.

Angus se profesie laat land gons

Deur Jean Oosthuizen op 1 Mei 2017

.

(Soos eerste gepubliseer op Litnet.)

Selde tevore, indien ooit, het 'n gebedsbyeenkoms in Suid-Afrika soveel uiteenlopende reaksies uitgelok soos die lekeprediker en voormalige aartappelboer Angus Buchan se Bloemfonteinpreek.

Die byeenkoms was 'n mengelmoes van goeie bedoelings, fopnuus en allerlei vergesogte aansprake en oordrywings van verskillende aard. Dit het gewissel van buitensporige getalle tot goddelike ingryping wat sou plaasvind of binnekort gaan gebeur.

Alles word mooi netjies onder die geklank van ramshorings toegedraai in 'n charismatiese kombersie met 'n goeie skoot draai-of-braai-teologie daarby. Buchan is immers 'n selferkende fundamentalis wat die Bybel letterlik lees en glo dat elke woord daarin deur God self geïnspireer is.

Oor die opregtheid van duisende Suid-Afrikaners wat hoopvol na die byeenkoms gestroom het, hoef daar nie twyfel te wees nie. Die meeste mense wat daarheen gegaan het, is waarskynlik goedgelowige Christene wat graag, soos elke ander Suid-Afrikaner, 'n beter land wil sien. Ek glo Buchan wil self ook 'n mooier Suid-Afrika sien.

Sonder om enigsins afbreuk te doen aan die geestelike ervaring wat baie gelowiges waarskynlik in Bloemfontein beleef het, moet daarteen gewaak word om nie oorboord te gaan met ongetoetste bewerings en om fopnuus die wêreld in te stuur nie.

Dit is nie die eerste keer dat goedgelowige mense hulle op dié manier tot lekepredikers wend met die hoop op gebedsverhoring en in die proses heeltemal meegevoer raak nie. Dit gebeur ook nie net op godsdienstige terrein nie. Politici neem hulle volgelinge dikwels op sleeptou met populistiese uitsprake wat die massa graag wil hoor.

Maar watter skade kan dit nou aanrig as daar saam gebid word? vra baie mense.

Dink maar aan so 'n paar jaar gelede toe mense soos die NG dominee Jannie Pelser en Isak Burger van die AGS talle Suid-Afrikaners na Lagos gelok het om deur die profeet TB Joshua gesond gebid te word.

Mense het letterlik tougestaan om saam met hulle en ander Lagos toe te gaan. Diegene wat nie die opgewondenheid oor die profeet gedeel het nie, is net so skepties aangekyk soos diegene wat nie die opgewondenheid oor die Bloemfonteinbyeenkoms deel nie.

Tot soveel as 30 000 mense, onder wie talle Suid-Afrikaners, het die tweeweekdiens in Joshua se SCOAN van die oggend vroeg tot die aand bygewoon.

"As die erediens só lank duur, kan dit net die Heilige Gees se werking wees," het Pelser destyds aan Beeld gesê. Hy het gesê almal behoort te hoor van die wonderlike dinge wat plaasgevind het.

Vandag weet ons daar het dadels gekom van al daardie wonderlike dinge waarvan Pelser vertel het.

Die afgelope week het Buchan ook verklaar die Heilige Gees was in Bloemfontein teenwoordig. So het die NG Kerk se leiers ook verklaar toe die sinode in 2015 besluit het gays mag trou en wéér toe die sinode net die volgende jaar verklaar dit is sonde as hulle trou.

"Mense gaan geheel word vandag," het Buchan verlede Saterdag in Bloemfontein volgens Rapport geskree. "Ek het begin huil toe ek vandag in my helikopter klim, want God is vandag hier in Suid-Afrika. Hy gaan dinge hier kom regruk, want hierdie land van ons is 'n Christenland."

Dankie vader dié slag het hy gelukkig nie uitgevaar teen gays wat wil trou nie. Dit bly egter dieselfde man wat redelik onlangs nog gekeer is om in Skotland te gaan preek weens sy homofobiese uitlatings.

Op 16 Mei 2001 skryf Isak Burger van die AGS in Beeld dat talle, en soms direk teenstrydige, standpunte oor TB Joshua destyds uit kerklike geledere opgeklink het. Burger het aan die koerant gesê die skares het, net soos in die Nuwe Testament, daar saamgetrek omdat daar 'n "onweerlegbare openbaring van die bonatuurlike plaasgevind het."

Vandag glo baie mense daar het 'n ook onweerlegbare openbaring in Bloemfontein plaasgevind en mens hoor dieselfde teenstrydighede as destyds met die profeet.

Onder die talle Suid-Afrikaners wat Lagos toe is om deur die profeet gesond gebid te word, was die gewese Springbok-flank, Ruben Kruger, en Wium Basson, wie se geloofsgenesing albei 'n tragiese einde gehad het. Kruger het 'n breingewas ontwikkel en na sy besoek aan Lagos was hy blykbaar "volkome" genees. Daarna het hy gereeld by kerke in Suid-Afrika oor sy genesing gaan praat. Op 23 Februarie 2005 sê Kruger aan Beeld: "Ek is volkome genees."

Op 3 Februarie 2010 word Kruger begrawe nadat presies dieselfde gewas waarmee hy in 2000 gediagnoseer is, weer aggressief begin groei het.

Jannie Pelser, wat destyds saam met die groep in Lagos was, het in 'n radio-onderhoud gesê Kruger is op bonatuurlike wyse aangeraak. Die Springboklosskakel Jaco van der Westhuyzen het gesê hy is terug Nigerië toe om te gaan getuig dat hy volkome genees is en om dankie te sê.

Op 22 April 2001 sterf Wium Basson – minder as twee weke ná sy terugkeer uit Lagos (waarheen hy is in die geloof dat God hom deur TB Joshua van sy siekte sal genees).

Wium se ma vertel later dat hulle besoek aan Lagos oorweldigend was. Aanvanklik het sy dit self as 'n openbaring beskou, maar later het haar oë oopgegaan vir "vals profete."

Hoewel Buchan se byeenkoms nie 'n genesingsdiens soos TB Joshua s'n was nie, is daar ooreenkomste van sogenaamde goddelike ingryping wat mens nie kan miskyk nie.

Beloftes wat in die naam van God gemaak word, laat ook hier die rooi ligte plek-plek flikker. Soos byvoorbeeld dat God mense wat Bloemfontein toe sou gaan, in hulle stoele sou genees, dat die parlement binnekort weer elke dag met gebed geopen sal word en dat Suid-Afrika binnekort weer 'n "Jesus-regering" oftewel 'n Christelike regering aan die bewind sal hê.

Is daar regtig Suid-Afrikaners wat dit glo? En het dit werklik so goed gegaan met Suid-Afrika tydens die apartheidsjare toe die parlement wel elke dag met gebed geopen is terwyl miljoene landsburgers se regte deur 'n Christelike regering misken en vertrap is?

Maar kom ons staan vir 'n oomblik stil by die aantal mense wat die byeenkoms bygewoon het, want baie mense sê dit is nie van belang nie. Wat maak dit nou saak hoeveel mense uiteindelik opgedaag het? vra hulle.

Natuurlik is getalle nie 'n deurslaggewende faktor wanneer mense aanbid nie, maar niemand anders as Buchan self nie het dit die fokuspunt van sy byeenkoms gemaak. Dit is hy self wat daarvan 'n getallespel gemaak het.

Wanneer hy voor die tyd vol vertroue verklaar God het persoonlik en hoorbaar vir hom gesê daar gaan minstens 'n miljoen mense opdaag, raak dit nogal belangrik vir diegene wat op God se woord staatmaak om te bepaal of Buchan reg gehoor het.

Want as dit nie so is nie, kan daar net een van 'n paar gevolgtrekkings gemaak word: Óf God het nooit vir Buchan gesê daar gaan 'n miljoen mense wees soos wat hy beweer het nie, óf God het gejok of Buchan het verkeerd gehoor of dit uit sy duim gesuig. Daar kan tog geen ander verklaring wees waarom minstens 300 000 minder mense opgedaag het as wat God Buchan laat verstaan het nie, selfs al wás dit 'n buitengewoon groot byeenkoms.

In die Bybelse tyd is profete en vals profete van mekaar onderskei op grond van die uitkoms van dit wat hulle profeteer het. Indien hulle profesie nie waar geword het nie, is hulle as valse profete verklaar. Ek sê nie Buchan is 'n vals profeet nie, maar sy profesie het duidelik nie waar geword tot die mate wat hy geprofeteer het nie.

Ten spyte daarvan lees ons nog mediaberigte en rubrieke wat verkondig daar is 1,7 miljoen kaartjies uitgereik vir bywoning, en 280 000 kaartjies vir parkering, al ontken Hardus Zevenster, woordvoerder van die It's Time-byeenkoms, self dat daar soveel kaartjies uitgereik is.

Mens vra jou af hoe verskil dit van die fopnuus wat met Donald Trump se inhuldiging versprei is toe gesê is meer mense het sy inhuldiging bygewoon as Obama s'n?

Oor die beweerde 400 ligte vliegtuie en helikopters wat die nuwe Tempe-lughawe asook die Braam Fischer-lughawe aangedoen het, kan mens maar net jou hande in ongeloof (no pun intended) saamslaan.

Mens sal graag wil weet wie die private helikoptermaatskappy is wat op hul Facebookblad sou aangedui het dat hulle op Saterdagoggend bespreek was vir 200 vlugte vanaf die twee lughawens na die perseel by Wilde Als, waar die byeenkoms gehou was. Hoekom sien mens nêrens foto's van al daardie helikopters nie?

Sak Sarel!

Oom Angus help ook nie juis om die oordrywings of fopnuus in die kiem te smoor nie.

"Dit was dalk die grootste bidbyeenkoms nóg in die wêreld," spog hy à la Donald Trump ná die tyd.

Weer wil mens uitroep: Sak Sarel! Dit klink darem alte veel na Benny Hinn se Mighty Warriors Prayer Army in Action.

Die jaarlikse Moslempelgrimstog na Mekka is 'n veel groter gebedsbyeenkoms as oom Angus s'n en hier te lande maak die ZCC lankal daarop aanspraak dat meer as drie miljoen pelgrims elke jaar Moria toe stroom om die jaarlikse gebedsbyeenkoms daar by te woon.

Is dit dan verkeerd as gelowige Suid-Afrikaners van watter godsdiensoortuigings ook al saamkom om vir 'n beter Suid-Afrika te bid? Natuurlik nie! Dit moet verwelkom word as énige landsburger na 'n beter Suid-Afrika streef, ongeag geloof.

Wanneer godsdienstige leiers egter populistiese beloftes in God se naam predik, moet hulle verwag dat 'n groot deel van die bevolking net so skepties daarteenoor sal staan as teenoor politieke leiers wat in God se naam verkondig hulle sal regeer tot Jesus weer kom.

Jean Oosthuizen is 'n vryskutjoernalis.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.