Die antropologie van die ontwykende God

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Desember 2010

In die begin was die mens. En die mens het geskape en daar was gode. En die mens het gesien dat hulle goed was. Toe het die mens begin om sy gode te aanbid. En dit was aand. En dit was môre.

Inleiding

Ek moet vanoggend eerlik bely dat ek nie 'n idee het wie of wat God is nie. Daarom is hierdie "soeke"-ding na God vir my persoonlik so 'n moeilike konsep en so 'n vreemde oefening. Ek weet eerlikwaar nie waarna of na wie om te soek nie.

Ek het dit vir myself uitgemaak dat God nie 'n persoon is soos 'n koning, of 'n redder, of 'n regeerder wat êrens in 'n hemel op 'n troon sou sit nie. Ek het dit ook vir myself uitgemaak dat God nie van buite ons wêreld bonatuurlik sou kon ingryp as reaksie op mense se gebede om dan wonderwerke hier te verrig nie.

Om ten minste iets te hê om as inhoud vir my definisie van die goddelike te verwoord, het ek aanvanklik vrede daarmee gemaak dat God vir my iets soos "Liefde" sou kon wees. Soms wonder ek of dink ek reg as ek dit sê. Ander kere is ek vol bravade en wyshede en dan sê ek sommer daarby dat God vir my ook energie en lig is. Ek sê dit, nie omdat dit so is nie, maar bloot omdat ek dit so wil beleef en omdat ek darem nie heeltemal wil stilbly nie. Maar die goddelike bly my definisies ontwyk en ek kan bloot vanuit my menslike perspektief oor iets soos die goddelike probeer begin dink, daarom my tema: Die antropologie van die ontwykende God.

Projeksies

Ek is daarvan oortuig dat daar nie iets soos openbarings bestaan nie en dat die goddelike nog nooit vir enige mens gesê het: "Koe-hie! Kyk hoe lyk ek en kyk hoe is ek! Hardloop, gaan skryf nou 'n boek daaroor" nie.

Dit wat op papier staan, is mense wat in bepaalde tye, kulture en op bepaalde plekke geleef het se idees oor wie hulle gedink het die goddelike vir hulle was en dis hulle ervarings met wie hulle gereken het die goddelike moes wees. Hierdie ervarings het hulle in verhale, gedigte en liedere met ander gedeel.

Ek is oortuig daarvan dat alles wat mense nog ooit oor die goddelike gesê, geglo en bely het projeksies is van onder, uit die mens se sosiologie en filosofie op na sy panteon toe. En omdat die samelewing en die samelewingstrukture van tyd tot tyd verander, verander mense se denke oor die goddelike ook. En verander die karakter "God" in die verhaal van die mens dan ook daarmee saam. Daarom kan mens inderdaad ook van die geskiedenis van God, of van die evolusie van God praat.

Ek is nie 'n kenner van die Teologie nie, maar wat ons in elke geval as teologie aan die universiteit bestudeer is eintlik maar niks anders as Christelike mitologie en kerklike dogma nie. Maar as ek reg kan onthou, kry mens in die Ou Testament nogal die idee dat die bestaan van ander gode nie ontken is nie. Dat die gode in die panteon in iets soos 'n hemelse vergadering bymekaar sou kom, met mekaar praat en saam oor dinge sou besluit. Maar later van tyd, soos wat Israel 'n monargie geword het, met een koning, is hierdie staatkundige ontwikkeling ook op die panteon geprojekteer en was JHWH die enigste god wat oorgebly het.

Hierdie evolusie het nie in die hemel of in die panteon plaasgevind nie, maar in die verhale wat mense oor hulle gode vertel het. Die gevegte tussen die gode oor rangorde en belangrikheid is op papier uitbaklei. Dis uitbaklei tussen die mense wat die gode geskape het. Hulle het die karakters laat ontwikkel en die plot verder laat ontvou!

Die Grieks-Romeinse wêreld het anders gelyk. Hulle het ingewikkelde sosiale strukture gehad met verskillende klasse van mense. Daar was soldate en vakmanne, boodskappers en adellikes met bo aan die leer, die keiser. Hierdie presiese struktuur is op hulle panteon geprojekteer met talle gode wat verskillende funksies verrig en die hoofgod van die panteon bo aan die ranglys.

In die Suid-Afrikaanse samelewing het ons vir lank die Ou Testamentiese model gevolg, want ons kom ook maar uit 'n amper diktatoriale monargie met sterk leiers wat voor geloop het soos 'n Paul Kruger, 'n Jan Smuts, 'n JBM Hertzog, 'n Blackie Swart, 'n John Vorster, 'n PW Botha. Een leier in die land, een God op die troon!

Na 94 het dit verander! Besluite word nou in werkswinkels en bosberade op voetsoolvlak geneem. Die outoritêre leierskapstyl het van die toneel af verdwyn. Elkeen het nou 'n sê en na almal moet geluister word. Die ganse beskaafde wêreld is tans amper leierloos. Daar is nie een sterk leier wat uitstaan en wat dinge kan vasvat nie. Nie in Suid-Afrika nie en ook nie elders in die wêreld nie!

Dis die dat Bok van Blerk se Delarey so gewild was. Nie een politieke leier in ons land het die charisma om mense saam te laat staan nie. En hierdie hele leierloosheid, en onsekere situasie met waardes wat bevraagteken word en ou waarhede wat nie meer deug nie, projekteer ons op die oomblik op ons verstaan van die goddelike. Ons panteon is ook leierloos. Daarom soek almal. Ons het net die onsekerheid om na bo te projekteer.

In die huidige paradigmaskuif is daar nog nie weer vaste strukture en ewige waarhede geformuleer nie. Alles is nog te vloeibaar en aan die beweeg. Daarom het ons ook 'n vloeiende godsbegrip op die oomblik. Ons projekteer ons onsekerheid op ons verstaan van die goddelike.

Daarom dat ek praat van die "antropologie" van God. Wanneer ons van die goddelike praat, wanneer ons enige vorm van teologie beoefen, kan ons dit nie anders as outobiografies doen nie. Dit wat jy van die goddelike sê, sê op die ou einde meer van jouself en van jou verstaan van menswees en van jou verstaan van jou wêreld as wat dit hoegenaamd iets van God kan sê. Ek is oortuig daarvan dat niemand 'n clue het wie God is nie!

Die mense wat sê dat hulle God ken en in 'n persoonlike verhouding met God leef, leef in 'n verhouding met 'n prentjie van 'n mitologiese figuur wat ander mense begin skep het omdat hulle gedink het dat daar 'n persoonlike goddelike is. En omdat hulle hulle verbeelding gebruik het in sy skepping en iets gekonstrueer het van hoe hulle gedink het so 'n goddelike dan behoort te wees. Dit wat mense oor die goddelike sê, sê hulle nie omdat die goddelike so is nie. Hulle sê dit omdat dit is hoe hulle in die voortgaande skepping aan die prentjie van goddelike skaaf. Ons totale idee van 'n goddelike is van onder, uit ons wêreld geprojekteer, na bo en so is God geskape. Na die beeld en die verbeelding van die mens is God geskape!

My persoonlike verstaan van die goddelike

Soos wat ek gesê het, het ek op die oomblik nie 'n idee van wie en hoe die goddelike is nie. Daarom het ek ook nie eintlik 'n prentjie van die goddelike in my kop nie. Ek ervaar tans oomblikke en gebeurtenisse wat my emosioneel en diep raak. En as ek dit klaar ervaar het, maak ek myself wys dat dit vir my 'n goddelike oomblik was. Dit sê per se niks van die goddelike nie. Dit sê hoogstens iets van my belewenis van die oomblik. Dis outobiografies.

Soos wat u teen hierdie tyd seker al agtergekom het, dink ek nie meer teïsties oor God nie. Maar maak dit my outomaties per definisie dan a-teïsties? Ek probeer panenteïsties oor die goddelike dink en dis vanuit daardie paradigma dat ek die meeste van my ervarings rondom die goddelike bymekaar maak.

Ek beleef oomblikke in my verhouding met die natuur, met ander mense, in musiek en poësie, in teater en toneel, in lees en in fliek, wat vir my groot oomblikke is ... amper heilig. En dan maak ek myself wys dat dit oomblikke is waar ek die goddelike ervaar het. Of dit so is, weet ek nie. Ek beleef dit dalk maar net so. Maar vir my is dit op die oomblik genoeg.

Ek soek goddelike oomblikke in alles en ek probeer iets heilig in alles ervaar, wel menende dat die goddelike ook groter is as al my ervarings en belewenisse. En of dit wel die goddelike is wat ek ervaar of dalk maar net die euforie van die oomblik, weet ek nie. Dit maak ook nie eintlik vir my saak nie. Die ervarings is positief. Ek dink soms aan die goddelike as positiewe energie. So, dit pas in by wat ek soms oor die goddelike ervaar.

Ander kere wonder ek weer oor wie dan verantwoordelik is vir die negatiewe energie en dan wonder ek of kan mens die goddelike dan hoegenaamd as positiewe energie sien. En ek wonder of is die goddelike nie beide positief en negatiewe energie nie, want die lewe trek weer alles in ewewig ... en balans is tog die groot ding waaroor dit gaan. Daarom hou ek van die hele Zen gedagte. Dit spreek my aan. Dalk lê die ervaring van wat goddelik is in ewewig, balans, homeostase.

Soms wonder ek oor die hele Namaste-beginsel. Ek kyk na jou en ek erken en soek en sien selfs soms iets goddeliks in jou. En ek wonder of as ander na my kyk ... sien hulle ook die goddelike in my? Ek hoor iemand anders wat sê: "I am god and so are you. We are all one!" En dit maak soms vir my sin. Ons almal saam is god en god is ook groter as ons almal saam. En so wonder en dink ek konstant oor dit alles.

Net so maak die hele filosofie naamlik om 'n Verligte te word ook vir my sin. Ek kan verstaan dat mense 'n leeftyd daarna kan streef om 'n Boeddha te word. Die gedagte pas vir my perfek in by die verhaal van die Christelike mitologie dat elkeen moet sterf aan sy eie-ek sodat hy as 'n nuwe mens kan opstaan en 'n Christus kan wees.

My geloofsbelewenis as 'n tipe taal

So, op die oomblik ervaar ek meer as wat ek verstaan. Maak dit van my 'n mistikus? Ek weet nie. Groot teoloë en filosowe voor ons het ook so gereken. Daar was die filosoof, Ernst Cassirer, die teoloog Rudolf Bultmann en die sielkundige Carl Jung. Al drie se teorie oor religie het daarop neergekom dat mens die mite so moet lees dat jy 'n eksistensiële ervaring by die lees daarvan het. Vir al drie het dit gegaan oor 'n positiewe waardering van die mitologiese teks juis omdat dit jou kan transformeer. Dit kan jou iets laat ervaar in die kerugma, in die verkondiging daarvan.

Miskien is dit juis waarom my eietydse soeke na die goddelike die weg volg van ervarings. Feite is daar nie. Bewyse is daar nie. Oor belydenisse is ek effe skepties. In Openbarings en ewige woorde glo ek min. Ek verkies die onsekerheid en die twyfel. Die dekonstruksie en die hermeneutiek van suspisie. Ek vind my grootste vreugde in die wete dat niemand eintlik weet nie. My sekuriteit lê in my interpretasie van wat ek ervaar. En my geloof lê in die poëtiese spel met taal.

Êrens tussen die metafore kruip iets goddeliks weg. In elke vergelyking skuil 'n tikkie heiligheid. Vanuit elke antropomorfisme is daar 'n uitnodiging tot 'n eksistensiële ervaring. Die onomatopee verklap die ritme van die lewensdans en die verhaal se katarsis sleep jou in tot transformasie.

En so raak geloof, die spirituele ervaring en die soeke na 'n eietydse verstaan van die goddelike 'n spel met taal. Met die verskil dat waar die taal van geloof in die verlede vol sekerhede en definitiewe antwoorde was, is geloofstaal vandag lomp. Ons praat bloot om nie heeltemal te swyg nie. Hoe sekerder 'n mens is en hoe meer letterlik 'n mens praat, hoe leër klink jy! Daarom al die ellipse. Geloofstaal is amper nie meer 'n spreektaal nie, maar net 'n luistertaal! En alles wat ons sê, sê eintlik meer van onsself as van God.

Daarom is eietydse spiritualiteit nie 'n nuwe vorm van Teologie nie, want al wil ons dink dat dit 'n soeke na die goddelike is, is dit eintlik 'n herontdekking van onsself. Vir so lank was ons groei en ontwikkeling gestrem deur die illusie van 'n eksterne godheid wat ons beheer en oor ons regeer. Skielik is ons verlos. Nou projekteer ons nie meer ons aanbidding, lof, aandag en energie op die navolging van 'n eksterne illusie nie, maar ons gebruik ons kreatiwiteit en skeppende energie om onsself te herontdek. Om na antwoorde in onsself te soek en om vanuit die bron in onsself geloofwaardig te leef.

Ek weet nie waarheen is ons op pad nie. Maar ek geniet elke oomblik van die reis.

Dr. Flip Schutte is 'n teoloog en skrywer. Sy nuuste boek is Diaspora van die nuwe Christene. Hy is ook die leraar van Sola Fide gemeente in Pretoria. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za