Argeologie en die Eksodus

Deur Prof. Diek van Wyk op 1 Julie 2012

Hierdie bydrae het oorspronklik in die elektroniese nuusbrief Markplein verskyn, waarvan Diek van Wyk redakteur is.

Om argeologie se saak ten aansien van die eksodus uit Egipte te stel, is dit nodig om vooraf iets oor argeologie as wetenskap te sê. En weer ek moet ten aanvang sê dat ek nie 'n kenner op dié gebied is nie. Wat ek meedeel, is my distillaat uit literatuur oor die onderwerp, gebore uit lekebelangstelling.

Argeologie is 'n empiriese wetenskap omdat dit met waarneembare objekte werk. Die waargenome objekte van die argeologie is artefakte, d.w.s. nagelate vervaardigde produkte van die mens, asook ander oorblyfsels van die mens, soos skelette en voedselreste. Argeologie is vanweë sy betrokkenheid by die verlede nou verweef met die geskiedenis.

Argeologie is nie 'n natuurwetenskap nie, omdat sy gevolgtrekkings nie altyd eksperimenteel of statisties geverifieer kan word nie. Nogtans staan dit met een been in die natuurwetenskappe. Dit maak naamlik van gevorderde laboratoriumtegnieke, rekenaarsimulasies en soms ook statistiese ontledings gebruik, en dit steun op sekere natuurwetenskappe om waarnemings te interpreteer. Waar dit die geval is, bestaan daar gewoonlik konsensus oor resultate. Aan die ander kant word materiaal ook histories geïnterpreteer. Argeologie staan dus met sy ander been in die geskiedenis. Wanneer dit by die historiese interpretasie van gegewens kom, help tegnologie en natuurwetenskap egter net tot op 'n punt, en is daar gevolglik dikwels meningsverskille.

Wanneer dit om die argeologie van Palestina en omstreke gaan, word daar in die reël van Bybelse argeologie gepraat. Dit impliseer dat Bybelse argeologie 'n eiesoortige argeologie is. So was dit inderdaad ook tot betreklik onlangs.

Die Bybel het van die begin af in Bybelse argeologie 'n kernrol gespeel; argeologie is by wyse van spreke met die Bybel in die hand beoefen. Om dit eenvoudig te stel: die paradigma van die Bybelse argeologie was gebaseer op die implisiete vraag: "Hoe pas die waargenome feite by die Bybel in?" Soos die een na die ander ontdekking gemaak is, het dit oënskynlik ook die historiese en veral die geografiese betroubaarheid van die Bybel bewys. So vroeg as 1838 al het die Amerikaanse predikant Edward Robinson bv. daarin geslaag om ruïnes met plekname uit die Bybel in verband te bring. Vondste in Palestina, Egipte en elders het deur die jare die Bybel se betroubaarheid net meer en meer skyn te bevestig. Nader aan die einde van die 20ste eeu het die Bybelse argeologie tegnologies en andersins egter so gevorder dat dit geblyk het dat hoewel ontdekkings dikwels met die Bybel klop, daar tog te veel teenstrydighede tussen argeologiese vondste en Bybelse verhale is om geïgnoreer, gerasionaliseer of weg verklaar te word.

Argeologie is intussen oral in die wêreld beoefen, in Sentraal Amerika, in Suid-Amerika, in Asië, noem maar op; ook in Suid-Afrika. In die laat veertiger jare van die vorige eeu was argeologie 'n onderdeel van een van my universiteitsvakke. Ons moes kennis neem van die verskillende prehistoriese beskawings van ons streek en ons moes leer hoe artefakte vervaardig en gebruik is. Deesdae word daar plaaslik ook gewerk rondom protohistoriese beskawings soos dié van Mapungubwe en Thulamela en op historiese opslagplekke soos Steinacker's Horse s'n in die Kruger Wildtuin.

Die paradigma van die argeologie in die res van die wêreld verskil van dié van die (ouer) Bybelse argeologie. Dit kan saamgevat word in die vraag: "Wat kan uit die waargenome feite afgelei word?" Waar daar ou inskripsies beskikbaar is, soos in die geval van Egipte (en ook in die Bybelse lande), word dié bronne as gewone (historiese) artefakte behandel, nie as uitgangspunte vir interpretasie soos in die geval van Bybelse argeologie nie.

Bybelse argeologie se paradigma het as gevolg van die baie teenstrydighede wat gevind is, geleidelik na dié van die res van die wêreld verskuif. Die besef het posgevat dat die Bybel nie gesien moet word as geskiedenishandboek nie maar wel as 'n "artefak" van 'n besondere aard. Dit bevat naamlik nie, soos ou inskripsies, eietydse inligting nie maar handel oor gebeure wat lank, en soms baie lank, voordat dit neergepen is, sou plaasgevind het. Dit beteken nie dat die Bybel geen historiese kern of geen historiese leidrade bevat nie, maar wel dat dit met omsigtigheid hanteer moet word. Die uitgangsvraag, eenvoudig gestel, het verander van: "Wat sê die Bybel en hoe pas die waargenome feite daarby in?", na: "Wat sê die waargenome feite en hoe pas die Bybel daarby in?"

Die vooraanstaande Amerikaanse argeoloog, William G. Dever, vat in sy boek, Who Were the Early Israelites and Where Did They Come From?, 'n aantal punte saam van wat hy 'n merkwaardige konsensus noem wat sedert ongeveer 1980 onder argeoloë oor die herkoms van die ou Israeliete ontstaan het. Een van dié punte formuleer hy as volg: "Archeology is and will continue to be the primary source of new data for rewriting Israel's early history. New readings of the biblical texts are welcome, however, and my be helpful in some cases – if there can be a constructive dialogue."

Nie net die paradigma het verander nie, die navorsingsmetodes het ewe-eens verander. Deesdae word benewens ekstensiewe opgrawings op geteikende of toevallig ontdekte terreine, die oppervlak van groot areas intensief, meter vir meter, gefynkam vir argeologiese oorblyfsels en leidrade om onder andere daarbinne moontlike opslagplekke te identifiseer en op te grawe. Op dié manier is groot dele van Israel en omstreke reeds argeologies verken en ontgin, en weet argeoloë gevolglik nou baie meer van die voorgeskiedenis van die heilige land.

Die Bybelse verhaal, gekoppel aan argeologiese ontdekkings, laat min twyfel daaroor dat die eksodus laat in die 13de eeu vC, d.w.s. aan die einde van die Laat Kopertydperk, moes plaasgevind het; daaroor is argeoloë en Bybelkenners dit eens. Nou is dit so dat die argeologie, ondanks ekstensiewe navorsing, tot dusver nog geen bewyse van 'n eksodus soos in die Bybel verhaal, in die Laat Kopertydperk kon vind nie. Verskeie boeke is in dié trant oor die vroeë geskiedenis van die Israeliete geskryf. Ongelukkig word besprekings van die onderwerp in die openbaar heelwat vertroebel deur allerlei agendas wat niks met die feite te doen het nie. Om 'n gebalanseerde prentjie te kry, kan naas Dever se reeds genoemde, taamlik akademiese werk, baie geleer word uit die hoog aangeskrewe argeoloog, Israel Finkelstein van die Universiteit van Tel Aviv, se meer toeganklike boek, The Bible Unearthed. Archeology's New Vision of Ancient Israel and the Origin of its Sacred Texts, wat hy saam met Neil Asher Silberman geskryf het. Sowel Dever as Finkelstein is "middle-of-the-roaders", d.w.s. hulle omarm die nuwe argeologiese paradigma maar is nie "revisioniste" wat die Bybel wil diskrediteer of minag nie.

Argeologiese ontdekkings die wêreld oor het onteenseglik bewys dat waar mense selfs vir kort periodes vertoef, hulle allerlei oorblyfsels agterlaat en dat daaruit baie geleer kan word van diegene wat hulle daar bevind het. Die argeologie van vandag kan trouens selfs die nagelate reste van klein groepies rondtrekkende nomade opspoor. Dit spreek dus vanself dat die Israeliete op hul staanplekke in die Sinai-woestyn ook oorblyfsels moes nagelaat het. Met sulke groot getalle – na raming twee tot drie miljoen siele – moes daar in die jare van hulle omswerwinge baie van hulle omgekom het en moet grafte of beendere nog te vinde wees waar hulle oorgestaan het. Gebruiksartikels soos gebreekte potte en kruike moes agtergebly het. Hulle moes die bene van die diere wat hulle geëet het, agtergelaat het. Rommel en rommelhope asook vuurmaakplekke en ashope moes agtergebly het. En so voort. Die woestynsand moes dit bedek en bewaar het, soos die geskiedenis van Egipte geleer het. Dié oorblyfsels moes verder van 'n taamlike omvang gewees het, die grootte van die bevolking in ag genome.

Die rekord lui egter dat talle opgrawings in die Sinai-woestyn niks opgelewer het wat met die uittog in verband gebring kon word nie. Die mees frappante geval is dié van Kades(-Barnea). Tydens hulle trek sou die Israeliete onder andere sowat 38 jaar daar vertoef het, lank genoeg vir heelwat reste om behoue te gebly het. Kades word vandag geïdentifiseer met Tel el-Qudeirat naby die Ain Qudeis oasis in die noordelike Sinai op die grens van Kanaän. (Qudeis is die Arabies vir Kades). Ekstensiewe opgrawings in die omgewing deur Israeliese argeoloë in 1956 en weer in 1976 tot 1982 het niks uit die 13de eeu aan die lig gebring nie, nie eens 'n enkele potskerf nie.

Dit moet verder genoem word dat die Egiptenare destyds langs hul grense en elders in die woestyn 'n doeltreffende en goed bemande stelsel van forte gehad het waarby die Israeliete sou moes beweeg het om te ontsnap – ook aan die lig gebring deur die argeologie. Voeg hierby dat in talle Egiptiese rekords uit dié periode daar geen enkele verwysing is na 'n groot Israelitiese slawebevolking of, soos mens sou verwag, na 'n opspraakwekkende uittog uit die land nie.

Tel alles by mekaar en die gevolgtrekking is onvermydelik: die eksodus soos in die Bybel verhaal, het nie plaas gevind nie. En as die eksodus nie plaasgevind het nie, is dit onwaarskynlik dat Kanaän gewelddadig verower is – daar is trouens ook nie argeologiese bewyse dáárvoor nie. Dit beteken weer dat die Israeliete op 'n ander manier as 'n volk in Palestina moes beland of ontstaan het. Dit vat die konsensus van tydgenootlike argeoloë saam. Oor wie die ou Israelite was en waar hulle vandaan kom, bestaan daar egter nie (volledige) konsensus nie. Finkelstein en Dever huldig bv. verskillende standpunte in dié verband.

Wanneer dit gesê is, is daar nie gesê dat daar nooit Israeliete (of liewer Semiete) in Egipte gewoon het nie, of dat Israeliete nooit slawe-arbeid in Egipte verrig het nie, en/of dat groepies Israeliete nooit tussen Egipte en Kanaän beweeg het nie. Daar is, in teendeel, argeologiese en/of historiese data wat op al drie hierdie omstandighede dui. Dit is die eksodusverhaal (en die gewelddadige militêre verowering van Kanaän) waarvoor bewyse nie gevind kan word nie.

Dit laat ons met die vraag waar die eksodusverhaal vandaan kom. Finkelstein en Silberman wys op talle argeologiese en historiese feite wat tot die gevolgtrekking lei dat dit verhale is met motiewe uit 'n vroeë verlede wat oor tyd ontstaan het en in die 7de eeu vC, tydens die bewind van koning Josia, tot 'n geheel saamgesnoer is. Dit reflekteer gevolglik nie die geskiedenis en geografie van die 13de eeu nie, maar wel die perspektiewe van die 7de eeu vanuit die oogpunt van die eindredakteurs. Op 'n metaforiese vlak gee dit naamlik uitdrukking aan die stryd tussen die jong koning Josia en farao Necho en aan die vrese, aspirasies en hoop op 'n nuwe toekoms van die Juda van die tyd. Dever wys op sy beurt daarop dat die eindredakteurs van die eksodusverhaal geweet het om daarvan 'n magtige, bowe-historiese epos te maak, 'n metafoor van bevryding uit onderdrukking wat tydloos uitdrukking gee aan geregtigheid, selfverwesenliking en die triomf van die menslike gees.

Dit is dan waar die argeologie van die dag ons laat. Dit is nie uitgesluit dat daar eendag dalk tog bewyse van 'n massale volksverhuising uit Egipte gevind sal word nie. In so 'n geval sal argeoloë, soos dit goeie wetenskaplikes betaam, erken dat hul huidige insigte foutief was. Te oordeel aan die stand van sake tans lyk dit egter na 'n baie skrale moontlikheid.

Diek van Wyk

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za