.

Antwoord op Cornel du Toit

Deur Prof. Kobus Krüger op 1 Oktober 2013

.

Ek stel Cornel du Toit se insigvolle en insiggewende ontvangs van Dante se mistieke reis hoog op prys.

Met die skryf van hierdie boek was 'n paar dinge vir my buitengewoon belangrik. Dit het die volgende ingesluit: eerstens, om 'n oortuigende prosa-vertaling van Dante se Inferno in Afrikaans voort te bring; tweedens, om die Middeleeuse mens Dante in sy talle skakerings tot sy reg te laat kom; derdens, om Dante en sy werk histories te kontekstualiseer met verwysing na die Klassieke oudheid en sy Europese tradisie (Christelik én andersins); vierdens, om Dante só te lees dat hy as 't ware van die museumrak van 'n verre, irrelevante verlede sou afklim en dat sy boek in 'n lewende verhouding met die hedendaagse Afrikaanstalige leser in die huidige Suid-Afrika sou tree; vyfdens, om Dante as tipiese mens, verteenwoordigend van die sinsoekende mens van alle tye te verstaan; en sesdens, om Dante se boek in die raam van 'n ontwikkelende insluitende model van mistiek te vertolk.

Ek waardeer dit dat Du Toit vanuit sy eie teoretiese perspektief en sy eie persepsie van Dante in gesprek met my boek tree, die saak verder voer en stof tot verdere nadenke gee. Daar is geen opsig waarin ek my misverstaan voel nie, verskeie waarin ek bevestig voel en veral een waar ek uitgenooi voel om verder te verduidelik wat ek bedoel.

Een van die prestasies wat Dante behaal het, was sy geslaagde integrasie van die wetenskap en die geloof van sy tyd, vir sy tyd. Dit staan in skrille kontras met ons hedendaagse situasie waar dit wil voorkom of 'geloof' en 'wetenskap' mekaar finaal in 'n nag van misverstand en onsekerheid kwyt geraak het. Daar is weliswaar tekens van 'n nuwe positiewe ontmoeting waarin sowel positivistiese skiëntisme as 'n onkritiese vashaak in ou religieuse kosmologiese denkbeelde agtergelaat word, maar 'n volledige versoening van die twee diskoerse soos wat in die tyd van Dante moontlik was, is nog nie op die horison nie. Om vir 'n oomblik by die tradisionele Christelike denke te bly: dit sal ingrypend geherinterpreteer moet word, maar dit is nie onmoontlik nie. So 'n herinterpretasie sou na my siening kon plaasvind deur die tradisionele materiaal op te neem in wat ek 'metafisiese mistiek' sou noem. Ek vind Du Toit se siening van 'n komplementariteit van wetenskap en mistiek (nie meer as dit nie) besonder interessant, veral omdat die ontmoeting tussen die twee diskoerse van teologie en wetenskap sy besondere bydrae tot die debat is. Van my kant sou ek die moontlikhede van sinvolle integrasie wou oophou en so ver moontlik wou ondersoek en stimuleer, maar ek stem saam: in vandag se kultuursituasie is sintese waarskynlik verre herinnering en utopiese toekoms. Nogtans bly dit 'n boeiende moontlikheid en uitnodiging. Hierdie kwessie is nie sentraal in die boek Dante se mistieke reis nie, maar ek het Du Toit se bykans terloopse opmerking besonder boeiend gevind. In direkte verband met bogenoemde: ek waardeer Du Toit se positiewe ontvangs van die boek se klem op die belang van die biologiese onderbou van alle mistiek vir vandag. Sodanige mistiek moet 'van onder af', vanuit die menslike gegewe, die menslike ervaring en situasie, met insluiting van die menslike liggaamlikheid, ontwikkel word. Die tradisionele weg 'van bo af', vanuit 'n geprojekteerde bo-natuurlike dimensie, is nie meer begaanbaar nie.

Ek stel Du Toit se onderskrywing van my insluitende gedagterigting betreffende die veelheid van verskillende religieë op prys: die religieë is verskillende maar wesenlik verwante manifestasies, in verskillende kulturele kontekste, van een en dieselfde menslike behoefte na sin en betekenis. Dit is 'n gedagterigting wat nog in die Afrikaanse konteks, gekondisioneer deur 'n eksklusiwistiese manier van dink, op weerstand stuit. Dante se Inferno bied 'n interessante blik op die diepte-kontinuïteite onder en die historiese beïnvloedingslyne met ander religieë in wat gewoonlik as 'n heel afsonderlike Christendom verstaan word. Die Christendom (en Dante) word beter verstaan deur dit van meet af in sulke breër insluitende antropologiese en historiese kontekste te plaas. Soos Du Toit opmerk, is dit 'n belangrike aspek van my interpretasie van Dante se klassieke teks.

Ek is besonder bly dat die onderskeid tussen 'intensie' (bewuste bedoeling) en 'tendensie' (onbedoelde gerigtheid of neiging) wat in Dante se mistieke reis as hermeneutiese sleutel gebruik word, positief deur Du Toit opgeneem word. Religieë 'weet' en 'sê' méér as waarvan hulle eksplisiet bewus is, wat in die letters van die woorde vasgevang is. Soos Dante self ook besef het, is daar vlakke van betekenis in sulke tekste. Dit is vir my 'n belangrike riglyn om alle religieuse tekste, met insluiting van die Divina Commedia, met inagneming van sulke vlakke, waarvan die 'mistieke' vlak die diepste is, te interpreteer. Hier word mens natuurlik sterk bewus van die subtiele wisselwerking en balans tussen die leser se inset en die oorspronklike skrywer se bedoeling. Buiksprekery en die anakronistiese spring oor die afstande tussen historiese epogge moet vermy word. Ek het probeer om 'n deeglike respek vir historiese konteks met 'n spekulatiewe teorie-vorming te harmoniseer.

Die een aspek waar ek 'n behoefte voel om die rigting wat in Dante se mistieke reis gevolg word, verder te verduidelik, het betrekking op wat Du Toit 'immanente transendensie' noem. Die frase 'transendensie' soos hy dit hier gebruik, oorvleuel in 'n mate met my bedoeling, in die sin dat 'transendensie' nêrens anders as in hierdie ondermaanse lewe ervaar word nie, en dat Dante se gedig so ten beste geïnterpreteer word. Tot op 'n sekere punt sou ek bereid wees om 'n woord soos 'transendensie' deur die lidwoorde 'die' of ''n' te voorsien. Dit sou beteken dat mens weet 'dat' die duskant deur 'n anderkant oorskry (getransendeer) word, selfs ook waarskynlik dat mens weet 'wat' anderkant is. Byvoorbeeld: ons weet almal wat anderkant ('trans') die Vaalrivier lê: 'n ander provinsie, naamlik die Vrystaat met sy grasvlaktes, sy dorpe, sy plase, ensovoorts.

Maar as ons die begrip 'transendensie' ten opsigte van werklik ultieme betekenis gebruik, vind ek dit nodig om met klem juis nie van 'die' of ''n ' Absolute, 'die' Ongrond of 'die' Transendente te praat nie. Ons kan transendeer so ver ons wil en kan, maar dan raak dinge net weg soos 'n onbereikbare, trillende horison in 'n warm woestyn. Wat ons 'bereik', is op sy meeste 'n horison, 'n einde. Dit is die einde van my visie, my ervaring. Dit is al, en om dit te besef, is vrede, heil. Of daar iets anderkant daardie horison lê, 'wat' 'dit' 'is' of selfs 'dat' 'dit' 'is', gaan die reisiger in die radikale diepte nie meer probeer sê nie: wat ook al gesê sou word, sou alles konstruksie, opgemaak, wees. Die godsdiensgeskiedenis is die verhaal van sulke konstruksies. Eerder: wat 'bereik' word, is die einde van die pad; swyg dus; dit is die diepste insig.

Selfs die begrip 'grens' sou ek nie gebruik nie: 'grens' impliseer te veel die gedagte van een gebied, geskei van 'n ander een daarnaas. Die implisiete veronderstelling van 'n gesubstansialiseerde 'Iets' 'anderkant' is 'n fout. Hoe simpatiek tradisionele begrippe van 'n mitologiese, metafisiese of verpersoonlikte 'God' ook al opgeneem word (en hulle moet simpatiek opgeneem en geïnterpreteer word, glo ek), êrens verdamp hulle net. Dinge raak net weg, is (in die taal van die ou Boeddhisme) anatta.

Woorde soos 'absoluutheid' (letterlik: 'losgemaaktheid') (in bewuste onderskeid van 'n substansialiserende 'Die Absolute') − ook woorde soos 'ongrond', 'bodemloosheid', 'afgestrooptheid' en 'leegheid' − wil hierdie besef van die substansielose 'verdwyning', 'oplossing', 'disintegrasie' van alle 'dat' en 'w(W)at' benader. By daardie horison word die woord 'transendensie' en 'n begrip en formulering soos 'die Transendente' uiters problematies, en verdamp self. Ten opsigte van die verste menslik-bereikbare horison sou ek dus nie van 'die Transendente Ander' praat nie. Juis nie. Selfs ten opsigte van voorlopige stadia in die proses van voortskrydende transendering (oorskryding) sou ek nie die term 'Ander' gebruik nie. Die model in Dante se mistieke reis (bl 304 evv) suggereer holistiese kontinuïteit na alle kante en dimensies van die werklikheid, maar het dit ongelukkig weens die beperkte ruimte nie uitgewerk nie. Ek hoop om hierdie model in die nabye toekoms deeglik uitgewerk aan 'n welwillende leserskring bekend te stel. Die soekende mens is in 'n voortgaande transenderingsproses, maar uiteindelik 'is' daar, so ver die reisiger uiteindelik kan sien en ervaar en weet, nie 'n 'Ander' 'Iets' of 'Iemand' aan die 'anderkant' nie. Dáárdie absolute horison is waarheen Dante se gedig (soos alle religie en mistiek) neig, so lees ek hom, al het hy dit nie so bedoel nie (soos canto XXXIII van die Paradiso bewys). Soos gesê, is die snypunt tussen 'intensie' en 'tendensie' vir my van groot teoretiese belang.

My probleem met die woord 'immanent' (korrelaat van 'transendent' in Du Toit se formulering) is net so groot, selfs groter. Die letterlike Latynse etimologie (in-manere: 'in-wonend', 'in-blywend') dra haas onontwykbaar die assosiasie van 'n Subjek daarbuite wat tog ook hier 'inwoon'. Wie of Wat sou so 'n 'transendente' en tog ook 'immanente' Subjek wees? Die opmerkings wat hierbo gemaak is, is ook op 'immanent' van toepassing. Nee, die werklikheid is net onpeilbaar diep, so diep dat al ons wete en spreke op 'n gevorderde stadium van ervaring en denke gewoon tot 'n einde kom. Daar 'is' geen 'Ander' 'anderkant' wat tog ook paradoksaal hier 'binne' 'is' nie. Inderdaad, die woord 'is' het hier geen verwysing nie; die werklikheid 'is' ... maar verskyn elke oomblik trillend op en verdwyn elke oomblik wasig op die horison van substansielose, nie-synde leegheid, ongrond, absoluutheid. Om dit te besef, is die diepste wysheid, dink ek.

Cornel, dankie vir die stimulerende gesprek! Dit word hoog waardeer.

Opregte dank ook aan SES vir hierdie geleentheid.

Prof. Kobus Krüger

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.