.

As alles eén is, hoe raak dit óns?

Deur Dr. Piet Odendaal op 1 November 2017

.

Ek sit nou onlangs op die bankie by my voordeur, hard besig om niks te doen nie. So uit die hoek van my oog vang ek toe 'n beweging op en toe ek kyk, sien ek dis 'n mier wat iets wegsleep. Die voorwerp – maklik meer as tien keer sy eie grootte – was klaarblyklik iets om te eet. Hy het nie gaan stilstaan om homself dik te vreet nie – nee, hy was besig om die voorwerp met groot moeite aan te karwei nes toe. Tewens, ek het hom gevolg en gesien die nes was wel sy bestemming.

Onwillekeurig kom die Bybel se vermaning toe by my op – 'Luiaard gaan na die mier en word wys.' Ek het toe die moeite gedoen om die presiese bewoording te gaan opsoek, en dit gevind in Spreuke 6:6. Dit lees: "Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!"

Ek dink toe hieroor na en dit tref my dat daar nie gesê is gaan na die mier en word fluks nie, maar wel word wys! Toe besef ek dat terwyl fluks sekerlik 'n dimensie is van wysheid, is dit nie wysheid per se nie. So byvoorbeeld kan die grootste skelms en bedrieërs – wat beslis nie onder die wyses tel nie – baie fluks wees in die beplanning en uitvoering van hul wandade. Daarteenoor was die mier wat ek gesien het, se ooglopende doel met die swaar wegslepery beslis nie op eie voordeel gerig nie, maar op die welsyn van sy nes as geheel – d.w.s. sy alles – en dit het sy wysheid demonstreer.

Wat kan ons as mense uit hierdie gedrag van miere leer? Benewens die dimensie van fluksheid, is die belangrikste les ongetwyfeld die ingesteldheid om verby jouself te kyk en ook die belang van andere na te streef. Om dit te doen verg ook nie net dade nie maar ook die aanpassing van ons woorde en gedagtes. So kan woorde mense seermaak en selfs verpletter; maar dit kan ook mense aanmoedig en ophef. Verder moet ons verstaan dat ook ons gedagtes kan werk tot nadeel of voordeel van ander. Ongelukkig besef meeste mense nie tot watter mate gedagtes skeppend kan wees nie – vir goed of vir sleg.

Daar word dikwels idiomaties gesê, "plaas 'n wag voor jou mond." Dit is egter ewe belangrik – en eintlik meer belangrik – om 'n wag oor jou gedagtes te plaas; want per slot van rekening is gedagtes die voedingsbron van ons woorde en dade. Om voortdurend jou gedagtes te moniteer en bestuur is egter uiters moeilik. Tewens, die mate waartoe ons daarin kan slaag, dui die vordering aan wat ons reeds gemaak op die pad van geestelike ontwikkeling. Inderwaarheid vereis dit 'n tweevoudige bewussyn, naamlik die vermoë om normaalweg op ons gewone aktiwiteite te konsentreer, terwyl 'n deel van ons bewussyn geanker bly in die binne-wêreld.

ONS GEDAGTES BLY OOK NIE NET vasgevang in die kokon van ons eie bewussyn nie. Ons moet kennis neem van die groter prentjie soos vir ons uitgespel in die volgende twee verse in die Nuwe Testament:

Matteus 10:26 – "...daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekende sal word nie."

Romeine 2:16 – "...Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Jesus Christus die mense sal oordeel volgens die evangelie wat ek verkondig in die dag wanneer God die verborge dinge van die mens deur Jesus Christus sal oordeel volgens my evangelie."

Die 'verborge dinge van die mens' geld in hoofsaak ons gedagtes – en dit is nogal ontstellend! Wie van ons het al die vlak van geestelike ontwikkeling bereik waar ons bereid is dat alles wat ons dink soos skrif teen 'n muur geprojekteer word vir almal om te lees?

Die verse het egter wel ook 'n positiewe dimensie – want dit stimuleer ons om deurlopend te werk aan die verfyning van ons denke. Alhoewel meeste Christene dit nie werklik verstaan nie is dit presies wat bedoel word in 1 Timoteus 5:17: "Bid sonder ophou." Waar die woord 'bid' hier gebruik word, beteken dit beslis nie dat mens heeldag moet loop en prewel nie. Mense sal dink jy is van lotjie getik! Dit gaan oor geestelike dissipline – naamlik die poging om konstant jou bewussyn op 'n geestelike vlak te handhaaf in 'n toesighoudende en moniterende hoedanigheid. Dít is inderdaad wat Paulus bedoel het met 'bid sonder ophou' en dit stel 'n doelwit wat ons almal moet nastreef – hoe moeilik dit ookal is.

Die kritiese oorweging hier is dat mens nie nét daarop ingestel moet wees om negatiewe gedagtes te vermy nie. Ons moet terselfdertyd doelgerig en konsekwent positiewe denke nastreef wat kan werk tot die welsyn van ander – en hier trek ek die kring wyer as net die mensdom.

Neem in hierdie verband kennis van God se opdrag aan die mens in Genesis 1:28 – "Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip." Met 'heers' word hier beslis nie bedoel om te eksploiteer nie. Dít word duidelik onderstreep deur Jesus se woorde in Matteus 10:29: "Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie." Hierdie woorde van Jesus het enorme betekenis Die dieperliggende boodskap hier – allegories verpak – is naamlik die eenheid van alles wat is.

Die begrip van omvattende eenheid word ook vervat in Jesus se woorde in Matteus 25:40 – "En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen." Dit beteken dat wat ons aan enigiemand gedoen het – goed of sleg – het ons aan alle mense gedoen. Dis 'n waarheid wat vanaf die ontstaan van die mensdom geld en Jesus het dit bloot herbevestig.

Paulus spel die begrip van omvattende eenheid onomwonde uit in Handelinge 17:28 – "Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons." By implikasies geld dieselfde stelling ook vir insekte, visse, voëls, diere en die kleinste mikrobes – want ook hulle beweeg en is in Hom. Waarin kan hulle anders beweeg en wees?

Ek haal aan wat Paul Tillich geskryf het in sy boek The Eternal Now:

"There is an ultimate unity of all beings, rooted in the divine life from which they emerge and to which they return. All beings, non-human as well as human, participate in it. And therefore they all participate in each other."

John Donne was 'n Engelse digter en priester (1572-1631). Hy skryf as volg in sy gedig, No man is an island:

No man is an island,
Entire of itself,
Every man is a piece of the continent,
A part of the main.

Ook 'n ander Engelse digter, Francis Thompson (1859-1907), verwoord op meesterlike wyse die universele ineenskakeling en interafhanklikheid van alles wat is in sy gedig Mistress of Vision

All things by immortal power,
Near or far, Hiddenly
To each other linked are,
That thou canst not stir a flower
Without troubling of a star.

Die implikasies van Thompson se woorde is ontsagwekkend as mens dit in wese verstaan en aanvaar, want dit plaas 'n omvattende verantwoordelikheid op ons. Dit impliseer dat elke aksie van die mens dwarsdeur 'n onbegrensde matriks van die heelal resoneer en dit inderdaad ook beïnvloed – al is dit hoé minimaal.

In haar boek Infinity – Volume 1 skryf Helena Roerich:

"The understanding of responsibility must be developed limitlessly. The human spirit, being a creator, bears the responsibility for all its actions. Let us not be afraid to meet responsibility. We are responsible not only to ourselves but to Cosmos."

In die Bybel word hierdie konsep van universele eenheid nie onomwonde uitgespel nie, omdat die begrip van 'n oneindige heelal toentertyd nie vir mense bekend was nie.

Jesus benadruk wel die interaksie tussen mense in die vers wat ek reeds aangehaal het, naamlik Matteus 25:40 "...vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen." Deur gebruik van die woord 'My' het Jesus hier nie na homself as individu verwys nie. Binne die konteks van sy leringe kon sy uitspraak net sowel gewees het: "...vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan elke ander mens gedoen." Onthou – Jesus het nooit waarhede uitgespreek wat spesifiek op homself as mens betrekking gehad het nie. Wat hy gesê het was universele waarhede wat gegeld het sedert ontstaan van die mensdom.

TEEN DIE AGTERGROND VAN ONBEGRENSDE EENHEID soos ek dit geskets het, maak die Bybel se liefdesgebod logies en prakties sin, want liefde is in wese gegrond op die erkenning van eenheid.

Dis treffend hoe die liefdesgebod in beide die Ou en Nuwe Testament benadruk word in feitlik identiese woorde:

In Levitikus 19:18 staan – "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."

In Johannes 13: 34 sê Jesus – "'n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê."

Dis opmerklik dat Jesus hier verwys na 'n nuwe gebod, terwyl die Ou Testament – soos ek pas aangehaal het uit Levitikus – dit reeds gestel het dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Hierdie anomalie is waarskynlik daaraan toe te skryf dat alhoewel die gebod reeds lankal bekend was, het die Jode dit in groot mate geïgnoreer. Dink maar aan al die oorloë en geweld waarby hulle betrokke was, soos aangeteken in die Ou Testament.

Die liefdesgebod is inderwaarheid ook voorheen – in die periode 600-300 VC – deur verskeie wysgere beklemtoon:

IN MY BESPREKING SOVER, het ek heelwat verwysings gebruik om aan te dui dat alles inderdaad eén is. Wel – die titel van my artikel is, "As alles eén is, hoe raak dit óns?" Wel – hoé raak dit ons?

As ons die konsep van eenheid ten volle verstaan en aanvaar, raak dit ons deurdat dit 'n verantwoordelikheid op ons plaas om – binne die perke van ons vermoëns – by te dra tot die welsyn van die geheel. As alles eén is, beteken dit dat niks afsonderlik kan bestaan nie en derhalwe dat alles wat ons dink, sê en doen impak het op die geheel, hoe gering daardie impak ookal mag wees. Dis 'n waarheid wat nog deur min mense besef word.

Ek haal twee groot geeste van die verlede aan wat beklemtoon het hoedat ons vir mekaar moet leef:

Plato (floreer c 400 VC) skryf in sy werk, getiteld Laws, as volg: "You are created for the sake of the whole, and not the whole for the sake of you."

Cicero (106-43 VC) was 'n Romeinse konsul, denker en filosoof en het geskryf: "Men were born for the sake of men, that each should assist the others ... Nature ordains that a man should wish the good of every man, whoever he may be, for this reason, that he is a man..."

Wat albei aanhalings pertinent na vore bring is die konsep van diens. Sommige mense mag voel dat hulle in geen posisie is om te kan dien nie en mag byvoorbeeld sê, "Ek is aan 'n rolstoel gekluister; ek is oud en eensaam; ek is sieklik; ens..." Hierdie verskonings sou natuurlik geldig wees as mens diens net sou verstaan as fisies van aard. Die feit is egter dat mens ook kan dien deur die krag van denke. Hierdie beginsel word beklemtoon deur Alice A. Bailey in haar boek Discipleship in the New Age. Sy skryf as volg aan iemand wat klaarblyklik sieklik was en in afsondering geleef het:

"From the quiet spot where you have lived and where you can rightly care for the physical body (your instrument of service on the outer plane of life), there can emanate such spiritual force and living wisdom that you can serve a multitude."

Verder aan in dieselfde boek skryf Bailey:

"Some people my brother, are so constituted that they become servers and centres of light publicly before their fellowmen. Their influence and their power are great. Others work (with equal power) from a quiet centre of relative retirement, and they wield, if I may again repeat myself, an equal force."

DIE VRAAG WAT NOU LOGIES NA VORE KOM is, "Hoe weet ek watter vorm van diens kan ek lewer en aan wie? Nie twee mense is identies nie; selfs in die geval van 'n identiese tweeling is daar merkbare verskille. Elkeen van ons is toegerus met unieke sielkundige en fisiese vermoëns en bevind ons in omstandighede waarin ons diens kan lewer wat geen ander mens kan nie. Henry Rogers stel dit baie mooi met die woorde: "Every man brings into the world his own particular lantern."

Paulus stel dit ook baie duidelik in Romeine 12:4-5:

"Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen apart lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is."

Waarop dit neerkom is dat as ons die wil het om te dien, sal ons innerlik rigting kry van wat om te doen – ooreenkomstig ons talente en vermoëns. Ben Zion Bokser skryf as volg in sy boek The Wisdom of the Talmud:

"The Holy One, blessed be He ... strikes every person from the die of the first one, but no one resembles another. Their uniqueness is mental as well as physical, and they all have a special function to fulfill in the realization of the cosmic purpose. A person thus has the right to feel that 'the universe was created for his sake,' for he has a unique role to play in it, so that the cosmic scheme will be incomplete without him."

Nou goed dan – Wat is die unieke rol wat elkeen van ons bestem is om te speel in die kosmiese skema? Wel – daar is niemand wat hierdie vraag vir enigeen van ons kan beantwoord nie. Die antwoord moet van binne kom. Dat dit wel sal kom, blyk uit Jesus se woorde in Matteus 7:7 – "Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word." Ons moet egter nie verwag dat 'bid, soek en klop' onmiddellik 'n respons gaan hê soos 'n donderslag nie. Die respons kan verskuil wees in iets wat ons sien, hoor, lees of ondervind. Ons moet terselfdertyd ook bedag daarop wees om 'n respons te herken; en hier is Jesus se woorde in Markus 13:37 so toepaslik: "En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!"

Op hierdie noot wil ek afsluit. As ons ten volle verstaan en aanvaar dat alles eén is, het ons 'n verpligting om te dien; en as ons hierdie ideaal deurlopend ons eie maak, sal deure en kanale oopgaan waarlangs ons kan werk – hetsy deur denke, woorde of dade. Ons moet net nie só vasgevang raak in al die wêreld se dinge dat ons nie deure kan sien wat reeds oop is of aan die oopgaan is nie.

Dr. Piet Odendaal kan gekontak word by

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.