie, maar ek skryf dit tot 'n groot mate toe aan onkunde en vrees onder veral heteroseksuele mans.

Wanneer 'n mens iets nie verstaan nie, is dit maklik om jou rug daarop te keer. Dit is uiteindelik kennis en ingeligtheid wat begrip bring.

Dit is eers wanneer heteroseksuele mans, soos oudpres. Nelson Mandela en emeritus aartsbiskop Desmond Tutu vir gemarginaliseerdes begin intree dat daar verandering kom. Dit wil egter voorkom of hierdie groot geeste en heteroseksuele mans wat hul siening deel – soos die Hervormde teoloë professore Andries van Aarde en Piet Geyser – die uitsondering eerder as die reël is.

Totdat heteroseksuele mans in die algemeen 'n kopskuif maak en inklusief begin dink, sal gemarginaliseerdes randfigure bly.

Pieter Cilliers is vervaardiger van die joernaalprogram Kwêla op kykNET.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za